As jy by Cintsa-Oos se hoofstrand staan en links en regs kyk, lyk dit asof dit groot genoeg is vir ál die strandhanddoeke in Oos-Londen.

Tipies Wildekus rol die groen heuwels tot teen die Indiese Oseaan met net ’n dik strook sand wat die twee skei.

Ek staan met my tone in die water, want vir ’n Kapenaar is die verskil in temperatuur van die water merkbaar.

Buiten vir swem – in die see én in die rivier – is Cintsa gewild onder branderplankryers, vlieërplankryers en vissermanne.

Ek kan dink dat dit in vakansietye vól is. Dis egter nou Mei en oor ’n vertrapping hoef ek my nie te bekommer nie.

Die enigste mense op die strand is die locals wat gaan vir ’n laatmiddagstap en ’n gesin wat vir hulle honde Frisbee gooi terwyl hulle kleinding doelgerig oor die sand agter iets kruip wat net hy kan sien.

’n Informele sokkerwedstryd is ook aan die gang en dit blyk dat daar sowat 30 mense per span is, maar ag, die “veld” is immers groot genoeg vir almal.

Vir die volgende paar dae gaan ek die pad tussen hierdie luilekker kusdorpie(s) platter ry op soek na doendinge hier op die Wildekus se drumpel.

Die getypoel aan Cintsa-Wes se kant van die strand.
’n Backpackers is vir almal

Is Cintsa tegnies deel van die Wildekus? Op pad hierheen tref ek Oos-Londen skrams met die N2 en net buite die stad dui ’n bord aan dat ek nou amptelik op die “Wild Coast Route” is.

Vir dié wat glo die Wildekus is eintlik die destydse Transkei, begin dit by die Keirivier, sowat 70 km verder noordwaarts en strek nog 250 km tot by die Mtamvunarivier op die voor-stoep van Port Edward.

Maar dis hare kloof, veral aangesien jy pas deur ’n stad gery het wat nie regtig die oostekant van die Britse hoofstad is nie.

Net soos die res van die plekke tussen Oos-Londen en Keimond is dit ’n bietjie makker as die res van die ware Wildekus.

Die naaste groot inkopiesentrum is minder as ’n uur se ry, die paaie het minder slaggate, die beeste is meestal in krale en die huise hier het meer hoeke as die kenmerkende rondawels wat ’n mens op poskaarte sien.

Die hoofpad in Cintsa-Wes is ook die enigste pad, met die afdraaie na woonbuurte afgesper deur sekerheidshekke.

Waar die pad doodloop, is ’n parkeerplek by die strand, ’n restaurant en ’n klein winkel. Dis al.

Die son verdwyn oor die binneland toe ek by Buccaneers Lodge & Backpackers stilhou, waar die ontvangsdame my inlig dat die hele lodge volbespreek is vir ’n jogawerkswinkel.

Maar hierdie is nie ’n plek waar jy sommer weggewys word nie – sy druk ’n foon in my hand en sê: “Praat gou met Sal.” Sal Price en haar broer, Sean, was nog kinders toe hulle ouers dié stuk grond teen ’n heuwel buite Cintsa-Wes in 1981 gekoop en die lodge begin het.

Vandag staan hulle aan die stuur van sake. Sal maak ’n plan en tien minute later saal ek af in ’n kamer met ’n stoep wat uitkyk oor die riviermonding.

Die volgende oggend ontmoet ek Sal en Sean vir ontbyt in die eetsaal saam met sowat 15 vroue in Spandex van oraloor die Oos-Kaap.

Sean lyk soos iemand wat kon branderplank ry voor hy kon loop.

“Die woord backpackers beteken nie meer wat dit eens het nie,” verduidelik hy oor ’n koppie koffie. “Die meeste mense dink aan gemeenskaplike slaapsale en jong buitelanders met rugsakke en moon bags. Maar deesdae bied backpackers bekostigbare gesinsblyplek. Veral hier langs die Wildekus.”

“Ons het maar erg deurgeloop met die virus. Omtrent 70% van ons gaste was buitelandse toeriste, en hier was niemand nie.

“Maar ons maak ’n plan en rig ons lodge nou in vir gesinne.”

Gaan op ’n strandwandeling saam met een van Cintsa Horses se perde.
Galop langs golwe

Tydens ontbyt gesels ek met een van die joga-gaste wat effe verdwaald lyk.

Donald Kurtz, ’n afgetrede professor in astronomie, se vrou is hier vir joga en terwyl die span vir die res van die dag in die eetsaal strek, moet Donald hom besig hou.

