Rubriek: Plat hare in die wildtuin

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Uit die argief: In die Krugerwildtuin tel dit nie dat jy ’n lid van die spesmagte was in die bosoorlog nie, skryf Jeanette Ferreira. En jou hare hoef ook nie ge-tease te wees nie.

Van Letabakamp se ontvangskantoor af kom die Polo kampterrein toe aangekruie.

Sy agterstewe lê laag op die grond; só gepak dat ’n mens die prosessie maklik kan aansien vir vlugtelinge uit ’n buurland.

Maar die bestuurder is ’n moderne jong vrou agter ’n enorme sonbril onder ’n groot breërandhoed.

Met groot stelligheid trek sy die motortjie langs ons kampplek in. Haar passasier draai die ruit af, kyk vorentoe, terug en weer vorentoe.

“Terug!” Die bestuurder druk die Polo in trurat.

Weer word die bakenlyne met die oog gemeet. “’n Bietjie vorentoe,” kom die bevel.

“Maar Ma, dit maak mos nou nie saak as ons ’n sentimeter of wat buite die ou lyntjie staan nie.”

“Marietjie, daar is reëls en regulasies in hierdie plek en ons gaan dit gehoorsaam. So ja, dit lyk my ons is in. Laat ons maar afpak, dis aan’t laat word.”

Ma se oë dwaal mishaag oor hulle kampplek. Dis besaai met papiere en bottels.

“Dis ’n bloemieng skande.” Ma is kennelik van die regte ou soort wildtuinmense: Dik toeknooptrui, dienlike langbroek, hare vanoggend by die huis nog netjies reggevat.

Iewers in die Polo, in ’n koekblik met prentjies van bome en ou huise daarop, sal ’n koffiefles en toebroodjies wees.

“Ek hoop nie jy’t bokswyn saamgery nie. ’n Drinkery het jou oupa nooit verdra nie, veral nie hier nie.” Met die voet stoot ek my enkelvingertjie-J&B onder my kampstoel in. ’n Mens wil nie gaan staan en aanstoot gee nie.

Ma-hulle is beslis nie van die soort wat krane half toedraai en kosbare wildtuinwater laat drup nie. Of die diere aanfluit om ’n bietjie aksie uit hulle te kry nie.

“Ek hoor nog jou oupa: As elke Jan Rap en sy maat uitgaan van die instansie dat hierdie ’n saamkoekplek vir ’n jollifikasie is, gaan ons kosbare erfenis nog tot niet.”

My pa het ook nog gepraat van “uitgaan van ’n instansie”. Dis sommer weer 1965 vir my.

“Ek hoop nie jy’t bokswyn saamgery nie. ’n Drinkery het jou oupa nooit verdra nie, veral nie hier nie.”

Met die voet stoot ek my enkelvingertjie-J&B onder my kampstoel in. ’n Mens wil nie gaan staan en aanstoot gee nie.

“... en die ding van die hutte wat nou so duur gaan staan en raak het. Waar’s die tentpenne? Hier. Teen die prys wat hulle deesdae vra vir ’n skamele hut met twee beddens...”

Pieta en Willem verrys om te gaan hand bysit.

“As jy my vra, sien hulle buitendien ’n vrou aankom. Party mans dink mos ’n vrou kan nie self sien kom klaar nie.”

Op staande voet draai Pieta en Willem om en syg weer in hulle stoele neer. Of Ma hulle verjaag het en of sy hulle gewoon nie raakgesien het nie, is nie duidelik nie.

Marietjie skik haar stylvol in ’n kampstoel en lig ’n botteltjie daarso. “Old Brown,” verontskuldig sy haar.

Haar mondering begin sin maak. Kamoeflering, ingeval sy onverwags een van haar byderwetse vriende hier teëkom. “Dit word regtig koud hier in die winter, of wat sê ek, Moedertjie?”

Moedertjie snork, vis ’n Coke uit en neem plaas om die Laeveld se sonsondergang in te drink. “Vannag hoor ons jakkalsies,” sug sy verruk. “Die aggressiewe spul olifante sal ek maar vat, solank ek net snags ’n diertjie kan hoor roep.”

“Nie alle olifante is darem aggressief nie, Ma. Dis Ma wat so bang is vir hulle. Hulle is eintlik wonderlike...”

“Wat praat jy!” Ma herroep ’n episode wat jare gelede die plaaslike koerant gehaal het. Van twee Nederlanders wat ’n driepoot staangemaak het om ’n trop olifante by ’n watergat te verfilm. Voordat die uitlanders hulle kom kry, is hulle Avis-karretjie tot teen die water gestoot, ’n gat in die dak waar die koei ten besluite haar tand ingedruk het.

Dieselfde dag is die slagoffers glo tot by die naaste lughawe en van daar af landuit. Die vernederde fotograaf is aangehaal waar hy gesê het ’n mens kan niks anders verwag in ’n land met soveel geweld nie.

“Hulle kamera se gezoem het seker die koei geïrriteer.” Ma kry ’n gemoedelike klappie teen die skouer.

Ma dink na. “Nee. Die diere raak algar aggressief. Vat nou maar die bobbejane. Dourie tyd was ’n bobbejaan se plek in die veld, waar hy hoort. Nou se dae moet jy keer of hulle gryp die kos uit jou mond. Dis omdat mense links en regs die diere voer. Nou raak hulle hans en moet hulle gevang raak. Jy’t self gesien, daardie vanghok...”

