4x4-bestemming
4x4-Bestemming
foto’s Cyril Klopper

Waarom sal ’n mens die sieldodende deurpad van Gauteng na die Addo-olifantpark neem as daar ’n veel lekkerder agterpad is?

Komaan, sit minstens vier dae opsy vir hierdie roete en programmeer die koördinate wat ons verskaf vooraf op jou GPS-toestel, want daarsonder gaan jy maklik verdwaal. In ruil vir jou moeite kry jy die geleentheid om in ’n kloof te kamp, viertrek te haak en ’n woud te verken... en aan die einde van jou reis word jy beloon met tonele van olifante, sebras, buffels en vlakvarke wat op uitgestrekte grasvlaktes wei.

En as jy in die lente kom, sal jy boonop boklammers sien.

Dit ís moontlik om ’n boswa op hierdie roete te sleep, maar omdat die grondpadbergpasse vol skerp draaie is, raai ons jou ten sterkste af om ’n groot boswoonwa hierheen te bring. En ongelukkig hoort ’n gewone padwa nie op hierdie grondpaaie nie.

Pak jou tas, maak vol jou trokkie se brandstoftenk en mik suid na waar die grootvoete loop.

Vermy Sanral se snelweë deur agterpad langs van Gauteng tot op Deneysville aan die borand van die Riemland te ry. Van hier af volg jy die R57 deur Heilbron tot op Petrus Steyn.

Die Riemland het sy naam gekry toe hier in die 19de eeu op groot troppe wild jag gemaak is en die gebreide velle tot rieme verwerk is.

Heilbron lyk dalk onbeduidend, maar dié dorp was eens die trotse hoofstad van die Vrystaatse Republiek (wel, net vir ’n week, in Mei 1900) en op die koppies langs die pad na Petrus Steyn is oorblyfsels van kliphutte wat deur die antieke Leghoya-stam gebou is.

Ry verby Petrus Steyn en draai ná die dorp links op die D707-streekpad in die rigting van Frankfort. Ná presies 3,8 km draai jy regs (S27.65506 E28.17266) op die S902. Hier is geen padpredikant nie, maar as jy rondkyk, sal jy die S902-roeteaanwyser raaksien.

Sowat 16 km verder draai ’n grondpad (S27.69518 E28.31702) regs uit die S902 – dis die eerste grondpad op die roete. Dié afdraai het ook geen padteken nie, maar as jy met ’n bruggie oor die Liebenbergsvleirivier ry, moet jy omdraai en 1 km terug ry na die afdraai toe. Volg die grondpad deur aanskoulike kannalande tot dit teen die R57 doodloop.

Die Riemlanders het lank gelede besluit om verskillende kleure kannas te plant. In die blomtyd (van Desember tot April) is die andersins eentonige landskap getooi in wit, rooi, pienk en oranje.

Bethlehem is die Riemland se grootste dorp.

Draai links op die R57 in die rigting van Reitz, maar ná slegs 180 m draai jy weer regs op die S595. Hierdie grondpad loop reguit tot op Bethlehem, ’n naam uit die Bybel wat in Hebreeus “broodhuis” beteken en ’n gepaste titel is vir die grootste kommersiële dorp in die streek.

Nadat jy Bethlehem – en die Riemland – verlaat het, volg jy die R29-streekpad tot op Fouriesburg op die boonste rand van die Oos-Vrystaat. Koop braaivleis en ys by die Model-slaghuis op die hoek van De La Harpe- en Robertsonstraat en mik na die Meiringskloof-natuurpark (lees Ry & Sleep #31 vir meer oor dié oord), in ’n beskutte sandsteenkloof op die buiterand van Fouriesburg waar jy jou tentpenne vir die aand kan inkap. 

Gister se fleurige kannas maak vandag plek vir sandsteenkranse en groen weivelde.

Ry uit Fourieburg in die rigting van die Caledonspoort-Lesotho-grenspos. Skaars 1 km nadat jy die R711 oorgesteek het, neem jy ’n grondpad na regs (S28.63868 E28.20791).Dié plaaspad loop verby ’n mooi sandsteenkoppie met die naam Hoenderkop – dit is die naaste aan die Lesotho-grens en die Caledonrivier wat jy hier kán ry. Voorheen was daar ’n 40 km lange patrolliepad teenaan die grens, maar dié is oor die jare erg beskadig deur die Caledonrivier en jy mag slegs dele daarvan ry – en dan ook net met die toestemming van die boer van die betrokke plaas waaroor die pad loop.

