Kampplekke teen die KwaZulu-Natalse kus – en veral die Suidkus – lê ingeryg soos sardyne. Dis eenvoudig ’n seevakansie op sy beste. Tog is die provinsie se Drakensberg-oorde ewe gesog, net soos die iSimangaliso-vleilandpark met sy oerwoude wat soos ’n 170 km lange wurm tot teen die Mosambiekse grens strek.

Maar wat kampplekke betref, is hier meer as net strande, berge en oerwoude in dié provinsie. Mense sal jou waarskynlik skeef aankyk as jy in Durban wil kamp, boonop ver van die see af. Ook as jy na die oënskynlike vaal Middelland mik wat wes van Durban in ’n breë strook tot teen die Vrystaatse grens loop.

Die Queensburgh-woonwapark lê mooi in die Durbanse metropoolgebied, tussen die woongebiede, maar verder “weg” van die stad sal jy nie kry nie. Pak maar in... En skaars 100 km binneland toe wag die tweede kampjuweel: die Bushwillow-woonwapark. By Howick swenk jy van die N3 af noord in die Karkloofreservaat se rigting tot die pad teen die kampplek vasloop. Salig soos min.

QUEENSBURGH-WOONWAOORD

Madam se plek

Teen 1952 was die Natalse kolonie meer as 40 jaar al iets van die verlede, maar die Britse koninklikes sou nóg ’n pleknaam kry ter ere van hulle: Queensburgh. Gedurende die jaar het ’n klompie stadswyke saamgesmelt om die nuwe wyk te vorm, en koningin Elizabeth II is in 1953 gekroon.

Die kampplek word omring deur woonbuurte, maar jy kamp in die hart van ’n tuin. Om hier uit te kom gaan jy dus moet kophou, want die pad tot by die oord kronkel al tussen die voorstedelike huise deur en ’n mens kan byna nie dink jy gaan ’n kampplek hier raakloop nie. Die een oomblik sleep jy nog versigtig in die buurt en die volgende ry jy ’n paradys binne.

Die oorskakeling van die stad na die natuur is veral merkbaar net voor die hek, wanneer die laaste huise skuins agter jou lê. ’n Klomp blouapies sit rond soos ’n klomp leeglêers. Hulle het van die vullissakke op straat stukkend geskeur en knip skaars ’n oog wanneer jy verbyry en by die valhek stilhou.

Die hekwag staan met ’n tweerigtingradio in die hand en praat met die mense in die kantoor. Hy bevestig jou besonderhede en verduidelik dat die woonwastaanplekke links op is. Voor jou is ’n klompie huisies wat soos vakansiehuisies lyk – dit is deel van die oord, maar het voltydse inwoners.

Die afdraai links is skaars 100 m verder waar die smal teerpad jou oor ’n steil bultjie neem. Op ’n witgeverfde klip met die afbeelding van ’n singende Mexikaan staan “Welkom” geverf. Die oord se grensmuur is nou links van jou en die reguit teerpad neem jou 200 m teen die steilte af tot by die omheinde swembad. (Hier is twee grasdaklapas langs die water, maar nie ’n plonsplek vir die kleintjies nie.)

Dit voel of jy ’n klein begroeide kloof binnery met ’n hoë krans anderkant die swembad en die Umbilorivier wat tussen die twee deurloop. Die rivier loop soos ’n perdeskoen om die oord en vorm ook die grens tussen die oord en die Roosfontein-reservaat wat aan die munisipaliteit behoort. ’n Piet-my-vrou kruip iewers weg, maar sy kenmerkende roep weergalm teen die kranse. Die enigste teken van stad wat jy nou kan sien, is die hoëspanning-elektrisiteitkabels wat van die een kant van die kloof tot die ander bo-oor die oord hang.

Langs die swembad is ’n paar parkeerplekke vir voertuie, maar hier is ook ’n bordjie wat sê woonwaens mag nie verder nie. Hou dus aan die kant van die pad wanneer jy aankom, anders gaan jy die verkeer ophou. Die kantoor is nou 30 m voor jou en die staanplekke regs, op verskeie terrasse. Ons kamp net vir ’n aand en die oordmense sê ons kan deurstap en ’n plek uitkies (nadat hulle ook ’n rol toiletpapier aangee). In die kantoor kan jy fakse stuur (R8 elk) en ook fotostate maak teen R5 elk – jy kan selfs ’n blou woonwaprop huur teen R10.

