Deel

Rubriek: Geen groter plesier as dáái bier

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Eers was daar Toppers, toe droogbevrore poeding, en nou poeierbier. Maar gaan dit dieselfde wees as daardie yskoue skuimkop in die Namibiese somer, vra Jan Taljaard.

Hierdie is eintlik ’n storie oor poeierbier, maar laat ons heel voor begin …

Dit was aan die einde van ’n lang en vermoeiende dag toe die rooi remliggie van Koos se fiets skielik in die middel van die grondpad hand opsteek en fiets en man aan die kant van die pad tot stilstand kom.

Soontoe, beduie Koos, links.

“Waarnatoe?”

“Hier af, links.”

Frans kyk hom vraend aan.

“Waar’s die pad, ou maat?”

Ek het seker ook nie mooi geluister toe Koos die uitgewerkte roete verduidelik het nie, en buitendien was ons al ’n dag laat oor moeilikheid met die fietse. Op die roetekaart en die GPS-roetepunt was die oornagplek bloot aangedui as “Stealth Camp”.

In my agterkop het ek gedag dit is waarskynlik die naam wat die een of ander uitgeweke Duitser aan sy luukse kampeerterrein in die suide van Namibië gegee het en dat dit waarskynlik Camp Stealth, eerder as Stealth Camp, heet.

Net die plekkie vir avontuurlustige Afrika-trekkers uit Europa wat met ’n yslike lorrie daar aankom en plesierig is vir die gier van bome wat brand in die boma, die geklop van Afrika-tromme op die kantlyn, warm water uit die stortkop en bronstige Mädchen, vars uit München, aan etenstafel.

Nie ’n slegte plan nie, want die afgelope twee dae was maar rof. Die probleme het begin met ’n geswoeg en ’n geploeg in die reën al met ’n onseisoenale modderpad langs. Ons het eindelik gewen, maar nie voordat die modder sou wraak neem op elektronika en wat nog alles nie.

Die meeste van die probleme was darem tydelik van aard en herstelbaar, maar het hul tol in tyd, ongerief en die vorige aand in ’n geslote grenspos by Sendelingsdrift aan die oewer van die Oranjerivier geëis.

Toe raak dit ook hartseer, want na nóg moeilikheid die volgende oggend moes ons aan die ander kant van die grens ’n makker groet wat dit nie verder op sy wispelturige ryding wou waag nie – ’n treurige affêre soos almal wat al onbepland van ’n reisgenoot moes afskeid neem sekerlik weet.

Met al die dinge het die son dié dag ook al skottels vol water getrek toe ons oorblywende driemanskap eindelik die roete aan die noordekant van die grenspos al langs die Oranje vat met ’n onbehoorlike haastige pas na dit wat Koos as “Stealth Camp” gemerk het.

Op pad kom ’n Duitser uit die teenoorgestelde rigting aan op ’n sonderlinge fiets wat uit die ou Oos-Duitsland stam.

Soos die gebruik tussen motorfietsryers op verre paaie is, hou ons stil en ruil gemeenplasies uit oor die pad wat elkander te wagte kan wees. Die grenspos is nie ver nie, belowe ons hom en die Duitser laat val as teenprestasie iets van ’n supermark met hompe verkoelde vleis en drank wat ons op Aussenkehr, tussen niks en nêrens, te wagte kan wees.

Niemand neem hom te ernstig op nie. Soos Koos ook later sou verduidelik: Hy het gedink dit is ’n bloot ’n voorbeeld van ’n soort aweregse Oos-Duitse humor. Want selfs op die jongste weergawes van die vernaamste GPS-kaarte word Aussenkehr nie aangedui nie of sommer net verkeerd gespel. Dié wat al daar verby was, weet die nedersetting is eintlik net ’n versameling hutte van pale en riet.

Dit was in elk geval nog ’n goeie 10 km voordat ons by Aussenkehr sou kom toe Koos stilgehou het.

Hy het later beweer daar was eens ’n viertrekpaadjie, maar dié is waarskynlik ná ’n vorige verspoeling die Atlantiese Oseaan in.

Ek en Frans loer nog na mekaar oor die opsigtelike gebrek aan ’n pad toe ons onstuitbare leier skielik sy fiets in rat trap en sonder verdere omhaal die gruisbedding van die droë Gamkabrivier inploeg.

Hy het later beweer daar was eens ’n viertrekpaadjie, maar dié is waarskynlik ná ’n vorige verspoeling die Atlantiese Oseaan in.

Almal wat al sand met ’n swaargelaaide motorfiets gery het, weet dit is ’n vermoeiende affêre. Met ’n soort tegniek – en as jy fiks is – kan jy dit op ’n manier baasraak. Vir diep riviergruis is daar egter min raad – veral as jy nie so fiks is nie en die juk van die afgelope twee dae nog diep druk.

Sowat twee kilometer die ravyn in – dit het maklik soos twintig gevoel vir die onbeholpenes onder ons – trek Koos onder ’n holkrans aan die voet van ’n monolitiese rotsgebergte in.

Die gesteente lyk soos die Rots der Eeue en troon tientalle meters bo ons uit. Oral om ons is berge en die mens voel nietig, maar te meer so omdat hy honger en dors is en ook net so ’n bietjie moedeloos oor die afgelope dae se gesukkel.

