Klim op die N2 (rigting George) en draai ná sowat 8 km af op die Rheenendalpad. Dié pad lei na talle oulike verblyfplekke skaars 15 minute se ry van die woelige middedorp af. Een hiervan is Woodlands, vier gemeubileerde selfsorgsuites op die rand van ’n vallei wat oortrek is met onder meer bosboomvarings, stinkhout-, boekenhout-, ysterhout- en tientalle ander inheemse boomspesies.
Die vier eenhede is langs mekaar, maar het elkeen ’n private dek van waar jy die son oor die woud kan sien sak. Wees op die uitkyk vir die rooi vlerksweep van die Knysnaloeries wat hier onder jou deur die boomtoppe flits.
Woodlands bied ’n uitstekende tuiste, of jy nou in die Knysnadeel van die Tuinroete- nasionale park of op die dorp wil uithang. Elke eenheid het ’n volledig toegeruste kombuis met ’n gasstoof, elektriese oond, ’n mikrogolf en yskas, asook ’n televisie met DStv. Op die dek het jy ook jou eie braaiplek. Buiten die twee dubbelsuites is hier twee gesinseenhede met twee slaap-kamers en ’n oopplansitkamer elk.