“Ek kan aan slegter plekke dink om tyd deur te bring,” sê hy skertsend terwyl twee knysnaloeries mekaar in ’n boom voor die eetsaal se stoep jaag.

“Vandag is my plan om die eerste keer in jare te gaan perdry.”

Ek stap sommer saam met Donald na die Cintsa Horses-perseel op die New Hampshire-plaas by Buccaneers se afdraai.

Penny Dickerson is reeds besig om die perde te roskam en op te saal. Penny is vriendelik maar ferm en verduidelik streng hoe alles werk.

Wanneer sy egter met die perde praat, is haar stem sag en dit blyk sy het Job se geduld.

Tommy, Ruby en Frodo, drie van die perde wat vandag aan diens is, se lywe blink nie soos stoetperde s’n nie; tot dusver het hulle elkeen ’n moeilike pad gestap.

Penny se ma, Georgie, het meer as vier dekades gelede ’n rehabilitasiesentrum op New Hampshire begin.

“Hier is baie perde in die omgewing wat afgeskeep word of wie se eienaars nie meer na hulle kan kyk nie, en ons probeer help waar ons kan,” vertel Penny terwyl sy ’n saalband styftrek.

“Ons het 35 perde en donkies op die plaas.”

Vrywilligers kom van reg oor die wêreld heen om te help met die rehabilitasie, en die perde wat gereed is, word ingespan om besoekers op ’n perderit strandlangs vat.

“Hulle het uiteenlopende persoonlikhede, maar dit maak nie saak of jy ’n gesoute jokkie of ’n onervare ruiter is nie, hier is wel ’n perd vir jou.”

Nog twee gaste sluit by die groep aan en Penny neem die voortou op Ruby se rug.

Ons volg hulle oor die teerpad en dan slap regs langs ’n voetpad see toe.

Die heuwels is meestal grasveld wat bosagtig raak totdat ons skielik op die wit strand uitdraf.

Ons draai noord. Die riviermonding is al jare lank toegespoel en die perde kan met droë hoewe deurstap tot aan die ander kant van Cintsa-Oos.

“Al ons perde is saggeaard, maar hulle het ook hulle eie nukke,” vertel Penny terwyl ons rustig op die strand stap.

“Een van hulle hou party dae van water, ander dae nie.” Gelukkig was dit nie een van daardie dae nie!

Op pad terug loop ons langs die rivier wat op ’n plek só vol is dat die perde in die vlak water móét loop.

Ons kies kortpad deur Buccaneers se terrein en twee ure later word die perde vasgemaak onder die afdak met ’n welverdiende kan water.

Perdry is ’n opwindende manier om die strand te verken en jou tarief dra ook by tot Tommy, Ruby, Frodo en die res van die perde se volgende baal hooi.

Chris Hutton is die man wat die bier laat borrel by Emerald Vale Breweries.
Van bouer tot brouer

Al het die perde die meeste van die harde werk gedoen, is my keel droog.

Selfs in die koel laatherfsmiddag laat die Wildekus-son jou sweet. Ek gaan soek lafenis by die mikrobrouery Emerald Vale Brewery net buite Cintsa-Oos.

By die kroeg leer ek ’n nuwe woord: cicerone. Dis soos ’n sommelier, maar in plaas van ’n kenner van wyn, is dit ’n kenner van bier.

Volgens die brouer Chris Heaton het die brouery ’n nederige ontstaan.

“Ek het eers in die boubedryf gewerk, maar was lus om bier te maak wat smaak soos ék daarvan hou. Toe doen ek dit sommer hier op die familieplaas,” vertel Chris terwyl hy ’n foto wys van hoe die brouery tóé in 2011 gelyk het.

“Aan die begin kon ek maar omtrent 30 liter op ’n slag maak.”

Wat begin het as ’n paar kanne, ’n yskas en ’n gasbottel in ’n stal, staan vandag vol blink tenke waar die graan en die gis werk om vier verskillende soorte bier te maak.

Chris verduidelik presies hoe die brouery werk en hoe hy die proses aanpas om die verskillende biere te maak.

Daarna is dit tyd vir ’n bierproe. Chris brou vier Engelse biere, oftewel ales: ’n ligte een, ’n goue, ’n amberkleurige en ’n donker een.

In die winkel kan jy selfs ’n bottel CBD-bier (ja, met ’n skeutjie dagga) koop.

Buite die kroeg sit ouers onder die afdak terwyl hulle kinders op die groot grasperk en in die speelplek baljaar.

In ’n ander hoek sit ’n groep fietsryers wat ná een van die plaasroetes ’n bier geniet.

