Nog voordat ons stap, het ons al begin lippe aflek vir die brêkfis wat ons geweet het ná die tyd wag. Nou, halfpad teen Chapmanspiek uit, kry die gedagte aan daardie bord kos gestalte voor ons geestesoog.

“Dis ’n vol bord kos – vól,” sê ek, hygend na asem teen die steilte uit. “Daar’s nie ’n kans dat jy daarna nog honger sal wees nie.”

“Praat namens jouself,” brom my seun, Daniel, terwyl hy rats teen ’n rots voor my uitklouter.

Hy is 16 en sy rug begin soos ’n man s’n lyk: Dit bult breed onder sy natgeswete T-hemp. Onder ons lê die diep inham van Houtbaai, ’n blou bak windverwaaide see waarop nou en dan ’n toeristeboot Seal Island toe sukkel.

“Het ek jou vertel van my trip na De Rust in Desember?” vra ek.

“Ja, jy het.”

“Ek het daar ook ’n draai gaan stap. Soos hier.”

Ek het op die internet oor die staproete by De Rust gelees. Die roete lê om die voet van een van daardie fabelagtige rooi berge kenmerkend aan dié deel van die Klein-Karoo. Toe ek by die wynplaas langsaan inklok vir my stappermit, glimlag die vrou vir my.

“Daar was jare laas iemand,” het sy gesê. “Ek het geen idee hoe die roete deesdae lyk nie.”

“Dit pla my nie,” het ek geantwoord.

Sy’ t my op en af gekyk en haar kop geskud.

“Ag, jy hoef nie te betaal nie,” het sy gesê, en die permit saam met ’n ou drukstuk oorhandig – die roetekaart. “Ek sou nie weet waarvóór jy betaal nie!”

Die roete het goed begin, van die pad se kant af. ’n Sandpad wat duidelik al baie voete gesien het. Die paadjie het in die sondeurdrenkte bosse ingekronkel, eers weg van die rooi rante. Ek bereik die vurk wat op die kaart aangedui word. Of ek nou regs of links draai, ek sou weer by dieselfde plek eindig.

Die hitte was egter gou versengend, en die terrein het begin byt. Die paadjie het stelselmatig vervaag, en dit het gevoel asof dit my verder en verder van die rooi rante neem. Iets het verkeerd gevoel.

Die sonbesies het gejil en die sonroom begin borreltjies maak op my vel. Elke nou en dan vou ek weer die kaart oop en kyk. Ek kan nie uitpluis of ek op die regte pad is nie. Later is ek seker dat ek verdwaal het. Ek draai maar om en baan ’n pad deur die bosse.

“Uiteindelik kry ek ’n pad wat ek reken die regte een is,” sê ek vir Daniel toe ons die kruin van Chapmanspiek nader. ’n Mistigheid rol nou in, en die koel vog op ons warm vel is verkwikkend. Al twee van ons trek die lug diep in en is bly om saam hier te wees. Bo gaan sit ons by ’n ou wit baken om te rus en iets te drink.

‘Die paadjie het stelselmatig vervaag, en dit het gevoel asof dit my verder en verder van die rooi rante neem. Iets het verkeerd gevoel.’

“Omtrent halfpad terug na die rooi rante het ek besef dat ek iewers ’n fout gemaak het,” vertel ek verder. “Daar was fout met die kaart. Die paadjie was oorgroei en kort voor lank begeef ek my tussen digte, vreemde struike. Groot grysgroen bosse met buigsame takke. Dit was maklik om my weg deur hulle te baan. Behalwe vir een ding.”

“Wat?”

“Hulle het venynige dorings gehad. Lang, vlymskerp dorings!”

Ek en Daniel sit en kyk uit oor die see, na die suide waar Kaappunt in die deinserigheid hurk.

“Ek kon dit nie glo nie. Daar was geen ontsnaproete nie. Ek kon die rooi rante bo die bosse sien uitsteek en ek het geweet dis waarheen ek moet mik. Maar ek kon later skaars beweeg.

“Omdraai was buite die kwessie – ek sou in elk geval steeds verdwaal het. Ek besluit toe om voort te ploeter. Die dorings in. Met elke tree het ek vars skrape bygekry. Daai skynbaar sagte bosse het my verniel.

