Kom ons klaar dinge vroeg op: ’n Sports bar en ’n kroeg is nié dieselfde nie. Die Engelse weet dit al generasies lank, daarom tref hulle duidelik onderskeid tussen ’n bar waar die musiek te hard is en Premierliga-sokkerwedstryde op ’n grootskerm in elke hoek uitgesaai word en ’n pub met ’n kaggel wat eenkant knetter, waar vrolike stemme opklink en jy en jou vrinne in een van vele hoekies ’n komplot kan sit en smee. Dís ’n kroeg.

Volgens Mike Reardon, die Guinness-brouery se ambassadeur in Nieu-England in die VSA, het die tradisionele pub (afgekort van public house) ontstaan toe die Romeinse leër Keltiese Europa meer as 2 000 jaar gelede verower het. Die Romeine het namate hulle die vasteland stuk vir stuk verower het, paaie gebou waarlangs hulle troepe makliker kon marsjeer.

Elke 30 km is ’n taverne opgerig waar soldate en smouse vir ’n aand ’n slaapplek, ’n bord kos en die geselskap van medereisigers kon geniet. Oor die jare heen het invloede van Engelse taphuise en Ierse hostels die pub omvorm tot wat ons vandag ’n respektabele kroeg noem.

Die Middelland is immers ’n stukkie Engeland in Suid-Afrika en dus geen wonder dat die tradisionele Engelse kroeg hier aanklank sou vind nie. Hierlangs het elke dorpie sy eie watergat waar boere, sakemanne en gesinne ontmoet om raad te vra of sommer net die jongste nuus te deel.

1 The Sunset Bar, Fern Hill Hotel

Hierdie kroeg in die geskiedkundige Fern Hill Hotel is slegs tien minute se ry van die plek op die R103 waar Nelson Mandela op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem is.

Dis ’n goeie plek vir middagete wanneer jy op pad is na die Nelson Mandela Capture Site-monument-en-museum ( thecapturesite.co.za).

Terwyl die hotel se restaurant, The Snooty Fox, wyd bekend is vir sy sjef-skool en uithalerdisse, is die kroeg ’n meer beskeie instelling.

Maar glo my, dit voel soos ’n ontdekking wanneer jy by dié groot vertrek neffens die hotel se voorportaal instap: die rooi leersitbanke, donker teëlvloer en houtplafon verleen ’n ouwêreldse behaaglikheid.

Op die spyskaart is allerlei trooskostreffers, soos ’n hoender-en-mayo-roosterbroodjie met spek en sprietuie (R60), en tikka masala-hoender met sambals en poppadums (R150). Jy kan ook forel van ’n plaas hier naby bestel (R170).

Stap ná ete ’n draai en bekyk die detail: die ingewikkelde metaalwerk, die dik tapyte wat jou voeteval demp... Die gebou is oud en elegant en buite staan groot, gevestigde jakarandabome.

Fern Hill was op sy tyd ’n plaas en die eerste geboue is deur die Swann-familie van Skotland in die 1800’s opgerig. Daarna was dit ’n handelspos, toe ’n losieshuis en met die draai van die 20ste eeu ’n vakansieoord.

Die Poltera-familie het Fern Hill in 1989 bekom en die plek tot sy eertydse glorie herstel voordat die hotel weer in 1990 oopgemaak het.

Die eienaars se seun, Alex, swaai die septer in die kombuis en het al in die Middelland vir homself naam gemaak as pionier – veral wanneer dit by vegankookkuns kom – probeer gerus die beetburger!

Trouens, Madiba het in 1996 hier kom aansit toe hy met die Vryheid van Howick vereer is. En wat goed genoeg was vir Madiba, is goed genoeg vir ons.

Waar?

Langs die R103 net buite Howick

Kontak

033 330 5071; fernhillhotel.co.za

2 The Bierfassl

Net buite Nottingham Road is The Bierfassl. Hier heers ’n kenmerkend Oostenrykse atmosfeer en ja, jy kan uitsien na eisbein! (Terloops, indien jou skool-Duits ’n bietjie verroes is, bierfassl beteken “biervat”.)

The Bierfassl het sy deure in 1999 vir bierliefhebbers oopgegooi en jy kan hier ’n pad om die aardbol proe.

Hier is meer as 35 biersoorte – van ’n Erdinger Dunkel (probeer dít drie keer vinnig na mekaar sê!) uit Duitsland (R48) en ’n Sol van Mexiko (R33) tot ’n Belgiese Hoegaarden (R32).

Die kroeg is neffens die hooflyn van die treinspoor tussen Durban en Pietermaritzburg in ’n ou opsigtershuisie wat die Natalse regeringspoorweë in 1886 gebou het.

Die betrokke gebou is genommer “GC36”, wat beteken dat daar 35 identiese huisies (of ten minste hulle murasies) elders langs dié spoor behoort te wees. Maar van die spoorwegdae is hier nou min te sien.

Die kroeg se dekor herinner eerder aan ’n outydse ski-oord, met heelwat houtafwerkings, foto’s van die Alpe en Jägermeister-produkte agter die toonbank.

Die “Fassl”, soos sy vrinne hom noem, bedien Oostenrykse kroegkos en die enigste rede hoekom jy nie van eisbein hou nie, is omdat jy dit nog nie hier bestel het nie. As jy baie ordentlik is, bestel die damesporsie. Maar wees eerlik met jouself: die standaard-, Viking- of selfs monsterporsie (R135–R255) klink mos net lekkerder!

Van die ander tradisionele geregte op die spyskaart sluit in: Kasselse tjops met sauerkraut (R125), bratwurst (R120) of die tiroler gro¨stl (R99) – pangebraaide aartappel met wors en spek wat in bier gekook is.

