Ek en Johan van Wyk staan aan die suidekant van die berg met verkykers gelig ten hemele.

Aasvoëls sweef omtrent 400 m bo ons. Soms gaan sit een op ’n nes in die krans.

Meestal lyk dit asof hulle sommer net vlieg omdat dit lekker is.

Vir 1 230 broeipare kransaasvoëls is Blouberg die middelpunt van hulle wêreld, want die witgeblertste kranse hier huisves Suid-Afrika se grootste broeikolonie van dié bedreigde spesie. In die 1990’s was skaars 500 broeipare oor en die aanwas van hierdie bevolking is een van die Blouberg-natuurreservaat se groot suksesverhale.

Só vertel Johan my. Hy is die reservaatbestuurder en al sedert 1992 hier – die herstel van die kolonie het voor sy oë gebeur.

Blouberg is ’n beboste, steil berg wat bo die vlaktes uittroon – ’n inselberg, met ander woorde – sowat 15 km wes van die mees westelike punt van die Soutpansberg.

Die hoogste punt, wat ook sommer net Bloubergpiek genoem word, maar nog op sommige kaarte Ga-Monnaasenamoriri heet, is 2 051 m hoog.

In Sepedi beteken Ga-Monnaasenamoriri “die man met die bleskop”, want van onder lyk die hoogste spits na kaal rots.

Die berg is omtrent 30 km van oos na wes, en as jy óm die berg wil ry om sy plesiere te ontdek, het jy ’n hele dag nodig.

Die reservaat se buffels is skugter, maar met geduld sal jy foto’s kan neem wanneer hulle by Buffelspan kom drink.

Die beste plek om só ’n verkenning te begin is die Blouberg-natuurreservaat, ’n 9 320 ha groot provinsiale reservaat wat in 1983 geproklameer is, styf teen wat destyds deel van die Lebowa-tuisland was.

Sedertdien het tyd hier op ’n manier stilgestaan.

Die mense wat in die dorpies om die voet van die berg woon – plekkies soos Blouberg, Indermark, Senwabarwana (voorheen Bochum), Buffelshoek – suig steeds aan ’n provinsiale agterspeen.

Groot deurpaaie soos die N1 (oos van hier) en die N11 (na die weste) systap mooitjies die ganse gebied.

Hier is nie veel ontwikkeling nie, en werk is skaars.

Selfs die aasvoëls voel dit. Wanneer jong aasvoëls hulle veilige neste hoog teen die kranse verlaat en met eerste, lomp vlerkslae die lug invaar – veral op ’n reënerige dag – land party naby Indermark waar hulle soms gevang word om op die moetimark verkoop te word.

Johan en sy span het ’n eenvoudige dog effektiewe teenvoeter hiervoor.

’n Bewusmakingsveldtog is oor ’n paar jaar van stapel gestuur en nou weet die inwoners van Indermark dat hulle enige optel-aasvoëls direk na die reservaat kan bring.

Johan bedank hulle dan met R200 vir hulle moeite, wat presies die bedrag is wat ’n sangoma vir ’n voël sou betaal.

Op dié manier word gemiddeld 25 aasvoëls elke jaar gered.

My Darling en Burgerrecht is twee dorpies aan die noordekant van Blouberg.

Johan vertel my die suidekant van die berg kan tot 1 000 mm reën per jaar kry, maar die noordekant net 400 mm (dit is in die berg se reënskaduwee).

Hy wys bome uit: witsering, tambotie, knoppiesdoring.

Wanneer ons oor Rampanyanasnek ry, op pad terug na die noordekant (waar al die blyplekke geleë is), wys hy vir my die bergmahonie.

Dié boom se Engelse naam, wooden-banana, dui op die houtagtige, piesangvormige aard van sy vrug (maar nee, jy kan dit nie soos ’n piesang eet nie!).

Die reservaat is ’n boomparadys: die Molope-kampplek, waar my tent opgeslaan is, is genoem na die Sotho-woord vir huilboerboon, en hier is ook tambotie, haak-en-steek, ruspeboontjie en die struikerige malvarosyntjie.

By Modumele, die wilderniskampplek waar ek môreaand kamp, staan rooiboswilg, fluweelkanniedood en witsering.

Op sommige van die sanderige wildkykpaaie voel dit soms asof jy deur ’n laning witsering ry.

