Dit is ’n winderige en reënerige dag in Kaapstad en ons trek weg op pad na die Walvis- staproete. Dit is November 2008 en dit reën al die laaste klompie dae sonder ophou.

Ek bestuur my Renault Clio, Matilda, (genoem na my gunsteling-Roald Dahl-karakter) en omdat ek eintlik maar ’n mooiweersbestuurder is, is die grondpad anderkant Bredasdorp vir my nogal ’n uitdaging.

Genadiglik hou ons 50 km verder in die parkeerterrein van die De Hoop-natuurreservaat stil. Die volgende oggend, toe ons veronderstel is om met ons staptog te begin, reën dit steeds. Ek en my twee vriendinne stap na die kampbestuurder se huis toe, maar in die twee minute wat dit ons vat om daar te kom, reën ons papsopnat.

Daar aangekom, sien ons die reservaat se personeel is besig om te beraadslag of hulle die gaste moet ontruim. Die hoofbron van kommer is ’n selfoonvideo wat een van die personeel geneem het van ’n stuk pad hier naby wat oorstoom. Ons besluit daar en dan ons moet maak dat ons wegkom. Die personeel sê ons moet vir Bredasdorp mik – nié Swellendam nie – omdat daardie pad waarskynlik nog begaanbaar is.

Terug by die oornaghut is dit duidelik die ander gaste dink ons is laf, maar hulle het nie die beheerste paniek in die kantoor eerstehands ervaar nie. Hulle besluit om te wag tot daar uitsluitsel is oor die moontlike ontruiming, maar die drie van ons trek droë klere aan en pak die res van ons goed in Matilda se bagasiebak.

Terwyl ons dit doen, reën ons wéér papnat, en toe ons uiteindelik wegkom, wasem die vensters toe oor die nat klere aan ons lyf. Matilda het ’n 1,2 l-enjin, en wanneer die lugreëling aan is, verloor sy ’n bietjie krag. Net ’n bietjie, maar hierdie is uitsonderlike omstandighede. Ek is lief vir haar, maar my liefde is nie blind nie. Ons gaan elke greintjie krag nodig kry; dus skakel ek die lugreëling af en draai my ruit oop om die wasem van die windskerm af te kry.

En intussen reën dit onophoudelik. Die mense by die kantoor het my vinnig touwys gemaak oor hoe om deur water te ry. Hou jou spoed egalig, moenie gaan staan nie, moenie skielik draai nie en moenie die enjin laat vrek nie: Ry net. En dis presies wat ek doen. Later sou ons hoor dit was die ergste wind in 30 jaar en die ergste oorstroming tot nog toe in dié gebied. Maar ons weet dit nie nou nie, en beur voort in my Clio.

Haar bande het nog nooit só wankelrig gelyk nie. Dis al klaar ’n groot toets vir my bestuursvernuf, maar ek is besig om my te staal vir die deel wat ek op die video gesien het. Ons bereik dit uiteindelik en sien met afgryse dat dit nie net die pad is wat oorstroom nie: Links en regs van waar die pad behoort te wees, is een groot watermassa.

Ek hou ’n entjie voor die water stil, haal diep asem en sit my voet op die petrolpedaal. Die water stoot op tot by die vlak van die enjin en stroom deur my oop venster. En Matilda? Seën die Franse dametjie, want sy beur voort, ondanks haar enjin wat ’n keer of wat hoes en proes... en dan is ons deur die water!

Hou jou spoed egalig, moenie gaan staan nie, moenie skielik draai nie en moenie die enjin laat vrek nie: Ry net.

Dis moeilik om die euforie te beskryf. En nou lê daar net 40 km tussen ons en Bredasdorp, ’n warm ontbyt en ’n teerpad. Ons ry ’n entjie verder en kom by ’n T-aansluiting waar die wêreld ook onder water is. En in die verte kom ’n groot geel bakkie met flitsende ligte op ons afgepyl. Hy hou langs ons stil en die bestuurder draai sy ruit af.

“Waarheen is julle op pad?” vra hy. Vriendelike gesig, krulhare en groot boarmspiere. Oulik.

“Kaapstad?” sê-vra ek omdat ek self nie meer seker is nie.

“Julle gaan dit nie tot op Bredasdorp maak nie – sowat 11 km voor die dorp is daar te veel water,” sê hy.

“Hoe nou?” vra ek.

“Wel, hierdie pad na Swellendam is ook gesluit. Julle gaan moet omdraai.”

“Ómdraai? Ons kom nou net van De Hoop af!”

“Goed, as julle dit tot hier gemaak het, behoort julle Bredasdorp te haal. Kyk vir die wit paaltjies langs die pad. Wanneer julle by die een met die nr. 18 kom, hou heel links op die pad. Daar is baie water, maar dis nie te erg nie. Hou daarna julle oë oop vir nr. 11. Hou weer links, maar moenie nader as ’n meter van die pad se rand af ry nie, want daar is ’n diep sloot. En moenie oor die pad swaai nie. Hou dinge net egalig.”

