book-icon Uitgawe Oktober 2018
Deel

Bly hier: Pienaarsbaken Farm Cottages, Graaff-Reinett

akkreditasie
Craig Dodds
Craig Dodds
Lus vir ’n regte Karooplaas-ervaring? Span uit by die Pienaarsbaken Farm Cottages aan die voet van die Lootsbergpas.

Sodra jy van die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg op die grondpad afdraai, verruil jy geraas en verkeer vir sandsteen, Karoobossies, skape en dalk ’n bloukraanvoël.

Jaco en Amy Loots is die huidige eienaars van dié skaap-en-beesplaas, maar die Loots-familiegeskiedenis dateer terug tot die 18de eeu.

Die plaas is ’n goeie basis van waar af jy Graaff-Reinet, die Kamdeboo- nasionale park en Nieu-Bethesda met sy Uilhuis kan besoek. Geriewe Hier is twee eenhede in die oorspronklike plaashuis. Elkeen het twee slaapkamers met onderskeidelik ’n dubbelbed en twee enkelbeddens, ’n kombuis, sitkamer en braaiplek.

Eenheid 1 kyk op die tuin uit en het ’n mooi uitsig oor die veld waar skape onder wilgerbome wei. Ons het in Eenheid 2 gebly. Hier is tee, koffie en beskuit in die kombuis en ’n beker vars melk word soggens afgelewer. Donsduvets en elektriese komberse word verskaf.

Eenheid 2 het ook ’n buitebraai, piekniektafel en ’n bankie waar jy na die voëls in die populierbome kan sit en luister. En die braaikamer is nogal luuks... Die klipvloer, lang houttoonbank en vuurmaakplek vra vir láát kuiers.

Ontspan op die bank met ’n glas wyn en ’n boek of speel bordspeletjies voor die knetterende vuur. Alles van hout tot braaisout is netjies gerangskik langs die braaiplek. Jaco vul ook julle houtvoorraad aan, indien nodig.

Wat nog? Soggens kom was die personeel julle skottelgoed. Gaan stap deur die weiveld na ’n dam of ry fiets op die plaaspaaie (bring jou eie bergfiets). Hou julle oë oop vir die grondeekhoringgesin wat ’n gat net buite die hoofingangshek het. Die kinders sal daarvan hou om die lomp lammetjies dop te hou en met Gooseberry, die boerbok, te speel.

Ry tot by die Wapadsberg-gedenkteken aan die bopunt van dié pas (sowat 6 km) en kyk hoe die son agter Sneeuberg sak.

Die grondpad loop deur die plaas en het met ons besoek ’n paar modderpoele en los klippe gehad. ’n Ryding met goeie grondvryhoogte word aanbeveel.

Pienaarsbaken is deel van die Bergkwagga/Kamdeboo-bewarea en hier hou elande, springbokke, rooiribbokke, blesbokke en wildebeeste.

Koste R400 p.p. vir die eerste twee mense; R200 p.p. wat bykom.

Troeteldiervriendelik? Ja, honde met maniere is welkom.

Hoe kom ek daar? Volg die N9 van Graaff-Reinet af vir 50 km in die rigting van Middelburg. Draai regs by die Pienaarsbaken-bordjie en volg die grondpad tot by die plaas. Dis sowat 60 km van Middelburg af tot by die afdraai.

Kontak 083 669 1374; jaco@blueskysa.com; pienaarsbaken.co.za