Hier is selfs ’n wildevywoud waar jy mag uitklim en stap langs ’n paadjie om dié reuse van nader te bewonder.

Elders troon ’n kremetart of drie. Vanweë die ruigtes is die reservaat se wild soms moeilik om te sien. Maar by Buffelspan – ’n watergat – is ’n ondergrondse fotografieskuiling onlangs gebou.

Maak jouself hier sit met jou kamera en ’n fles koffie.

Kuifkoptarentale is een van die skaars spesies om voor uit te kyk in die Blouberg-natuurreservaat. Ander Bosveldvoëls wat jy kan sien, is die swarthelmlaksman en tropiese waterfiskaal.

Kort voor lank begin die vertoning: ’n versigtige jong koedoebul, gevolg deur ’n paar buffelkoeie en hulle kalfies, dan kameelperde in stadige aksie, ’n sarsie sebras, twee bestofde vlakvarke, ’n gefladder van duiwe – selfs drie kuifkoptarentale!

Die buffels is Blouberg se grootwild en het met ’n láng pad tot hier gekom, vertel Johan.

Hulle is in die 1970’s uit Addo verskuif na die Willem Pretorius-wildreservaat in die Vrystaat.

Daarvandaan is hulle na Percy Fyfe-reservaat noord van Mokopane en uiteindelik, in 1996, het ’n kudde van 30 buffels hulle in Blouberg tuisgemaak. Vandag is hier sowat 230 buffels.

Blouberg is niks sonder sy mense nie. Vandag ry ek en Johan uit die reservaat sodat ek die mense van die streek kan ontmoet.

Ons ry eers teerpad na Indermark, en draai dan suid tot by Avon, waar ons regs draai op ’n grondpad.

’n Kort entjie verder kruis die pad die Brakrivier – dieselfde rivier wat teen die suidelike grens van die reservaat langs loop.

Dís hoekom als en almal buite die reservaat net so belangrik is vir die bewaringswerk as wat bínne die reservaat gebeur.

Hou die rivier hier onbesoedel en die water dáár is van beter gehalte.

Lig die mense van Indermark in oor die aasvoëls en ’n hand vol meer voëls sweef die lug in.

Die dorpies waardeur ons ry, lê uitgestrek. Huisies staan ver uitmekaar – hier is ruimte vir groentetuine.

Soms is daar landerye, ander kere ’n kudde beeste. Kinders stap skool toe, ’n paar vroue loop met draggies hout op die kop.

Dis bedrywig, en mense waai terug wanneer jy groet.

Vir die buitstaander se oog lyk dit idillies om hier te woon.

Dorpies soos Blouberg, Indermark, Thalahane (foto) en Buffelshoek lê aan die suidekant van die berg.

Blouberg bied ’n skouspelagtige agtergrond vir al die tonele wat ons tegemoetstroom deur die Mahindra se voorruit.

Hier is selfs ’n plekkie met die naam Bul-Bul!

By die dorp Blouberg kry ons die obskure afdraaipad na African Ivory Route se Blouberg Camp.

Nou ry ons reguit na die berg toe, en gaan ’n kort kloof binne.

Reuse-nabome groei teenaan die pad – hulle verdwerg die bakkie behoorlik.

Die pad loop dood by die kamp, waar ons uitklim.

Johan wil my die bouvalle van ’n ou polisiestasie en tronk gaan wys, versteek tussen die doringruigtes agter die kamp.

Blouberg is tot ’n mate ongeskonde juis omdat daar nie oral teen die berg paaie gebou is nie.

Jy kan glad nie tot bó ry nie. As jy daar wil kom, moet jy stap.

Dié uitkykdek in die Blouberg-natuurreservaat dien ook as lanseerdek vir gerehabiliteerde aasvoëls. Hier het hulle ’n beter kans om veilig op vlerk te kom.

African Ivory Route se Blouberg Camp is die meeste voetslaners se basiskamp – die kranse bo in Blouberg is ook gewild onder rotsklimmers. Jy kan hier reël vir ’n gids en ’n portier – jy het twee dae nodig om op en af te stap.

Op pad na die piek sien jy die ou koninklike kraal, die tradisionele setel van die Ba-Hananwa, die mense wat steeds rondom die berg woon.

