In die Kaap woed ’n vreeslike storm. Ek lê wakker in my bed, benoud dat die wind en vlae reën die skuifdeur gaan uitruk. My gedagtes dwaal na die storms aan die Oos-Kaapse kus, waar ek grootgeword het.

En ek dink skielik weer aan Krokkie, die Land Rover waarmee my pa boot gesleep het.

Ons het op Astonbaai gewoon, ’n amperdorp 4km van Jeffreysbaai af, op die see se drumpel met ’n strandmeer reg voor die huis. ’n Voetpaadjie het jou na die uitgestrekte wit strand geneem, minder as 200m van die huis af.

Dis daardie minder-as-tweehonderd-meter-strand-toe wat Krokkie in ons lewe gebring het.

Toe ons na Astonbaai trek, het ons ’n gewone Land Cruiser gehad – ’n padwaardige een – maar my pa is ’n praktiese man: Só ’n voertuig is mos geldmors as jy jou boot net 200m hoef te sleep, of hoe?

Die Land Cruiser is summier verkoop en ons het vir Krokkie gekry, ’n Land Rover uit die jare sewentig wat om die een of ander duistere rede poeierblou was.

Krokkie het al die pad gekom van die Witelsbos-plantasie in die Tsitsikamma, en tot vandag toe wonder ek hoe hy die iets in die 100km tot by ons huis gemaak het.

Maar Krokkie was ’n aanhouer en ’n uithouer.

Krokkie het ons boot, Striker, jare lank gesleep, maar net mooi niks het op die normale manier gewerk nie.

Om mee te begin het hy nie remme gehad nie. Ook nie ’n petroltenk nie (dit was deurgeroes). Die petrol het jy sommer in ’n vyfliter-olieblik op die vloer langs die rathefboom gegooi.

Dié is met ’n pypie deur die paneelbord met die vergasser verbind. En wie het meer as vyf liter petrol nodig as jy net 400m retoer ry?

Wanneer ’n mens ’n draai na links gevat het, het die deur aan die passasierskant gewoonlik oopgeswaai, en die ruitveërs moes jy met die hand werk (darem van binne af).

Krokkie het ook nie ’n sleutel gehad nie; ons het hom met ’n skroewedraaier aangeskakel.

Net mooi in die tyd toe Krokkie by ons aangekom het, is daar een nag vyf bakkies op Astonbaai gesteel, waarna die boewe sommer ’n hele paar strandhuise se inhoud – van die stoof tot die beddens – op die bakkies gelaai het.

My pa glo ’n mens maak dit darem nie té maklik vir sulke skurke nie, en hy versteek toe onder die paneelbord ’n doodgewone ligskakelaar wat jy eers moet aanskakel voordat die skroewedraaier sy ding sal doen.

Dit het dus ’n hele paar stappe geverg om Krokkie aan die gang te kry:

Stap 1: Elke ou op sy pos – een agter die stuur en een by die oop enjinkap.

Stap 2: Skroef die vergasser oop.

Stap 3: Ligskakelaar aan (die een onder die paneelbord).

Stap 4: Die ou by die enjin gooi ’n Brut-deodorantdoppie vol petrol in die vergasser. Presies ’n Brut-deodorantdoppie vol. Ek kan nie meer onthou wat die storie met dié baie spesifieke doppie was nie, maar almal wat ons geken het, moes hulle Brut-doppies vir ons bêre. My pa het sommer ’n klomp in ’n boks in die motorhuis gehou.

Stap 5: Steek die skroewedraaier in die aansitter en draai hom soos ’n sleutel.

Stap 6: Luister en tik die petrolpedaal liggies sodra die enjin die regte ritmiese brt-brt-brt maak. “Kom, Krokkie, kom!” het ons hom aangepor. As jy te vinnig tik, dan vrek hy – en jy begin weer van vooraf. Sodra Krokkie ’n paar minute lank sy brt-brt-brt kon volhou, is die boot gehaak, en skaars vyf minute later glip hy van die sleepwa af in die vlak water.

Astonbaai het nie ’n sementlanseerplek vir bote nie, en die Indiese Oseaan is nou maar eenmaal nie die Vaaldam nie. Daar is ’n rede hoekom surfers van reg oor die wêreld hierheen stroom om hulle ding te doen.

Ek en my broer en suster en nog twee bemanningslede (een slag was dit Gerda Theron, Charlize se ma…) hou dan vir Striker met sy neus reguit see toe en maneuvreer hom stadig maar seker dieper in terwyl my pa vir Krokkie ’n ent bo die hoogwatermerk parkeer.

