Ons is gereed vir ons jaarlikse besoek aan die Krugerwildtuin om ons batterye te herlaai. Ons plekkie by Satara is bespreek en ons maak vir oulaas seker alles is gepak. Buiten die vleis, hout en dié klas van dinge maak ons ook dubbel seker die soetgoed is in. Ek het ’n soettand soos min… my vrou sê ’n mens noem dit ’n sjokolis.

Ons bak nou al ’n paar jaar sulke lekker sjokoladekoekies, en dit het ’n instelling geword as ons wildtuin toe gaan. Ons koop die naweek voor ons vertrek die sjokolade, bak die koekies en tel en deel dit dan sorgvuldig sodat daar by elke aand se koffie twee koekies vir elkeen is. Wat is nou lekkerder as om nog ’n stomp op die vuur te gooi en dan ’n koffie – met ’n skeut kondensmelk en dalk ’n bietjie Amarula – saam met ’n koekie te geniet om die knetterende vuur? Jy voel sommer hoe die stres van die stad verdwyn en jy sit en droom diep met die vlamme van die vuur wat voor jou dans.

As ons by die wildtuin aankom, ry ons deur die Orpenhek en kruie dan rustig aan sodat ons net mooi om 2 nm. inklok. Ons maak ons tuis in ons kampstoele en knip ’n namiddaguiltjie. Dís mos hoe ’n mens ontspan.

’n Rukkie later pak ons ’n paar soutighede en ’n koel lafenis en gaan ry ’n sonsondergangdraai. Voor ons ry, pak ek die hout reg vir vanaand se braaivuur. Die plan is om terug te kom net voor die hek sluit, dan kan ek net aansteek. Salig.

Ons gaan hou by ’n watergat stil en verwonder ons aan hoe soveel mense net stop en dan dadelik ry, kwansuis omdat hier niks te sien is nie. Gelukkig het ons al geleer geduld (saam met ’n paar ander dinge soos ’n lekker boek, iets te drinke en ’n stukkie klam geelvetbiltong) is die antwoord.

Ons geniet ’n rustige agtermiddag en ry twee minute voor sluitingstyd by Satara se hekke in. Ek hou stil en steek dadelik die vuur aan, terwyl my vrou die braaibroodjies begin maak en ’n klompie aartappels in ’n pot gooi. Hier in die wildtuin is banting vir die voëls…

Alles loop mooi, en kort voor lank is alles klaar gebraai. Voor ons gaan aansit om die tafel, gooi ek nog ’n paar stompe op om die vuurtjie weer skop te gee vir netnou se koffie en koekies. Ná ’n heerlike ete kook ek water, gooi die koffie in en kry die bak met die koekies uit. Nou is dit tyd om my suikertand te lawe.

Hoeveel koekies het ons nou weer beplan vir elke aand?

Twee, sê my vrou en ek wonder hoekom ons so min gebring het. Ons haal die eerstes uit die koekieblik en sit die bak op die muurtjie agter ons stoele, skaars twee treë van ons af.

En ís daardie eerste koekie saam met die koffie nie lekker nie! Ek staan op en gaan gooi nog ’n bietjie kondensmelk in die koffie… dis immers die eerste aand en hierdie ekstra soetigheid is sekerlik geoorloof. Ek kyk of my vrou vir my kyk sodat ek miskien ’n ekstra koekie hier agter haar kan gaps, maar sy hou my met ’n valkoog dop. Sy ken my al té goed en ek gaan maar vanaand moet volstaan met my toegelate twee.

Nou verander die vervaardheid in verontwaardiging, want almal weet jy kom lol nie met my soetgoed nie. Ek is op die oorlogspad.

Ek is net mooi gereed vir my tweede koekie toe hier skielik ’n lawaai agter ons is. Ek spring op, kyk om en sien ons koekieblik is weg! Ek kry die groot lig wat ook agter ons op die muurtjie gestaan het en skyn vervaard rond. En dan kry ek die skuldige: ’n ratel wat onder die bakkie verdwyn met die bak koekies in sy bek.