In die stilligheid dink ek die laaste keer kon ek nie die rand van die pad sien nie, maar ek swyg eerder. Die vriendelike vreemdeling wens ons sterkte toe en verdwyn in sy geel bakkie.

Ek ry verder en raak al hoe meer op my gemak, soveel so dat ek dit amper begin geniet, ondanks die onheil van nr. 18 en 11 wat voorlê.

Ons is amper by die Protem-afdraai toe ’n geel bakkie met ’n klomp mans van voor af kom. Ek waai, maar kry nie veel reaksie van hulle nie. Anderkant die afdraai sien ek die einste bakkie in Matilda se truspieëltjie. Ook met flitsende ligte. Ek hou stil.

“Julle kan nie verder ry nie; die pad is verspoel!”

“Ja, ons het gehoor, maar ek dink ons kan dit maak!”

“Daar is nie ’n manier nie. Die rivier vloei te sterk oor die pad.”

“Wat moet ons doen?” kla ek.

“Ons wil net by die huis kom!”

“Vat die Protem-afdraai en bly net op daardie pad. Julle sal uiteindelik die teerpad kry.”

Hulle draai om en ons draai om en ry gly-gly verder op die nat modderpad. In ’n stadium verbeel ek my ons ry deur die Mississippirivierdelta omdat daar só baie strome vloei.

Rooi modderstrome, wat vir rooi gordyne weerskante van Matilda sorg soos ons deur die water ry. En dan is daar ’n vurk in die pad. Vervlaks! Die ouens in die geel bakkie het niks hieroor gesê nie. Regs is die pad Protem toe, en links sien ek ’n klompie plaashuise. En albei paaie lyk ewe verspoel. Waarheen nou?

Gelukkig verskyn ons hulp weer in Matilda se truspieël. ’n Rooi dubbelkajuitbakkie kom stadig nader. Ek spring uit en hardloop in hulle rigting. Pappa is agter die stuur, Boeta, in sy jagbaadjie, sit links voor en Mamma het die agtersitplek vir haarself.

“Verskoon my, ons probeer om in die Kaap te kom. Watter pad moet ons vat?” Die gesin in die bakkie hou kajuitraad en sê dan ons moet hulle volg tot by die afdraai wat ons moet neem. En daar gaan hulle en ons volg die bakkie tot by ’n volgende T-aansluiting. Hier is nie ’n padpredikant nie; dus sou ons nie self kon uitwerk waarheen om te gaan nie.

Die gesin sê ons moet regs draai en sal oor sowat 10 km op die teerpad wees. Ons bedank hulle innig. Hulle draai om en ry terug in die rigting van waar ons pas gekom het. Net soos die manne in die geel bakkie het hierdie mense geen moeite ontsien om ons te help nie.

Tien kilometer? Toe nou nie. Ná byna 15 km vra ek vir Deidre: “Hy hét gesê 10 km, nè?”

“Ja, maar hy was dalk bang ons sou histeries raak as hy sê dit is nog 30 km,” antwoord sy. En dan... teer! En ’n T-aansluiting.

Ons draai in Bredasdorp se rigting. Dis nader as Swellendam en ek proe omtrent al die stewige bord spek, eiers, sampioene, tamatie, roosterbrood en koffie. Maar dan hou ons stil waar ’n klomp karre op die teerpad opdam. Hoekom? Want die water stróóm oor die pad!

“Julle kan nie hier deurry nie,” sê ’n man wat nader stap.

“Glo my, jy het geen idee waartoe hierdie karretjie instaat is nie.”

“Wel, ons gaan julle uit die rivier moet red as jy verder ry,” sê hy. “Dis beter as julle Swellendam toe ry.” Ek sug. My ontbytdroom lê aan skerwe.

Vir die res van ons reis bly ons op teer, en hoewel ons almal aansienlik veiliger voel, is dit nie naastenby so baie pret nie. Toe ons vroeër op die grondpad gery het, is ons verby vyf of ses motors, en drie van hulle het stilgehou om ons te help.

Die deernis van vreemdelinge sal my vir lank nog bybly. Net soos haar naamsgenoot het Matilda ook ontdek sy het spesiale kragte, en die enigste nagevolge van ons wateravontuur is dat sy nou die waaier na willekeur aan- en afskakel.

Met 26 000 km op die klok is dit duidelik sy is nou mooi groot en heeltemal in beheer. Ek is seker sy is in Augustus gehou. Want sy is deur-en-deur ’n Leeu.


Dié rubriek het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #23 (Junie 2019) verskyn.