Voor my drie tjokkertjies gebore is, het ek my nie veel aan sport gesteur nie, maar sedertdien kry ek sommer ’n oordosis.

Uiteindelik het ek maar boedel oorgegee en ook sportmal geraak.

’n Mens moet seker nie kla nie, want my kinders se rugbytoere het my na ’n paar eksotiese plekke geneem: Johannesburg, Durban, Port Elizabeth, Bloemfontein en Wellington (die een in die Boland).

Glo my, skoolrugbytoere (of tennis-, hokkie-, waterpolo- of dambordtoere) is ’n anderster soort manier van vakansie hou.

Een van die eerste goed wat jou opval, is dat die mense wat saam met jou reis, amper nes jy is: Ma’s in gemaklike klere, met ’n pakkie Band-Aid in hulle handsak.

Vandat ons klompie ma’s se seuntjies vir die eerste keer saam skool toe is, sien ons mekaar by toernooie: “Oe, kyk, dis daai vrou wat so kan kekkel! Onthou jy? Van die o.14-toer? Kom ons gaan sit liewer doer anderkant…”

Ek het van kleins af gedroom my reise gaan soos die Amerikaanse skrywer John Steinbeck s’n wees: Net hy en sy Franse poedel, 10 000 km deur Amerika.

Maar nee, ek reis saam met ander rugbyma’s. Skouer aan skouer langs sopnat rugbyvelde het ons oor die jare heen geheg geraak aan mekaar. Later het ons boesemvriende geword rondom doughnuts en kitskoffie uit polistireenkoppies.

Ek kla nie. Dit was eintlik van my beste vakansies nóg.

Saam-saam het ons selfs ons onskuldige bloedjies ’n slag oorsee gestuur om te gaan rugby speel teen die “I-say-old-chaps” van Eton en die gemengde spanne – dis nou seuns en meisies – van die Stade de France in Parys.

Ons seuns het voor ons oë grootgeword, van outjies met speekbene tot bulletjies met stoppels op hulle wange. Nou dra hulle tokse so groot soos hansworsskoene en harde pantsergoeters onder hulle rugbytruie.

Ek sal nooit die verwilderde uitdrukking op my 13-jarige se gesig vergeet nie toe hy my vertel: “Ma, ons het teen meisies gespeel!

En ons mag hulle nie ge-tackle het nie!” Ek is nie seker watter deel van sy ego die seerste gekry het nie.

Ons seuns het voor ons oë grootgeword, van outjies met speekbene tot bulletjies met stoppels op hulle wange. Nou dra hulle tokse so groot soos hansworsskoene en harde pantsergoeters onder hulle rugbytruie.

OM TE SÊ ONS SEUNS is bevoorreg, beskryf nie naastenby hoeveel interessante plekke hulle op hulle sporttoere sien nie – of hoe goed hulle ma’s is om goedkoop saamrygeleenthede iewers agter die paviljoen of in die snoepie te bedel nie.

Die geld vir al hierdie toere, plaaslik én oorsee, moet natuurlik iewers vandaan kom. Daar’s eintlik net een manier… ek kan die woord amper nie meer oor my lippe kry nie. Geldinsameling.

Kyk, ek is al deur ’n hele paar boereworsbraaie, bagasiebakverkopings, gholfdae en selfs ’n whiskyproe of twee, aangebied deur danige manne met Skotse rokkies.

Ek onthou een marathon-insamelingspoging baie goed. Ons het enigiets opgeveil – van sjokoladekoek tot Percy Montgomery se linkerstewel – vir ’n waterpolo-oefenkamp in Hongarye. Toe ons seuntjies daar oorkant land, is hulle gedril deur gesette afrigters met rasperstemme, so reg uit ’n strafkamp: “Svim! You vill svim!”

Toerma’s is gesoute sporttoeskouers en veral tuis in daai gevaarsone op die kantlyn van ’n rugbyveld, enige plek ter wêreld.

Ons skroom nie om vae beskuldigings na ’n skeidsregter te slinger nie en ons moedig ons kannetjies luidkeels aan.

Ons troos maar as hulle met 55-0 platgeloop word deur ’n omgekrapte span ossies in tokse wat op die Vrystaatse mielievelde grootgeword het en hooibale soos Lego-blokkies kan rondgooi.

Ons, die toerma’s, gebruik soms in die hitte van die stryd per ongeluk kookboek-terminologie.

(“Knie hulle!” laat lig gewoonlik ’n paar wenkbroue langs die veld.)

Ons verwar ook nou en dan rugby se reëls met waterpolo en krieket s’n, maar laat niemand jou vertel ons is nie entoesiasties nie.

Eenkeer, tydens ’n waterpolotoernooi waarin een van ons groupie se seuns amper verdrink onder ’n warboel bene en arms, trek sy ma los uit die paviljoen: “Hei, ref, die skrum collapse!”

Net soos ons al ons seuns se spesiale sportgoed – mondskerms, knieskerms, Deep Heat en voosgeblaaide uitgawes van Sports Illustrated se baaikostuum-uitgawe – in hulle toksakke pak, het ons ons doepa in ons handsak.