Emerald Vale is lankal nie meer net ’n brouery nie. Dis ’n jolige uithangplek – vir locals én besoekers.

Vierwiel vir die vale!

Vroeg die volgende oggend meld ek aan by die Inkwenkwezi-wildreservaat en sommer gou sien ek wild.

Binne die eerste 500 m loop blesbokke oor die pad, ’n familie vlakvarke wei op hulle knieë en by ontvangs staan ’n hans volstruis en vergaap haar aan haar weerkaatsing in die glasdeur.

By Inkwenkwezi word wildritte, begeleide staptoere en kanovaarte op die Bulurarivier aangebied.

Vandag is ek lus vir ’n skoot adrenalien en skryf my naam neer vir ’n begeleide vierwielmotorfietstoer deur die reservaat.

Buite wag Johan Hugo, ’n gids, met twee motorfietse vir ’n vinnige oriëntasiesessie op die grasperk.

“Wanneer laas het jy ’n quad gery?” wil hy weet, en ek verduidelik ek is verroes en dat hy geduldig moet wees. (Ek verswyg eerder dat ek inderwaarheid op laerskool laas op een gery het, en toe boonop die passasier was.)

“Die motorfiets maak partykeer so,” merk hy heel genadig op toe ek al rukkend wegtrek.

Gelukkig kom ek gou die mas op en ek volg Johan op die grondpaaie deur die reservaat.

Inkwenkwezi is die tuiste vir vier van die Groot Vyf; net olifante woon nie hier nie.

Dis nie lank nie, of ’n trop buffels staan die hele pad vol. “Met hierdie menere vat jy nie kanse nie, en as ons vir hulle gaan wag om te beweeg, gaan ons die hele dag hier staan,” sê Johan en ons draai liewer om.

Johan ken die reservaat soos die palm van sy hand en ons verken twee ure lank.

Ek volg Johan in ’n vallei af. ’n Paar skerp draaie en steil bulte laat my hart ’n bietjie vinniger klop.

Die omgewing het die week voor my besoek goeie reën gekry en onder in die vallei wag daar ’n paar waterkruisings wat vir ekstra opwinding sorg.

Hoewel ek net op die 2 m voor die fiets konsentreer, ontgaan dit my nie dat ons in ’n natuurreservaat is nie.

Elke dan en dan ritsel die bosse langs die pad en ’n koedoe of wildebees spaander weg.

Die pad klim uit die vallei tot op ’n hoogte van waar ’n mens die res van die park sowel as die nabygeleë nedersettings soos Kwelera se huisies kan sien.

Ons ry dieselfde pad terug tot waar my voertuig – bewaak deur die vlakvarke – wag.

Twee dae vantevore het ek by die Areena Riverside Resort ingeloer en gevra dat hulle my laat weet wanneer ek by ’n groep kan aansluit vir abseil, glykabelry of ’n Segway-toer.

Net toe ek Johan groet, ping my selfoon in my broeksak met ’n WhatsApp-boodskap: “Wil jy kom quad ry?” ’n Uur later sit ek wéér op ’n vierwiel-motorfiets.

Die gids, Colleen Richardson, werk al sedert 2019 op Areena en genadiglik is die paaie hier aansienlik makker.

Die oord is deel van ’n private wildreservaat en die oomblik wat jy deur die oord se hek ry, sien jy óral wild: Sebras, wildebeeste, bontebokke en volstruise loop langs die tweespoorpad en steur hulle niks aan die vierwiele nie.

Die omdraaipunt is hoog bo-op ’n heuwel. Dis ook hier waar die glykabel- en abseilroetes begin, vertel Colleen.

Weer eens vergaap ek my aan die uitsig: Areena het van en suite-kamers vir paartjies en houthutte vir gesinne, asook ’n kampterrein.

Hier loop glo selfs tussen die staanplekke wild rond. Darem nie grootwild nie... meestal konyne.

Ek sal self graag my tent hier langs die Kwelerarivier wil kom opslaan.

By die Arendsnes Holiday Resort voel dit asof ’n mens in die bos kamp, al is jy net vyf minute se stap van die strand af.

Jy kan jou kar aan die begin van ’n vakansie hier kom parkeer en eers weer in hom klim nadat jy jou tent afgeslaan het.

Die 110 staanplekke is net ’n klipgooi van die water af en jy kan hier op jou kampstoel met jou verkyker sit en soek na van die 323 voëlspesies wat hier voorkom.

Of hou ’n oog oor die jongspan wat kano roei.

Hier is ook ’n restaurant, winkeltjie en ’n kroeg... G’n wonder dat hier ’n paar woonwaens is wat permanent hier staan nie.

