Ons ken die mense eintlik net van sien, maar aan die begin van die jaar hou my kind se skool ’n piekniek op die rugbyveld en ons, mooi getrou aan Covid-19- regulasies, gooi ons kombersie 2 m van hulle s’n af oop.

Ons dogter en hulle seun verskil ’n jaar, en ons het nog nooit regtig met mekaar gekuier nie. Maar dit is die doel van die skoolpiekniek: om ’n bietjie met die ander ouers te meng.

En dit is toe presies wat ons doen. Kort voor lank is ons lekker aan die gesels, en toe ek vir buurman vertel wat ek vir ’n lewe doen, raak hy kinderlik opgewonde.

“Ons moet gaan kamp!” sê hy vir my en draai na sy vrou wat ’n entjie weg staan en gesels. “Liefie! Ons moet gaan kamp. Hulle kamp óók,” skree hy terwyl hy met sy wysvinger om die beurt na my en my vrou wys.

Ek is versigtig om in te stem om saam met mense weg te gaan wat ek nie regtig ken nie, en daarom knik ek en antwoord met ’n “Ja, ons moet eendag...”

Volgens my het ek my nie regtig verbind tot enigiets nie. Môre, as die sauvignon blanc uitgesweet is, vergeet almal van hierdie besigheid.

Toe nie. Die volgende oggend wag dié boodskap vir my op die foon: “Hoelykit! Thnx vi di lkr kuier gistraand. Het plek gkry vi 1ste naweek in Mrt by dai plek wat jy gesê het is nice. Sommer geboek vi ons. Julle kom saam. Gooi kole!”

Duidelik het ons nuwe vriende “eendag” dus vertolk as die eerste naweek in Maart.

Dis slim van hulle, moet ek toegee. Die kans is goed dis te ver in die toekoms vir ons om te sê ons het reeds planne.

Dus is ons vas en ek antwoord met: “Lekker, man.” Ek laat dit nou baie erger klink as wat dit is.

Ons kom regtig goed klaar en ek sal enige tyd weer saam met hom en sy vrou by ’n skoolpiekniek kuier of gaan uiteet; dus besluit ek dalk sal dit gaaf wees om te kamp.

Dit help natuurlik ook dat ons kinders lekker klaarkom en klaarblyklik sonder ophou speel.

Die eerste Vrydag in Maart is ons in die pad, eintlik nogal opgewonde om saam met die nuwe vriende te kamp. Ons het hulle ná die skoolpiekniek weer een of twee keer gesien en my vrese oor saam kamp het al hoe minder geraak.

Ons kry hulle vroegaand by die kampterrein, slaan gou ons goed op en steek die vuur aan. Ons braai heerlik, eet gesellig saam en gooi nog hout op om vir ons ’n atmosvuur te bou.

Dis Vrydag, hierdie wyn gaan nie homself drink nie en niemand hoef huis toe te bestuur nie. Ek dink dit was kort nadat ons Siya Kolisi se skuif na die Sharks volledig ontleed het dat my vriend opstaan, sy kar se kattebak oopmaak en die kitaar uithaal.

Duidelik was my geselskap nie vermaaklik genoeg vir hom nie en die geselsery is nou klaar. Nou síng ons.

’n Mens kan sien wanneer iemand kitaar speel en sing om die atmosfeer selfs beter te maak... of om aandag te soek.

Op laerskool was ek ’n Voortrekker, en as ek ver terugdink, kan ek nog die woorde vir “Wat maak ’n kamp so lekker” en “Dis net ’n worsie, anderhalf duimpie” onthou.

Maar iets sê vir my vanaand gaan hier nie kampliedjies gesing word nie. Om die waarheid te sê gaan hier hoegenaamd nie saam gesing word nie. Hier word nou vertoning gehou.

Vriend kom sit op ’n houtstom wat dwars op die grond lê en begin sy kitaar instel. Tieng-tieng-tieng... skud die kop, draai die knop en sak sy oor laer tot teen sy instrument... tieng-tieng-tieng... nog nie reg nie, draai weer... tieng-tieng-tieng... ’n instemmende knik, daar’s hy nou.

Volgende snaar, dieselfde proses. Nadat ons vir ’n goeie tien minunte na sy gestemmery moes luister (genadiglik was dit nie ’n twaalfsnaarkitaar nie), is hy reg om te begin.

Sy vrou het nog dapper probeer voortgesels, maar mettertyd besgegee, geglimlag en haar gereed gekry vir die vertoning.

“Ahem”, maak hy keel skoon en speel ’n akkoord. Nee, iets pla nog... tieng-tieng-tieng...

“Today is gonna be the day...” trek hy weg met Oasis se “Wonderwall”, maar dis sommer vroeg al duidelik hy het óf onlangs eers begin speel óf hy het bloot nie talent nie.

En dan sing hy boonop nie baie nootvas nie, veral by “and after a-a-a-all you’re my wonderwa-a-a-all”. Daar word die heeltyd gestop en twee of drie drukke getoets voor hy dan uiteindelik by die regte een uitkom.

Ek en my vrou kyk grootoog vir mekaar en ek dink aan ’n liriek van die Afrikaanse rockgroep K.O.B.U.S! “Ons is gyselaars in een groot musiekfeestent. Word vermaak deur mense met meer selfvertroue as talent.”

Die feit dat hy daarvan hou om kitaar te speel en te sing is nie wat my pla nie. Wat my effens ontstig, is die feit dat ek tot 15 minute gelede nog heerlik gekuier het en na die geknetter van die vuur en die naggeluide kon luister.

Nou word ek onderwerp aan ’n man met ’n kitaar, wat hy terloops weer besig is om in te stem.

Hy ken nie meer as drie drukke of die helfte van enige liedjie nie. In watter heelal is dít oukei?

“Lisa se klavier” is volgende aan die beurt en hy ontsien geen moeite nie om dié geliefde lied behoorlik op te donner.

“Sy laat my nooit huis toe gaan of afskeid neem, voor my laaste sigaret nie.” Ek wens iemand laat my huis toe gaan of afskeid neem.

My vrou stel voor ons moet maar begin saam sing, maar toe sy inval terwyl hy “Sweet Caroline” vermoor, kry sy die vuilste van kyke van die verhoog af en bly toe eerder stil.

Sien, dis nooit die mense met werklike talent wat so iets aan jou afsmeer nie.

Ek ken mense wat regtig goed kan speel en sing, en hulle sal net die kitaar gaan haal as iemand vra. (Ek vra terloops altyd vir Simon en Garfunkel se “The Boxer”).

Daai ouens weet wanneer dit geleë is om te tokkel en wanneer om die kitaar liefs in die kattebak te los. Hulle sal nooit ’n gekuier – waar mense lekker oor en weer gesels – onderbreek sodat almal nou na hulle moet luister nie.

’n Mens kan sien wanneer iemand kitaar speel en sing om die atmosfeer selfs beter te maak... of om aandag te soek.

En my nuwe vriend val stewig in laasgenoemde kategorie.

Ek begin lang gape gaap om te kenne te gee ek is reg om te gaan inkruip. My vriend vang duidelik die skimp en sê hy gaan nog net enetjie speel. “Imagine there’s no heaven...” gaan haal hy sy diepste John Lennon uit.

Maar hy sing hom stadiger, én ’n noot of twee laer. Om te wys hy’s ’n diep siel, jy sien.

Jy kan seker sê hy’s ’n dromer, maar hy’s nie die enigste een nie