
Wie se fantastiese idee was dié nou weer?
O, ja: myne. Daar lê nou al 40 sakke sement op die bodem van die skuit, maar die portiere dra net nóg aan.
Die skuit is sowat 25 m lank en net mooi enige ding word ingelaai: bokse proviand, boumateriaal, kiste bier. En mense.
Ek sweer, as Noag só ’n skuit gehad het (en vier Ugandese om te help laai), sou hy plek gehad het vir die dinosourusse ook.
Ek is op pad na die Ssesse-eilande, spesifiek Banda. Om daar uit te kom moet jy op die oewer van die Victoriameer ’n skuit – ’n watertaxi – haal by die vissersdorpie Kasenyi naby Entebbe in Uganda.
Volgens my gidsboek word Banda besit deur ’n “ikoniese Keniaanse mazungu”, oftewel wit man. Wat maak hom ikonies? Dít is wat ek wil gaan uitvind.
Maar eers moet ek lewend daar aankom.
Uiteindelik, sowat twee uur agter skedule, beduie ons kaptein, Tom Ndugga, dis tyd dat die mense opklim.
Tom lyk nie soos ’n skeepskaptein nie. Hy dra netjiese, byderwetse klere, asof hy op pad is na ’n opname van Noot vir noot.
’n Portier kom staan voor my en buk dat ek op sy skouers klim. Hy lig my met groot gemak op (ek voel sommer slank) en stap deur die water na die boot toe sodat ek droog kan opklim.
Daar is amper vyftig mense op die boot.
Ek is die enigste mazungu; die res woon op die Ssesse-eilande of gaan familie daar besoek.
Ek kry my sit voorlangs, op ’n suikersak.
Elke sak en boks het ’n naam en eilandadres op sodat Tom weet waar om wat af te laai.
Die Ssesse-groep bestaan letterlik uit duisende eilandjies, wat wissel van so klein soos ’n toiletsitplek tot groot genoeg om ’n paar duisend mense te huisves.
Ek kyk rond en sien net twee reddingsbaadjies.
Een is Tom s’n, hoewel hy dit nie dra nie (reddingsbaadjies is nie modieus nie), en een behoort aan ’n versigtige passasier. ’n Mens kan dit blykbaar hier by Kasenyi koop, maar ek is platsak.
Al uitweg wanneer dinge beroerd begin lyk, sal wees om een van die plastiekpetrolkanne te gryp. Maar daar’s net vier van hulle, dus sal ons seker moet vuisslaan daarvoor.
Maar wag, dis nie nodig om dinge vooruit te loop nie, al is daar ’n tropiese donderstorm op die horison wat boontoe blom met ’n enorme wit sampioen van ’n wolk...
Ons trek weg, stadig. Die skuit het net ’n 20 perdekrag-enjintjie en Tom wil brandstof spaar. Ek is seker Natalie du Toit sal voor ons by Banda (36 km hiervandaan) aankom as ons gelyk wegspring.
Ons laat Kasenyi en sy geroesemoes agter.
Op die water is dit stil, met net ’n paar mense wat gesels, die enjin en die water wat teen die boot klots.
Nou kan ons meer van die “kuslyn” sien.
Doer staan iemand sy Land Rover en was, en Entebbe se groter geboue – hotelle en regeringskantore – word sigbaar.
Dis by Entebbe waar ’n gyselaarsdrama hom in 1976 afgespeel het toe Palestynse terroriste ’n vliegtuig gekaap en hier laat kom land het.
Die Israeliese spesiale magte het later almal behalwe 3 van die 106 gyselaars bevry. Hier op die skuit voel ek ook soos ’n gyselaar.
Die water hou ons gevange aan elke kant, en ek’s seker die Israeli’s gaan my nie kom oppik as die boot omslaan nie.
Gelukkig is die water kalm en dit lyk al asof daai groot storm soos die Rietsee voor ons begin oopmaak. Nou hoef ek nie bekommerd te wees oor hoe my vriende my CD-versameling gaan verdeel as ek die emmer skop nie.
Ná amper drie uur op die water wys iemand Banda aan my uit op die dynserige horison. Ek sien uit na vaste grond onder my voete.
Onderweg het ons die ewenaar oorgesteek, en dis warm en bedompig. Banda is die eerste stilhouplek, en dis net ek wat hier afklim.
Van die strandjie af beduie iemand met ’n klompie honde om sy voete – dit lyk soos my “ikoniese mazungu” – hoe Tom moet inkom om die rotse te mis.
Ek klim af – dié slag stap ek self deur die water – en Tom begin omtrent dadelik aanstoot.
Sy vaart is nog nie eens halfpad nie en dis al vyfuur.