Hier is twee badkamergeboue: Die hoofbadkamers is omtrent in die middel van die kampgedeelte en die tweede gebou ’n entjie dieper die park in. Die storthokkies in die hoofgebou kan knap wees vir sommiges, maar as jy meer ruimte soek, kan jy ’n draai maak by die ander badkamers se gesinsgeriewe. Albei geriewe is silwerskoon.

Langs die kantoor is 'n waskamer met wasmasjiene en tuimeldroërs, en in die oop vertrek langs dit ook plek om skottelgoed te was. Die masjiene werk met ruilmunte (R35 elk) wat jy by die kantoor koop.

Die hoofbadkamers is min of meer in die middel van die oord, tussen die staanplekke. Hier is twee dubbele wasbakke vir skottelgoed, en die vier storthokkies is mooi in ’n ry langs mekaar. Elke hokkie het ’n lig bo in die plafon wat die vertrekkie ordentlik verlig. Daar is geen skeiding tussen die nat en droë kant nie, behalwe vir ’n “halwe” muur tussen die twee – en die hokkie self het ’n glasdeur. Om verby dié muur te pas moet jy dwars draai om van die droë na die nat kant te beweeg, en dis ’n aardige smal opening. Die stortgedeelte self is ook piepklein.

Hier is vier versonke keramiek-wasbakke in ’n lang marmerblad met groot spieëls agter dit. Jy het meer as genoeg pakplek, selfs al staan jy en drie medekampeerders saam en tande borsel. Die aparte geriewe vir mense in ’n rolstoel is ook in die vertrek, en jou kassettoilet kan jy agter die badkamers uitspoel. Dis ook waar die gesinsbadkamer is, maar as jy dit wil gebruik, moet jy die sleutels by die kantoor kry.

As jy aanhou met die pad wat voor die kantoor verbyloop, kom jy by die tweede badkamergebou. By die ingang voor jy die gebou binnestap, is die skottelgoedwasbakke.

Die vertrek het glasvensters rondom, wat dit effens soos ’n kweekhuis laat voel. Trouens, dit voel of jy steeds in die tuin staan.

Hier is nie aparte geriewe vir mans en vroue nie, maar twee gesinsbadkamers, elk met ’n storthokkie, wasbak, toilet en ’n lang spieël.

Die meeste staanplekke is regs van die pad wat verby die kantoor loop, maar vyf is by die tweede badkamer, links.

Van hier af, op ’n terras wat seker 3-4 m hoër as die water is, het jy ’n mooi uitsig oor die rivier. ’n Heuphoogte heining keer dat jy per ongeluk afval.

Die eerste twee van die staanplekke is knap en jy gaan net ’n klein woonwa sonder ’n tent ingepas kry. Die staanplekke is afgebaken met ’n struikheining wat borshoog staan en die gras is, wel, grasgroen. Hier is ’n hele paar groot bome, maar hulle is amper te hoog om skaduwee oor jou staanplek te gooi.

Die res van die staanplekke is nie afgebaken nie en oop op die terrasse skuins oorkant die kantoor. Net soos die ander staanplekke is hulle ook genommer – nie met ’n nommer teen ’n heining nie, maar ’n geverfde nommer op ’n betonblokkie wat in die staanplek versink is. Die mense van Queensburgh verstaan ’n ordentlike grasperk, en op jou staanplek kan jy omtrent rolbal speel. Trouens, ’n mens sien nie ’n enkele blaartjie rondlê nie.

Saam met die nommer en die kragpunte kan jy min of meer sien waar om te staan. Hier staan ook vullisdromme en krane, en die kragpunt is uiteraard van die blou woonwasoort.

Die terras verder op het nóg meer ooptes en staanplek. Hier kamp jy in twee rye oor mekaar en die staanplekke is ook nie afgebaken nie. Die badkamer is nou op die terras bo jou met nog staanplekke langs en agter dit.

Nie almal kry ewe veel koelte nie, maar die bome is uitgegroei en mooi welig. Die twee beste staanplekke is onder langs die parkie – dit is langs die rivier, jy het ’n enorme koelteboom en jy kan die kinders van jou staanplek af in die speelplek dophou.

As koelte vir jou belangrik is, vra vir die oordkaart wanneer jy inboek. Hierop is elke koelteboom aangedui asook die trappies tussen die terrasse.

Jy sal jou eie braaier moet saambring as jy op jou staanplek wil braai, maar eenkant – langs die waskamer – is gemesselde braaiplekke. Nie minder nie as sewe braaiplekke is langs mekaar in ’n sirkel teen mekaar gebou. Elkeen het ook ’n rooster.

