Die naam Overberg het oorspronklik verwys na die onbekende binneland agter die Hottentots-Hollandberg wat die oostelike uitbreiding van Jan van Riebeeck se nedersetting gestuit het.
Mettertyd is ’n pad deur die bergreeks gevind en die vae Nederlandse definisie van “over het berg” moes verander, want anderkant die Overberg het nóg berge gewag.
Die Overberg-distrik se grense is tot vandag toe vaag, maar daar word algemeen aanvaar dit is die golwende vlakte tussen die Riviersonderend- en Langeberg in die noorde en die see in die suide, met sy westelike grens die Hottentots-Hollandberg en sy oostelike grens óf die Breë- óf die Gouritsrivier 100 km verder ooswaarts.