Deel

RUBRIEK: Met gebalde vuis en geskoende voet

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
As waarnemende staatsaanklaer in die sewentigerjare moes jy toesien hoe ouens met R1 beboet word vir piepie op straat. Maar hoe gemaak as jou verloofde voor jou verskyn? En wat as daar sonde uitbreek met die bure?

As regstudent het ek met ’n staatsdiensbeurs van R800 per jaar studeer. Om hierdie bedrag aan te vul het ek vakansies by die landdroskantoor op Louis Trichardt as klerk van die hof gewerk.

Een Desember het die plaaslike staatsaanklaer met vakansie gegaan en ek moes waarneem. Dit was ’n lewenservaring wat ek vir niks sou wou verruil nie. Ek het mense in hulle swaarkry leer ken, maar het ook komiese oomblikke beleef. As enigste aanklaer op die dorp het ek alle sake hanteer – van piepie op straat tot roof. Ja, piepie op straat was ’n misdryf en die boete was gewoonlik R1 (deesdae is dit blykbaar R200).

Ek het in ’n losieshuis in die onderdorp gebly teen R50 per maand – wat drie etes per dag ingesluit het. My salaris was R150 per maand, wat bykans verdubbel het toe ek my B.A. (Regte)- graad voltooi het.

Daar was 13 inwoners in die losieshuis: vier jong meisies wat in die huis geslaap het, en nege mans wat in prefab-buitekamers geslaap het. Hulle was warm, daai prefabs, in Desember 1974 en Januarie 1975. Ons mans het een bad – nie ’n stort nie – gedeel. Dis deel van die storie.

Ons het drie-drie in ’n klein kamer geslaap. Wanneer ek as kind gekla het dat my skoolskoene te groot of te klein is, het my ma altyd gesê: “’n Arm man het nie size nie.” Ek was gewoond daaraan om ’n kamer te deel vanweë my koshuisagtergrond, maar dit beteken nie dat dit lekker was nie.

My kamermaats was die plaaslike gesondheidsinspekteur en ’n man met ’n grys borselkop. Nadat my salaris drasties gestyg het, het ek vir my ’n platespeler gekoop en ’n enkele solus-seweplaat. Ek kan nie die kunstenaar se naam onthou nie, maar die liedjie op die een kant was ’n treffer: “Why me, Lord?”

Een aand het Grys Borselkop my en die inspekteur gedwing om saam met hom Seven Seas-cane en lou kraanwater te drink. Hy het die soort oorredingskrag gehad wat net iemand met sluwe oë het. Tussendeur het hy my plaat weer en weer gespeel en op die Christelike musiek gedans. Hy is ’n week later gearresteer op sulke ernstige bedrogsake dat die saak streekhof toe is en dit dus nie vir my nodig was om my eie roomie te vervolg nie.

 Die ander inwoners was die voorman by die koöperasiepakhuis en vyf Spoorweg-manne. Dit het fyn beplanning geverg om eerste by die bad uit te kom nadat dit skoongemaak is en vóór die “Spories” daar inspring na ’n dag of nag se skof op die treine.

Die voorman by die Noord-Transvaalse Koöperasie het altyd by my aan die etenstafel gesit toe hy hoor ek het ’n graad. Hy het die vyf Spories goed laat verstaan dat hy matriek het en dat hulle daarom nie by my mag sit nie.

Ek het in 1974 die sonderlinge ervaring gehad om my geliefde aanstaande in ’n strafhof voor die landdros van Louis Trichardt aan te kla. Gelukkig het ek later hierdie storie een Sondagmiddag om die etenstafel aan my kinders vertel. Hulle was stom van verbasing en hulle ma, Reneé, kon dit bevestig voordat sy oorlede is sodat my kinders vandag die waarheid weet.

In die vroeë sewentigerjare het Suid-Afrika petrolsanksies beleef. Die spoedbeperking op grootpaaie is verlaag na 80 kilometer per uur wat ’n sonderlinge rustigheid onder motoriste meegebring het. Tussen 81 en 100 kilometer per uur kon jy ’n afkoopboete vir jou sonde betaal. Indien jy 100 kilometer oorskry het, moes jy hof toe.

Ons het Vrydae verkeershof gehou. Dit was ’n vervelige affêre, want almal het ieder geval skuldig gepleit. So gebeur dit dat my aanstaande, Reneé van Molendorff, vroegoggend op 27 Desember 1974 met haar broer se Fiat van die plaas Halfdood by Vetfontein agter die Soutpansberg na Pietersburg ry. Dit is sowat 150 kilometer. Sy het vakansiewerk by die hospitaal in Pietersburg gedoen terwyl sy studeer het om ’n fisioterapeut te word. By Vivo vang hulle haar.