Een van ons groepie het altyd ’n voorraad Fisherman’s Friend-hoeslekkers en ’n paar bottels kruiekalmeermiddel. Ons drink dit soos water as die wedstryd gelykop verloop.

Een ma hou pynlik nougeset rekord van die tellings. Sy kan blitsvinnig vir jou bereken wie in die finaal gaan speel as ons, sê nou maar, drie drieë druk en die OP wen in die semi’s en as ons volgende daardie klein hardekwas skeidsregtertjie van Gauteng tref eerder as “Vader Kersfees” van KZN.

Dieselfde ma bestuur altyd.

Maar dis al wat sy doen. As iemand nie die kaart uitpluis en vir haar sê watter afdraai sy moet vat nie, sal ons die heeldag om ’n verkeersirkel wentel of aanry Kaïro toe.

“Links, uhm, nee! Maak dit regs! Ag, ry net agter daai rooi karretjie aan!”

Ons groepie is al soos een organisme. Ons leun saam na regs as die skrum inmekaarsak en dan weer links as die bal teen die lyn af loop tot by die vleuel.

Ek is die een wat die pryse by die snoepie bestudeer en verslag doen oor die koffie en doughnuts.

En ek’s die een wat in die toilet wegkruip as ’n waterpolowedstryd met strafdoele beslis word.

Ons groepie is al soos een organisme. Ons leun saam na regs as die skrum inmekaarsak en dan weer links as die bal teen die lyn af loop tot by die vleuel.

Dis maklik om ’n sportma op straat uit te ken. Sy is die een met die Checkerssakke vol piesangs (vir kits-energie), die sespak-Powerade, die bottels rooiwyn (vir vanaand se ete saam met die ander ma’s) en ’n paviljoenkussinkie (vir lam boude) onder die arm.

Ek was al by skole diep in die rugbyhartland waar seuns byname het soos Tou, Knoppies en Hamerkop. Eendag draf ons eerste span op die veld in ’n deel van die land waar brandewyn gestook word… ek het net my kop laat sak.

Dit was soos Dawid teen Goliat.

Ons outjies het so kléín gelyk! Wat op aarde eet die mense hier?

“Stuur julle die kinders hier skool toe met ’n voersak om die nek, vra een van die stadspa’s vir ’n plaaslike pa, ’n ou wat self nie te klein is nie.

Met sy vuiste soos twee geplukte hoenders op sy knieë draai die ou sy fris nek en skouers en kyk ons aan met so ’n minagtende glimlaggie: “Julle manne daagh uit die suide, julle tgou met sulke Bagbiepoppe wat net blaagslaai eet. Hieg tgou ons met busse.”

Later sien ek sy vrou in die snoepie en ek besluit om liefs nie in te druk nie.

SPORTTOERE GEE JOU nou en dan die kans om ietsie van die donker kant van die lewe te ervaar.

Eenkeer, op ’n waterpolotoer na Grey in Bloemfontein, praat een van die mammas ons almal om om “so ’n bietjie te gaan jol” in die stad die Saterdagaand ná die wedstryd.

Maar waar? Iemand het al gehoor van Die Mystic Boer...

Mystic Boer?

Nee, hoor ons, dis ’n klub. Hip en happening. ’n Plek waar jy gesien wil word.

Klub!? Ons skuifel onwillekeurig agter mekaar se skouers in. Ons was laas in die jare sewentig hip en happening en hier staan ons nou buite ’n nagklub, ’n spul ma’s in outydse plakkies en outannie-onderklere, oorgehaal omvanaand weer die lekker lewe te proe.

Die enigste twee wat eintlik kwalifiseer om hier te wees, is die jong waterpolo-afrigter en die juffrou in beheer.

’n Paar treë die klub in kry ons van alle kante af die soort kyke wat diere in die dieretuin kry. Ek wens ek was eerder by die huis, besig om bababottels te was.

Check daai tannie,” hoor ek ’n meisie sê.

Iemand pak ’n rytjie glasies op die kroegtoonbank uit. Ek weet darem nie…

“Olé!” gil die waterpolo-afrigter en gooi een in sy keel af.

Tequila. O koek.

Ek kan nog aanvaar dat iemand my ’n tannie noem in ’n vreemde stad, maar ’n dronk tannie… dis waar ek my voet neersit.

Die tequilas het stilletjies oor ons skouers gevlieg.

DAAR’S NOG ANDER gevare vir die reisende sportma – hier én oorsee. Ons is een aand in ’n restaurantjie met goeie pizza en ’n gesellige atmosfeer.

Hier teen die einde van die aand bied ons kelner homself aan as ’n ekstra ietsie op die spyskaart, vir net R350 per uur. Ons was stomgeslaan. R350 ’n uur? Was dit vir ons almal?

Sekere dinge is nie veronderstel om met sportma’s te gebeur nie.

Elk geval, soos Marco Polo dit gestel het: “Ek het nie eens die helfte vertel van wat ek gesien het nie.”

Of soos hulle deesdae sê: “What goes on tour, stays on tour.”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #51 (Januarie 2009) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.