Van hier kyk jy af op die lieflike speelplek vir die kinders. ’n Lae muurtjie skei dit van die rivier langsaan. Die kinders kan onder meer op die rondomtalie, klouterraam, swaai of trampolien gaan speel.

Die rivier vloei redelik sterk, maar hier is ’n kennisgewing op wat aanbeveel dat ’n mens liewer nie in die water moet swem nie.

Queensburgh stel ’n puik voorbeeld van hoe agtermekaar en netjies sake by ’n kampplek kan wees. Dit is ’n plek wat jy enige tyd kan aanbeveel.
Kortliks | Queensburgh- woonwaoord

Kampplek: 30 staanplekke op die groenste gras.

Ablusiegeriewe: 2 netjiese en afsonderlike blokke met gemeenskaplike geriewe en gesinsbadkamers.

Prys: Vanaf R250-R750 tot R650-R1 200 afhangend van die seisoen en die aantal mense (hoogstens 6 per staanplek).

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 031 464 5800 of 072 480 5734  

queensburgh.caravanparks.co.za  

qcr@absamail.co.za

Naaste dorp: In Queensburgh, Durban.

Hoe lyk die pad? Teer tot by jou staanplek.

GPS: S29.860965, E30.905915

Ry & Sleep sê: Die staanplekke oorkant die kantoor sal goed werk vir kampeerders met ’n lang sleepkombinasie. By die vyf staanplekke links van die inrypad (oorkant die tweede badkamer) gaan jy knor om om te draai.

BUSHWILLOW-WOONWAPARK

Klim vir die Middelland

Howick is skaars 86 km van die Queensburgh-woonwapark af, maar hiervoor moet ’n mens eers die besige N3 binneland toe trotseer. Dié snelweg wemel van vragmotors.

Al is dit so naby aan Durban, het jy op Howick al ’n kilometer geklim met jou woonwa – ja, jy is nou net mooi 1 000 m bo seespieël.

Howick self is natuurlik bekend, want dit is waar oudpres. Nelson Mandela in 1962 in hegtenis geneem is. Maar dit is ook die plek waar jy die N3 agterlaat en deur die dorp noord hou die vlaktes in.

Ná 17 km uit op die Karkloofpad eindig die teerpad, maar die grondpad verder is werklik uitstekend. Dit is net hier en daar klipperig – jy kan sonder enige probleme jou gewone padwoonwa sleep. Toe ons hier gery het, was daar nog plasse langs die pad ná ’n reënbui die vorige nag, maar die pad was reeds kurkdroog.

Ná 1,3 km het jy nog skaars gewoond geraak aan die grondpad of jy moet gereed staan vir die afdraai links na Bushwillow. Hulle bord staan teen die pad: ’n smal grondpad loop links voor die bord op teen die heuwel. Hier is geen pyle wat wys jy moet inry nie, maar draai af, want anders is jy verby. Dis nou nog net 900 m en jy is by Bushwillow.

Die pad loop al die pad teen die voet van ’n berg uit, en jy kamp op die rand van hierdie begroeide berg. Dis die inheemse Karkloofwoud wat jy voor jou sien met ’n jong denneplantasie links.

Nadat jy tussen twee paaltjies deurgery het wat naby aan die pad geplant staan, begin die grootste en groenste grasperk denkbaar. Dit voel of jy ’n gholflandgoed binnery. Irvine Shaw, die eienaar, was hoeka agter die stuur van sy trekkergrassnyer toe ons inry. (Irvine is die vyfde geslag Shaw wat sedert 1852 op die plaas bly.)

Regs van die pad staan ’n gebou of twee en ’n ent verder op sien jy wat lyk soos ’n onthaalgebied anderkant ’n dam. ’n Pa en sy jong seun staan en hengel in die dam terwyl hy waai vir sy vrou en dogter wat in die pad langsaan verby stap. Irvine kom aangery met sy grassnyer, groet en sê hier is nie ’n kantoorgebou nie. “My kantoor het vier wiele,” sê hy en wys na die bakkie wat langs die gebou oorkant die dam staan. “Kies vir jou ’n staanplek; ek sal later ’n draai kom maak om die admin af te handel.”

Ná 17 km uit op die Karkloofpad eindig die teerpad, maar die grondpad verder is werklik uitstekend.

Van hier af, met die woud agter jou, kyk jy uit oor ’n vallei. Jy is diép in die natuur. Dis deels oop grasveld en deels toe met plantasies. Op pad hierheen het ons ’n langkuifarend sien sit op een van die telefoonpale, en hier in die kampplek hou sy kleinneef, ’n geelbekwou, ’n oog terwyl hy moeiteloos in die bries bo die kampplek sweef.

