Rubriek: Winkels soos oom Oesche s’n

akkreditasie
Kontantwinkels op die platteland – waar jy ’n gas eerder as ’n kliënt is en waar Wilson’s- en Sunrise-toffies in flesse op die toonbank staan – is besig om te verdwyn. Dana Snyman onthou ’n paar uit sy kinderdae.

Sulke winkels word al skaarser. Reis jy deur die land, sien jy dit oral: Party is gesluit, party is vervalle, party is gesloop.

Ek praat van kontantwinkels op die platteland – dié met die Coke-teken op die gewel, met die hobbelrige drempels, gebarste sementvloere, hoë rakke en grawe en sinkbaddens wat aan stukke bloudraad van die balke afhang.

Hulle deel meestal ’n naam met die plek waar hulle geleë is: Grasbult Kontantwinkel, Crecy Kontantwinkel, Rooibokkraal Kontantwinkel…

Op party se gewel staan nie ’n naam nie, maar vra jy ’n bietjie in daardie omgewing rond, sal jy gou agterkom almal het ’n naam vir daardie winkel.

Hulle sal praat van ou Levin se winkel of Ralie se winkel of wie ook al se winkel.

Die kontantwinkel op Daniëlskuil, die dorp waar ek grootgeword het, was oom Oesche se winkel.

Winkels soos dié is slegs in naam ’n kontantwinkel. Ken jy die eienaar goed genoeg, kan transaksies met wedersydse vertroue geskiet – renteloos. En die sogenaamde “boek” is dikwels nie ’n boek nie, maar sommer ’n stuk karton waarop daar geskryf en later weer met ’n liniaal doodgetrek word, wanneer jy kom betaal.

Oom Oesche het kruisbande gedra en sy Opel-stasiewa het onder ’n afdak langs die winkel gestaan. Maar jy het hom maar min in daardie Opel sien ry, want oom Oesche was altyd op sy pos agter sy winkel se toonbank met ’n kort potloodjie agter die oor – behalwe smiddae tussen een en twee, natuurlik.

En saans. En Sondae.

Dan was oom Oesche se winkel gesluit.

Nie dat oom Oesche onwillig was om gou sy deure oop te sluit nie, as jou ma op ’n Vrydagaand agterkom sy het te min bakpoeier vir die koek wat sy besig is om vir die volgende oggend se môremark te bak.

Dit is vreemd: Ek is al meer as dertig jaar van Daniëlskuil af weg, maar elke slag as ek in so ’n kontantwinkel kom, dink ek aan oom Oesche se winkel.

Op die rakke aan die regterkant was dose skoene, hopies oranje stoflappe en rolle materiaal.

Ma het dikwels materiaal by oom Oesche gekoop – veral crimplene toe dit nog in die mode was. Dan het oom Oesche die rol van die rak gehaal en die materiaal uitgemeet op die lang liniaal wat aan die toonbank vasgeskroef was.

Op die kas agter die toonbank het die skaal met sy blink weegbak gestaan, met ’n hopie gewigte langs dit, van groot na klein. Daarop het oom Oesche jou suiker of meel geweeg.

En dit het na iets van alles daar binne geruik: Seep en geweerolie, bruinsuiker en mieliemeel, paraffien en suurklontjies.

Ek was ’n ruk terug weer in só ’n kontantwinkel – die Soutpan Kontantwinkel op Soutpan in die Bosveld.

Dit behoort aan oom Doon Nienaber en ja, in oom Doon se winkel ruik dit maar nes destyds in oom Oesche se winkel.

Ek weet sentimentele siele soos ek maak soms ’n fout: Ons verbeel ons modernisering het slegs vervlakking gebring.

Dit is nie waar nie; die wêreld is baie meer verfynd as dit. Ek wil nie meer op ’n tikmasjien pleks van ’n rekenaar stories skryf nie.

Ek wil nie witdulsies eerder as antibiotika vir griep drink nie.

Maar ek sal dit enige dag oorweeg om weer my inkopies by ’n winkel soos oom Oesche of oom Doon s’n te doen.

En tog, supermarkte en hipermarkte is ons almal se lot – die prys wat ons betaal vir vinniger diens, laer pryse en ’n groter verskeidenheid produkte, want in oom Doon se winkel op Soutpan kan jy nie kies tussen drie soorte tuna en ’n halfdosyn geure haarseep nie.

Aan die ander kant weer: Oom Doon sal ’n hele week se koerante vir jou agter die toonbank hou, omdat hy weet jy kom net een keer per week dorp toe.

Oom Doon haal ook klaar die pakkie Lexington uit die sigaretrak bokant die kasregister wanneer jy by die deur instap, omdat hy weet jy is ’n Lexington-man.

In oom Doon se winkel is jy ’n gas eerder as ’n kliënt. Ek was nou die oggend nie lank daar by hom nie, toe vra hy of ek koffie wil drink.

En toe lig hy die plank tussen die twee toonbanke, sodat ek saam met hom by die tafeltjie met die geel melamien-blad kan sit, met ’n slapende, stofvaal hond by ons voete.

