RUBRIEK: Só speel jy ’n wegwedstryd

akkreditasie
Reis saam met Dana Snyman vir ’n wegwedstryd saam met sy skool se vierde rugbyspan.

Ons was eintlik maar ’n hopelose klomp, ons wat vir ons hoërskool se vierde rugbyspan gespeel het.

Flip Momsen, onthou ek, was die losskakel. Eddie Scholtz en Boenas was die slotte, en ek die haker.

Ou Bees, ons biologie-onderwyser, was veronderstel om ons af te rig, maar eintlik het hy maar net Dinsdag- en Donderdagmiddae met ’n fluitjie agter ons aan gedraf en nou en dan, as hy nie te uitasem was nie, vir ons voorspelers geskreeu: “Gee rug en pak saam, bulle! Pak saam!”

Vir die agterspelers, weer, was sy raad: “Een tree, en pass. Een tree! Één tree!” Soms wonder ek waarom ek ooit rugby gespeel het.

Talent vir die spel het ek beslis nie, en vir roem het ek dit ook nie gedoen nie: Ons het op die C-veld, ver weg van almal af, geoefen en ons wegwedstryde is altyd êrens op ’n paviljoenlose, verdorde agterveld naby die skool se skietbaan gespeel.

Ek dink ek het maar gespeel omdat dit my die kans gegee het om soms ’n Saterdag uit die koshuis te kom en die wêreld ’n bietjie te sien.

Ellisras, Warmbad, Settlers – op sulke plekke het ons gaan speel. Ons het altyd met die skoolbus gery, ’n ou, groen International met die skoolwapen teen die kante geverf, en, natuurlik, die skool se leuse: Waak en Werk.

Sal ek ooit daardie Saterdagoggende vergeet? Dit was gewoonlik nog donker as ons in die bus geklim het.

Tog was dit nie sommer net vir inklim nie – ’n sekere rangorde het gegeld. Vuilbeen, Boenas, Jan Koster en Boesman Pretorius het op die heel agterste bank gesit.

Hulle was rowwe ouens wat Winstons gerook en die name van popgroepe soos AC/DC en Black Sabbath op hulle toksak geskryf het.

In die volgende ry het die rowwe ouens gesit wat meisies gehad het: Eddie Scholtz en sy meisie, Driekie Seegers; Piet Skyfies en Koekie Ahlers.

En dan het die ouens gekom wat graag rof wou wees – ouens soos ek en Momsen, wat maar gesukkel het om ’n Winston se rook in ons longe te kry en eintlik meer van Four Jacks and a Jill gehou het as AC/DC.

En al het ek en Momsen ook oopmond Chappies gekou soos Vuilbeen-hulle, wou die netbalmeisies, wat ietwat verskrik in die middle van die bus gesit het, nie vir ons val nie.

Heel voor, reg agter oom Arrie, die busdrywer, het Tienie Tol gesit, wat musiek as skoolvak gehad en as vlagman saamgegaan het.

As die bus teen die bult by die vendusiekrale uitgesukkel het, kon jy nie die dorp se liggies sien nie, só het daardie ou International rook uitgeblaas, terwyl Piet Skyfies vir Koekie oopmond soen op die tweede sitplek van agter af.

Op Naboom het oom Arrie gewoonlik vir ons by George se bakkery stilgehou.

George se brood was daardie tyd van die oggend nog warm. Ons het elkeen ’n witbrood en ’n halwe liter melk gekoop; en terug in die bus het Boenas en Vuilbeen gewoonlik elkeen twee Crunchies uit hulle broeksak gehaal wat hulle van George se rakke gevat het sonder om daarvoor te betaal.

Ons het gewoonlik die oggend hier tienuur se kant gespeel, net ná die o/15B’s. Momsen het geglo hy is eintlik Cravenweek-materiaal wat in die eerste span hoort.

Elke vierde span wat sy sout werd is, het minstens een só ’n speler – een wat glo as sy pa ook in die skoolraad was en sy ouer broer het nie die vorige jaar amper handgemeen geraak met ’n onderwyser nie, sou hy ook vir die eerstes uitgedraf het. Momsen was ons s’n.

Daarom was hy sommer die kaptein ook – en ’n baie begeesterde een daarby.

“Ek soek julle in die kleedkamer, boys,” het hy gewoonlik so 40 minute voor die begin van ’n wedstryd gesê, al het ons nie regtig ’n kleedkamer nodig gehad nie.

Ons het klaar ons trui, broek, kouse en knee guards aangehad die oggend toe ons in die bus geklim het. (Ek weet nie, miskien was dit ’n onbewustelike soeke na simpatie, maar byna elke ou in ons span het minstens een knee guard gedra. Dit was deel van jou basiese mondering.)

Momsen het gewoonlik maar gesukkel om ons bymekaar te kry, want 40 minute voor die wedstryd het meer as die helfte van die span nog êrens agter ’n kleedkamer, tennismuur of die skietbaan gestaan en rook.

Net vyf van ons, onder wie Bees, die onderwyser, het nie gerook nie.