Die openbare pad langs die Caledonrivier sluit mettertyd by die R26-streekpad aan wat jou oor die Kommandonekpas neem tot by die Vailima-spoorweghalte. Die Sandstone-landgoed hier naby bedryf heelparty smalspoor-stoomlokomotiewe, waaronder ’n paar Garratts en ’n pragtige Lawley 4-4-0 wat ’n honderd jaar gelede uit Mosambiek hierheen gebring is.

SAND EN STEEN. Die Oos-Vrystaat word gekenmerk deur sy sandsteenformasies, soos Hoenderkop.

Die lokomotiewe word elke paar maande uit hulle skuur gehaal sodat hulle op die 35 km lange private treinspoor deur die landgoed kan galop. Dan word die publiek genooi om in waens saam te ry en ander veteraanvoertuie en -vliegtuie te besigtig.

Sowat 30 km wes van Vailima kruis die S306-plaaspad die R27. Draai hier (S28.89196 E27.72494) links in die rigting van Lesotho. Die plaaspad kronkel parallel met die Caledonrivier tot hy later by die N3-snelweg naby Ladybrand aansluit. Volg die snelweg vir 10 km tot by die afdraai na die S616-plaaspad (S29.29170 E27.43840) tot by Hobhouse en van daar af na Wepener.

Wepener is in 1869 aan die oewer van die Jammerbergspruit gestig en is genoem na kmdt. Louw Wepener wat Thaba Bosiu, die bergvesting van die Basotho-opperhoof Mosjesj, met slegs 400 vrywilligers bestorm het. Wepener was ’n ongeduldige man en keelvol vir die gekibbel onder Vrystaters oor die beste manier om Mosjesj te benader. Maar Louw Wepener se prikkelbaarheid het hom duur te staan gekom...

As die plaaspaaie jou begin verveel – iets wat ons hoop nie die geval is nie – kan jy kortpad kies en van Wepener af suid ry met die R26-streekpad, deur Zastron tot op Sterkspruit. Maar ons beveel aan jy bly eerder op die agterpaaie en neem 150 m ná die afdraai van die R26 af Wepener toe die Sephaposhek-grondpad (S29.73702 E27.02930). Dié pad loop deur die golwende heuwels en grasvlaktes van die Oos-Vrystaat en is beslis mooier as die R26-streekpad.

Vir meer as 100 km kronkel die plaaspad langs die Lesothogrens. In die sandsteenkoppies op die plase langs die pad is bakkranse met Boesmanrotskuns. Die skilder Walter Battiss het gravures van seediere in ’n grot op die nabygeleë plaas Berlyn ontdek.

As die pad vurk en jy’s onseker of jy links of regs moet draai, kan jy altyd regs kies wat jou op die R26 sal besorg, maar probeer tog die S368-plaaspad se padmerkers volg om die meeste uit hierdie agterpad te kry – ’n GPS met ’n gedetailleerde kaart sal help.

Steek die Oranjerivier met die Majaphuthibrug (voorheen die Zastronbrug) oor en jy is eensklaps in die suidelike Drakensberg – of die Land van die Draak, soos die plaaslike toerismeraad dit bemark. Volg nou die R393-streekpad tot dié in die R58 doodloop, draai links na Lady Grey en volg die R58 oor die Benjaminshoogtepas (S30.80165 E27.23779) tot by die Karnmelkspruit-rivieroord (sien Ry & Sleep #11) op die oewer van die Karnmelkspruit (S30.80534 E27.26768).

Dit was ’n lang dag met 450 km agter die rug, maar nou kan jy lekker ontspan langs ’n kabbelende stroom. Bring ’n ekstra dag hier deur en verken Benjaminshoogte se “reverses” waar treine in sigsag-bewegings teen ’n berg moes terugstoot.

Jy kan ook ’n aasvoëlkolonie besigtig én deur ’n donker treintonnel stap. Maar die mooiste deel van die roete lê nog voor... ons hoop jy’t herwinningstoerusting saamgebring.

Val in die pad so vroeg as wat jy kan, want vandag ry ons oor tien bergpasse waarvan een lekker uitdagend is.

Volg die geteerde R58-streekpad oor die Grondnek- (S30.84257 E27.34686) en Kraairivierpas (S30.94076 E27.45775) tot waar die R396-grondpad links afdraai uit die R58 (S30.96428 E27.51161). Volg dié grondpad oor twee pragtige passe: die Perdenek- (S31.09388 E27.42205) en Greylingspas (S31.11929 E27.29725) wat jou tot op Rossouw bring.