Voordat ek groet, stel Colleen my aan Abby voor. Abby – wie se naam ’n verkorting is van Abnormally Big Baby, is ’n 16-jarige kameelperd.

As vulletjie is hy hans grootgemaak nadat sy ouers deur stropers doodgemaak is.

Abby, die kameelperd, en twee volstruise wil-wil handgemeen raak oor mieliepitte by die Areena River Resort.

Deesdae slenter hy elke dag luilekker op die landgoed op soek na mielies.

My laaste stop op die dorp is die Arendsnes Holiday Resort agter ’n groot heuwel in die middel van Cintsa-Oos.

Ek ontmoet vir Louis Greef, die eienaar, wat my nooi vir ’n koppie tee by sy en sy vrou, Bessie, se huis bo-op die kruin.

Ons stap agterom die ontvangskantoor waar hy die hekkie van sy... kabelkar vir my oophou!

Ja, die enigste manier om by Louis se huis te kom is met ’n kabelkar met sitplek vir twee mense!

“Dis rustig hierbo,” sê Louis terwyl ons boontoe sweef. “Elkeen van my huis se 30 000 bakstene, en alles anders het ons met dié kabelkar hier gekry.”

Van Louis se stoep af kan ek die eerste keer ordentlik die plekke sien wat ek die laaste paar dae verken het: Noordwaarts strek die strand in ’n spierwit lyn amper tot by die volgende kusdorpie, Haga-Haga.

Volg jy die wit lyn suid oor die toegespoelde Cintsariviermonding, kom kom jou oë uit by Cintsa-Wes se meer rotsagtige strand met sy getypoel.

Oorkant die rivier steek die huise van dié deel van die kusdorp se dakke tussen die tropiese plantegroei op die groen heuwels uit.

Ek kan selfs Buccaneers Backpackers waar ek gisteraand geslaap het van hier af sien, en ooswaarts vaar groot vragskepe op die horison.

Ek wonder weer oor hoe ’n vertrapping dit moet wees in die somervakansie.

“Cintsa is te klein om ooit te besig te raak,” verseker Louis my. “Dit maak in elk geval nie saak hoe besig dit daar onder raak nie, want hier is dit rustig.”

Koop hier

Aan albei kante van die rivier is ’n winkel vir basiese kruide-niersware: die Cintsa Mini Market op Cintsa-Wes en Spar SaveMor op Cintsa-Oos.

Die enigste brandstof is beskikbaar langs Spar op Cintsa-Oos. Koop vars groente en vrugte by die Village Deli op Cintsa-Oos.

Hier’s ook verskeie produkte uit die kontrei en hulle bedien ligte etes. Vir groter inkopies is die Crossways-sentrum die naaste, sowat 15 km van Cintsa af. Hier is ’n groot Spar, apteek, vulstasie en ysterwarewinkel.

Eet hier

Cintsa Bay Restaurant & Jolly Roger Pub is die enigste eetplek in Cintsa-Wes en deel ’n parkeerterrein met strandgangers. ’n Calamari-hoofgereg kos R85, mossels R55 en garnale R25 elk.

Kontak 043 734 3230

Tea in the Trees is slegs van Donderdag tot Sondag oop en hier is elke eerste en laaste naweek van die maand ’n markie onder die bome. Bestel gerus ’n glas tuisgemaakte limonade (R25) saam met jou ontbyt (R60).

Kontak 072 611 2367; teainthetrees.co.za

Die eienaar van die Village Bistro, Lynne Crawford, is blykbaar die nie-amptelike burgemeester van Cintsa – sy weet álles van die dorp en skroom nie om enigeen te help nie. Buiten haar raad, kan jy ook vir ’n bielie van ’n burger (R70) by die bistro aanklop.

Kontak 043 738 5026

Die Barefoot Café op die rand van Cintsa-Oos het ’n groot dek en grasperk wat uitkyk oor die binneland. Waar die meeste van die eetplekke see se kant toe kyk, is Barefoot Café een van die min plekke van waar jy kan kyk hoe die son sak. Probeer een van die pizzas (vanaf R69) op die splinternuwe spyskaart.

Kontak 076 521 9628

’n Seevakansie is nie ’n seevakansie sonder ’n stewige pakkie vis-en-tjips nie. Kry joune vir R75 by Lucky Fish. Calamari-en-tjips kos dieselfde, en ’n combo R95.

 

Bly hier

Buccaneers Backpackers and Lodge Ondanks die mooi uitsig is Buccaneers nie ’n plek waar jy heel dag op jou stoep sit nie. Die rivier en strand is binne stapafstand, gaan lê langs die swembad, kry ’n branderplankles, sluit aan by ’n jogagroep of hang uit by die kroeg.

