Deel

Rubriek: Ons (vakansies) is nie almal so nie...

akkreditasie
Illustrasie: Fred Mouton
Illustrasie: Fred Mouton
Tieners wil meestal vakansie hou in kampterreine waar nuwe maats en lifesavers wag. Maar wat as Pa ander planne het?

Die meeste van my maats het in groot konvooie vakansie gehou saam met hulle niggies en nefies. Hulle het in die Krugerwildtuin of Hartenbos gekamp of in strandhuise gebly op Groot-Brak of Heroldsbaai. Nie ons nie. My pa het nie veel erg aan ’n woonwa gehad nie en geld vir ’n strandhuis was daar nie.

My vriende het teruggekom met stories van leeus en olifante en nuwe penvriende wat in die Transvaal woon. (Ek het op George grootgeword en “Transvaal” was ’n eksotiese plek.) My ouers is albei laatlammetjies en ons nefies was baie ouer as ons, en dus was dit maar altyd net ek en my suster, Karen, op gesinsvakansies. Ons het ook teruggekom met stories, maar ander soort stories.

Een jaar in die laat tagtigs het my pa ’n lang vakansie Natal toe beplan. Die eerste reservaat wat ons besoek het, was die Umfolozi-natuurreservaat. Ons was baie opgewonde oor die renosters wat ons sou sien. Dit moet ’n Junievakansie gewees het, want daar gekom, was alles droog en dor. Alles was bruin: Die grond, die bome, die struike, die beddegoed, die huisies waarin ons gebly het, selfs die teëls was bruin. Dit was ’n bedrukte, warm plek.

Ons het ook teruggekom met stories, maar ander soort stories.

Ons het een middag uitgery na ’n pan toe met die lugreëling op volsterkte. Daar gekom, het ons vir ’n paar oomblikke uitgeklim en na die doodse stilte geluister. Rondom ons het dit gelyk soos ’n toneel uit ’n apokaliptiese fliek waar daar byna niks oor was van die wêreld nie.

Ons het soos een man teruggespring in die bruin Cressida en my pa se Julio Iglesias-tape kliphard gespeel.

Dit was nog ’n ding: My ouers se padmusiek was beperk tot dié tape en ’n Beste van Anneli van Rooyen-ene. “Hei liedjieskrywer, donkiekardrywer”... ek het soveel herinneringe van karsiek wees op dié liedjie of Julio wat in die agtergrond teem.

Ná Umfolozi is ons na die Mkuze-wildreservaat toe. Die beste ding van Mkuze was dat ons ons eie kok gehad het. Ons het mango’s, papajas en piesangs by die mark op die dorpie gekoop en hy het dit in blokkies gesny. Ek onthou ook hoe die babavlakvarkies vroegoggend op hulle knietjies gestaan en uit die lodge se swembad gedrink het. Dis iets wat ek eendag vir my eie kinders wil gaan wys.

Ons laaste stop was die Ithala-wildreservaat. Een middag het ons weer gaan ry en nadat ons twee kameelperde gesien het, het die diere opgedroog. Ons het nie eens meer miskruiers of rooibokke gesien nie. Toe stop my pa skielik – langs ons was daar ’n gat in die grond en binne-in het ’n klein babavlakvark opgekrul gelê en slaap. Ons het ons ruit afgedraai en honderde foto’s van dié vonds geneem. Die varkie het aan Karen se kant van die voertuig gelê. Ek het behoorlik op haar skoot gesit om beter te kan sien.

Maar ná ’n halfuur het die varkie nog nie een keer geroer nie. En toe my pa ’n klippie langs hom gooi, was daar steeds geen beweging nie. Die varkie het nie geslaap nie; hy was vrek.

Ek het weer op my sitplek gaan sit. Verward. My pa het die kar aangeskakel en ons het in stilte teruggery. Nou nog is dit een van my hartseerste vakansieherinneringe... maar tog ook snaaks.

Dan was daar Jeffreysbaai. Dit was Desember en ek was reeds dikbek omdat ek ’n vakansieromanse op Hartenbos moes agterlaat. As jy op George grootgeword het, was Hartenbos dié vakansieplek. In Jeffreys was dit weer net ek en Karen en my ouers terwyl al my tjommies in Hartenbos se kampterrein uithang.

Die plan was dat ons vir ’n week in ’n houtcabana naby die strand sou bly – seker nie ’n slegte vooruitsig nie, het ek teen Stormsrivier se koers begin dink. ’n Mens weet nooit nie... dalk bly daar ’n groep lifesavers langs ons of ’n skool se surf-span...