Nou verander die vervaardheid in verontwaardiging, want almal weet jy kom lol nie met my soetgoed nie. Vanaand is dit ek en die ratel en die koekies. En ek is op die oorlogspad.

Ek druk die lig in my vrou se hand, gryp my stapstok en sê sy moet onder die bakkie wys met die lig, want ek gaan my koekies terugkry. Ek is eerste op my knieë en gewaar vir Meneer Ratel (dalk is dit Mevrou, maar dis nie nou die tyd om politiek korrek te wees nie). Ek druk die stapstok onder die bakkie in en probeer die ratel wegdruk van die koekieblik af. Ek sien nie heeltemal kans om onder die bakkie in te kruip nie, want ek weet as ek in dié klein ruimte saam met die gedierte verkeer, gaan ek waarskynlik ’n lelike drag slae op die lyf loop.

Op presies dieselfde tyd skakel my vrou die lig aan die ander kant van die bakkie aan. Sy is ook op haar knieë en skyn die lig reguit in my oë – en op daardie oomblik wat ek verblind word, stamp ek my kop en my hand teen die onderstel soos ek ruk van die skrik. Ook maar goed die dominee het my nie gehoor nie.

Gelukkig val die stok nie uit my hande nie, want die volgende oomblik begin die ratel grom, hoes en sis. Ek baklei nog steeds op gevoel, want my vrou het nog nie die boodskap ontvang om die lig liefs nié direk in my oë te skyn nie. Ek slaan die stok op die grond, my vrou beweeg na ’n ander punt van die bakkie, die sterretjies en maantjies verdwyn uit my sig…en toe ek uiteindelik weer kan sien, is daar geen teken van die ratel onder die bakkie nie.

En dan val die lig op iets… dis die koekieblik! Ek hark hom met die stok nader, terwyl my vrou ’n laaste keer met die lig om die bakkie stap om seker te maak die ratel is vort. Daar is inderdaad geen teken van hom nie. Ek het heeltemal begrip vir hom, want ek sou ook nie daardie omsingeltaktiek met gepaardgaande gevegskrete en ligfakkels kon oorleef nie. Dalk was dit my taalgebruik wat hom verwilder het, maar ek twyfel of hy só vlot is in Matroos.

Met die koekiedief wat gevlug het, is dit tyd om bestekopname te doen. Ons is nog vir ses nagte in die wildtuin; dus moet daar nog 24 koekies oor wees as ons elkeen elke aand twee wil geniet. Met ’n loodsware hart sit ek die blik op die tafel om die telling te begin en, tipies Suid-Afrikaner, sien ek sommer al klaar net die negatiewe – die nagmerrie van geen of te min soetgoed die res van die vakansie. Ja, ek weet ek kan nog sjokolade gaan koop in die winkel, maar dis nie dieselfde as die koekies nie. En ek wil nie wildtuinpryse betaal nie.

Ons tel – en uiteindelik makeer net een koekie. Kan dit wees? Ons tel weer (dit voel kompleet of ons in ’n mosie van wantroue stem in die parlement) en wéér is daar net een kort.

’n Sug van verligting en dankbaarheid en ’n klomp ander dinge spoel oor my. Die blik word toegemaak en gebêre, en die koffie word ná al die opgewondenheid ’n bietjie versterk met ’n knertsie brandewyn. So ja...

Die tweede aand haal ons weer twee koekies vir elkeen uit. Nou word die blik dadelik weggebêre en die koekies stewig in ons hande gehou. Ons het nét gaan sit om na die vuur te staar toe ons weer ’n geritsel agter ons hoor. Ek gryp die lig en sien die ratel is terug. En hy kyk vir my met sulke vraagteken-oë, so al asof hy wil vra “en waar’s mý koekie dan?”

Ek sit die lig neer, draai om en gaan sit op my stoel. Hoe kan ek hom kwalik neem? Die arme gedierte het die smaak van ’n koekie gekry en ek weet as ek hy was, sou ek ook terugkom vir nog.