Dan swem my pa in en klim op Striker terwyl ons ál dieper instap en aan die boot vashou. Dit is regtig nie snaaks om teen halfvyf die oggend in swemklere ’n boot met sy neus reguit vorentoe te hou nie. Veral nie met yslike branders wat hier oor jou kop breek nie.

“Kliiiim!” skree my pa wanneer die enjins glad loop, ons diep genoeg is en die branders ’n blaaskans gevat het.

Teen dié tyd is die water gewoonlik al by my ken.

Daar is nie tyd vir praat of dink nie. Jy trek jou op oor die relings en plof ongrasieus in die boot neer.

Ons het altyd eers tjokka gevang, vir sakgeld, en gewoonlik het ek en my suster nie vir die visvangdeel van die trippie gebly nie – vir ons was dít te vervelig. Wanneer ons kwota tjokka in die viskaste was, het my pa tot agter die branders gery, waar ons in die see geduik en ’n ent geswem het totdat ons ’n lekker brander kon vang strand toe. Dan het ons met die strandmeer langs huis toe gestap en daar rondgehang totdat ons oor die bootradio gehoor het Striker kom uit. (Partykeer het ons die rooi-en-wit spikkel op die see sien aankom.)

En dan het die hele ding met die Brut-doppie maar weer van vooraf begin…

Moenie dink bootsleep is al wat Krokkie gedoen het nie. Mense het hulle gereeld misgis met die strandmeer en nie besef dis ook ’n getypoel nie. Die nat sand het altyd kliphard gelyk, maar dit was in der waarheid meer soos dryfsand.

Dan het hulle vasgesit en moes ons gaan help met Krokkie.

Ons het dié dagbesoekers gewoonlik van die stoep af dopgehou. “Ja, ja, daar sit hy nou…” En dan kan jy maar weet, kort daarna is daar ’n klop aan die voordeur: “Ek hoor Oom sleep mense uit …” En dan: Brt-brt-brt…

Krokkie het soos ’n droom oor los seesand gery en sy “uitsleepdiens” het later só bekend geraak dat mense verras was om te hoor my pa het ’n ander, “regte” werk.

Binne ’n dag of wat ná so ’n uitslepery was dieselfde ou altyd terug voor ons deur, diep dankbaar met enigiets van ’n skaapboud, bier en biltong tot duur likeur of wyn.

Op ’n keer het iemand selfs met ’n bottel twintig jaar oue brandewyn daar aangekom.

Eendag wou my pa staal gaan koop in Port Elizabeth om ’n nuwe sleepwa vir Striker te bou. So oor sy bord Post Toasties kondig hy aan hy gaan “sommer gou” met Krokkie. Ons staar hom almal oopmond aan. “Natúúrlik is Krokkie padwaardig,” sê my pa, “hy kan net nie die toets deurkom nie.” Nes daai ou wat saam met jou, jou broer én jou suster in standerd agt was en dit toe ver gebring het…

Nou ja, PE is darem nie so ver nie – met ’n gewone motor skaars ’n uur se ry.

My pa het sy Post Toasties geëet, ons is deur die stappe met die Brut-doppie, en brt-brt-brt, weg is hy – mét ’n paar ekstra petrolkanne aan boord. Die res van ons in die huis kon maar net die kop skud – en naby die telefoon rondhang.  Onthou, dit was nog in die tyd voor selfone.

Ná ’n uur het ek gesê: “Hy het seker nou al moed opgegee en dalk omgedraai...”

Maar nee. Teen middagete moes ons toegee: Ons het vir Krokkie onderskat. En sowaar, amper vyf uur later, nie lank ná middagete nie, is my pa terug.

Maar geen brt-brt-brt nie.

Geen Krokkie nie. Te voet en effens verleë staan my pa daar.

Nee, Krokkie staan by die Gamtoosrivier… hy het ’n lift gekry saam met ’n boer. Met ’n gewone motor was dit so twintig minute se ry van Astonbaai af.

Ek kan nie onthou hoekom my pa op die ou einde vir Krokkie verkoop het en die wit Land Rover aangeskaf het nie – die een met die ramkop op die deur (hy het uit die Langkloof gekom en die boer het nog ’n héle ekstra enjin ook saamgegee…).

Wat ek wel onthou, is die lot van die mense wat Krokkie vir ’n paar honderd rand gekoop het.

Op ’n dag het ’n lelike storm opgesteek en die bote het die een ná die ander uitgejaag strand toe. Teen die tyd dat die see gelyk het asof dit vol Omo is, was die strand verlate. Nog net Krokkie het daar gestaan, met die sleepwa van sy nuwe eienaars agteraan.

Teen donker het ons geweet: Hulle kom nie terug nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #69 (Julie 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.