Vir drie maande in die winter van 1894 is die Ba-Hananwa, onder leierskap van kaptein Malebogo (ook Maleboch of Leboho), beleër deur ’n burgermag aangevoer deur genl. Piet Joubert.

Die Ba-Hananwa was ontevrede met die ZAR-regering se belastingbeleid en het geweier om goedsmoeds onder hulle gesag te staan.

Tydelike forte is opgerig waarmee die Ba-Hananwa omsingel en afgesny is van hulle water- en kosvoorraad.

Kommando’s van reg oor die Zuid-Afrikaansche Republiek het opgeruk in die veldtog teen Malebogo, van so ver as Marico en Rustenburg.

Dit was ’n ongelyke oorlog, want die ZAR se 1 790 kommandolede is boonop bygestaan deur lede van ander stamme in die gebied wat Malebogo en die Ba-Hananwa vyandiggesind was.

Die Ba-Hananwa het min bondgenote gehad, maar volgens oorlewering hulp ontvang van die Ba-Lobedu.

Soos die Ba-Lobedu – onder koningin Modjadji – is die Ba-Hananwa tradisioneel bekend as reënmakers.

Die Ba-Hananwa moes uiteindelik op 31 Julie 1894 oorgee, en Malebogo en sy senior raadgewers is tronk toe.

Hulle is in 1900 bevry toe die Engelse Pretoria oorgeneem het, en Malebogo kon sy mense regeer tot sy dood in 1939.

Die Ba-Hananwa-vroue en -kinders is onderverdeel tussen die kommandolede en hulle moes vyf jaar lank teen geen vergoeding op plase in ander distrikte gaan werk.

Hulle het drupsgewys teruggekeer, maar hulle moed was gebreek en hulle lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.

Christoph Sonntag van die Berlynse sendinggenootskap was ’n ooggetuie van die oorlog tussen die Ba-Hananwa en die ZAR.

Hy was van 1892 tot 1897 hier gestasioneer en kon die verwikkelinge van sy voordeur af volg.

My Friend, Maleboch, die dagboekinskrywings wat Sonntag oor hierdie tyd geskryf het, gee ’n blik op gebeure:

Friday 29 June 1894

The mist which in the early morning had covered the whole mountain-range, disappeared and made way for the brightest sunshine. Then again the mountains echoed and re-echoed from rifle- and gun-fire...

Tuesday 24 July 1894

There was again heavy fighting. Thunder rolled and rumbled over the mountains as in a thunderstorm. Off and on there was a violent explosion as if lightning had struck and split a tree-trunk asunder or smashed a rock.

Sonntag se sendingkerk was geleë by ’n plekkie genaamd Sesalong, en dit is ons volgende bestemming.

Johan stel voor dat ons eers die Ba-Hananwa se huidige regeringskantoor in Thalahane aandoen op pad na Sesalong.

Dis ’n goeie idee om daar te gaan groet, sê Johan, net sodat die kgosi (die hoofman) weet ons is in die omgewing.

Die standbeeld van Malebogo in Thalahane.

Voor die kantoorgebou is ’n standbeeld van Malebogo, sittend en met ’n geweer oor sy knie.

Sy blik is in die rigting van die berg, maar nie dromerig na die bleskoppiek van Ga-Monnaasenamoriri nie – eerder hier na die pad wat voor die kantoor verbyloop, waar mense gesels en lag, en nou en dan ’n minibus verbysuiker.

Hy kyk na sy mense, en dit is goed so.

Ons ontmoet Eric Baloyi, verteenwoordiger van die huidige kgosi.

As amptenaar is sy werk om klagtes uit die gemeenskap aan te hoor en as skakel te dien tussen die kgosi en die regering.

Hy vertel my van die groot fees wat hulle elke jaar – gewoonlik in September of Oktober – hou om Malebogo se nagedagtenis te vier.

Daar word gedans, tradisionele bier gedrink en vleis geëet. “Dit is goed dat ons kinders en kleinkinders die geskiedenis ken, tradisies volg, en ook in hierdie plek woon,” sê hy, en beduie rondom hom.

“Ek is in 1960 gebore, en hier wil ek bly tot die dag dat ek doodgaan.”

Eric vra een van sy kollegas, Silas Mashaba, om saam met ons te ry na Sesalong, en ons maak plek vir hom agter in die dubbelkajuit.

