Ons wil Karoo-lug inasem en ’n vleisie braai terwyl die laatmiddagson Pramberg rooi verf. Genadiglik kry ek en my vrou, Elsabé, blyplek in die Tankwa-Karoo- nasionale park met ’n oornagstop by die Sadawa-wildplaas.

Vroegoggend maak ek die tenk vol by De Doorns – vulstasies is yl gesaai in die Tankwa. Duskant Touwsrivier vat die R46 ons die wye Karoo-vlaktes in. Binnekort wink Sadawa ons nader.

Die volgende oggend beduie Daleen van Sadawa ons ’n skelm kortpad wat duskant die blou berg weswaarts swenk verby die Tankwa Padstal. Daarlangs, in plaas van oor Sutherland, kan ons omtrent 80 km systap met ons ry na die Tankwa-Karoo- nasionale park.

Wonderlik: meer brandstof vir rondry in die Tankwa self.

“Oh, goodness,” sug Elsabé toe die Tankwa Padstal nog net sowat vyf kilometre se skuddende sinkplaatpad ver is.

Ek weet sommer hier kom moeilikheid.

My vrou is ’n Wes-Transvaler en praat net Engels wanneer sy moerig is. Met albei hande klou ek aan die Tiguan se stuurwiel terwyl ek skuinsweg na haar loer.

“Wat’s fout?”

Ek maak my reg vir iets snedigs oor die sogenaamde kortpad, maar dis veel, veel erger.

“Ek het vergeet om die vleis uit die vrieskas te haal by Sadawa.”

Ek hoor, maar wíl nie hoor nie.

Voor my geestesoog flonker ’n Tankwavuurtjie, in my geesteshand rus ’n koue bier, maar in my geestesoor sis geen vetterige skaaptjoppie op die kole nie.

Om meer as 140 kilometer terug te bokspring Sadawa toe word vinnig as ’n opsie afgeskiet – nie eens vir Karoo-tjops nie. Nou maar deurdruk Tankwa-Karoo- nasionale park toe – hopelik is daar ’n winkeltjie met ’n tjoppie of twee.

“Daar is darem die orige spek en eiers wat ons vanaand en môreaand kan eet,” probeer sy. Ek sien die skuldgevoelens in haar oë, maar die lus vir ’n braaivleisie onder Pramberg se laatmiddagson kan nie met spek en eiers geblus word nie.

Die vrou by die park-ontvangs sê wat sy al kennelik aan baie gaste gesê het: “Nee, ons verkoop nie vleis nie. Meneer sal Middelpos toe moet ry, dis sowat 50 kilometer verder.”

Moedeloos stap ons uit, die blyplek se sleutel in die hand. Dis twaalfuur op ’n Saterdagmiddag. Ons is moeg gery, maar ’n vleisie móét ons kry – dis absoluut ononderhandelbaar.

“Kom ons ry môre rustig Middelpos toe,” bied Elsabé aan.

“Sê nou die winkel is toe?” kap ek teë.

Ons gaan terug na ontvangs. Hulle bel vir Middelpos. Landlyn.

“Nee, Meneer,” kom die antwoord. “Die winkel is toe op Sondae, en Saterdae sluit hulle die deur om een.”

Ek kyk na my vrou. Dis tien oor twaalf. Middelpos lê 50 kilometer verder met die Gannagapas tussenin.

“As ons nóú ry, kan ons dit maak,” sê ek. “Wat is die naam van die winkel?”

“Daar is net één winkel, Meneer. Sy naam is ‘Die Winkel’. Meneer moet onthou dit het gereent in die Renosterberg laasnag en die pad kan sleg wees,” waarsku sy.

Ons hoor skaars, en vlieg weg in die Tiguan. Die eerste paar kilometer is hardgetrapte stofpad en ek druk die pedaal verby die toegelate 80 kilometer per uur. ’n Ent vorentoe slaan ’n stofwolk op. Ek bid dis ’n voertuig wat in ons rigting ry of wat binnekort gaan afdraai.

My skietgebed moet gewerk het, want net voor die Gannagapas verdwyn die stofstreep. My hart jubel. Maar net vir ’n oomblik, want toe begin die kleiriwwe en -slote. Die Tiguan wil-wil tol toe ek styfbeen op die rem gaan staan.

“Kyk daar!” sê Elsabé.