Die telefoon lui op my groot Justisielessenaar en my snikkende verloofde se stem is op die koperdraad wat die klank dra. Sy sê sy is gevang by Vivo teen 120 kilometer per uur. Dié aand bel ek die hoofspietkop van Louis Trichardt, oom Loutjie. Daar was uit die aard van die saak ’n noue werksband tussen die staatsaanklaer en die geregsdienaars.

“Oom Loutjie,” vra ek, “hoeveel mense het julle vandag op Vivo vasgetrek?” Met onverbloemde trots antwoord hy: “Vier.” Ek deel hom saaklik mee dat een van hulle my verloofde is en dat ek haar so gou as moontlik voor die hof wil kry, want sy moet teruggaan Pretoria toe vir die nuwe studiejaar.

‘Die telefoon lui en my snikkende verloofde se stem is op die koperdraad wat die klank dra...’

Ek gaan sien ook die hooflanddros Du Plessis – hy het later streekshofpresident van die Vrystaat geword. Ek lig hom in van die situasie. “Hoof,” sê ek, “ek rekuseer my van die saak.” (“Rekuseer” is die regsterm vir onttrek van ’n saak).

“Dit sal die dag wees,” sê Du Plessis, “dan moet ons op die staat se koste ’n aanklaer van Pietersburg af kry – hoofkantoor sal iets oorkom!”

“Jy kla aan,” seg hy, “en jy gaan eendag nog vir jou kinders vertel dat jy hulle ma aangekla het.”

So gesê, so gemaak. Sy pleit skuldig terwyl sy heeltyd saggies huil. Die landdros vind haar skuldig: “Juffrou van Molendorff, jy gaan met ’n regsgeleerde trou. Hy wat die weg ken en dit nie bewandel nie, sal met dubbele slae geslaan word.”

 Hy vonnis haar tot ’n boete van R250 waarvan hy R100 of R150 (ek kan nie die bedrag onthou nie) opskort aangesien hy in ag neem dat sy nog ’n student is – steeds ’n geweldige straf.

Oorkant die losieshuis het ’n man en ’n vrou met vyf kinders gebly. Ek het gereeld ’n geskreeu uit daardie oord gehoor, maar ’n mens raak gewoond daaraan in die onderdorp. Veral op ’n Vrydagaand. Saterdae speel die manne iewers saam darts tot laat en die vroue en kinders is veilig.

Terloops, seker die beste stukkie sportjoernalistiek in ’n enkele sin saamgevat het ek eenkeer in die Zoutpansberg Review gelees: “Die Soutpansbergse Veerpyltjiespan lê tans derde in die Verre-Noord Posduifliga.” Daar is ’n hele stukkie kultuur hierin opgesluit: Die manne speel pyle wyl hulle wag op die duiwe...

Terug na die gesin oorkant die straat. Die man was ’n kort, frisgeboude perd, Spyker Raaths. Sy vrou se naam was Anna, maar ek het haar sommer die bynaam Halfdjêk gegee, want sy was ’n bietjie gebou soos een (en het ook gehou van haar drankie). Eendag was daar groot vreugde in die huis en die brandewyn-en-Coke het gevloei, want Anna het ’n nuwe Datsun 1200-bakkie gekoop. Daardie bakkies het R1399 gekos.

Twee weke later bring die polisie vir my of wie ook al toe die aanklaer was, ’n dossier. Spyker het vir Anna geslaan en die aanklag is een van aanranding met die opset om ernstig te beseer. In die ondersoekbeampte se verklaring staan hy het haar aangerand met “gebalde vuis en geskoende voet” – tipiese polisietaal.

Ons kry mettertyd die SAP 69-vorm wat ’n persoon se vorige veroordelings aandui. Spyker was toe wragtigwaar al vyf keer voorheen gevonnis vir aanranding van verskillende grade. Een daarvan was juis op Anna.

Die landdros vonnis hom tot ’n boete van R250 of drie maande gevangenisstraf, ’n swaar vonnis vir dié tyd. As ek reg onthou, was ’n landdros se algemene maksimum jurisdiksie destyds ’n R250- of R300-boete.

Toe die hof vir middagete verdaag, loop ek Anna in die gang raak. Of sy iemand anders ook genader het, kan ek na al dié jare nie onthou nie. “Wil Meneer nie my bakkie koop nie?” vra sy.

“Ek is bereid om hom te laat gaan vir R1000. Ek het hom kontant gekoop met ’n geldjie wat ek geërf het.”

Ek sê vir haar nee dankie, maar hoekom wil sy dit verkoop?

 En sy sê: “Hoe dink Meneer gaan ons daardie boete betaal?”