Die trekmense sou die Maandag die breekgoed begin pak, die Dinsdag daarmee voortgaan en die lorrie begin laai. Die Woensdag die laaiwerk voltooi en vertrek.
Die gordyne is afgehaal en die vensters staar my aan met pêreloë soos dié van ’n blinde. Die ornamente is verpak en selfs van die meubels is in karton en plastiek toegedraai.
Rina het só hard gewerk om van hierdie huis ’n tuiste te maak waar ’n koning nie sou skaam kry om sy intrek te neem nie. Nou is dit asof iemand met ’n breë kwas swart verf ’n pragtige skildery toegetakel het sodat daar van die kunswerk niks oorgebly het nie. Die trekmense het haar kunswerk in een oggend vernietig – vir altyd.