Rubriek: Die ongenooide gaste

akkreditasie
Skets:Fred Mouton
Skets:Fred Mouton
Uit die argief: Eens op ’n tyd was alles nie pluis in Toast Coetzer se stadswoonstel nie. Saans het daar dinge in die koskas geritsel...

Ek verkwalik my woonstelmaat, Sven.  Sven is die soort ou wat byvoorbeeld rakmelk in groot maat aankoop.

En toe ek een middag die groot boks melk oopskeur, peul daar vier kakkerlakke uit die verpakking.

Ek en my vorige woonstelmaat, Erns, het destyds ’n kakkerlakprobleem gehad. Soos ouens nou maar partykeer is, het ons gewoond geraak aan dié “skadelose” en “eintlik nogal klein” kakkerlakke.

Maar ons meisies het nie saamgestem nie, en uiteindelik moes ons die gemaskerde plaagbeheermanne inroep.

Daarna was ons kombuis maande lank goggaloos – totdat Sven se vier Trojaanse kakkerlakke die dag oor die kombuisvloer skarrel. Hulle het nie lank gehou nie. Ek het hulle een ná die ander gejag en platgetrap.

Maar dié slag is dit nie kakkerlakke wat die probleem is nie.

Anderdag ontdek ek iets anders in ons koskas: kalanders. Dis nou snuitkewers, daai klein swart goggatjies met so ’n lang snuit waarvan vrugte- en graanboere jou alles sal kan vertel.

Dié wat by ons woon, lyk soos ’n kruising tussen ’n miniatuur-renostertjie en ’n stofsuier.

Eers het ek gedog hulle is net in die rys, maar nadat ek dit weggegooi het, was daar steeds kalanders. Hulle hou veral van spaghetti – as ’n mens die pakkie oopmaak, dan skarrel hulle daar rond soos rotte tussen treinstawe.

Sven het hulle seker iewers in ’n woonwapark opgetel. Dalk het ’n vlugtelingfamilie van kalanders een nag in sy beskuitblik ingesluip terwyl hy gekamp het, en nou is hulle hier in ons stadswoonstel, knus in die skadu van Tafelberg, die luilekker lewe hulle s’n. Ja-nee, dié verdomde kalanders het die Lotto gewen.

Goed, hulle kon ook op ander maniere hier aangekom het. Die kos wat ’n mens by die supermark koop, kom van reg oor die land, selfs die wêreld. Hier op my yskas staan suiker uit Mauritius, en tee uit Dakar en Israel en Point Road, Durban.

Die koskas – die kalanders se hoofkwartier – kon net sowel die spens van die Verenigde Nasies gewees het.

Daar is miso-soppoeier uit Japan, brandgoeters uit Korea en ’n vergete blikkie tuna wat ek in 2005 op die eiland St. Helena gekoop het. (Hoe lank hou tuna?) En gedroogde seewier – presies hoekom ons dit het, weet ek nie.

Die plaaslike adresse op die kosverpakking is meestal in ’n nywerheidsgebied waar ’n mens gewoonlik net verbyry.

Maar iemand daarbinne – of meer waarskynlik ’n masjien – is besig om die Mariebeskuitjies wat jy oor drie maande gaan koop, sorgvuldig in bokse te pak.

Maar iemand daarbinne – of meer waarskynlik ’n masjien – is besig om die Mariebeskuitjies wat jy oor drie maande gaan koop, sorgvuldig in bokse te pak.

Rivonia, Epping, Bryanston, Elandsfontein – dis die soort plekke waar die kalanders dalk vandaan kom.

Aanvanklik het ek gedink dis ’n plaag wat ons sommer gou gaan kortvat. Kalanders is klein en ’n mens kan maklik met hulle saamleef – sonder jou bril sou jy hulle waarskynlik nie eens raaksien nie. As ons byvoorbeeld selfs net een seekoei in ons kombuis gehad het, sou dit ’n gans ander storie gewees het.

Kalanders is ook stadig, anders as miere en kakkerlakke en die meeste ander plae wat gedurig skarrel en hol en wikkel en ’n lyn sny. ’n Mens kan ’n kalander met een tree inhaal, vang en in die asblik gooi, asof dit net ’n broodkrummel is.

Kalanders is blykbaar ook skadeloos, want hulle byt nie (met ’n boomslang sal ’n mens ook nie lank kan huishou nie).

Boonop kan ’n mens hulle net so van die spaghetti af skud voordat jy die spaghetti in die pot kookwater gooi.

Ek weet nie of dit dalk ’n slegte idee is nie – skei kalanders iets af wat ’n mens kan vergiftig?

Soms, wanneer ek ’n stukkie beskuit eet waarvan ek pas ’n kalander afgevee het, wonder ek hoe lyk ’n kalanderdrolletjie. Maar ek probeer nie te lank tob oor dié onderwerp nie.

Dit lyk ook asof kalanders ’n baie kort lewe het. Vir elkeen wat jy lewend sien, lê daar drie dood in die hoek van die kas.

