Daai jong mannetjies bly egter ’n ontwykende gesig. Leeuwyfies bly soms hulle hele lewe lank by hulle geboortetrop, maar mannetjies waai wanneer hulle sowat twee en ’n half jaar oud is. Die dominante mannetjies in elke trop – selfs die jonge se pa – beskou hulle as ’n bedreiging. Die jongelinge swerf dan van een grondgebied na ’n volgende.

Dié jong mannetjies kan baiekeer uitgeken word aan hulle Mohawk-haarstyl. Hulle hou hulle skaars en skuil, veral vir dominante mannetjies. Maar dinge verander teen die tyd dat hulle vyf of ses jaar oud is: Dan is hulle maanhare byna volgroei, hulle is groter en hulle begin volwasse mannetjies uitdaag en uit die trop werp.

Teen die tyd dat ’n jong mannetjie ’n trop oorgeneem het, vind welpiemoord plaas. Alle manlike welpies wat nie deur die nuwe leier verwek is nie, word doodgemaak sodat hy nie sy energie vermors deur die welpies groot te maak nie. Die leeumammas veg verwoed hierteen, en ek het al gesien hoe hulle 20 km ver saam met hulle kroos trek om hulle te beskerm.

Dié jong mannetjies kan baiekeer uitgeken word aan hulle Mohawk-haarstyl.

Indien die wyfies se welpies wel doodgemaak word, kom hulle in oestrus. Dit lei tot nuwe geboortes kort nadat die nuwe mannetjie aan die bewind kom.

Die aantal mannetjies in ’n trop bepaal die duur van die heerskappy. Hoe meer mannetjies daar dus in ’n koalisie is, hoe sterker is hulle en hoe langer kan hulle regeer. Teen die ouderdom van nege jaar begin die meeste mannetjies se kragte taan en raak hulle weerloos.

Wanneer ’n aanval geloods word en dié mannetjies uit die trop gestoot word, swerf hulle weer op hulle eentjie. Hulle het dan geen wyfies om hulle te help jag nie, en teen die ouderdom van 12 word hulle as bejaard gesien. Dus het imposante leeumannetjies in der waarheid ’n taai lewe.