Dit is waar ons slaap, beduie die leier des reises. Ek kyk rond, maar sien geen Afrika-bussie of boma nie. Skielik gaan die liggie aan: “Stealth Camp” beteken eintlik toe “sluipkamp”. Verniet en gratis, maar sonder water of meisies met bloswange wat bierglase op die maat van Afrika-tromme op die tafel stamp.

Koos is nietemin in sy element en skud blitsig sy slaapgerei in die sand uit.

“Is dit nie wonderlik nie …,” sê hy entoesiasties, “om te dink dat jy alles op jou motorfiets kan saamvat, jou huis, jou bed, jou kos, jou stoof – sodat jy heeltemal selfonderhoudend is.”

“Ons het nie veel water nie,” kondig ek met gekraakte lippe aan, gedagtig aan die gasstofie, koffie en keteltjie wat ek immergetrou saamsleep.

“Of bier nie,” brom Frans hardop.

Maar ons slaan ons tente op terwyl die hoë kranse rug styf maak teen die son en die rivierbedding algaande in ’n dagligskemer toemaak. Skielik is dit tog of daar ’n soort vrede saam met ons wil kom sit, maar vir eers nog effe skaam op die agtergrond huiwer.

Ons mymer oor hoe lekker ’n bier sou wees. Nie vir drink tot jy tuimel nie, maar net om die stof van die dag uit jou keel te spoel en om blik in die hand te kan besin oor die dag wat was en die dag wat kom.

Aan die bopunt van die ravyn skitter swart vulkaanklippe in die laatmiddaggloeiing.

Helaas, anders as in die geval van viertrekvoertuie, is pakplek vir bier ons nie beskore nie – wat nog te sê die vermoë om dit in die Namibiese hoogsomer koud te hou. Koos is steeds ongemaklik entoesiasties en bied aan om te gaan kyk of hy nie water op Aussenkehr kan kry nie.

Ons is te moeg om hom te keer of om aan te bied om saam te ry. En daar trek hy.

Skaars ’n anderhalf uur later hoor ons weer die gewillige brom van sy motorfiets en oomblikke later kom die oranje koplig om die draai.

Aaa, water – of dalk nie.

Koos pak sy rugsakkie uit: Drie broodrolletjies, ’n klein pakkie kaas, ’n bottel water – en skielik ses biere waarvan die koue sweet nog aftap. Die Duitser was toe reg, want dit blyk dat daar in die middel van Aussenkehr wel ’n teenstrydigheid van glas, metaal, lugverkoeling en kasregisters hom tussen die tradisionele hutte tuisgemaak het.

Maar dit daar gelaat en laat ek eerlik wees: In al my dae des lewens het ’n drinkding nog nooit so lekker geproe nie en het die vrede nog nooit so salig in ’n rivierloop kom sit nie – ook nie sedertdien nie.

Hiermee wil ’n mens geensins ’n pleitbesorger word van die soort reise van die brandewynenbrulbrigade nie. Of dan die manne van die span van hougoumybiervasdanwysekjouhoe.

Meestal is hulle in elk geval kêrels wat nie by die huis mag drink nie. Daar is ’n tyd wanneer jy dit wragtig verdien het en wanneer ’n bier selfs lekkerder as in ’n advertensie kan proe.

Daarom was dit met meer as die gewone belangstelling dat ek onlangs gelees het van ’n vervaardiger wat nou bier in poeiervorm beskikbaar gaan stel. Of iets wat soos bier proe, want dit word glo nie van mout of hops gemaak nie en is ook alkoholvry. ’n Mens gooi glo net water by, en siedaar.

En die volgende oggend, verbeelding of werklikheid, was die pad dieper die rivierloop in sommer ook vaster.

Daarom was dit met meer as die gewone belangstelling dat ek onlangs gelees het van ’n vervaardiger wat nou bier in poeiervorm beskikbaar gaan stel. Of iets wat soos bier proe, want dit word glo nie van mout of hops gemaak nie en is ook alkoholvry. ’n Mens gooi glo net water by, en siedaar.

Dieselfde vervaardiger, lees ek verder, het reeds bekendheid verwerf vir sy geblikte kaasburger en maak ook ’n verpoeierde rooiwyn en selfs ’n sjokolademousse wat ’n mens net uit ’n pakkie skud en dan met water meng.

Die rooiwyn, wat nie sy oorsprong in ’n wingerd gehad het nie, maar in die glasflesse en oor die bunsenbranders van ’n laboratorium, kon egter nie te lekker gewees het nie, want die vervaardigers sê hulle gaan dit van die mark haal sodra die bier verkoopsgereed is.

Op die oog af klink die bier wat in ’n pakkie kom na die volmaakte oplossing vir hulle wat ver moet reis en lig moet pak. Maar ’n mens kan tog nie help om te wonder of daardie poeierbier ooit ware bierplesier sal wees nie.

En of die vrede ooit so geluksalig saam gaan kom sit as die dag toe ’n verrassing skielik onverwags en nog pêrelkoud uit ’n rugsakkie opgetower is nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy (Augustus-September 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.