Deel

Toe & Nou: Barberton se aandelebeurs

akkreditasie
Foto Barbertonse museum
Foto Barbertonse museum
Uit die argief: Die heel eerste aandelebeurs in die land is meer as 130 jaar gelede op Barberton opgerig.

Die “Transvaal Share and Claim Exchange, Trust and Agency Company Ltd” is in 1887 van hout en sink gebou op Barberton gebou. Dit het ná ’n gefuif een aand saam met die kroeg langsaan, bekend as The Dives, afgebrand.

In dieselfde jaar is die “De Kaap Gold Exchange” gebou. Die foto hierbo van die tweede aandelebeurs is in ongeveer 1888 geneem.

Die gebou is nie baie lank gebruik nie, omdat die meeste aandelemakelaars kort ná die aanvanklike goudstormloop in die Laeveld teruggetrek het na die Hoëveldse goudvelde in Johannesburg.

Op die foto onder is die gepleisterde fasade soos dit vandag lyk. Die oorspronklike gebou is in 1899 deur die bekende sakeman Sammy Marks gekoop. Hy het dit op sy beurt in 1910 aan die Barbertonse munisipaliteit verkoop.

Tot in 1958 is die Carnegie-biblioteek en Barberton se eerste museum in die gebou gehuisves. Die gebou was later só vervalle dat dit gesloop moes word.

Hierdie fasade staan vandag nog en is deel van die Barbertonse museum se erfenistoer. Kontak hulle gerus by 013 712 4208 vir meer inligting oor dié toer.

Foto: Chris Louw
Foto: Chris Louw

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #12 (September 2005) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.