Dan volg nóg twee minlike passe: die Killians- (S31.18349 E27.29382) en Barkersnekpas (S31.35618 E27.37329) tot op die nedersetting Indwe.  Indwe, die Xhosanaam vir die bloukransvoël, het sy ontstaan te danke aan die ontdekking van laegraadse steenkool in die omgewing. Hierdie steenkool was broodnodig om die spoorweë van die destydse Kaapkolonie te voed.

Van Indwe af volg jy die R359 oor die Indwepas (S31.61121 E27.44124) wat jou uit die suidelike Drakensberg neem tot by Lady Frere op die boonste rand van die Kaapse Middelland. Dié streek dra vandag nog die letsels wat gelaat is deur al die skermutselinge: tussen Britse setlaars en Xhosastamme, tussen Boer en Brit én tussen Xhosa en Boer.

Van Lady Frere af ry jy verby Queenstown tot op Whittlesea in die ou Ciskei. Van Whittlesea af (oorspronklik Whittlesey, totdat iemand dit op ’n kaart verkeerd gespel het) mik jy na 4x4-wêreld.

Ry suid uit Whittlesea op die R67, maar draai ná skaars 300 m regs op die MR0680 in die rigting van Sada. Dié grondpad loop verby die Oskraaldam tot by die Boesmanskransdam.

Die Devil’s Bellows-pas wag op jou. By die koördinate S32.34178 E26.67178 draai ’n grondpad links na die Mtwakazi-nedersetting wat die taaiste deel van die Devil’s Bellows-pas omseil. Hou verby, want ons gaan eerder die oorspronklike pas ry wat jare tevore deels deur ’n storm verwoes is. Terloops, die Devil’s Bellows-pas kry sy naam van die stormsterk bergwinde wat dikwels hier woed.

DIE DUIWEL IN. Die Oos-Kaap se bergpasse kan uiters gevaarlik wees. Wees versigtig hier... en wees altyd bewus daarvan dat ’n ongeluk binne ’n oogwink kan gebeur. Jy gaan viertrek moet inhaak op die Devil’s Bellows-pas, maar die makker Katbergpas bied eerder pragtige uitsigte as 4x4-uitdagings. Pasop vir klippe wat jou trokkie se onderstel kan beskadig.

Ry tot by die koördinate S32.36982 E26.67265 en kyk rond vir die vae tekens van ’n pad wat teen die berg uitloop. Padskrapers het die afdraai oor die jare weggestoot en dis nie altyd maklik om die spoor te vind nie. Die vae tweespoor kronkel deur ’n lowergroen kloof (S32.37725 E26.67181), en by ’n laning swartwattels raak die pad werklik sleg (S32.38956 E26.66997).

Die asknopers noop jou om viertrek te haak of ten minste ’n ewenaarslot te sluit. By die koördinate S32.39183 E26.66910 is daar geen teken van die pad meer nie en jy sal te voet moet spoorsny om te sien waarlangs jy wil ry.

Ry aan die linkerkant van ’n beboste rivierloop teen ’n heuwel uit. Hier is wel ’n spoor in die rivierloop self wat jy kan neem (S32.39366 E26.66742) – hy’s lekker uitdagend (maar gangbaar) en jy gaan dalk ’n byl moet uithaal om takke af te kap as jy bekommerd is oor jou voertuig se bakverf. Andersins kan jy die vae spoor teen die heuwel uit volg tot jy mettertyd by ’n eikeboomplantasie uitkom. Trek af en loop eers ’n draai tussen die skurwe stamme en slierte ouman se baard (Tillandsia usneoides) wat uit die takke hang. By die hoogste punt van die plantasie raak die pad duideliker en dus maklik om bergop te volg. Dit is ook hier waar die makker Mtwakazipad aansluit, die een wat die hindernis omseil waardeur jy pas is.

SPOOKDORP. In Hogsback se sprokieswoude kan jy jou verbeel daar’s goed soos dwergies en feetjies, maar by Balfour en Kommadagga sien jy eerder die harde werklikheid van verwaarlosing op die platteland.

Die bopunt van die Devil’s Bellows sorg vir pragtige uitsigte oor die groen valleie van die Kaapse Middelland, en buiten ’n paar lastige klippe met die kapmerke en olievlekke van voertuigonderstelle wat oor die jare heen hier gemartel is, is die ergste uitdaging nou agter die rug. As dit egter onlangs gereën het, moet jy teen die modderige skuinste uit, en dít kan lewensgevaarlik wees.