Voor ons klim die stofwolk van netnou – ’n wit polisiebakkie – tydsaam oor die klippers. Van verbyglip kan daar geen sprake wees nie. Die Gannagapas is ’n klein maar tawwe boetie van die Swartbergpas, met geen verbygaanplek nie.

Dis halfeen.

My vrou pols my oor omdraai. Ek weier. Vanaand bráái ek.

Die stuurwiel sweet in my handpalms, maar die Tiguan beur voort. Ek is vleisbelustig, onnosel blind vir die afgronde van die Renosterberg, enkele duime van die regtervoorwiel. My hande gly op die natgeswete stuurwiel terwyl ons hop-hop-hop agter die ellendige polisiebakkie aan.

By die Gannaga Lodge aan die einde van die pas glip ek verby. Dis nog 20 kilometer na Middelpos. Voor ons kronkel die modderige pad langsaam bultop en verdwyn om ’n koppie.

“Daar is ’n Shell-garage op Middelpos,” lees Elsabé op Google Maps. “Hulle het mos altyd winkeltjies waar mens iets kan koop, ingeval Die Winkel reeds toe is,” probeer sy troos.

Dis op die punt van my tong om te sê dis Middelpos, nie ’n OneStop langs die N1 nie, maar ek bedink my. Tien oor een.

’n Klompie wit huisies verskyn voor ons.

Asseblief – laat die winkel nog oop wees!

Ek skep moed. “So vier tjoppies en dalk ’n stukkie wors?” sê-vra ek, onwillig om gulsig te klink.

Google se Shell-garage bestaan uit twee brandstofpompe wat soos verdorde kokerbome in die stofstraat langs Die Winkel staan. Ons kom in ’n stofwolk tot stilstand. Twee mense kom uit Die Winkel met inkopiesakke.

Dis oop!

Ons storm in – ingeval hulle die deur in ons gesigte toemaak. In die skemerte snuffel ons soos honger honde op ’n ashoop rond op soek na iets wat soos vleis lyk. Elsabé vind die vrieskas en begin daarin krap. Al wat sy kry, is afvalvleis vir hondekos en brokstukke vir sop.

Hoopvol stap ons na die man agter die toonbank wat halwe brode en pakkies mieliemeel oor die toonbank skuif vir die laaste klante.

“Nee, geen vleis nie,” bevestig hy ons vermoedens. “Maar miskien kan ek help. Hoeveel vleis soek Meneer?”

Ek skep moed. “So vier tjoppies en dalk ’n stukkie wors?” sê-vra ek, onwillig om gulsig te klink.

“Wag net hier!” Hy draf uit en spring in sy bakkie. Keer gou terug met twee pakkies: een met bevrore skaaptjops en een met wors. “Jammer, dis net ’n tweetandooi se vleis,” bied hy verskonend aan. Hy dink ’n rukkie. “Kom ons maak dit R110.”

Ek sou R500 betaal vir vleis, énige vleis, tweetand, tientand of kunstand, wat maak dit saak? Ek moet myself keer of ek gryp die kosbare pakkies uit sy uitgestrekte hand. Kan die R110 nie vinnig genoeg aftel nie. Te bang hy bedink hom en pluk dit terug.

Terug by die Gannagapas se uitkykpunt stop ons en kyk uit oor die oorvloedige, geluksalige Tankwa-vlaktes ver onder ons.

Soos Lotto-wenners beskou ons die twee stukkies goud wat op ’n sandsteenklip in die son ontdooi.

Kronkelend met die Gannagapas na onder beplan ons ons aandete rondom die skaaptjoppies en die wors. Stry gemoedelik oor gebakte aartappels met preie en suurroom, of dalkies Jan Braai se mieliepaptert?

“Wat maak dit saak, ons maak albei!” besluit Elsabé.

Terug in die park, by die Elandsbergkamp, klim ons stywerug uit die Tiguan.

Ek maak die agterdeur oop en buk om die kosbare pakkies van die vloer af op te tel.

Kom orent. Kyk vir Elsabé. Sy kyk vir my. Gelyktydig kyk ons na die kattebak.

Draf soontoe. Ek pluk dit oop.

Weer die kyke vir mekaar. Weer die gelyktydige gestaar.

Hierdie keer na die uitkykpunt waar ons vleisies vergete op die sandsteenklip lê en ontdooi.