Wat onthou ek die beste van Momsen se spanpraatjies? Die reuk van Deep Heat – daai wonderlike, soet, nostalgiese geur van Deep Heat.

Die Franse skrywer Marcel Proust het in die laat negentiende eeu op ’n dag ’n madeleine-koekie geëet wat toe soveel herinnerige uit sy verlede in hom oproep dat hy ’n boek van meer as duisend bladsye daaroor geskryf het: Remembrance of Things Past.

Die reuk van Deep Heat sal my sommer dieselfde laat doen.

Dit maak nie saak waar ek is nie, as ek Deep Heat ruik, staan ek opeens weer in daardie kringetjie met my knee guard aan, tussen Boenas en Jan Koster, terwyl Momsen goed sê soos: “Onthou net een ding, boys, hulle is net so bang soos ons.” Of: “Boys, ons moenie toelaat dat hulle hulle speelpatroon op ons afdwing nie.”

Nie een van ons het eintlik verstaan wat dit beteken nie, maar het nogtans instemmend geknik.

Momsen het vooraf ook baie gewroeg of ons eerste moet afskop as hy die loot sou wen.

Hy het ook altyd gesê: “Julle moet vandag als gee, boys. Ek het gehoor Die Beer gaan kom kyk hoe ons djôl.”

Daar was altyd ’n gerug dat Die Beer, ons skoolhoof, na een van ons wedstryde sou kom kyk. Maar Die Beer het nooit sy opwagting gemaak nie.

Kort voor die wedstryd het ou Bees wel opgedaag, maar hy het nie veel gesê nie. “Bulle, onthou net wat ons op die oefenveld gedoen het,” was gewoonlik sy enigste raad.

Soms het hy ’n bietjie ekstra taktiese advies gegee: “Maak hulle eers sag voor, bulle, en speel dan

die bal wyd.”

Toe ons span met iets soos 47-0 agter was, het Tienie Tol, ons immer entoesiastiese vlagman, in ’n hoë stemmetjie van die kantlyn af geskreeu: “Doen iets onverwags, ouens! Doen iets onverwags!”

Dan, net voor ons moes opdraf, het Momsen ’n gebed gedoen waarin hy die Here gevra het dat ons nie moet seerkry nie.

Soms het hy ook subtiel geskimp dat die beste span moet wen, en dat dit tog ons moet wees.

Ek wil bieg oor iets waaroor ek nog altyd stilgebly het. Ek, die haker – die man wat die bal by die lynstane moes ingooi – het nooit ons span se lynstaantekens verstaan nie.

Dit was altyd ’n spul syfers wat Vuilbeen, die agsteman, geskreeu het. “Agt! Sestien! Vyf! Drie!” Of: “Agtien! Twaalf! Vyf! Sewe!”

Dan moes ek gou, met behulp van ’n formule wat Vuilbeen self nie heeltemal verstaan het nie (dit was sy tweede jaar in st. 8), bereken op wie ek die bal moet gooi.

Ek het die bal sommer maar altyd hier iewers in die middel van die lynstaan gegooi.

Die skrums was minder ingewikkeld. Kiewiet, ons skrummie, het net geroep: “Vories, die bal kom… jaaaaa!” Dan moes ons stoot.

Maar die pak het meestal net so in die skrumformasie gestaan en rus.

Agterlangs was dinge ook taamlik eenvoudig. Die mees gevorderde agterlynbeweging was ’n skêr of selfs ’n fopskêr.

’n Oorslaanaangee was bloot ’n toevallige flater.

Dis vreemd: Ek kan nie onthou watter wedstryde ons gewen en watter ons verloor het nie. Of, nee, ek jok: Teen Tom Naudé Tegnies het ons ver verloor.

Tien minute voor die einde van die wedstryd, terwyl ons reeds met iets soos 47-0 agter was, het Tienie Tol, ons immer entoesiastiese vlagman, in ’n hoë stemmetjie van die kantlyn af geskreeu: “Doen iets onverwags, ouens! Doen iets onverwags!” Dit onthou ek.

Kort daarna het Buys, ons linkervleuel, toe wel iets onverwags gedoen: Hy het die bal met ’n oop doellyn raak gevang en gaan druk.

Gewoonlik het Buys sulke balle misgevang.

Elke goeie vierde span het ook mos só ’n vleuel – een met verbysterende vaart, maar baie swak hande.

Elke goeie vierde span het ook ’n speler wie se pa of ma soms tydens wedstryde op die veld storm en dreig om die skeidsregter of een van die ander span se spelers aan te rand.

Vuilbeen se pa het dié rol vir ons vervul.

Eenkeer het hy vir ’n skeidsregter geskreeu: “Man, ek sal jou fluitjie so diep in jou gat opdruk dat nie eens dr. Conrad Brand hom sal uitkry nie, oukei!”

Was dit toe ons teen Warmbad gespeel het? Ek is nie heeltemal seker nie.

In my lessenaar se onderste laai het ek nog ’n foto van daardie vierde span van ons.

Soms haal ek dit uit en kyk daarna.

Een ding van daardie foto tref my altyd: Ons almal glimlag daarop.

Ons almal glimlag.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #14 (November 2005) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.