Ons moes van beter geweet het. Ek bedoel, tussen ons was daar ’n voormalige onderhoofseun (ek), onderhoofmeisie (my meisie, Rebecca) en hoofseun (my woonstelmaat, Erns).

Maar nes in die ou Suid-Afrika was die probleem dat ons na die blerrie hoofseun geluister het.

Dis enkele dae ná Kersfees toe ons uit die Kaap ry om op die Oranjerivier te gaan roei. Die dag was vrekwarm, maar nou is dit al sononder en ons – ek, Rebecca en ons vriendin Abigail – soek ’n koue Savanna.

By die Vioolsdrifgrenspos blyk dit die ander groep, Erns, sy meisie en sy boetie en sussie, ’n tweeling, is reeds oor die grens.

Omdat die trippie aan die Suid-Afrikaanse kant begin en vier dae later by Aussenkehr aan die Namibiese kant eindig, moet ’n mens eers al twee jou paspoortstempels kry voordat jy op die rivier wegspring.

Ons is net mooi in niemandsland tussen die twee grensposte toe die selfoon lui. Dis Erns, van Noordoewer af. Die nuus is nie goed nie: Daar’s ’n ry van vier uur.

Toe ons daar aankom, sien ons wat hy bedoel: Die ry kronkel lui van die doeanegebou af na die parkeerterrein toe; mense sit rond op hulle kampstoele, knak biere, rinkink. Almal lyk asof hulle boedel oorgegee het.

Erns-hulle is amper heel voor in die ry. “Ons het ingedruk,” fluister die hoofseun vir my agter ’n bak hand voor ek kon vra hoe hulle dit reggekry het. “Moenie oogkontak maak met dié ouens nie. Hulle’s nie baie gelukkig nie.” Hy beduie met sy oë agtertoe.

Hel, dag ek, ek sou ook nie baie gelukkig gewees het as ek al vier uur hier gestaan het en iemand kom druk voor my in nie. Die sweet drup Erns af; hy strés.

Niemand is lus vir vier uur se toustaan nie – ons sal tot ná middernag hier wees. Maar nou ja, ons staan mos maar net en gesels by ons vriende; óns druk nie in nie. Uiteindelik maak ons soos die hoofseun voorstel en druk ook in.

Daar’s twee Amerikaners in die groep agter ons. Nou en dan word hardop verwys na die “queuejumpers”.

Ons maak of ons hulle nie hoor nie, kyk vir die motte wat om die lig ronddwarrel.

’n Halfuur later is ons in die kantoortjie, waar twee amptenare die oormag moet hanteer. Hulle is omtrent so entoesiasties soos ’n paar platgevalde longe. Een van hulle staan op om ’n sigaret buite te gaan rook. Húlle is nie met vakansie nie. Hulle moet werk.

Dis ’n verligting toe ons paspoorte uiteindelik die regte stempels het en ons kan verdamp.

Hopelik sien ons ook nooit weer die ouens agter ons nie. Dis in elk geval onwaarskynlik, want hier’s etlike roeikampe langs die rivier en honderde mense wat kom roei.

Ons draai terug na die Suid-Afrikaanse kant en volg die stofpad teen die rivier af tot by ons kamp.

Toe ons daar aankom, slaan ons gou ’n paar koues en toe die kussings, want môre begin ons groot roei!

Ons word wakker van ’n nou reeds bekende Amerikaanse aksent. Kan dit wees?

Jip. Hulle is so waar as wragtag in dieselfde groep as ons! Vir die volgende vier dae deel hulle die rivier met ons!

Die hoofgids roep almal byeen vir die veiligheidspraatjie en dan dra ons die emmers, met ons klere ingestop, af water toe.

Jip. Hulle is so waar as wragtag in dieselfde groep as ons!

Daar’s nie genoeg van die Mohawk-styl kano’s vir almal nie en ek en Rebecca kry dus een van daai rubberbootjies, ’n Croc.

“Dis eintlik beter,” verseker die gids ons: “ ’n Croc slaan mos nie sommer om in die stroomversnellings nie.”

Dit klink bak vir my, want ek beplan glad nie om gat oor kop in die witwaters te tol nie. Ek wil droog bly. En heel. Ons vat dus toe die Croc.

Fout nommer een.

Abigail kry ook ’n Croc, maar sy het nie ’n roeimaat nie. En raai wie kort ook ’n roeimaat? Ja, een van die Amerikaners!

Dis dit. Ons goeie karma is klaar. Ons geluk is op. Van nou af is dit ’n geveg in die loopgrawe om heel hier uit te kom. Gelukkig is Abigail een van die wêreld se vriendelikste mense – sy’s dus die regte een vir die voorste linie.

Hoofseun is min ge-spin oor ons diplomatieke krisis. Hy het reeds sy reddingsbaadjie aan die lyf en dis waar dit vir die volgende vier dae bly, selfs op droë grond. Dis net jammer hy’t dit nie sommer bed toe ook gedra nie, want dit kon dalk sy snorkery so ’n bietjie gedemp het.

Erns is lugtig vir water. Nie te lank gelede nie het hy amper in die Doringrivier verdrink. Hy vat dus nie kanse nie, selfs nie met die mak Oranje nie.

Teen middagete lyk dit asof die slegte karma van die indrukkery ons hele vakansie gaan kelder.

Ons is so twee uur stroom-af en die vaartuie lê uitgesleep op ’n sandbank. Ek soek van een kano tot die ander na die wit koelboks waarop “Shebeen” staan, want ons bier en ander ekstra drankies is daarin gepak. Ek wil ’n bier drink voor die ys smelt.

Maar dis nêrens nie. Ek spring-spring oor die pikwarm sand (ek en my broer het kleintyd alles in die oortreffende trap pik- gemaak: pikswart, pikblou, pikswaar...) tot by die hoofgids. “Nee,” reken hy, “julle is verantwoordelik vir julle eie drankies. Ek het vir julle gesê julle moet dit oplaai. As dit nie hier is nie, is dit nie my saak nie.”

Die nuus versprei vinnig deur ons groep. Almal se drankies is in daai koelboks. Ons het aangeneem dit sou ingelaai word – hulle’t nooit uitdruklik gesê ons moet dit doen nie. Dinge lyk nie goed nie: vier dae, 40ºC; niks bier nie, niks Appletisers nie, niks niks nie. Hier gaan gemuit word, dís seker.

Gelukkig vir die gidse is daar die volgende oggend ’n “hervul”-stop en hulle reël dat die bakkie ons drankies saambring. Dit was so hittete of al wat van hulle oorgebly het, was ’n paar ongemerkte graffies in die Richtersveld.

Sonbrandroomhad ons genoeg van, maar sonroom alleen waarborg nie dat jy jou humorsin heeldag gaan behou nie. En teen die tweede middag is niks meer snaaks nie.

Die gidse het gewaarsku ons gaan ’n stuk rivier in waar warm winde ons van voor af gaan teister (en nee, dit is nie Hoofseun wat so baie Energade gedrink het nie).

En dis rééds warm, pikwarm.

Die rivier is plat, ’n eindelose string poele, g’n stroomversnellings nie. Daar moet geroei word, niks se gestroom-af-dryf vir ons nie.

Dis toe dat ons besef die Croc is eintlik ’n krok, want dis soveel moeiliker om dié simpel ding teen die wind in te roei. Ons roei soos tien Robbie Herrevelds, maar bly langs dieselfde reier staan. Daar’s te veel windweerstand, daar’s te veel... Ons is nou gatvol. Later val een van die gidse terug en kom sleep ons vir ’n wyle.

Boonop smaak die gesuiwerde (rivier-) water soos voëlmis wat met ouerige Ideal-melk gemeng is.

Ga! Dat ons almal nie spuitpoepaangedrewe tot in Aussenkehr kom nie, is ’n wonder.

Gelukkig gaan dinge op die diplomatieke front darem beter. Die Amerikaners en hulle groep, almal wingerdbouers van Stellenbosch (dit is nou die regte tipe mense om te bevriend...), word ons vriende.

Die een Amerikaner se naam is Theron. Hy’s hier saam met sy Afrikaanse meisie. Theron is nie op sy bek geval nie en het al mooi Afrikaans opgetel: Dis “Dankie, Liefie” voor en “Asseblief, Liefie” agter. Boonop sing hy ook mooi: Die blues – heel gepas – saans om die kampvuur.

Ons indrukkery is vergete. Hier op die rivier is ons almal gelyk, gelyk voor die stroomversnellings, die bostoilette en die son. Oeg, daai son...

Ek en Rebecca kom toe heel laaste by Aussenkehr aan, maar ons gee lankal nie meer om nie. Langs die pad het ons ’n paar keer gefrustreerd die water met ’n roeispaan geklap, maar ons het dit gemaak.

Daar was mooi dinge ook: Nagte besaai met sterre, Amarula drink agtuur die oggend, sommer uit die bottel, en die ongelooflike natuurskoon. Toe ons die verdomde Croc vir ’n laaste keer teen die wal uitsleep, is ons gelukkig.

Gelukkig en bly.

Ons sluit ons by die res van die groep aan – almal help goed oplaai voordat ons terugry Suid-Afrika toe. Hoofseun is ook daar, in sy reddingsbaadjie natuurlik.

Net ingeval.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #43 (Mei 2008) verskyn.