Dié rubriek is ook beskikbaar as podcast. Luister hier daarna:

In ons familie is dit elke jaar dieselfde storie: Oktober se bloeisels sit nog aan die bome, dan bel Ouma en vra iemand moet haar dorp toe vat sodat sy die gammon kan gaan koop. En dit help nie jy sê Kersfees is nog twee maande weg nie – daai varkboud moet nóú gesoek word voordat al die beste stukke uitverkoop is. Want vir ou mense is vleis koop nog ’n saak van erns.

In dieselfde gesprek sal sy jou ook – ingeval jy dit dalk iewers oor die laaste dertig-plus jaar vergeet het – daaraan herinner dat sy sal sorg vir ’n platter-tjie vir Oukersaand, iets te knibbel terwyl ons – soos die laaste dertig-plus jaar al – Kersboom hou. Reg so.

As die gammon iewers in ’n vrieskas lê, is almal vir eers gelukkig en skuif die fokus terug na dringender dinge – die jaar is immers nog nie op sy rug nie. Maar sodra jou verlof begin, stroom die tweede sarsie oproepe in:

“Jong, wat sal ons vanjaar vir Ma present gee? Wat het ons nou weer laasjaar vir haar gekoop; ek kan glad nie onthou nie... SMS my as jy aan iets dink?”

Reg so.

“Kom julle definitief? En wanneer kan ons julle verwag? Ek wil net seker maak hier’s lêplek vir almal; laat weet dus maar!” Reg so. “Hier’s ’n baadjie waarvan Pappa baie hou, maar ek kry dit nie in sy size nie. Sal jy nie by julle tak daar in die stad gaan vra nie?”

Reg so.

“Hoor hier, ek het nou besluit ons gaan nie vanjaar weer groot kook nie. Ons kan gerus maar net ’n paar slaaie maak, want dis só warm op Kersdag.”

Sug. Reg so.

Teen die tyd dat jy jou uiteindelik Oukersoggend by die res van die familie aansluit, is jy al op ge-mall. En steeds het jy nie vir elkeen ’n geskenk nie, laat staan nog daai baadjie in die regte size. Wat beteken ’n uitstappie na die plaaslike winkelsentrum is jou voorland.

En selfs al het jy vroeër in die jaar al met jou Kersinkopies begin, sou jy dít nog steeds nie kon ontduik nie – jy’ s mos die een in die gesin wat met daardie laaste lysie met bestanddele vir die trifle, twee waatlemoene, ’n boks druiwe en ’n paar ekstra goedjies – “net ingeval” – dorp toe gestuur word.

Die mall is vol. Jy ry óm en óm in die parkeerterrein, maar nêrens is ’n gaatjie nie. Jy staan naderhand maar net op een plek en luier en kyk hoe die mensdom met hulle volgelaaide winkeltrollies verbykom, hoe lewensmoeë ouers hulle woelige kinders halfhartig kortvat, hoe tieners-met-draadjies in tropformasie opruk Spur toe, hoe die hittegolfies bo jou kar se warm enjinkap biggel, hoe jou eie barometer se kwik styg, en hoe die karwag met sy glimgeel bib die volgelaaide trollies met ’n onpeilbare gesigsuitdrukking betrag – hier reg voor sy oë het die mensdom skynbaar oornag mal geword.

Dis naderhand só warm jy gee nie eens meer om dat jy nou daar binne van winkel tot winkel moet gaan sukkel nie. Jy wil net by die aircon uitkom. ’Raait, hier gaan nou ’n plekkie oop! Jy en nog ’n kar mik gelyktydig vir hom, maar jy hou jou blind en glip vinnig in.

Binne is die aanslag van ’n kunsmatige Europa oorweldigend: De laaste winkelvenster lê kniediep van die Foamalite-sneeu, Rudolph met sy takhorings en rooi snoet spring in ’n flikkering van neonliggies bo-oor die roltrap, en Boney M gee hulle alles met “Feliz Navidad”.

Daar sit ’n bebaarde man in ’n rooi pak op ’n troontjie voor ’n hemelhoë Kersboom en sweet sodat ouers hulle kleuters op sy skoot kan afneem. Voor die drankwinkel se ingang wil ’n meisietjie met ’n skinkbord om die nek weet of jy wil glühwein proe...

Maar jy probeer jou blind hou vir al die gekkigheid en werk doelgerig deur die lysie. Natuurlik is die helfte van die goed al uitverkoop – Ouma het dit mos voorspel! – maar jy bedink alternatiewe en strompel einde ten laaste met ’n waatlemoen onder elke arm en ’n tros inkopiesakkies aan elke hand terug kar toe. Nes jy en die karwag alles mooi in die bagasiebak gelaai het, sien jy daar’s ’n SMS op jou selfoon: Nog geskenkpapier, asb. So 5 rolle.

Reg so.

“Wat ons nou nie het nie, moet maar bly,” kondig Ma aan wanneer jy die pakkies in die kombuis neersit. Om haar staan die tannies en niggies en werskaf, en op die stoof rinkel drie, vier kastrolle se deksels. Die plek voel soos ’n sauna en jy dink: Wat het dan nou geword van net slaaie maak? Maar jy hou jou mond.

