Om met ’n baba te reis bied talle uitdagings. ’n Verlate petrolstasie op Keetmans-hoop, ’n agterstraat op Vanrhynsdorp en ’n plaaspad buite Malmesbury was maar van die ongewone plekke waar ek al geborsvoed het.

En dan is daar die ekstra pakkaas wat moet saam: Doeke, spoegdoeke, borslappe, ’n babarugsak, bottels, roompies, doepas, fopspene en moet om hemelsnaam nie vir Bersie vergeet nie!

Daar is nuwe ouers wat asosiaal raak sodra die baba opdaag en dan hoogstens net met Ouma en Oupa kuier. Aan die ander kant is daar ouers soos ek en my man, Tobie, wat dink “nee wat, ’n baba gaan nie ons lewe verander nie”. Daar is mense wat met hulle kinders reis en dit maklik laat lyk.

Gits, ’n vriendin was reeds twee keer oorsee met haar twee dogtertjies. En ’n ou op Instagram het ’n maand lank saam met sy tweejarige in die Kanadese Rotsgebergte gekamp! Die kleintjie roei saam op potblou mere en lê toegewikkel in ’n slaapsak in ’n tent. Alte fraai.

Natuurlik plaas hy nie die foto’s waar sy onophoudelik huil, want sy soek ’n pienk malvalekker en daar is net wittes oor in die pak nie...

Ons besluit op ’n vakansie in Namibië toe ons eersteling, Emilie, net twee maande oud was. Emilie het nog altyd goed geslaap. Ons het haar aan die slaap gekry deur op ’n groot jogabal te bons. Ná 10 minute se hop was sy in droomland. Elke liewe keer.

Ons was vreeslik afhanklik van dié bal en dit het óral saamgegaan. Ook na Namibië. Soms as Emilie knieserig was, het ek agter langs haar in die kar gesit en die jogabal voor saam met Tobie (dit was ’n stryd om die ding op te blaas). Dit het ’n paar snaakse kyke ontlok, veral by grensposte.

By die Canyon Village Lodge naby die Visriviercanyon stap ’n mens deur die ontvangslokaal en restaurant na jou kamer. Eers stap ek met Emilie en dan volg Tobie met die tasse en die jogabal.

Behalwe vir ’n besoek aan die uitkykpunt oor die Visriviercanyon het ons nie enige uitstappies aangedurf nie. Ná ’n paar aande in die Eagle’s Nest Chalets naby Aus ry ons na die Garub-watergat om die wilde perde te sien. Daar het Emilie haarself byna in poef onderdompel. Dit het tot agter by haar babygrow uitgepeul. Dit was óral.

Sy het geskree, ek wou huil en Tobie probeer kalm bly. Ná ’n pak Wet Wipes was sy darem byna weer ordentlik. Agterna kon ek nie onthou of daar eens ’n enkele wilde perd was nie.

Dalk sou dit tog beter gewees het om na foto’s van die perde in ’n koffietafelboek te kyk terwyl Emilie rustig in haar bababedjie by die huis lê.

Daar was mense wat ons vriendelik gewaarsku het. Party het selfs gesê ’n mens moet eintlik maar die eerste drie jaar tuisbly. Laat mense eerder by jou kom kuier.

Maar ek en Tobie wou nie hoor nie. Daarby handhaaf ons ’n alles-gaan- orraait-wees-beleid. Ons beplan nooit dinge haarfyn nie. As jy iets vergeet het, kan jy dit iewers langs die pad koop.

Emilie het byna nooit bum cream nodig gehad nie. Ek dink dis eintlik net nodig wanneer ’n mens lapdoeke gebruik. Baie soorte bum cream is dik en wit soos Polyfilla, en kwalik nodig saam met moderne weggooidoeke. En toe pak ek dit nie in vir ’n naweek in die Winterhoekberg hoog bo Porterville nie... Maar natuurlik is dié Saterdagaand die eerste aand van haar lewe dat sy ’n uitslag op haar boude kry.