Ons ry voort tot by Buffelshoek, waar ons regs draai.

Skaars 3 km verder draai ons regs na die Leipzig Duitse sendingkerk waar Sonntag destyds gebly het.

Silas vertel hoe die Ba-Hananwa wat bekeer is ook boekgeleerdheid by Sonntag ontvang het, en dat baie van dié mense – en van hulle nasate tot vandag toe – self onderwysers geword het.

Silas Mashaba staan by die graf van Marie Sonntag by die Leipzig Duitse Sendingstasie in Sesalong.

Aan die voet van ’n knewel van ’n broodboom staan ’n ysterkruis geplant met Marie Sonntag, Christoph se eerste vrou, se geboorte- en sterfdatum: 1876-1897.

’n Ander gedenksteen dra net die naam ‘Magdalena Franz’. Robert en Helene Franz het in 1897 oorgeneem as sendelingegpaar by Blouberg.

Hulle het in 1910 verhuis na Bochum (vandag Senwabarwana, wat beteken “plek waar die Boesmans water drink”), 30 km suid van hier, waar die bouval van ’n kerkie gesien kan word.

Helene Franz was ’n verpleegster en sy was die dryfveer agter die stigting van ’n nedersetting vir melaatses in Bochum. Die Helene Franz-hospitaal op Senwabarwana dra vandag nog haar naam ter ere van ’n lewe gewy aan die siekes en verstotelinge van hierdie afgeleë distrik.

Hoewel hier ’n nuwe kerkie (ingewy in 2012) staan, is die res van die sendingstasie – eens woonhuis, kantoor, kliniek, gastehuis – op die perseel vervalle.

’n Paar beeste hou ons herkouend dop wanneer ons op die werf rondstap.

Op hierdie warm dag het die toneel die gevoel van ’n kaal kol op ’n muur waar eens ’n skildery gehang het, ’n lomerige leemte waaroor ou jakarandabome en ’n baldadige pienkpers bougainvillea waghou.

Hierna gaan laai ons weer vir Silas af in Thalahane voor ons omdraai om ons sirkel om Blouberg te voltooi.

Johan van Wyk en Rudolf Monyai bekyk die ruïne van ’n ou tronk en polisiestasie naby African Ivory Trail se Blouberg Camp (Rudolf werk hier en kan jou gaan wys).

Thalahane en Sesalong se name eggo albei ’n tydperk van trekarbeid, van mans wat weg is om in die stede en op die myne te gaan werk.

Thalahane beteken “geskei van mekaar” en Sesalong “die deel wat agtergebly het”, bedoelende die vroue en kinders.

Sesalong lê aan die westekant van Blouberg, en wanneer ons weer daar verbyry en verder noord vorder, word die landskap droër. Grys wolke wat wil lyk na reën span die lug gedeeltelik toe.

By ’n dorpie met die oulike naam My Darling draai ons regs.

Johan wil my een van Limpopo se vergete provinsiale reservaatjies gaan wys: die Malebogo-natuurreservaat.

Hierdie netjiese koppie by Sesalong word Thaba ya Lepokisi oftewel Boksberg genoem omdat dit ’n bietjie soos ’n boks lyk.

Op die meeste kaarte word dit nie eens aangedui nie.

Soos die Blouberg-natuurreservaat kos toegang hier R50 per persoon, maar jy kan aan die reaksie van die hekwag sien dat hy lanklaas ’n besoeker ontvang het.

Ons sien sebras, elande, rooibokke en blou-wildebeeste. In baie opsigte is dit soortgelyk aan die Blouberg-natuurreservaat, maar die veld is oper.

Iewers sien ons iets ongewoons: ’n gompou met haar kuiken, skaars groter as ’n koffiebeker!

Die bakkie se laaste stofstreep loop van hier deur Burgerrecht en ’n paar ander nedersettings tot ons weer die teerpad bereik waar ons regs draai na die Blouberg-natuurreservaat.

Daar gekom bedank ek Johan, laai hom af en ry na my slaapplek.

Modumele is ’n wilderniskampplek in die Blouberg-natuurreservaat. Jy kan dit eksklusief vir jou groep bespreek sodat julle die bos vir julleself het.

Modumele is die reservaat se boskamp reg teen die eerste ruwe kranse van Blouberg, nog ver van die tuimelende hoogtes van Ga-Monnaasenamoriri iewers in die donker wes van my.

