
En in die ry voer ’n gesig op ’n verbygaande bus jou mee na die ander paaie van jou lewe...Die spits by die ingang tot die Krokodilpoort oos van Nelspruit móét tog ’n naam hê, dink ek terwyl dit al nader opdoem en neem my vir die hoeveelste keer voor om daaroor op te lees.
Of om ’n kaart in die hande te kry wat iedere kontoer, heuwelrug en kruin se naam gee.
Ek het lankal ophou tel hoeveel keer ek dié pad van my tuisdorp, Kaapsehoop, af gery het vir skoolsport of werksake, ’n middagete in Maputo of ’n welverdiende seevakansie.
As jy die Verenigde Nasies van voertuie wil beleef, kom ry die Maputo-korridor. Hier is skedonke en stasiewaens met ma’s wat “net gou” iets vat wat ’n Nelspruit-koshuiskind vergeet het. Hier is strepe taxi’s met sleepwaens gelaai soos Jakob se leer met matrasse, plastiekkanne, fietse en, soos nou die dag, ’n pienk toilet bo-op als.
Hier is lorries wat soos ysterwurms in gelid ry terwyl die spoorlyn aan die oorkant van die Krokodilrivier soos ’n mamba in die son bak. Hier is generiese wit maatskappymotors, Landies met daktente, Swazi-registrasies met getinte ruite, volgepakte plaasbakkies sonder nommerplate; polisiewaens, trekkers, padskrapers, motorfietse, busse...
Soms, eintlik meestal, is die verkeer só langsaam deur die sowat 12 km lange Krokodilpoort dat ’n mens maklik iemand se oog vang wat in die aankomende baan in ’n bus verby jou ry.
Dit sal nie ’n alledaagse pendelaar wees nie – hulle haal verlore slaap in – maar ’n reisiger. Dit is asof daardie oomblik in stadige aksie afspeel: Julle kýk vir mekaar (jy sal dae later nog ’n rooi geruite bloes se weerkaatsing in die ruit onthou), kopknik in ’n amperse groet, en wonder: Waarvandaan en waarheen is dié mens op pad?
My beste busrit ooit (slegs in terugskouing!) was omstreeks die wisseling van die eeu na Bulawayo, Zimbabwe. Toe reeds was die roete Beitbrug toe bésig.
Dit was ’n langnaweek en ek en my twee dogters (toe 4 en 7 jaar oud) was op die bus.
Ons is deur Polokwane, die Verwoerd-tonnels en die Soutpansbergpas se talle esse, en uiteindelik by Musina deur.
“Sisi?” vra die busbestuurder vroegdag by die grenspos, en beduie ek moet ons paspoorte aangee. Hy sal die stempels gaan haal, want die kinders slaap nog.
Toe hy dit ’n uur of wat later terugbring, sê hy verskonend hy sal aan die Zim-kant nie kan help nie. “Then you have to go yourself. All of you.”
Daar was 16 busse aan die Zim-kant. Ek het die slaap uit die dogters se oë gevee en met hulle afgesit na die benoude kantoorgebou.
Aan die linkerkantste muur was ’n ingeboude houttoonbank, na regs die doeanepersoneel se hokkies. Tussenin was die hel van all of you. Ek het die dogters op die houttoonbank staangemaak en gesê: “As ek ons fluit gee, waai julle vir my. En julle roer nie en sê nie ’n woord nie.”
Ja, ’raait. Ek was so in die middel van die massa toe begin die dogters daar van die toonbank af sing. Eers “Ek ry met my rooi motortjie”. Later trek hulle weg met “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, soos hulle in die kleuterskool geleer is.
Die dogters síng, vals en gedompel in grammatikale chaos.
Alles raak tjoepstil. Toe ek my oë ná ’n skietgebed oopmaak, word hulle van die een vrou na die ander in ululasie aangegee en voor my maak die oorgrensgangers soos die Rooisee oop.
Ek stap tot voor teen die toonbank, sit ons paspoorte neer en dit word gestempel.
Indien ’n mens lank dieselfde pad weer en weer ry, is daar altyd die gevaar dat jy dinge ag vir wat dit nie meer is nie. Met elke rit lamenteer ’n mens maklik op dieselfde deuntjie: “Hier het ek eens...”
So is die Onderberg, waarin jy oos uit die Krokodilpoort gespoeg word, lank nie meer afgeleë nie. Dit is ook deur die jare erg ontbos: vir piesang- en suikerrietplantasies en ongelukkig ook vir dorpsontwikkeling.
Voordat ’n nuwe dorp oorkant Hectorspruit half oornag in herehuise ontplof het, was daar slegs die ou dorp met die slaghuis waar jy van die beste biltong kon koop, en die Buffalo Inn. En in dié hotel was die slagspreuk van die amptelike toerismestreek kortweg geldig: “Wild Frontier.”
Laat niemand jou vertel hulle ry van daar verder oos en kyk nié met stomme verbasing hoe rotse op die tippies van hulle kliptone balanseer op die kruine nie. Daar is veral een wat uitstaan: Lank en regop en mooitjies in die helfte verdeel.
Ons noem die twee Adam en Eva, en is telkens verbaas die een of die ander het nog nie van die hoogte af getuimel nie. “Sê nou maar dit gebeur,” vra ’n kind een dag droogweg, “is dit dan die sondeval?”
Oor Jam Tin Creek, verby Opdraand.
Die ronde heuwels in die Krugerwildtuin vlak noord van Malelane bly in my sig soos wat ’n volmaan in die nag as ’t ware sáámry, immer teenwoordig. Anders as die “Kakkerlak-kafee” op die hoek van Buffelsweg in Malelane wat sy deure toegemaak het.
’n Mens kon die lekkerste periperi-hoender diékant van die Mosambiekgrens daar eet. Jy’t jouself so dun gemaak langs die toonbank en verbygeskuur na die sykamer met sy plastiektafels, -tafeldoeke en -blomme. Ek verbeel my die tafelblomme was in Coke-bottels vol water staangemaak.
Anderkant Malelane staan die verkeerspolisie.
Dit lyk egter heel gemeensaam en my siniese kant wonder of daar onderhandel word oor boetes of buit. Dit is ’n ope geheim dat hier, buiten die onderskeie grensposte na Swaziland en Mosambiek, ook die sogenaamde Fortuner Highway is waarlangs gesteelde voertuie na Mosambiek gesmokkel word – heel ironies al met die roete wat doerietyd se transportryers soos sir Percy FitzPatrick oor ’n lae nek in die Lebomboberg verkies het...
By Komatipoort se afdraai ry ek moedswillig verby tot vlak voor die grenspos. Jare gelede was daar ’n verlate klip waar ’n mens kon sit en kyk na die samevloeiing van die Komati- en Krokodilrivier. Dis nou iewers verskans tussen die smouse se stalletjies.
Dan draai ek terug om my afsprake in die dorp na te kom. Ek sien reeds uit na my terugtog later. Want van die ander kant af is g’n pad ooit dieselfde een as waarmee jy gekom het nie.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #75 (September 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.