Die arme kind huil – ek probeer van sjampoe tot koue komkommerskyfies. Ons sal móét huis toe ry, sê ek donkernag vir Tobie. Op ’n manier kry hy my én die baba gekalmeer. Die res van die naweek is maar vaag.

Emilie was ’n goeie passasier, maar Bella, ons tweede, het niks van karry gehou nie. Dit het beplanning geverg om ’n naweek met Bella weg te gaan. As sy eers aan die slaap geraak het, kon ons geensins stadiger ry of stilhou nie, ongeag wat padborde of verkeersligte aandui. Die geringste verandering in spoed sou haar wakker maak.

‘Daar was mense wat ons vriendelik gewaarsku het. Party het selfs gesê ’n mens moet eintlik maar die eerste drie jaar tuisbly.’

Een naweek was ons op pad Tulbagh toe. Nadat ons weg is by ons huis in Somerset-Wes, het Bella anderkant Stellenbosch aan die slaap geraak. Nee, nie nou al nie, het ons gedink. Ons moet nog deur Malmesbury se stuk of drie verkeersligte kom.

Tobie het stadiger gery – doer ver was die verkeerslig rooi. Maar hoe stadiger hy ry, begin sy te ê-ê-ê. Weer vinniger. Ons ry oor die eerste verkeerslig op die dorp, daai een net ná die bruggie. Maar helaas is die tweede een rooi. Bella huil daardie hele uur tot op Tulbagh.

Ná daai rit het ék ’n troosbersie nodig gehad. Ons was selfs dapper genoeg om een aand saam met vriende in die Kogelberg-kampterrein te kamp... darem in ’n ry- huisie. Ons het Bella vroeg laat slaap. Ek het steeds nie ’n verduideliking vir die natuurverskynsel wat daardie aand plaasgevind het nie.

Dit was ’n winderige aand, maar op ’n manier het ’n bolling muskiete ook saam met die kinders in die ryhuis geskuil. En vanweë die wind het ek hulle nie hoor roep nie. Toe ek gaan kyk of die twee bloedjies okei is, het hulle reeds gelyk asof hulle ’n tropiese siekte onder lede het.

Nodeloos om te sê wou Bella glad nie daai nag slaap nie. Sy was elke uur wakker en het waarskynlik ’n hele koei se melk gedrink.

Die een ding waaroor ek en Tobie van die begin af eens was, is dat ons kinders stappers sal wees. Eers in ’n stootwaentjie wat meer na ’n 4x4-sessie gevoel het teen die berg op. Daarna in ’n babarugsak.

Emilie was kleintyd al in die Helderberg, Tafelberg en Sederberg (waar haar oog amper uitgesteek is deur ’n tak). Sy’t dit baie geniet – sy het meestal skewekop in die sak geslaap.

Bella was minder gelukkig in die sak. Sy’t met ’n frons gesit en dinge uitkyk en was lief om te moan. “Ek is moeeeeg, ek is warm, ek is duisendmaal honger...”

As jou kinders te groot raak vir die staprugsak, begin ’n ware toets vir stapouers: Om hulle te kry om vererig op hulle eie te stap.

Dit het kilometers se mooipraat, aanpor, smeek en ook afpersing geverg. Een Saterdagoggend ry ons na die Harold Porter- botaniese tuin op Bettysbaai en stap ’n sirkelroete. Bella was vier en Emilie ses jaar oud en hulle het self gestap. Ons het net ’n dagrugsak saamgedra.

Ná die tyd het ons by Talla’s Tavern op Gordonsbaai koue bier en Fantas gedrink. Ons het buite op die stoep gesit en gekyk na mense wat ronddrentel langs die see, motorfietse wat verbybrul en gesinne wat roomys eet.

Toe sê Bella uit die bloute: “Mamma, ek het vandag nie een keer ge-moan nie.” Daai dag het ek besef vakansies gaan weer maklik en lekker wees. En dié keer met ons twee nuwe beste reismaats.

(Emilie en Bella gaan dikwels saam met Esma op Weg-stories – jy sal hulle gereeld op foto’s sien. – Red.)