In ’n kontantwinkel wat sy sout werd is, lê daar altyd so ’n valerige hond iewers en slaap.

Ek verwonder my aan daardie honde. Dit is asof hulle die eienskappe van hul omgewing aangeneem het.

Hulle het alle tekens van aggressie verloor en probeer nie die perseel verdedig nie. Hulle sal net hul stert so twee of drie keer gemoedelik heen en weer plof as iemand by die deur instap.

Terwyl ek en oom Doon lekker daar sit en kla oor die stygende kospryse, toe stap daar ’n boer van die omgewing in en sê: “Gee bietjie vir my daar ’n pakkie Rennies, ’seblief Oom. Die sooibrand maak my vandag weer dood.”

Oom Doon gee vir hom die pakkie, die boer vat dit, klop op sy kakiehemp se sakke en vra: “Sal Oom sommer vir my op die boek skryf? Dankie.”

Dis interessant: Winkels soos oom Doon s’n is slegs in naam ’n kontantwinkel.

Ken jy die eienaar goed genoeg, kan transaksies met wedersydse vertroue geskiet – renteloos.

Ma het dikwels materiaal by oom Oesche gekoop – veral crimplene toe dit nog in die mode was. Dan het oom Oesche die rol van die rak gehaal en die materiaal uitgemeet op die lang liniaal wat aan die toonbank vasgeskroef was.

En die sogenaamde “boek” is dikwels nie ’n boek nie, maar sommer ’n stuk karton waarop daar geskryf en later weer met ’n liniaal doodgetrek word, wanneer jy kom betaal.

Oom Doon het ook nog een van hierdie koeldrankkaste met die oopskuifdeksel.

Jy moet doer onder in die koue rondvroetel vir jou bottel koeldrank.

En jy maak dit oop met ’n oopmaker teen die kant van die kas. Tssjt! En dan val die proppie gewoonlik op die vloer, want die holte onder die oopmaker waarin die doppie moet val, is waarskynlik vol.

Op die ou end het ek sommer ontbyt ook daar by oom Doon geëet.

Ons het nog so gesels, toe kom sit ’n vrou met ’n pienk kopdoek ’n bord met pap en wors voor ons elkeen neer.

En toe roep oom Doon hard deur die winkel: “Ogies!” En toe bid hy: “Vir spys en drank sê ons U naam lof, eer en dank. Amen.”

Daar was twee mense in die winkel, besig om na die goed op die rakke te kyk, maar vir ’n paar oomblikke het hulle ook hul oë toegeknyp.

Ek was anderdag vir die eerste keer in hoeveel jaar weer op Daniëlskuil. Ek dwaal mos maar knaend op my eie spore terug.

Oom Oesche is al oorlede, nes baie van die ander ooms wat ek as kind op die dorp geken het: Oom Andries Grové, oom Bontjors van die slaghuis, oom Louw Enslin, wat alleen in die huisie naby Saunderson se kafee gewoon het.

Ek het my motor naby die stadsaal parkeer en ’n wye draai deur die dorp gestap, verby die huis langs die kerk waar ons gewoon het, verby die klipskooltjie, in die rigting van oom Oesche se winkel skuins oorkant die ou polisiekantoor.

Ek het altyd lekkergoed by oom Oesche gaan koop, of fietsonderdele, of goed vir my ma.

In ’n kontantwinkel wat sy sout werd is, lê daar altyd so ’n valerige hond iewers en slaap.

Die lekkergoed was in ’n ry bottels op die toonbank: Wilson’s- en Sunrise-toffies, Wicks-kougom, niekerbôls en suurklontjies, appelkose en lang, swart stringe drop.

Die fietsbande het ook van die balke afgehang, saam met die sinkskottels en die grawe.

Soms as dit nie te besig in die winkel was nie, het oom Oesche my allerhande stories vertel.

Een keer, daaraan dink ek nog dikwels, het oom Oesche na die telefoondraad beduie, wat in die straat voor die winkel verbygeloop het.

“Het jy geweet, Boetman, as jy onderdeur ’n telefoondraad stap, sonder om aan ’n wit perd te dink, kan jy daarna maar enigiets wens en dit sal waar word?” het hy my gevra.

Ek het dit dikwels probeer: Om onderdeur ’n telefoondraad te stap, sonder om aan ’n wit perd te dink. Maar dit was onmoontlik, want hoe meer jy dink om nie aan ’n wit perd te dink nie, hoe meer dink jy aan een.

Soms wonder ek of ek nie te veel in die verlede rondkarring nie, of ek nie te veel dinge onthou nie.

Is ek nie maar net knaend op soek na daardie onskuldige seuntjie nie, wat eens op ’n tyd geglo het al jou wense kan waar word as jy onderdeur ’n telefoondraad stap, sonder om aan ’n wit perd te dink?

Aan dít alles het ek anderdag gedink, terwyl ek daar op Daniëlskuil staan en kyk het na die leë stuk grond waar oom Oesche se winkel eens op ’n tyd gestaan het.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #24 (Oktober 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.