Die R60 tussen Ashton en Swellendam is een van my gunstelingpaaie. Vrugteboorde en grasgroen weivelde, bespikkel met skape al kouend aan ’t mediteer, flits verby jou. Met die Langeberg wat deurgaans aan jou linkerkant waghou.
Die rit tussen die twee dorpe neem skaars 40 minute, en terwyl jy nog droom oor ’n huisie op die platteland, dui ’n bordjie aan jou linkerkant die afdraai na die Eenuurkop-gasteplaas aan.
Jy hoef nie ’n kwantumfisikus te wees om te sien hoekom Tersia en Jeremy Puren hulle 110 ha-plaas Eenuurkop gedoop het nie. Die mees imposante van Swellendam se bekende uurkoppe (hier’s ook ’n Twaalf-, Elf- en Tienuurkop) troon bo die landskap uit. In die dae voor horlosies kon die plaaslike inwoners jou vertel hoe laat dit is afhangende van watter kop ’n skaduwee oor die dorp gooi.