Die neefs sit-lê voor die televisie, want die Proteas speel mos teen die West Indies. In die agterplaas tuur Pa diep in sy Weber – Weber-resepteboekie in die een hand, hoërgraad-draadrakkie in die ander. En nou? Nee, hy wil ’n varknek gaarmaak vir môre. Jy dink: Wat dan van Ouma se gammon? En die kookmarathon in die kombuis? Maar jy hou jou mond. Belange begin bots, die klapper se lont trek styf...

Jy gaan soek kleeflint en begin geskenke toedraai, pak hulle by die res onder die boompie uit. Die mans sien hoe jy dit doen en jy word opgesaal met nóg toedraaiwerk – hulle kyk nou krieket. En as dit nie die krieket is nie, is dit ’n heruitsending van Home Alone, Mr Bean, Four Weddings and a Funeral of You Must be Joking. Of Dinner for One: “The same procedure as last year, Miss Sophie?”

Wragtig, James, the same procedure as every year!

Maar vir wat sal ’n mens teen die prikkels skop? Dis Desember, almal se fut is uit en vir die paar dae wat julle saam onder een dak deurbring, is “elke diertjie sy plesiertjie” die beste beleid.

Daar ís tog ook iets koesterends aan die samesyn: Die mooimaak van die kransie wat teen die voordeur kom; Pa se “seën die hande wat dit voorberei het”-tafelgebed; ou huisvriende wat hond-aan-die-halsband tydens hulle aandwandeling gou inloer “net om hallo te sê”; die bure wat kom wys hoe húlle trifle vanjaar lyk; laataand nog hout op die braaikole gooi, nóg ’n bottel wyn oopmaak en vir Ouma aanpor om weer te vertel hoe hulle donkiejare gelede op die plaas Kersfees gevier het; die lees van handgeskrewe Kerskaartjies wat in die pos gekom het...

En Kersoggend, as julle voluit “Herders op die ope velde” deurvat tot by die jubelende “Gloria In Excelsis Deo!” en die kerkkoor bo van die orrelgalery af in kanon antwoord... daai blink in jou mense se oë is die swetterjoel soengroete na afloop van die diens werd.

 Kersdag kreun die tafel onder al die (koue én warm) kos: Wortelslaai. Beetslaai. Slaphakskeentjies (Ouma se ander bydrae tot die feestelikhede). Aartappelslaai. Braai-aartappels. Groenbone, of waterblommetjies wat nog wintertyd spesiaal gekoop en gevries is. Rys. Klein worteltjies in ’n vlasous...

Om van die vleispotte van Egipte nie eens te praat nie: Daar’s ’n skaapboud, natuurlik die gammon, Pa se eksperimentele varkgereg, ’n hoenderpastei of ’n kalkoenerige iets, en dalk sommer nog ’n paar verdwaalde frikkadelle ook. En tuisgemaakte soetmosterd.

Julle sit aan met julle verspotte plastiekhoedjies op die kop en lag vir die klappergrappe asof julle dit vir die heel eerste keer hoor. Julle komplimenteer mekaar se kos, gooi ongemerk ’n bietjie sout daar waar een rooiwyn op die wit tafeldoek gemors het, klink ’n glasie op familie wat vandag ver is en ook op dié wat nooit weer saam met julle sal aansit nie... Soos altyd was dié ook weer ’n swaar jaar.

“Hulle kap in ons bos,” sal iemand veelseggend opmerk. Dit eet en gesels totdat Pa oor sy boep streel en behaaglik sê: “O, die overdaad!” gevolg deur almal wat sweer hulle eet eers weer in die Nuwejaar. En terwyl die kriekethoogtepunte klankloos in die agtergrond wys en Jan de Wet se “Hierdie kind” oor die kombuisradio die skottelgoedwassers ’n bietjie tranerig en sentimenteel stem, dut die res agter toegetrekte gordyne met waaiers wat oor hulle voete blaas.

Tot skemeraand, wanneer jy die yskasdeur hoor oopgaan en ’n neef frikkadel-in-die-hand betrap: “Waar’s die mosterd? Dis al wat dié frikkadel nou kort. O, wag, hier’s nog pastei oor...” Kort voor lank sal al die Tupperware-bakke met die oorskiet op die kombuistafel uitgepak staan en namate almal ontwaak, kom elkeen ietsie aas. Daar word ’n pot rooibostee gemaak, die vensters en blindings word oopgeskuif – die dag se ergste hitte is darem nou verby. En terwyl die gesprek na die Proteas se kolforde draai, sal Ouma heel selfvoldaan sê: “Dis ’n goeie gammon dié.” En almal sal met haar saamstem. Dit ís ’n goeie gammon. Én ’n goeie Kersfees. Kom ons maak volgende jaar weer só.


Dié rubriek kom uit die argief. Dit is die eerste keer in Weg #122 (Desember 2014) gepubliseer.