book-icon Uitgawe Augustus 2019

Toeka se dae: Die storie van Piet Karre

akkreditasie
AAPSTREKE. My pa was ’n ywerige fotograaf en ek het onlangs dié foto’s van Piet, die bobbejaan, tussen sy horde ou wildtuinskyfies opgespoor. Die gehalte is nie so goed nie, maar dis
immers 60 jaar gelede geneem. Ek onthou die kamera waarop hy so trots was: ’n Praktika 4 met ’n F2-lens. Foto: Boet de Klerk
AAPSTREKE. My pa was ’n ywerige fotograaf en ek het onlangs dié foto’s van Piet, die bobbejaan, tussen sy horde ou wildtuinskyfies opgespoor. Die gehalte is nie so goed nie, maar dis immers 60 jaar gelede geneem. Ek onthou die kamera waarop hy so trots was: ’n Praktika 4 met ’n F2-lens. Foto: Boet de Klerk
Willie de Klerk van Perth, Australië, vertel...

Ek het in Pretoria grootgeword en ons was bevoorreg om elke jaar minstens twee weke Krugerwildtuin toe te gaan.

My oorlede pa, Boet de Klerk, het in 1958 vir ons ’n “nuwe” tweedehandse 1957 Chevrolet gekoop. Dit was liggroen. My pa was heilig op daai Chev en het hom elke tweede maand met Simoniz gepoets!

Ewenwel, op die pad tussen Skukuza en Onder-Sabie het ’n groot bobbejaanmannetjie ’n voorliefde ontwikkel om op verbygaande karre se enjinkap te spring, sommer in die ry. Hy het ’n entjie saamgery en dan afgespring en op die volgende kar ’n rit terug na sy trop toe gekry.

Só ry hy heeldag op en af; hy’s waarskynlik ook deur sommige besoekers beloon vir sy manewales met ’n lekkerny deur die vensterruit.

Ewenwel, op die pad tussen Skukuza en Onder-Sabie het ’n groot bobbejaanmannetjie ’n voorliefde ontwikkel om op verbygaande karre se enjinkap te spring...

Met die op- en afspringslag moes hy effens vastrap, en natuurlik het daai growwe pote vol sand die lelikste krapmerke op menige enjinkap gelaat.

Spoedig het hy dan ook die bynaam Piet Karre gekry, en saans om die gemeenskaplike kampvuur (vanslewe was daar nog sulke plesiertjies) is Piet se kaperjolle bespreek.

So bespring Piet dan ook die mooie Chev een oggend en laat sy skrape op daai groen bonnet!

Piet Karre, 1958. Foto: Boet de Klerk

My pa het op ’n plaas grootgeword en het geweet dat ’n bobbejaan ’n heilige vrees vir ’n slang het. Toevallig het die rubbermat  in Skukuza se een manstort ’n los vlegsel gehad (die matte is uit stroke ou motorbande gevleg). ’n Meter lange stuk van die los vlegsel is uitgeryg, opgerol en onder die Chev se voorsitplek geplaas – net reg vir Piet as hy weer sou opspring!

En wrintiewaar, die volgende oggend is Piet op sy pos en mik weer vir die Chev.

My pa het op ’n plaas grootgeword en het geweet dat ’n bobbejaan ’n heilige vrees vir ’n slang het.

Hy was nog in die lug met die opspringslag, toe my pa die opgerolde “rubberslang” by sy oop venster laat uitkrul na Piet se kant toe. Piet moes onvermydelik land, maar het weer onmiddellik vertrek met ’n kreet en wyd oopgesperde oë.

Die poging het egter ook gepaardgegaan met ’n ontspanning van al sy funksies – met ’n blaas en pens wat tegelyk laat waai!

Die resultaat was nie beplan nie, maar nodeloos om te sê het ons gesit met massiewe skrape op die Chev se bonnet en ’n verbleikte ammoniakkol wat Simoniz nooit kon uit-polish nie.

Jare lank het ons Piet se nalatenskap op die Chev se verf gesien en kon maar net weer saam lag. Dis waar ja, ’n bobbejaan is skytbang vir ’n slang.

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com