Dominic Symes groet my met ’n glimlag en ’n stewige handdruk. Hy is seker iets in die sestig, met deurmekaar hare en slenterdrag.
Hy lyk soos iemand wat ’n eiland besit – ja, Dominic is die Sol Kerzner van Banda-eiland.
Hy is bly om my te sien, want ek is die eerste besoeker van die maand, en dis al die laaste week van Oktober.
Hy wys my waar ek gaan slaap – ’n stewige hutjie op die strand – en waar die toilet is. Dis ’n gattoilet, in die middel van ’n groot vertrek, verhewe soos ’n, wel, troon.
My vinnige toer van die geriewe gaan voort. “En hierdie was altyd die kroeg,” beduie Dominic nonchalant na ’n uitgebrande murasie.
“Dit het vroeër vanjaar ontplof.” Blykbaar was daar besoekers en almal het lekker gekuier in die kroeg tot die yskas se paraffien opgeraak het. In die naam van yskoue bier is iemand toe gou na ’n buureiland om paraffien te gaan koop.
Hy het teruggekom, die yskas volgemaak, aangesteek en almal het verder gekuier. Maar toe, gelukkig nadat almal al gaan slaap het, ontplof die yskas en die hele gebou brand af.
Wat gebeur het, is dat die persoon per ongeluk van die plaaslike piesangmampoer gekoop het en nie paraffien nie...
Ons stap oor na ’n skiereilandjie waar Dominic se hoofkwartier, “Die Kasteel”, staan. Dis ’n mooi klipgebou met ’n groot grondverdieping en twee kleiner verdiepings wat ’n toring boontoe vorm.
Oral lê vlermuismis en ek sien hoe die vlermuise by die deure in- en uitswiep. “Ja, wat, die vlermuise en swaeltjies kom en gaan maar,” is al wat Dominic sê. Ikonies.
Hier is nie krag nie, en omdat die yskas ontplof het, drink ons kamertemperatuurbier.
Niks fout daarmee nie.
Hy gee vir my ’n Pilsner Lager en ons stap terug na die strandjie toe.
“Die ouens wat vir my werk, verstaan nie hoekom die mazungu net vir die lekker vuurmaak nie,” vertel hy terwyl hy groot droë palmtakke bymekaarsleep. “Vuur is mos eintlik net vir kosmaak.”
Ek sê dit pla my nie.
Die vreugdevuur wat ons vanaand hier aansteek, met vlamme wat 10 m hoog lek wanneer jy ’n vars palmtak opgooi, is ’n viering in meer as een opsig.
Dis ’n viering dat ek dit veilig tot hier gemaak het. Dis ’n viering vir Dominic, wat min geselskap kry (hy was jammer dat ek nie ’n nuwe leesboek by my gehad het wat hy kon ruil nie – hy was pas klaar met The Girl With The Dragon Tattoo).
Dis ook ’n viering van mense soos Dominic, wat in Afrika gebore is, in Afrika gewerk het, meer kere malaria (“en bilharzia – en ’n kombinasie van die twee...”) gehad het as wat Patricia de Lille partye geruil het, en steeds hier is.
Teen alle verwagtinge in.
Die windjie kom nou koel van die meer af en lawe my sweterige lyf. Elke nou en dan staan een van ons op en sit nog ’n tak op die vuur.
As iemand ons nou sou kon sien, sou hulle dalk dink ons is die laaste twee deelnemers aan Survivor. Wie gaan uitgestem word: ek of Dominic?
Eintlik is dit meer Lord of the Flies as iets anders. Banda-eiland het al beter dae gehad. Hier kom nie meer baie toeriste nie en alles is afgeleef (my gidsboek is oud).
En Dominic is ook nie juis Moeder Teresa nie. Hy sê sommer net wat hy wil, of jy nou geaffronteer is of nie. Dis seker wat hom “ikonies” maak.
Hy vertel my van die Ssesse-eilande en hoe hulle by die Ugandese kultuur inpas. Dis ’n plek van toorkuns en bygelowe, ’n plek waarheen mense vlug as hulle net wil verdwyn.
“Dis vol van blêddie krom boekhouers en massamoordenaars hier,” sê Dominic, en hy laat dit klink asof die twee presies dieselfde soort misdaad is.
Ons klink ons bierbottels teen mekaar. “Op een of ander iets,” sê Dominic.
Ja, dink ek. Veral op die lewe. As ek terug by die huis is, koop ek vir my ’n reddingsbaadjie. Ek belowe.
Maar eers moet ek weer terug oor dieselfde stuk water. In dieselfde soort boot...
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #77 (Maart 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.