Die Devil’s Bellows-pas loop amper naatloos ineen met die Katbergpas. Laasgenoemde het geen noemenswaardige uitdagings nie, buiten ’n tamaai rots wat in die middel van die pad lê en aandring dat jy óm hom ry.

Gaan eet varkribbetjies by die Hogsback-herberg (soveel as wat jy kan), ontspan in die arboretum, wandel in die woud en koel af onder die Madonna-en-kind-waterval vóór jy weer in die pad val.

Trek af by die pas se piekniekplek (S32.47335 E26.67227) en verbeel jou jy’s in die Knysnabos.

Daal verder teen die pas af tot by die Katberg-gholflandgoed en draai links by ’n padpredikant wat jou na Seymour stuur. Van Seymour af ry jy oor die Michellspas (S32.56605 E26.86998) tot op Hogsback en span uit vir die aand by die Swallowtail-kampterrein.

Hogsback is prentjiemooi en jy kan gerus ’n ekstra dag of twee hier deurbring. Gaan eet varkribbetjies by die Hogsback-herberg (soveel as wat jy kan), ontspan in die arboretum, wandel in die woud en koel af onder die Madonna-en-kind-waterval vóór jy weer in die pad val.

Die laaste dag van die roete neem jou suid met die R345, oor die Hogsbackpas tot by die Tyumedam. Draai hier regs (S32.67725 E26.89833) op ’n grondpad wat jou terugneem na Seymour. Van Seymour af volg jy die R67 na Balfour en van Balfour af neem jy die Blinkwaterpad (S32.55337 E26.67026) deur die Mpofu-wildreservaat. Die hekwag by die reservaat gaan vra dat jy ’n register invul, maar aangesien dit ’n geproklameerde pad deur die reservaat is, hoef jy nie te betaal nie – bly egter op die hoofpad en moenie vir ’n wildrit op die reservaat se private paaie gaan nie. Jy moet weer ’n register teken wanneer jy die reservaat verlaat.

Ry oor die Blinkwaterpas (S32.66426 E26.55118) tot op Fort Beaufort. Volg dan die R67 in die rigting van Makhanda (Grahamstad), maar draai ná 4 km regs (S32.80599 E26.61221) op die DR02461, oftewel die Alphaetonpad. Die pad vertak herhaaldelik, maar volg die verroeste roeteaanwysers vir Carlislebrug. Dié neem jou oor die Groot-Visrivier, en kort nadat jy die rivier oorgesteek het, draai jy regs (S33.09144 E26.23398) en volg die Groot-Vis vir 38 km tot jy op die eensame spookdorp Kommadagga met sy leë huise en vervalle buitegeboue naby ’n spoorweghalte aankom.

Van Kommadagga af volg jy die R400 weswaarts deur plate aalwyne en klossies turksvye tot jy ’n padpredikant teëkom vir die Anne’s Villa-ystersmid en die Addo. Draai hier links (S33.15970 E25.81757) en volg die grondpad deur die nasionale park se noordelike bewarea oor die Suurberg- (S33.29887 E25.70715) en Doringnekpas (S33.37990 E25.70784) tot by die Addo-olifant- nasionale park se hoofhek.

Olifante loop in groot troppe oor die grasvlaktes, en by watergate staan sebras skouer aan skouer met ander wild en drink. Dis ’n mooi afsluiting ná vier dae op ’n agterpad, maar die gedagte begin in jou agterkop broei dat jy binnekort 12 uur op ’n snelweg terug na Gauteng moet takel.

Dalk roep die agterpad jou terug na die Devil’s Bellows se eikebos, Hogsback se watervalle, Karnmelkspruit se stroompie, Ficksburg se kloof en die hermelyn- en rooibont vlaktes van die Riemland.

BLY HIER

Meiringskloof-natuurpark, Fouriesburg 058 223 0067; meiringskloof.co.zaadmin@meiringskloofpark.co.za

Sandstone-erfenistrust, Ficksburg 051 933 2235; sandstone-estates.com

Swallowtail-lodge, Hogsback 082 800 8731; swallowtail.co.za; info@swallowtail.co.za

Addo-olifant- nasionale park 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org/parks/addo/

BERGWÊRELD. Die Doringnekpas kronkel deur die minder bekende noordelike deel van die Addo-olifant- nasionale park, die Zuurberg-bewarea. Hier is nie grootwild nie; daarvoor moet jy na die suidelike deel reis waar jy olifante, sebras, buffels en vlakvarke by dosyne sal raakloop.