Hier is nie krag of lopende water nie. Hier is ook geen ander mens nie.

Dis net ek, my kampvuur en ’n reus van ’n witsering.

Laatnag weerlig dit ver, iewers bo in die berg.

Miskien maak die Ba-Hananwa weer reën hierdie somer...

Dankie aan Nols Pretorius, Siegwalt Kusel, Charles Leach en Johan van Wyk vir hulle hulp met hierdie artikel.

Bronne samilitaryhistory.org; blouberg.gov.za; My Friend, Maleboch – Chief of the Blue Mountains deur Christoph Sonntag

Wat sê die mense?

Johan van Wyk Reservaatbestuurder, Blouberg

“Jy gaan ver moet reis om die bome van Blouberg te beat, want die verskeidenheid spesies wat jy in ’n klein gebied kry, soos byvoorbeeld rondom ons wildevywoud – sal jy nie sommer elders in die Bosveld sien nie.

“Ook langs die Brakrivier se vloedvlakte is die huilboerboon en apiesdoring veral mooi. “Ek het in 1992 hier begin werk en – behalwe vir ’n kort tydjie by ’n ander Limpopo-reservaat – is ek nog heeltyd hier.

“Ek en my vrou, Michelle, bly hier en ons het ook twee dogters, een nog op hoërskool en die ander al klaar met skool. Loopbaangewys sal ek nie sommer van hier af skuif nie – dis afgeleë maar ’n lekker leefstyl, selfs al het die reservaat sy uitdagings.

“Die reservaat is amper soos ’n boerdery: jou infrastruktuur soos paaie en heinings moet reg wees, en die diere moet water hê.

“Gelukkig kom mense soos Vriende van Blouberg gereeld tot ons redding – hulle het net nou die dag byvoorbeeld die Molope-kamp se badkamers netjies gemaak en ’n paar aanwysborde in die reservaat vir toeriste opgesit .”


Gerd Botha Voorsitter, Vriende van Blouberg

“Vriende van Blouberg help die reservaat met praktiese bewaringskwessies. Anders as die regeringsdepartement het ons nie red tape om deur te sukkel nie; dus kan ons vinnig inspring en help as byvoorbeeld ’n waterpomp gaan staan.

“Van ons suksesvolle projekte in onlangse jare sluit in die regmaak van die pad oor Rampan-yanasnek, wat voorheen rof was. Ons het ook die uitkykpunt gebou waarvandaan aasvoëls weer vrygelaat word nadat hulle gerehabiliteer is – en ook die groot hok waarin dié voëls aansterk.

“Blouberg is een van daai plekke. Jy kies nie vir Blouberg nie – Blouberg kies vir jóú. Ek het nog altyd ’n sagte plek vir buffels en aasvoëls, en dít het my tot die reservaat aangetrek.

“ ’n Mens raak ook meegevoer wanneer iets ’n suksesstorie is, soos die aasvoëls wat ons rehabiliteer.

“Die ondergrondse fotografie-skuiling by Buffelspan is ook deur die Vriende van Blouberg gebou. Jy weet, ek het sewe jaar lank Blouberg toe gekom en nooit ’n buffel gesien nie. Maar toe ons daar werk – en ons raas met sweiswerk en angle grinders – toe kom die buffels rustig daar aangestap om te kom drink!”

Sien meer by friendsofblouberg.org.za.

Fortune Mabeba (links) en Frank Parehwa Onderskeidelik eienaar en bestuurder, Makgabeng Farm Lodge Fortune

“Ek het in Johannesburg grootgeword, maar my pa se wortels lê hier by Senwabarwana. As kind het ek soms saam met hom plaas toe gekom – die grond is al drie generasies in ons familie se besit; sedert 1926.

“Ek het 16 jaar lank vir Sun International gewerk, maar later besef dat ek iets anders soek; die leefstyl in ’n stad kan oppervlakkig wees.

“Daarom het ek in 2010 besluit om die lodge hier op ons plaas te begin. Hier kan ek régtig lewe – en in pas met die natuur.

“Die lodge is genoem na die Makgabengplato – die berg wat jy van hier kan sien. Jy kan Blouberg ook sien, maar Makgabeng is nader aan ons.