Seker die hok met lokaas wat naas die heining in die kamp opgerig is. Vanoggend toe die veldwagter aangestap kom hok toe, het die bobbejane wat dit amper in die hok gewaag het, omgevlie en soos Hestrie Cloete oor die geëlektrifiseerde heining laat waai.

Anderkant die draad het hulle in ’n wildevy gaan skuil. Twee bobbejane agter een blaar. Die ding van ’n dom bobbejaan is dat hy nie dom bly nie.

Maar vannag verrys die Laeveldmaan bloedrooi agter oewerbome. Laataand bespikkel miljoene sterre die naghemel.

Rustig voltrek die eindeloosheid hom in die wildernisnag, ver bokant ons klein mensies. In die voornag roep hiënas, jakkalsies ook. Uit die diepveld steun ’n leeu.

Om Ma se onthalwe is ek so bly. Ken ek nie self die verbitterlike heimwee na wintervakansies uit jou kleintyd nie, met tamatiebroodjies en biltonge en nartjies en alles.

En die gekraak van takke. Maar darem nog anderkant die kampheining, sien ons toe Willem slaapversuf uitstrompel en dit met sy skietlamp belig.

Die olifant is só oud dat sy ogies onsigbaar is tussen die plooie. Langsaan roep Ma met ’n groot stem. Daar is sprake van ’n skoot pepersproei reg in die ongedierte se slurp op.

Dis ’n bietjie kwaai, ek moet toegee. Maar Ma, ek is nog aan jou kant. Laat Marietjie lag soos sy wil; sy’s jonk.

Die Polo staan al by die Masorini-piekniekplek toe Pieta ons Landie onder die knoppiesdorings intrek.

Soos van oudsher beskou Ma die antieke klipkop waar vroeëre bewoners die geheim van ystersmeltery bedryf het.

Marietjie beweeg tussen Polo en vuur om goeters aan te dra soos sy oor Ma se skouer daartoe aangesê word.

“En die tamaties wat ons nog in Phalaborwa gekoop het.” Oor alles deesdae so duur is in hierdie plek.

“Die braaisout ook. Daai vleisie is nou-nou reg. Kan jy jou dit indink, dat mense eeue lank hier teen hierdie einste kop gewoon en gewerk het?”

“Dis wonderlik, Ma.”

“Staan ek nou hier met ongedoende hare,” sê Ma hande in die sye, merkwaardig opgefris ná haar trauma laasnag.

“Met dié dat die lead na ons tent toe vanoggend nie gewerk het nie, kon ek toe nie eens my hare lekker droogmaak en ’n bietjie tease nie. Maar wat, dis wildtuin.”

“Ma moet versigtig wees,” giggel Marietjie en trek haar hoed dieper oor haar oë.

“In die diereryk is dit nou eenmaal ’n reël – en ’n regulasie...– dat ’n dier se hare rys wanneer hy gaan aanval. Netnou sien ’n aggressiewe dier Ma met daardie plat hare vir ’n sagte teiken aan.”

“Moenie jy vir jou besimpeld hou nie,” grinnik Ma gemoedelik. “Kry jy liewers die pak buns, in die groot koekblik op die agtersitplek.”

Marietjie het egter versteen. Ná haar vorige sending tussen Polo en vuur moet sy die agterdeur oop vergeet het.

Op die agtersitplek buk ’n bobbejaan van generaalstatuur, ’n bun in sy kake. Hy het houding – sy gryns en sy ruie maanhaar getuig daarvan.

Ta moet in die klipkop gebaseer wees, met ’n onbelemmerde uitsig op die piekniekplek ten einde op die regte oomblik te kan toeslaan.

Letabakamp se vanghok het hy lankal afgeskryf as minderwaardige teeninsurgensiestrategie.

In gebukkende houding (hoewel die bobbejaan hulle duidelik kan sien en hulle trouens stip deur die Polo se agtervenster dophou, deurgaans aan’t kou en sluk), begin hulle omsigtig die terrein rondom die Polo nader.

Uitgaande van die instansie dat Pieta en Willem lede van die spesmagte was tydens die bosoorlog, vorm hulle instinktief ’n aanvalsformasie – te wete Pieta aan die een kant en Willem aan die ander kant.

In gebukkende houding (hoewel die bobbejaan hulle duidelik kan sien en hulle trouens stip deur die Polo se agtervenster dophou, deurgaans aan’t kou en sluk), begin hulle omsigtig die terrein rondom die Polo nader.

Willem het die verkyker beet. Pieta, inderhaas, kon net die Landie se domkrag raakvat.

Om hierdie dier vandag kaalhand aan te pak kan lelike werk afgee.

Maar die Boerebloed in Ma se are het haar offensief vinniger laat inskop. Sy loop daardie bobbejaan by. Doodsveragtend. En sy looi vir hom daadwerklik met haar plathand op sy pienk boude dat die hou van Masorinikop af eggo.

Die getroffene verlaat die sedan teen ’n hoë snelheid, waarna hy blindelings ’n noordelike koers inslaan. Wat hy vroeër die oggend ingeneem het, asook tydens die kort periode wat hy in die Polo vertoef het, laat hy in sy verbysterde staat op die sitplek agter. Goudgeel.

Laatmiddag het Pieta bereken die voortvlugtige behoort teen die pas wat hy aangeslaan het – nie een maal verbreek terwyl hy in sig was nie, en vermoedelik ook nie daarna nie – reeds Mopanikamp bereik het, indien nie Pafurihek in die verre noorde nie. Sy hare plat.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #84 (Oktober 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.