“Later het ek vir myself begin lag. Op ’n manier het ek dit begin geniet.”

Die agterkant van Chapmanspiek bied twee opsies aan stappers. Een pad draai Constantianek toe, al teen die Houtbaaikant van die berg.

Maar aan die suidekant daal die paadjie skerp bergaf, reguit Noordhoek toe. Dis in Noordhoek, by die beroemde Farmhouse Deli, waar ons brêkfis wag. Dis waarheen ek en Daniel mik.

“Dis okei, ek ken die pad,” sê ek vir Daniel. “Ek was ’n paar maande gelede hier.” Daai dag het ek alleen gestap en op ’n paadjie afgekom. Dit het gereën, maar dit het my nie gepla nie. Dit was só lekker, ek het gesing van vreugde.

Maar nou staan ek en Daniel op ’n rotspunt en sien geen paadjie nie.

“Dit was ’n duidelike paadjie,” sê ek. “Wyd, en rooi. Dit moet hier iewers onder ons wees. Ons het seker te vroeg gedraai.”

Tussen die fynbos troon groot rotse uit. Tussen die rotse en die bosse lê ons roete iewers versteek. Ons talm om te kyk na die manjifieke berge, wat na die noorde en suide uitstrek soos die arms van ’n reus.

Weer dink ons aan die ontbyt. Die hoop roereier. Toast. Spek en wors, skywe tamatie, aartappelkoekies. En lemoensap.

“Wat sal ons doen?” vra ek.

Daniel vryf sy gesig waar daar nog nie baard groei nie.

“Reguit af, of hoe?”

Sommer gou kry ons moeilikheid. Die helling is te steil en wat eers na maklike terrein lyk, val skielik weg onder ons voete. En dan raak dit erger, want die bosse begin dorings kry. Dis nie die reuse waarmee ek by De Rust kragte gemeet het nie, maar tog geniepsig. Daniel se oë praat sonder dat hy iets hoef te sê: Watse malligheid is dié?

Ons bundu bash voort, en nou en dan roep een uit in pyn wanneer ’n vars haal bloed oor ons arms of bene loop. Ons sukkel om te sien waar die beste pad kan wees, waar uitkoms dalk wag. Dis soos om deur dorings te swem!

Op ’n punt stop ons. Ons kyk terug, en weer vorentoe. Dit voel ons is in ’n hoek.

“Dis te erg!” sê Daniel. Ek stem.

“Maak nie saak hoe erg dit lyk nie, dit sál eindig, dit móét.”

Ek vertel hom dat die De Rust-dorings later opgehou het, en hoe ek my pad teruggevind het kar toe daardie dag.

Later praat ons nie meer nie. Daar’s net vorentoe. Net deurdruk.

Ek kon aanvoel Daniel verloor sy fut, maar ek was trots op hom. Hy’s ’n stadsjapie en nie gewoond aan doringbosse nie, maar hy’ t al genoeg van die lewe geleer om te weet dis ’n gawe – ’n seëning – om hier te wees. Om te leef en te ervaar. Want jy kan nie die dorings wegwens nie.

Toe ek deur die volgende muur van bosse baan, verskyn die pad wat ek onthou! Rooi, uitgetrap en breed genoeg vir vier mense om sy aan sy te stap.

Sonder ’n woord tree ek op die pad, en wag.

Die volgende oomblik bars Daniel deur die doringmuur. Sy gesig lyk troebel. En dan begin sy frons stadigaan verdwyn, en hy glimlag.

Ons vat die pad verder met ’n huppel in ons stappie.

Gou is ons by die kar en daarna is dit net minute voordat ons by Farmhouse Deli instap vir die ontbyt van ons drome. Dié het ons baie vinnig kafgedraf.

“Wel,” sê ek toe ons al twee daar sit met ’n vol maag, “hoe voel jy nou?”

Daniel knik en kyk so half verby my. “Ek sou nie omgee om weer in daai dorings te wees nie.”

Hy kyk my in die oë om te sien of ek dieselfde murg in my bene het. “Ons het ’n doel gehad,” sê hy, “en dis ál wat saakgemaak het.”

Ons sit al twee agtertoe in ons stoele.

Rondom ons stap vakansiegangers in winkels rond, haas onbewus van die wêreld se dorings.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook