Kaapsehoop is ’n mooi dorp op die berg voordat ’n mens afdaal Nelspruit toe. Ek wat hier woon dink so, net soos ’n menigte wat oor naweke en vakansies hierheen uitwyk. Hier is mooi uitsigte, genoeg plek om ver ente te stap en op die koop toe ’n waterval of drie. Die geneuk is die besluitelose getjommel die dag as jy self iewers heen wil koers inslaan.

“Sabie? Wat van Sabie?” vra die geduldige reisgenoot.

“Hmm. Te naby.”

“Maar daar is die Sabie Brewing Company, die nuwe bierplek.”

“Ek weet. Geproe ook al.” Gelaaide stilte. “Ek moes iets gaan aflaai vir iemand toe dog ek...”

Hoedspruit word geopper, maar die pad daarheen is ga, en as ’n mens nie ’n pêl met ’n wildplaas het nie, is die mooiste die jong veldgidsmanne wat wag vir vars toeriste op die Eastgatelughawe. Ek sê maar net.

Op Barberton woon familie en op die Georoete met sy aardoue gesteentes in Josefsdal se rigting vier ons klokslag iemand se verjaardag by ’n uitkykplek. Al die kiekies begin dieselfde lyk, behalwe die kinders wat al van oulik verby tienernors gevorder het en nou al weer heel skaflik vir die lens grinnik. 

Dullstroom is te vol forelle, Badplaas het te veel swembaddens en Waterval-Boven is deesdae maar karig aan als behalwe trancers wat glo die omliggende klipsirkels is portale na die buitenste ruim.

Die reisgenoot is egter nie verniet ’n toergids- en padatlasversamelaar nie. “Nou kyk, as ons só om Swaziland ry... of sal ons déúr Swaziland ry?” 

Uit met ’n stapel boeke. “A-ha. Ek het al skoon vergeet van Bob McNab!”

“Iemand wat jy ken?” As antwoord op sy vraag gee ek T.V. Bulpin se Lost Trails of the Transvaal aan. Min vertellers kon ’n gedoente so pikant beskryf soos Bulpin. Ons lees hoe Bob se Britse familie geen moeite ontsien het nie om hom op 16 uit die huis en op ’n skip te kry. Hy land met ompaaie in die 1860’s in Swaziland waar hy ’n perdedief word. Hy moet tronk toe in Pietermaritzburg, maar sy boewe-gebroeders oortuig die gereg om hom te vry te spreek, “for he was a fascinating rogue and they did not like to think of his turbulent spirit languishing in gaol...”.

“Hmm, Swaziland is ook op die drumpel. Jy nie vir ’n slag lus vir die Vrystaat nie?” Die reisgenoot se vingers volg die Nelshoogte se bergpad Hoëveld toe. 

“Kan nie wag om weer deur Ermelo op pad soontoe te janter nie...” mompel ek. Want kyk, as ’n mens winter ná winter op dié dorp in knypkoue beland om ’n hele dag onder komberse met ’n mus en handskoene bínnenshuis te sit vir ’n kind se gimnastiekkompetisie, is die plek se reputasie vir ewig daarmee heen.

Nog ’n padkaart word oopgesprei. “Ons kan via Chrissiesmeer of deur Machado, dan so verby Carolina...” Skielik doem ’n pleknaam op wat ek jare lank vergeet het. “Bonnefoi! Soek Bonnefoi, dit moet net so voor Carolina wees. Wag, ek het iewers ’n boek,” beduie ek.

En dan die gatslag om te onthou dié stukkie Africana, The Women of Bonnefoi deur Frieda Harmsen, is in ’n vriend se huis vernietig tydens 2008 se bosbrande in die De Kaap-vallei. 

Bonnefoi is nie regtig meer ’n plek nie. Maar in die twintigerjare was daar nog die herehuis, ’n poskantoor, ’n sendingkerk en ’n hotel. Dit was die hartsplek van die vrouekunstenaars bekend as die Everard-groep, die susters Edith King en Bertha Everard, Bertha se dogters Ruth en Rosamund, en Ruth se dogter Leonora en háár dogter Nichola.

Sy’ t van verre lande gekom om die kalkoen-ibis te siene te kry, sonder sukses. Ons groep, daarenteen, het ewe onskuldig loop kuier op ’n plaas naby waar die goed so volop soos hoenders was.

Ek weet ’n mens kan die vergetelheid naloop saam met ’n gids van die Hoëveld-erfenistoerisme op Ermelo, en dalk verklap die terrein nog iets van Ruth se voorliefde vir tuinmaak, van Rosamund se uitspattige partye, haar wilde perderitte oor die vlaktes, en onwilligheid om in die borstrok van konvensie ingegord te wees: In dieselfde jaar wat sy eindelik tot trou kom, sluit sy aan by die SA Lugmag as transportvlieënier na Kaïro.

Afgemerk. “En dan seker maar rigting Wakkerstroom?” stel die reisgenoot bereidwillig voor. Eens op ’n tyd wou ek die gebou met die mooiste houttrap op dié dorpsplein koop. En ek dink die enigste mens wat ooit moeriger was as die kalant wat in die vroeë 1900’s in Marthinus-Wesselstroom – soos die dorp eens genoem is – beboet is vir dronkry op sy fiets, was die voëlkykentoesias wat ’n keer in my arms gesnik het.

Sy’ t van verre lande gekom om die kalkoen-ibis te siene te kry, sonder sukses. Ons groep, daarenteen, het ewe onskuldig loop kuier op ’n plaas naby waar die goed so volop soos hoenders was.

“Ek wonder wat is op Hondejaag?” mymer ek. 

“Waar’s dit?”

“Anderkant Upington.” ’n Verwoede geblaai deur die padkaartboek met sy onlogiese spronge tussen streke, soos ’n meisiekind wat verdwaal terwyl sy hopscotch speel. “Ek was nog net anderkant om tot by Kakamas.” Van daar op die lang grondpad na Toeslaan het ek ses jaar gelede in dawerende stilte uit ’n verlede gery wat te lank verkeerd geloop het.

“Buitendien, is jy nie ook lus om te proe aan die dadels van Pella nie?” Ek gooi die lokaas uit.

Vir lank sê niemand iets om die kombuistafel nie, want onthou, die dorre noorde is ’n landstreek waar die klippe kerk hou en elke afgeleë pleknaam ’n halleluja sing. 

Ek staan naderhand op om ’n digbundel van George Weideman te loop haal, maar kom terug met ’n ander boek, Ilha de Mocambique byna Hollands, deur die geskiedkundige O.J.O. Ferreira. “Miskien moet ons heel eerste probeer om hiér uit te kom. ‘Seen from a bird’s eye view, the island is a unique woman, lying sensously in a state of abandon in a sea of colours with a plaything at her feet.’”

O, hy was al daar, sê die lankmoedige reisgenoot, en vertel ’n slaaptydstorie van koraalhuise in die baai en die padrão wat Vasco de Gama se eerste aankoms in 1498 gedenk.

Buite, weet ek, gloei die Melkweg en in die nagstilte slof die wildeperde deur ons dorp. Ons het steeds nie op ’n bestemming besluit nie, maar tog was ons nou oral.

Die padkaarte bly op die tafel; Weideman se bundel suutjies toegemaak met ’n boekmerk: “... hier is die enigste groen perdalks die soom / van die verbeeldingstroom / ... Pella lê nog ’n kruistog ver / Afrika is wyd en groot / fonteine min –”.


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg se Oktober 2015-uitgawe verskyn.