Die Kamdeboo- nasionale park omvou Graaff-Reinet soos ’n massiewe perdeskoen. In die noordelike deel is die Nqwebadam, ’n netjiese tentekamp en die hoofwildkykgebied, en in die weste die bekende Vallei van Verlatenheid, die uitkykpunt met panoramiese uitsigte oor die vlaktes van die Karoo.
Dít is die dele in die park wat die deursnee-toeris lok… en in vakansietye is daar hordes van hulle. Maar vir dié wat gelukkig genoeg is om agter die stuur van ’n 4x4-ryding te sit is hier ook twee gemaklike en prentjiemooi veldryroetes in die park.
Die Koedoeskloof-roete lê in die westelike deel van die park; dus moet jy na die Vallei van Verlatenheid se hek ry nadat jy jou parkgeld by die hoofhek betaal het.