“Jy sal dit nie glo nie, maar Blouberg het géén rotskuns nie terwyl Makgabeng oortrek is daarvan. Dis uniek omdat daar rotskuns van die San, Khoi-Khoi én Noord-Sotho gesien kan word.

“Ons bied staptogte daarheen – dit neem sowat twee uur om tot bo te stap, en weer twee ure terug!”

Frank: “Ek geniet dit hier, want dis stil en ons is ver van die skares af – jy weet mos hoe is die lewe in Johannesburg en Pretoria!

“Ons gereelde gaste is stadsmense wat hierheen kom om hulle ouers te kom besoek of dalk om ’n begrafnis of troue by te woon. Ander kom om ’n bietjie te ontspan op die platteland.

“Ons is ook ’n goeie oornagplek vir mense wat van elders in Suid-Afrika op reis is na Botswana.”

Plekke van belang

Malebogo-standbeeld GPS S23.13118 E28.95704

Leipzig Duitse Sendingkerk GPS S23.13070 E28.89730

Malebogo-natuurreservaat GPS S23.05362 E28.86456

Dorpie vir melaatses GPS S23.28308 E29.10537

Ou kerk in Senwabarwana GPS S23.28255 E29.11303


By African Ivory Trail se Blouberg Camp is vyf rondawels.

Bly hier

Blouberg-natuurreservaat Hier is vier kampe: Molope (kamp), Modumele (eksklusiewe kamp), Tamboti (safaritente) en Mashatu (chalets). Net Mashatu het krag.

Hier is geen restaurant nie – bring jou eie kos en braaihout. (Op Vivo is ’n baie goeie slaghuis, en ’n supermark, SaveMor, waar jy inkopies kan doen.) Mashatu en Tamboti is toegerus vir selfsorg. Die paaie in die reservaat is bakkiepaaie – sanderig en soms ook klipperig.

Koste By Molope kos kamp R270 per nag vir die eerste twee mense, daarna R90 per ekstra persoon (tot 6 mense per staanplek).

Modumele is ’n boskamp (bring jou eie water vir drink én was) en slegs een groep (maksimum 10 mense) mag dit op ’n slag bespreek: R340 per nag vir die eerste twee mense, daarna R120 per ekstra persoon.

Tamboti word ook eksklusief bespreek (net een groep, maksimum 8 mense): R850 per nag vir vier mense, daarna R160 per ekstra persoon.

Mashatu se chalets het slaapplek vir 2 grootmense en 2 kinders en is die beste opsie vir nie-kampeerders: R500 vir die eerste persoon, R450 vir die tweede persoon. Kinders onder 12 kry afslag. Toegang R50 per volwassene per dag en R30 per kind jonger as 12.

Waar? GPS S22.97722 E29.15094 (afdraai)

Inligting bloubergreserve.co.za

Besprekings 076 680 4277 (Gloria); 072 584 7475 (Shadrack); rathogwatg@gmail.com; rathlanes@gmail.com; swarth2@ledet.gov.za

African Ivory Route se Blouberg Camp Hier is vyf rondawels, elk met slaapplek vir twee. Hier is geen krag nie en jy deel kombuisgeriewe (gasstoof, yskas) en badkamers met ander gaste. Jy kan vooraf maaltye bespreek.

Koste R495 per persoon wat deel – kinders jonger as 12 betaal halfprys.

Waar? GPS S23.11068 E28.98572

Kontak 015 781 0690; africanivoryroute.co.za

Makgabeng Farm Lodge Hierdie netjiese lodge is naby Senwabarwana (Bochum) en die beste opsie indien jy luukshede soos TV, lugreëling en toegang tot ’n restaurant soek.

Gesels met die eienaar, Fortune Mabeba, of die bestuurder, Frank Parehwa, oor stapuitstappies na die nabygeleë Makgabengplato. Jy kan van hier ook dagbesoeke onderneem na die Blouberg-natuurreservaat.

Koste R1 240 per nag vir twee mense wat deel, met ontbyt. Gesinskamers (2 grootmense, 2 kinders) kos net R1 340 per nag, met ontbyt. Dit sluit aandete in en die pryse styg na onderskeidelik R1 640 en R1 940 per nag – baie goeie waarde vir geld! Kinders jonger as 8 bly verniet.

Waar? GPS S23.27562 E29.06870

Kontak 073 190 9971; makgabenglodge.co.za