Gaste bly in ’n kliphuisie langs die hoofplaashuis wat eens ’n stal was. Onder kry jy ’n toegeruste kombuis, ’n badkamer en ’n sitkamer met ’n kaggel; op die boonste verdieping is twee slaapkamers en ’n klein badkamer. (Hier’s ook ’n stapelbed in die sitkamer om nog twee mense lêplek te gee.)
Die plaas behoort aan Kath en Chris Isted en hulle maak seker jy het alles wat jy nodig het. Etes is deel van die pakket: Elke aand kom klop Kath met heerlike huiskos soos lamstjops of geroosterde vark- of beesvleis en groente plús poeding. Die volgende oggend staan ’n warm ontbyt reg.
Aangesien jy nie self hoef kos te maak nie het jy tyd: Gaan stap in die berg, swem in ’n stroom, ry na die Tiffindell-skioord, maak ’n draai op die dorpie Rhodes, vlieghengel vir forel of ry op jou bergfiets. Of jy kan net op die stoep sit en kyk hoe die lig speel op die sandsteenwalle reg rondom die huisie.