Die Olifantsrivier-lodge is net anderkant Middelburg in Mpumalanga. Ná die laaste stuk grondpad van 6 km kom jy by ’n kantoor wat ’n paar bekender oorde skoon jaloers sal maak. Van hier af kyk jy uit op die lowergroen graskombers wat om die koue swembad vou, met daarnaas, in die geboue regs, die verhitte swembad.
Die restaurant en konferensiegeriewe lê verder af teen die skuinste. Van hier af ry ’n mens dieper die oord in, verby ’n klompie rondawels links en gesinskamers regs. Die pad kronkel verder af na die staanplekke waar jy naderhand teenaan die rivier is met ’n uitsig oor die kloof voor jou. Die oewer by die staanplekke is byna 300 m lank.
As hengel bo-aan jou lysie is, sal jy vroeg moet opdaag om seker te maak jy kry plek langs die rivier, want die staanplekke word nie toegewys nie. Sestig van die sewentig staanplekke het kragpunte, en afhangend van waar jy staan, is dit die gewone huissok of blou woonwaprop. Hier is heelwat koelte en jy kry ook ’n braaiplek op jou staanplek.