
Ek is gewoonlik nie ’n praterige mens nie, maar wanneer ek in die lughawe se vertreksaal wag vir my vlug na Melbourne, Australië, is ek selfs nóg stiller. Nou onlangs was dit weer die geval. Maar ek het tog my stilswye verbreek toe ’n oom my maatskappy se kenteken op my hemp herken en ’n geselsie oor 4x4-voertuie aanknoop.
Hy het onlangs afgetree en was op soek na ’n veldryvoertuig waarmee hy kan reis. Hy was onseker of hy ’n bakkie of sportnutsvoertuig moet aanskaf en daarom het hy my mening gevra.
Dit is nie die eerste keer dat dié vraag na my kant toe kom nie... en ook nie die laaste nie. Terwyl ek my mening lug, het ek ontdek daar is steeds ’n mate van twyfel binne my.
Ek het al albei soorte voertuie besit en beide het goeie én slegte eienskappe. In my ervaring het sportnutsvoertuie ’n voordeel wanneer dit by veldryvermoë kom – nie ’n reusevoordeel nie, maar soms is dit beslis opmerklik.
Die meeste sportnutse het permanente viertrek, en dit is ’n goeie ding, hetsy jy jou diep in die bos bevind of op ’n reënerige dag in die stad pendel. Permanente aandrywing in twee asse is tog sekerlik beter as agterwielaandrywing in deeltydse viertrek, soos die geval is in bakkies.
Ek kan nie begryp waarom bakkies nie heeltydse viertrek het nie, en daarom het die Mitsubishi Triton en Volkswagen Amarok volgens my ’n troefkaart. Die korter asafstand van ’n sportnuts vergeke met ’n dubbelkajuitbakkie stel jou boonop in staat om met meer uitdagende 4x4-terrein af te reken.
Die langer afstand tussen die voor- en agteras by dubbelkajuitbakkies – en die gepaardgaande oorbrughoek – kan jou laat vassteek. ’n Kort asafstand beteken verder jy kan skerper draai én sportnutse is dikwels korter as dubbelkajuitbakkies. Laasgenoemde is veral in die stad belangrik.
Sportnutse het dikwels kronkelvere op die agteras teenoor die bladvere van bakkies. Kronkelvere laat meer afwaartse asbeweging toe, veral vergeleke met bladvere wat ontwerp is vir ekstra vragmermoë of met tweefasevering. Beter asbeweging sorg dat jou wiele op die grond bly en vastrap geniet in ongelyke terrein.
Kronkelvere lewer ’n gemakliker rit as bladvere. Hoewel heelparty gewilde sportnutse op bakkies gegrond is, beskik hulle dikwels oor meer veiligheidstoerusting en luukshede.
Weer eens: Ek kan nie begryp waarom dit so is nie. Dubbelkajuitbakkies met metaalkappies wat goed verseël is, is egter ’n perd van ’n ander kleur. Dít sal jou bakkie se bak verander in ’n reusagtige laairuim wat aangepas kan word vir lang landsreise.
Jy kan uiteraard ook die kleiner laairuim van ’n sportnuts so inrig, maar dan gaan jy elke krakie en geluidjie hoor van jou goed wat rondskud, iets wat nie ’n probleem is met ’n bakkie nie. Baie kappies het ook luike aan die kante wat toegang gee tot toerusting wat diep gebêre is.
Ek vind ook dat dubbelkajuitbakkies beter sleep as hulle sportnuts-eweknieë. Die langer asafstand en swaarder gewig tel beslis in die bakkie se guns. Met die uitsondering van die Hilux en Land Cruiser-bakkie bied die meeste bakkies ’n gemaklike rit – heelwat beter as die bakkies van ouds.
Dan is daar natuurlik hulle veelsydigheid: Jy kan tuinvullis en bourommel wegneem óf ’n maat help meubels vervoer. Die antwoord lê letterlik in wat jou behoeftes is en met watter nadele jy bereid is om saam te leef. Ek hou baie daarvan om met my Land Cruiser 76-sportnuts rond te ry en hy’s ’n puik langafstandveldryvoertuig.
Ek wens wel ek kon die ombouing agterop my Ranger oordra na die Cruiser. Dalk is my volgende voertuig weer ’n dubbelkajuitbakkie.