Ek lê nog êrens tussen droomland en wakker, maar ek kan die gesprek duidelik hoor terwyl die buurman en sy vrou van die boonste terras in my wa se rigting stap. Mý wa is eintlik nie myne nie. Ek leen hom net. Omdat ek vir ’n buitelewe-tydskrif werk, kry ons gereeld die kans om met nuwe waens te kamp. Maar my kampbure weet aanvanklik nie dis ’n geleende wa nie.

En toe ek gister met dié splinternuwe huis-op-wiele – wat boonop deur ’n nuwe vervaardiger gebou word – die kampterrein binnery, kon ek sien hoe die koppe draai. Ek het skaars op my staanplek stilgehou, toe waai die eerste besoeker vriendelik langs die dubbelkajuitbakkie se bestuurdersdeur.

Ek draai die venster af en groet. “Dagsê, maat” groet hy terug. Hy dra een van daardie kenmerkende SuperSport-gholfhemde wat oupas gereeld vir Kersfees by raadop kinders en kleinkinders kry, ’n kniebroek met meer sakke as wat nodig is, sy voete geskoei in Crocs en ’n breërandhoed op sy kop. ’n Mens kan dit seker die voltydse kampeerder se uniform noem.

“Genade, maar dis ’n lekker wa wat jy het. Wie bou die ding?” Ek verduidelik dat ek vir ’n kamp- en 4x4-tydskrif werk en net die wa leen. Sodra ek my staan gekry het, sal ek oorstap en hom nooi om te kom kyk, belowe ek. Ek gee nie om nie. Trouens, ek hou daarvan om ander kampeerders se indrukke oor ’n nuwe produk ook te hoor, want tussen die “Oe, dis mooi” en “Jimmel, dis nou slim” hoor jy ook waardevolle kritiek, soos “ek sou die glyraam met die yskas aan die ander kant gesit het” of “die trappie kan effens laer” of “jy gaan sukkel om al jou goed hier in te pak as jy beplan om vir langer as ’n naweek weg te gaan”.

Later, nadat die oom in die SuperSport-hemp, sy vrou én die bure agter hulle die wa bekyk en hulle indrukke gedeel het, steek ek my vuur aan, knak ’n skuimkop en sit agteroor in my kampstoel.

Ek maak die deur op ’n skrefie oop. Die rede is tweeledig… ek is nog in my slaapbroek en omdat ek nog nie tande geborsel het nie, is dit goed om iets tussen my en Fanie en die mevrou te hê.

Dis stil in die kampterrein – dis oorwegend die geval wanneer ek of my kollegas so op ons eie kamp – en ek kan die gesprekke op die boonste terras agter my duidelik hoor. “Die man werk vir Weg Ry & Sleep en hy toets die wa wat hy vanoggend daar naby die lughawe gaan haal het. Ons het gou gaan kyk en dis ’n oulike ding, hoor. Julle moet ’n bietjie gaan loer. Fanie, dan kan jy hom sommer vra wat by Jurgens aan die gang is.”

Ek staal myself vir nog besoekers. Ek hoop hulle wag tot môre. Ek hou my asem op en spits my ore om te hoor of hulle naderstap, maar hoor dan hoe Fanie sê hulle sal eerder môre ’n draai by my kom maak, “want dit is nou seker al te laat”.

“Nee, Fanie, die man slaap nog. Kom ons kom later terug,” hoor ek vroeg die volgende oggend ’n vrouestem protesteer. “Ag, man,” stry Fanie. “Hy sal nie omgee nie. Hy’s gewoond hieraan en Bertus-hulle het gister ook gekyk. Klop-klop! Buurman!”

Ek vlieg regop en my kop mis rakelings die kassie bo my kop. “Net ’n oomblik,” roep ek terug terwyl ek die slaap uit my oë vee. Ek sien op my foon dis skuins voor ses. Nie ’n ongewone tyd om wakker te wees nie, maar ek hoef nie vandag op kantoor te wees nie en het derhalwe gisteraand die alarm afgesit. (Een skuimkop het vier geword en ek wil my verbeel ’n glas rooiwyn het ook sy opwagting gemaak voor ek gaan lê het).

“Ons wil net gou hierdie blink nuwe wa van jou beloer,” roep Fanie buite. Ek kyk om my rond. Op die tafel in die wa staan gisteraand se vuil bord, messegoed en wynglas, my klere lê oor die bank langs die tafel gestrooi en my skoene en sokkies lê nog voor die bed.

“Is jy al op, buurman?” Fanie is knaend en begin aan die deur te klop. Ek maak die deur op ’n skrefie oop. Die rede is tweeledig… ek is nog in my slaapbroek en omdat ek nog nie tande geborsel het nie, is dit goed om iets tussen my en Fanie en die mevrou te hê.

“Haai, môre… gee my net kans om gou aan die kant te maak,” vra ek. “Nee, moet jou nie daaroor bekommer nie. Ons gee regtig nie om as die wa deurmekaar is nie,” sê Fanie en trek die deur heeltemal oop. “Ek is Fanie en hierdie is my vrou, Nina.” Nina glimlag vriendelik en groet my daar waar ek in die deur van die woonwa in my slaapbroekie staan. My hare en baard staan in alle windrigtings en ek keer my knoffelbrood-bier-en-rooiwyn-oggendasem met die een hand voor my mond terwyl ek hulle teruggroet.

Daar is egter geen keer aan Fanie nie en toe ek my hand uitsteek om blad te skud – en vir nog tyd te bedel – trek hy my vorentoe en skuif by my verby die wa in. Ek vervies my op die plek vir Fanie. Hoe kan een mens so voorbarig wees en nie ander se persoonlike ruimte respekteer nie. Dis nie die Beeldvakansieskou dié nie. Dis nie sommer net vir kyk nie. Hy kan nie net instap en doen wat hy wil nie. Dis sesuur in die oggend! En dan sê hy ewe “dis nogal donker hierbinne”. Ja, Fanie. Dis omdat die gordyne nog toe is… omdat ek tot drie minute terug nog geslaap het.

Die volgende oggend is ek self voor ses al op. Ek is nie meer kwaad vir Fanie nie, maar het hom mooi gevra om ander tog ’n bietjie meer in ag te neem. Ek moet my kamp vroeg opslaan, want ek het ’n lang pad voor tot by vanaand se woonwapark en daar moet nog genoeg daglig oor wees vir foto’s.

Terwyl ek van die ablusieblok af terugstap na my staanplek toe, tref my oog ’n nuwe intrekker wat êrens tussen gistermiddag laat en nou sy staan naby die swembad gekry het. Die mense kampeer met wat lyk na ’n selfgeboude wa. En uit die aard van my beroep is dit iets waarin ek altyd belang stel. Ek besluit op die plek dis ’n wa wat op die bladsye van dié tydskrif hoort. Ek stap effens vinniger na my staanplek, gryp my kamera en notaboek en draf terug na dié oulike wa toe.

“Klop-klop! Buurman!” roep ek. “Net ’n oomblik,” antwoord iemand met ’n kraakstem… en ek verbeel my ek kan hoor hoe hy die slaap uit sy oë vee.


Dié artikel het oorspronklik in Oktober 2019 (#27) in Weg Ry & Sleep verskyn.