Om een of ander rede het omtrent tien besluit om teen die blikkie kondensmelk op te klim sodat hulle bo-op kan vrek. Dit wil voorkom asof kalanders silindriese dinge soos ’n blikkie aanbid.

Dalk, wanneer hulle voel die einde is naby, klim hulle teen só ’n silinder uit sodat hulle op die perfekte sirkel bo-op tot sterwe kan kom, een met hulle Maker.

Ons bêre net kos in ons kombuiskaste, dus het ek bekommerd geraak toe ek hulle elders in die huis begin opmerk.

Asof hulle stamvaders nie al ver genoeg gereis het nie – van Epping, Dakar of Point Road af – wil hulle wragtag hulle Lebensraum nog verder uitbrei.

Wat maak hulle in die sitkamer? Die TV werk nie – lees hulle boek? Of is hulle agter die sonlig aan wat soggens die kamer lekker warm bak?

Wat is daar op die rand van die toilet waarna hulle kan kyk? Is dit vir hulle iets soos Kimberley se Groot Gat? Dink hulle ek en Sven is deel van die Groot Vyf?

Waarom trek die wit woestyn van ons bad en wasbak hulle aan? Het die kalander wat soms daar uithang, ’n geen van Mike Horn iewers in sy lyf? Wil dié dapper klein kalander kyk hoe lank hy kan uithou op die ongenaakbare emalje-oppervlak?

Die verste wat ek ’n kalander al opgespoor het, was in my slaapkamer. Hulle loop só stadig dat dit hulle dae moet geneem het om daar uit te kom.

En wat het hulle soontoe gelok? Ek steek nie koekies tussen my kouse weg nie (dít doen ’n mens as jy in die koshuis is). Die vreemdste van alles is presies waar ek hulle opgespoor het.

In die hoek van my kamer staan ’n groot kartonsilinder, amper ’n meter lank, waarin ’n mens ’n rol plakkate kan bêre.

Dié silinder staan regop in die hoek en die tien kalanders – almal dood – het heel bo-op gelê. Vreemd, baie vreemd.

’n Mens kan nog verstaan hoekom hulle teen ’n blikkie kondensmelk sou wou uitklim, maar hoekom hierdie meter lange kartonbuis? Die menslike ekwivalent daarvan sou wees om die Eiffeltoring uit te klim – net om bo tot sterwe te kom.

Of het hulle opgeklim onder valse beloftes van hulle leier, ’n soort charismatiese David Koresh-kultusfiguur?

En sou hulle dan daar, tegelyk, almal teen sonop harakiri gepleeg het deur ’n korreltjie miergif te sluk, terwyl ek 3 m verder rustig lê en snork, salig onbewus van dié ritueel?

Sommige dae voel ek soos Eugène Marais. Hy het mos saam met ’n trop bobbejane in die Waterberg gebly om navorsing te doen vir sy bekende boek The Soul of the Ape.

In sy boek vertel Marais hoe hy waargeneem het dat die bobbejane net ná sononder vir ’n paar minute ongewoon stil raak. Die kleintjies staak hulle jollery vir ’n ruk en die grotes sit apart, asosiaal, sonder om mekaar se vlooie te probeer vang.

Hy reken bobbejane – en mense – voel in hulle natuurlike habitat effens terneergedruk net ná sononder. Dit het iets te doen met ons oeroue “klok”.

Kyk maar: Soms ervaar jy dit in die “regte lewe” ook. Anderdag was ek ná werk in Checkers, en toe skielik daal daai selfde stilte oor die hele winkel neer.

Net vir sowat 30 sekondes, toe begin KFM weer speel op die luidsprekers en die vingers weer tik op die kasregisters.

Die kalanders doen ’n soortgelyke ding. Ek is gewoonlik net ná sononder tuis, en toe ek so ’n paar weke terug die voordeur oopmaak, toe staan ’n kalander vir my en kyk.

Hy het sy snoetjie vir my gelig soos ’n olifant wat die wind toets, toe stadig omgedraai en half bedroef gangaf begin stap.

Dit was presies dieselfde soort dierlike hartseer wat Marais se bobbejane getoon het. Die goed kry basies die blues – asof hulle skielik besef die lewe is nie die moeite werd nie.

Dis nou tot dié kalante onthou watse lekker goed in die kombuiskaste lê en wag om gevreet te word.

Die kalanders se dae raak min. Hoe oulik hulle ook al mag lyk, hulle raak nou net te veel. Ons sal seker maar weer die Men in Black van plaagbeheer moet inkry sodat elke donker hoekie gespuit kan word.

Dan sal ons die volgende oggend by die kombuis instap en die blinkswart lykies oral sien lê, voete in die lug, soos studente wat te veel bier gedrink het.

Arme bloedjies. Ken iemand nie dalk ’n kalandervanger nie? Dalk kan ons hulle lewend vang en dan iewers tussen Hertzogville en Bultfontein gaan vrylaat.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #73 (November 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien