Ons kamp al jare met ons tente en maak ook ons kinders, Gretha (7) en Marius (5), groot om dié leefstyl te geniet en waardeer.

Die grootste vloermoer wat Marius nóg gegooi het, was omdat ons nie gaan kamp het nie!

Die afgelope Paasnaweek het ons ’n plek gesoek om te gaan uitspan en ek het die Blinkwater-kampterrein van die Citrusdal-lodge op Google opgespoor.

Ek het ook gesien die mense het net goeie goed te sê oor die plek.

Omdat dit ongeveer 10 km buite Cirtrusdal geleë is en dus nie te ver van ons af nie, het ek navraag gedoen.

Die tariewe was heel aanvaarbaar en ons het die kar gelaai en koers gekies soontoe.

Hoe lyk die kampterrein?

Die foto’s op hulle webwerf weerspieël nie naastenby hoe netjies en goed uitgedink die plek is nie.

Elke ding is op sy plek en jy kan nie vir meer vra nie.

Hier is 14 staanplekke in ’n klofie met die Boontjiesrivier wat naby verbyvloei.

’n Mens kan nie die rivier van al die staanplekke af sien nie, maar hier is ’n oorvloed gras en bome.

Elke staanplek het ’n losstaande staalbraaier, kragpunt (blou én gewone huissok) en kraan.

Hier is ook ’n gemeenskaplike braailapa as jy en ’n klomp vriende saam wil braai, en daar is drie yskaste wat jy kan gebruik om jou kos vars te hou.

Hier is ook ’n klompie onafgebakende staanplekke, maar hulle is nogal ver van die ablusiegeriewe af.

Toe ons hier was, het die mense wat daar gekamp het, met die kar badkamer toe gery.

Ek hoor daar is darem planne om nog ablusiegeriewe te ontwikkel.

Vertel ons meer oor die badkamers.

Ek het nog nie so iets gesien nie. Ek oordryf nie as ek sê die badkamers is groter as myne by die huis nie.

Jy het ’n volledige badkamer vir jouself met ’n bad, stort, wasbak, toilet en al die dinge.

Dit is veral geskik vir mense soos ons met kinders.

Daar is vier van hierdie badkamers in die ablusieblok en hulle het ’n voltydse skoonmaker aan diens.

Hier is ook skottelgoedopwasgeriewe by die ablusieblok.

Watse doendinge is hier?

Jy kom ontspan.

Maar oor Blinkwater se swembad moet ek iets sê: Hulle lei water van die rivier af in en weer uit die swembad; dus swem jy in vars water wat nie met chloor behandel word nie.

En die swembad is ’n volle 3 m diep!

Ons het oor Paastyd nog geswem, en ek is seker daarvan in die warm somermaande is dit ’n welkome lafenis.

Maar die belangrikste is dat ons kinders veilig is wanneer hulle kamp – en hier is dit die geval.

Hulle kon speel en op en af langs die rivier stap sonder enige moleste.

Ek verneem hier is ook stap- en fietsryroetes.

Is hier ’n winkel?

Nee, maar die mense verkoop hout en ys op ’n eerlikheidsgrondslag.

Kontak 022 921 2221; blinkwater@citrusdallodge.co.zacitrusdallodge.co.za

GPS S32.630542 E19.099515