Jy is só diep in die natuur dat jy selfs wegkruip vir enige selfoonsein. Kort-kort kom ’n kampeerder afgestap na die jong witstinkhoutboom oorkant die pad langs die dam – selfoon klaar in die lug. Dit blyk die sein maak dit tot by die witstinkhout. As jy aanlyn wil wees, kan jy die wifi-kode by Irvine kry.

Tussen die eerste twee huisies regs soos jy inry, is ’n kragpunt (huissok), en ná die tweede huis begin die staanplekke regs. Niks is afgebaken nie, maar hier is vyf of ses terrasse wat dwars loop.

Die eerste vier is die gelykste, maar bring jou eie koelte saam as dit vir jou belangrik is. Hier is nie regtig koeltebome nie, en net ’n paar kampeerders gaan gelukkig genoeg wees om plek te kry onder ’n boom. Irvine het sowat ’n dekade gelede ’n hele paar geelhoutbome geplant, maar hulle staan nou eers ongeveer ’n verdieping hoog.

Die kragpunte op hierdie staanplekke staan min of meer in die middel van die terrasse en gebruik die blou woonwasok. Van die terrasse het ook ’n gemesselde braaiplek (met ’n rooster) asook ’n kraan. Irvine sê dié water is van die suiwerste drinkwater wat jy sal kry. Die boorgat is langs die dam. “Mense vat selfs van die water huis toe,” sê hy.

Wees baie versigtig as jy op die middelste twee terrasse kamp, want daar is ’n goeie meter verskil tussen die twee, maar geen reling wat jou gaan keer as jy per ongeluk die wa te ver terugstoot nie. Die res van die staanplekke is oorkant die pad en agter die dam – links soos jy aangery kom. Hulle het meer van ’n helling en jy gaan die hoekstutte verder moet uitdraai, maar nou staan jy ook naby die badkamers.

Verskillende kleure vullisdromme staan op die gebou se stoep en dis waarheen jy jou vullis bring vir herwinning. Soos jy die gebou binnestap, is die storthokkies op ’n ry links, elk met sy stortgordyn. Die stortvertrek is ’n lang genoeg gangetjie en daardie gordyn waai nie tot teen jou wanneer jy stort nie. By die gordyn staan ’n los plastiektrappie waarop jy jou skoene kan neersit, en bo dit is ’n rak en reling vir jou klere.

Die wasbakke staan los van mekaar en elk het ’n groot spieël voor.

Die waskamer is aan die agterkant van die gebou en het ’n wasmasjien en tuimeldroër. Teen die muur is ’n boksie vasgesit waarop “Honesty Box” staan. Gooi jou R15 per bondel (was of droog) in die boksie. Hier staan ook ’n yskas vir kampeerders se gebruik as jy dalk nie jou eie een op jou staanplek het nie.

Aan diékant van die stoep is ’n paar stortkoppe teen die muur vasgesit as jy sommer so in die oopte wil afspoel.

Die res van die staanplekke is oorkant die pad en agter die dam – links soos jy aangery kom.
By Bushwillow deel jy die uitgestrekte ooptes met jou kampbure. Onder jou is ’n aaneenlopende grastapyt danksy die ooraanbod sonlig. Hier is nie veel koeltebome nie; sorg dus vir jou eie skaduwee as jy hier kom kamp en die staanplekke met koelte is nie meer beskikbaar nie.
Kortliks | Bushwillow-woonwapark

Kampplek: ’n Oop grasperk met 28 kragpunte. Hier is plek vir tot ongeveer 40 woonwaens. Koelte is min en van die staanplekke is nie ewe gelyk nie.

Ablusiegeriewe: 1 netjiese badkamer-gebou digby die staanplekke, wat ook ’n waskamer insluit. Prys Afhangend van die seisoen R125-R150 p.p.p.n (R85 vir kinders o.12).

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tye nie.

Kontak: 033 330 2680 of 072 237 6247

bushwillowcaravanpark.co.za, bushwillow@nitrosoft.co.za

Naaste dorp: Howick 20 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2,2 km is grondpad wat wissel van effens klipperig tot ’n smal plaaspad. Dis nietemin in goeie toestand en jy kan jou padwa met ’n geruste hart hierheen sleep.

GPS: S29.318208 E30.296833

Ry & Sleep sê: Die dam digby die staanplekke het klein blouwangsonvisse in. As jy ernstiger is oor hengel, kan jy swartbaars in die groter dam langs die denneplantasie kry. Die vang-en-laat-gaan-reël geld.