Koste En suite-kamers vanaf R715 p.n. vir 2 mense, gesinshuisies vanaf R1 350 p.n. vir 4 mense, kamp teen R125 per staanplek vir 4 mense; gemeenskaplike slaapkamer R180 p.p.p.n.

Waar? Die afdraai is 1 km buite Cintsa-Wes.

Kontak 043 734 3012; cintsa.com

Crawfords Beach Lodge Bederf jou met ’n besoek aan Crawfords Beach Lodge vir ’n nag of wat. Dié luukse lodge is teenaan die strand en binne stapafstand van die middel van die dorp. Hier is verskillende kamers, van ’n romantiese wittebroodsreiskamer tot ’n drieslaapkamer-gesinsuite.

Waar? Steenbrasrylaan 42

Koste Vanaf R1 045 p.p.p.n. wat deel, ontbyt ingesluit. Middagete en aandetes is beskikbaar teen ekstra koste. Afslag vir kinders jonger as 12.

Kontak 043 738 5000; crawfordsbeachlodge.co.za

Cefani Mouth Holiday Resort As jy weg van die gepeupel wil kamp, kom soek ’n staanplekkie langs die Cefanirivier, net noord van Cintsa. Die oord is by die monding van die rivier; jy kan kies of jy wil gaan swem in die see agter die duin, of in die rivier terwyl jy kan dophou of jou braaivuur nog brand.

Waar? Die afdraai is sowat 2 km buite Cintsa-Oos, met nog 3 km grondpad tot by die oord.

Koste Kamp vanaf R100 p.n. vir 6 mense. Hier is ook ’n verskeidenheid hutte, chalets en rondawels vanaf R640 p.n. vir 4 mense.

Kontak 083 399 5605; cefani.co.za

 
Buccaneers Lodge en Backpackers het ’n uitsonderlike uitsig oor die Cintsa-riviermonding.

Doendinge

Areena Riverside Resort By Areena word soveel aktiwiteite aangebied dat jy nêrens anders heen hoef te gaan nie. Maar hoekom sou jy wou?

Waar? 8 km van Cintsa-Wes op die Schafli-pad in die rigting van Oos-Londen.

Koste Kamp vanaf R200 p.p.p.n.; En suite-kamers vanaf R580 p.p.p.n.; Houtchalets vanaf R1 900 p.n. vir 2 mense.

Kontak 043 734 3055; areenaresort.com

Arendsnes Holiday Resort Net soos sy huis op die heuwel het Louis Greef self die hele lodge gebou. Arendsnes is dié plek vir jou as jy hou van rustig wees op vakansie. Die strand, winkels, en selfs rolbalbaan is minder as 200 m se stap weg.

Waar? Steenbrasrylaan 44

Koste Slaapkamers vanaf R650 p.n. vir 2 mense; Houthutte vanaf R900 p.n. vir 4 mense. Kamp: vanaf R450 p.n. per staanplek met ’n maksimum van 6 mense.

Kontak 043 738 5064; arendsnes-chintsa.co.za

Cintsa Horses

Waar? 1 km buite Cintsa-Wes Koste R475 vir sowat 2 ure in die saal.

Kontak 083 459 6646 (slegs WhatsApp); cintsahorses.com

Emerald Vale

Waar? 5 km buite Cintsa-Oos Koste R90 vir ’n brouerytoer en R55 vir ’n bierproe. Fietsry kos R25 p.p.

Kontak 043 738 5397; “Emerald Vale Brewery” op Facebook

Inkwenkwezi-wildreservaat

Waar? Presies halfpad tussen Cintsa-Wes en Cintsa-Oos op die Schafli-pad.

Koste ’n Vierwielmotor-fietstoer kos R395 p.p. vir 1 uur; wildritte R985 p.p. vir 3 ure; kanovaart R350 p.p. vir 2 ure; begeleide boswandeling R100 p.p. vir 1 uur.

Kontak 043 734 3234; visitbuffalocity.co.za

Areena Riverside Resort

Waar? 8 km van Cintsa-Wes op die Schafli-pad in die rigting van Oos-Londen.

Koste ’n Vierwielmotorfietstoer kos R390 p.p. vir 1 uur; kabelgly kos R450 p.p.; Segway-toer R390 p.p. vir 1 uur; abseil kos R500 p.p. Dit kos R150 p.p. om vir Abby, die kameelperd, te ontmoet en te voer.

Kontak 043 734 3055; areenaresort.com