Die vriendelike vrou by die ontvangskantoor skuif die bewys van betaling en ’n afdruk van die oordkaart oor die toonbank na my toe: “Meneer-hulle is nou hier,” sê sy terwyl sy met ’n oranje highlighter ’n kol maak op die plek waar die hek is.

“Ry deur die hek en volg net die pad tot by die swembaddens,” verduidelik sy terwyl sy die helderoranje streep al langs die pad op die kaart trek. “Hier draai julle links, ry oor die bruggie en hou verby die putt-putt-baan en kiosk tot julle by die kampterrein kom. Omdat dit so stil is, is net die boonste badkamers oop.”

“Watter staanplek is ons s’n?” vra ek, terwyl die vrees al hoe sterker begin posvat dat ek die antwoord op my eie vraag ken. “Meneer-hulle kan sommer enige staanplek kies,” sê sy, en ek voel hoe my moed in my skoene sak.

Eers moet ek dalk iets oor my vrou verduidelik: Jy gaan ver moet soek om ’n meer georganiseerde en voorbereide mens teë te kom. Elke liewe dingetjie word tot in die fynste besonderhede beplan. Sy floreer in orde en sy is lief daarvoor om lysies te maak. (Onlangs het ek haar betrap terwyl sy besig was om ’n lys te maak van al die lysies wat sy moet maak!)

Of dit nou ons huishoudelike begroting, ’n inkopie- of kamplys is, sy gaan sit voor die rekenaar of met ’n stuk papier en minstens twee penne in verskillende kleure en sit die besigheid sorgvuldig aanmekaar. So word absoluut niks aan die noodlot oorgelaat nie.

Sy pas ’n soortgelyke werkwyse toe wanneer sy enige besluit moet neem. Die voor- en nadele word sorgvuldig opgeweeg voor sy eers daaraan begin dink om in ’n rigting te neig.

“Meneer-hulle kan sommer enige staanplek kies,” sê sy, en ek voel hoe my moed in my skoene sak.

Dis alles goed en wel as ons dit oorweeg om ’n nuwe koffiemasjien te koop, maar in die kampterrein kan dit ’n doring in die vlees raak.

Die Amerikaanse skrywer Napoleon Hill het eenkeer gesê besluiteloosheid, twyfel en vrees is drie nouverwante lede van ’n onheilige drietal. As jy een van hulle in ’n situasie aantref, is die ander twee gewoonlik naby.

Terwyl ek hier in die ontvangskantoor staan – en terwyl my vrou, dogter en broerskind in die kar wag – wil ek daardie drietal in ’n viertal omskep, want ek weet voor my siel ’n konfrontasie is onafwendbaar. Die volgende uur of wat gaan ’n uitdagende toets vir ons twee se verhouding wees.

Want sien, gewoonlik is dit goeie nuus wanneer jy self jou staanplek kan kies, veral in die stiller tye. Maar nie in ons geval nie. Nie as my vrou ’n sê het nie.

“Ons kan kies waar ons staan,” sê ek toe ek terugklim in die kar. “Dis goeie nuus,” sê my vrou. Ek byt op my onderlip en weerstaan die versoeking om te sê “nee, dit is nie”.

Ons ry deur die hek en volg die pad tot by die swembaddens, nes die oranje streep op die kaart wys. Ons draai links, ry oor die bruggie en verby die putt-putt-baan en die kiosk, voor ons by die kampterrein aankom.

“Net die boonste badkamers is oop – ons moet dus seker maar êrens hier naby staan,” vuur ek die eerste sarsie in die dreigende skermutseling.

“Hoekom wil jy hier staan as al daai staanplekke langs die water nog oop is?” vra sy verontwaardig. Ons ry teen ’n slakkepas en knik met die kop hallo vir die mense onder hulle stoeptente. “Oe! Hier’s trampoliens!” laat die twee niggies van agter af hoor. “Kan ons solank uitklim?”

