Ons is reeds op dag een van ons maand lange toer ’n filosofiese kompas in die hand gestop. Dié stukkie wysheid het ons uit ’n onwaarskynlike oord bereik: gedurende ’n kitslessie in jukskeigooi.
Ons het gaan inloer by die jukskeimeesterstoernooi op Kroonstad, waar Thomas Venter, afrigter van die span van Gauteng-Noord, ons onder hande geneem het. Volgens hom lê die geheim van jukskeigooi in drie dinge: balans, rigting en momentum. Laat staan die gooi-aksie, vergeet van krag. Jy hoef slegs hierdie drie dinge in gedagte te hou en die skei doen die res.
Hierdie drie woorde is op veel meer as net jukskei van toepassing. Vat dit op jou lewenspad: Balanseer jou werk en jou plesier, bly koersvas en moenie stoom verloor nie.