Op pad soontoe bel die agent deur wie my pa die bespreking gedoen het en verduidelik sy’s verskriklik jammer, maar iewers was daar ’n dubbele bespreking en die cabana is nie meer beskikbaar nie. Maar sy’t wel vir ons ’n tuinwoonstel. Ons was al amper halfpad; dus het ons seker nie veel van ’n keuse gehad nie.

 By die “tuinwoonstel” aangekom, sien ons dis eintlik net ’n enkelgarage met ’n piepklein kombuis. In die “tuinwoonstel” staan ’n lendelam dubbelbed en drie van daai driepootstoeltjies met die linoleumkussing-oortreksels. Die weemoed het my van voor af oorval. “Ek moes geweet het toe daar so ’n groot prysverskil was,” het my ma onderlangs gemompel.

Ek en my suster moes op ’n stapelbed in die kombuisie slaap, met die kreunende yskas as bedkassie. Ai, en die badkamertjie... Jy moes basies op die toilet sit as jy wou stort.

Ek en my suster moes op ’n stapelbed in die kombuisie slaap, met die kreunende yskas as bedkassie.

Om alles te kroon het verskeie lede van die gesin aan wie die tuinwoonstel behoort, gehoorprobleme en die huis was net ’n klipgooi weg. Almal skel kliphard op mekaar. Ons het twee aande daar uitgehou totdat my ma halt geroep het. Ons is sak en pak terug George toe.

 En dit voor ek nog kon uitpluis waar die lifesavers uithang.

Die dubbele besprekingding het later weer gebeur. Dié slag in Zimbabwe. Weer was dit net ons gesin in my pa se nou blinkgroen Honda Ballade. Alles het goed verloop tot by die Gwayi River Hotel. Dit was dié aand bitterlik koud.

 Daar het glo die vorige nag ’n krokodil in die rivier doodgevries. Toe my pa die volgende oggend die motor aanskakel, is daar ’n doodse stilte. Die battery is pap. Gelukkig kon die eienaar van die gastehuis ons kar aan die gang kry, maar dit het beteken ons kon nie weer die kar afskakel tot by die Victoriawaterval nie – sowat 300km verder.

Dit was Saterdagmiddag twaalfuur se kant toe ons op die dorpie Victoria Falls aankom. Ons moes baie gou by ’n mechanic uitkom, want eenuur sluit alles. Iemand beduie ons toe in ’n rigting. Daar gekom, is die eienaar nie daar nie, maar die mechanic sê hy kan ons help. Nadat hy die battery ingesit het, vra hy betaling. My Pa het nie genoeg kontant nie. (Selfs mét my en Karen se Zimdollar-vakansiegeldjies.)

“Sir, we have a problem,” antwoord hy saaklik.

Toe klim die mechanic ook in die Honda – hy sal saamry na die Victoria Falls Hotel waar ons kan geld ruil. Daar gekom, nee, jy moet ’n gas wees om geld te kan ruil.

Weer almal in die motor na die hotel toe waar ons bly. Teen dié tyd voel die hele gesin al soos skurke.

Uiteindelik is die mechanic betaal en die Honda weer reg vir die res van die reis.

’n Paar dae later, terwyl die hele gesin op die laaste dag langs die swembad lê, kom die vriendelike portier haastig na my pa toe aangestap.

“Meneer, wanneer beplan julle om julle kamers te ontruim?” vra hy verskonend. So wraggies, die agent het weer eens vir my pa ’n verkeerde reisprogram gestuur – gister was eintlik ons laaste dag! Kop omlaag is ons daar weg... ons moes op pad terug noodgedwonge ’n aand in die Holiday Inn in Bulawayo oorbly.

Ons het nie grootgeword met twee weke lange kampvakansies in die Kruger of Botswana nie, maar my pa het ons gevat na Hogsback, die Drakensberg, Pretoria, Kaapstad, Kimberley, Beaufort-Wes, Calitzdorp, Stormsrivier, Oos-Londen, Durban, Tarkastad, die Oranjerivier, Breërivier, Porterville...

En elke keer as ons weer op George aangekom het en in ons oprit stilgehou het, het ek en my suster begin sing: “Ons sê baie, baie dankie, ons sê baie, baie dankie vir die lekker va-kaaa-n-sié.” Dankie,

Pa, vir dié buitengewone reise.