Ek hou stil sodat die onskuldiges kan uitklim en mik vir ’n staanplek langs die rivier met ’n groterige boom. “Nee, hier gaan die wind ons wegwaai en hierdie boompie gaan in die middag amper geen koelte maak nie,” sê sy. Ek stem heelhartig met haar saam, want ek het die stormbande oor die ander stoeptente teen die water gesien, en hier teen laatmiddag is dit reeds ’n stewige bries wat van die see se kant af stoot. Maar sy wou kom kyk, en daarom het ons kom kyk.

“Wat van daar?” vra ek. “Daar is gras, koelte en skuiling teen die wind.” Sy kyk my kopskuddend aan. “Ag nee, jy is seker nie ernstig nie. Dis heeltemal te ver van die ablusieblok en speelparkie af. Ons moet ’n ogie oor die kinders kan hou en ek wil nie so ver loop wanneer ek in die nag badkamer toe moet gaan nie.”

Ek stel die staanplekke naby die ablusieblok en speelparkie voor, maar dié het nie gras nie en is “koud” (ek is nou nog nie seker wat dit beteken nie). En sy wil regtig nie híér staan waar al die kinders ons gaan mal maak nie.

“Goed,” sê ek. “Ons staan nou al meer as ’n halfuur hier rond. Daardie staanplekke in die hoek is ons laaste opsie.” Sy kyk die staanplekke afkeurend aan.

Jy sou sweer hulle het iets slegs oor haar tuisdorp gesê. Dan skud sy haar kop en sê nee, sy hou nie van hulle nie.

“Wat’s fout?” vra ek. Dis in die middel tussen die ablusieblok en die speelparkie; daar is koelte vir môre se belangrike middagslapie; en hoewel die gras skraps is, het ek danksy haar volledige kamplysie ’n grondseil onthou. “Ek weet nie,” sê sy, “hulle voel net nie vir my reg nie.”

Die keuse van ons uiteindelike staanplek kom basies neer op wie ook al eerste dreig om ‘net hier om te draai en huis toe te ry’.

Ek wens ek kan sê ons bereik uiteindelik ’n kompromie wat gegrond is op weldeurdagte besluite met ’n wedersydse aanvaarding van elkeen se sienswyses, maar ek sou jok.

Die keuse van ons uiteindelike staanplek kom basies neer op wie ook al eerste dreig om “net hier om te draai en huis toe te ry”.

So pak ek die kar af – tafel, stoele, kratte, gazebo – en begin dan ons koepeltentjie opslaan. Sodra hy staan en ek besig is om die penne in te kap – daai stewige bries het teen dié tyd al in ’n sterk wind ontaard – kom vra sy doodluiters hoekom ons nie op een van dáái staanplekke tussen die speelparkie en die ablusieblok kan staan nie. En met haar vinger wys sy na die plek wat ek ’n driekwartier gelede voorgestel het.

Dan wens ’n mens die kampterrein ken eerder net jou staanplek toe en kry klaar. Maar eintlik is dit nie so maklik nie. Want dit het ook al gebeur dat ons by ons staanplek aankom (in Desember in die bosveld, in ’n stampvol kampterrein) en daar is nie ’n koelteboom in sig nie. Dan stap sy afkeurend deur die kampterrein en kyk na elke beskikbare gaatjie voor sy kom sê: “Gaan sê vir hulle ons wil eerder dáái een hê.”

Maar vanaand, wanneer die vuur warm brand en ons met ’n koue glasie in ons kampstoele langs mekaar sit en hoor hoe die kinders op die trampoliens of in die swembad baljaar, maak dit nie saak op watter staanplek ons is nie. Dan is enige plek beter as by die huis en die lewe aansienlik saliger as in die stad.

Tot môremiddag, wanneer die son haar uitbak as sy ’n middagslapie wil vang.


Dié rubriek het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #17 (Desember 2018) verskyn.