Toast Coetzer

Stop eers ongeveer 1 km suid van die afdraai na Alexanderbaai langs die R382. Klim uit en stap oor die pad na die oostekant. Sien jy daai oranjebruin wolletjies op die grond? Wel, dis ’n “woud”! Gaan sit op jou hurke tussen hulle en kyk mooi: Dis een van die grootste ligeenvelde in Suid-Afrika.

Die R382 hou spoedig op en daarmee saam word die teerpad grondpad. Ry maar stadig, want plek-plek is die sinkplaat ongeskik.

Jy ry al langs die Oranjerivier (op linkerhand), met die kaal woestyn aan jou regterkant. Dis ’n unieke landskap – ’n lushof aan die een kant, ongenaakbaar aan die ander.

Teen die rivier is landboubedrywighede, en jy ry deur plekkies met name soos Beauvallon en Grootderm. Jy kan aan die skewe bome sien hoe sterk die wind hier rond kan waai!

Wees maar op die uitkyk vir Brandkaros se afdraai, gemerk met ’n voëlverskrikker gemaak van stompe.

Hoewel Brandkaros nie óp die oewer van die Oranjerivier geleë is nie (dit is sowat 600 m van die rivier), het die eienaars Herman van den Berg en Twanet Veldsman nietemin ’n oase geskep. Brandkaros voel soos iets tussen ’n plaas (Twanet is trots op haar skape, gaan kuier vir hulle) en ’n backpackers.

Elke kampplek (hier is 10) het ’n windskerm, óf van palmtakke óf ’n muur gebou uit houtstompies. Hier is bome, grasdakpiekniektafels en ’n swembad. Die ses grasdak-chalets met kombuis en badkamer het slaapplek vir vier mense elk en voel nogal soos die Krugerwildtuin se oustyl rondawels.

Twanet en Herman probeer hulle “voetspoor” so lig as moontlik hou, en Brandkaros gebruik slegs sonkrag.

Doendinge Baie toeriste gebruik Brandkaros net as vinnige oornagplek, maar jy sal verbaas wees hoe anders jou ervaring van ’n plek kan wees indien jy meer as een aand oorbly en die moeite doen om die omgewing te verken. Herman en Twanet bied perdry in die woestyn (jy kan maar ’n beginner ook wees – dis rustig), roei op die rivier (’n goeie manier om watervoëls van nader te bekyk) en begeleide dagtoere na die Ai-Ais/Richtersveld-oorgrenspark.

Koste Kamp: R100 p.n. per tent of woonwa, plus R50 p.n. per volwassene en R25 per kind (jy gaan sukkel om goedkoper te kamp!). Die chalets kos R250 p.p. wat deel en kinders jonger as 12 jaar betaal R150 p.n.

Kontak 076 905 0317 (Twanet – stuur SMS of WhatsApp, ontvangs is swak); brandkaros@gmail.com