Hulle is dalk nog so gaaf om vir die eisbein verskeie porsiegroottes aan te dui, maar vir die res van die spyskaart moet jy voorbereid wees op ’n stéwige bord kos!

The Bierfassl het ’n tuin waar jy op ’n sonskyndag buite kan sit. In die wintertyd is die glühwein en warmsjokolade gesog.

Waar?

Langs die R103, knap suid van Nottingham Road

Kontak

033 266 6320; bierfassl.co.za

3 Notties Pub, Nottingham Road Hotel

Moenie kamer 10 bespreek as jy in die Nottingham Road Hotel wil tuisgaan nie... Oor die jare heen het van die hotel se gaste en personeel beweer dat dit in die ou gebou spook – ’n voormalige kelnerin maak glo in dié kamer die bed op en skuif die blomruikers rond...

In die kroeg heers egter ’n hartlikheid en dinge kan – veral op ’n Vrydagaand – luidrugtig raak.

Die oorspronklike houttoonbank dateer uit die 1890’s en hier kan jy aansit vir ’n klassieke biefstuk met eier en aartappelskyfies (R105) of beesstert en kapokaartappels (R160). Op Woensdae en Vrydae kan jy twee pizzas en twee tapbiere vir R185 bestel of twee vingers KWV en Coke vir R40.

My pa (ek gaan liewer nie sy ouderdom verklap nie!) het al op universiteit saam met sy rugbypêlle hier gekuier, maar die storie strek veel verder terug as dít.

Daar is al sedert 1854 ’n herberg op dié perseel. Dit is nie meer die gebou wat jy vandag hier aantref nie, maar die hotelletjie was gewild onder reisigers sowel as die soldate van die nabygeleë Fort Nottingham.

Die fort is genoem na die Nottinghamshire Regiment, die 45ste Sherwood Foresters. Hulle is in 1856 deur koningin Victoria Natal toe gestuur om as ’n buffer op te tree tussen die omgewing se boere en die San wat in die voetheuwels van die Drakensberg gewoon het.

In 1889 het ’n setlaar genaamd George Orwin die grond bekom en die Railway Hotel gebou. Dié is in 1891 voltooi en is vandag die Nottingham Road Hotel.

Een van Suid-Afrika se oudste landbouverenigings – die Nottingham Road-boerevereniging – is in 1887 in dié kroeg byeengebring en hou tot vandag toe nog hulle vergaderings hier.

Vir my lê die kroeg se bekoring in sy ligging – digby die treinspoor en stasie. ’n Mens kan sien hoe ontwikkelinge deur jare die plaasgevind het: Eers die infrastruktuur, toe kom die trein en kort op sy hakke die behoefte aan ’n hotel en ’n kroeg.

Ek sou graag wou teruggaan in tyd en elke kroegman wat al ooit hier diens gedoen het se weergawe van Notties se stories wil hoor!

Waar?

Langs die R103, in Nottingham Road

Kontak

033 266 6151; nottieshotel.co.za

4 The Boar’s Head, Rawdons Country Hotel

Die bekende hotelbaas David Rawdon (wat later jare die ganse Matjiesfontein met sy Lord Milner-hotel sou besit) het die Rawdons Country Hotel in 1956 gebou.

Dis ’n deftige plek met groot tuine, grastennisbane, voëlkykpaadjies en ’n dam waar jy kan hengel.

Peter en Susan Dean het dit in die 1990’s by Rawdon oorgeneem en in 1996 die Nottingham Road Brewing Company – deesdae een van SA se oudste onafhanklike brouerye – begin.

Die Boar’s Head is die brouery se restaurant en jy kan ’n Pickled Pig porter of ’n Tiddly Toad ale bestel. Elke bier het sy eie leuse en my gunsteling is die Pye-eyed Possum pilsner: “As possed as a pye-eyed pissum.”

Die kroeg is ongetwyfeld Engels met wapenskilde teen die muur, rooi leerstoele en ’n vuurherd. Op ’n wintersmiddag kan jy voor die vuur aansit vir ’n Pickled Pig-pastei (R110) of vis-en-tjips (R95) – die Whistling Weasel pale ale word gebruik in die deeglagie.

In die somer is die buitenste dek onder die akkerbome ’n lafenis. Die brouery is oorkant die parkeerterrein en die broumeester John Morrow stel jou entoesiasties voor aan porters en pilsners.

“Ek het in 2014 van Johannesburg af hierheen getrek,” vertel hy. “Ek het geen agtergrond in bierbrou gehad nie, maar ’n advertensie vir ’n brouersassistent op Gumtree gesien en hier is ek nou! Ek en my vrou en ons vierjarige dogtertjie woon op ’n kleinhoewe hier naby.”

Die ganse brouery is omtrent so groot soos ’n skuur en die masjiene kan net agt bottels bier op ’n slag vul! Maar hier is dit gehalte wat tel, nie hoeveelheid nie.

O, en onthou tog om ’n foto van die boar te neem – ’n bosvark met ’n groen sportbaadjie!

Waar?

Langs die R103, sowat 4 km suid van Nottingham Road

Kontak

033 266 6728; nottsbrewery.co.za

5 Crossways Pub & Restaurant

Hilton lê in KwaZulu-Natal se misgordel. Sommige dae is die mis só dig dat jy skaars jou motor se neus deur die voorruit kan sien. Maar dan doem die imposante Tudor-styl vooraansig van Crossways voor in die pad op, en jy wéét: Binne wag ’n snoesige skuilplek teen die gure weer.

Die kroeg dateer uit 1905 toe Constance Day ’n gedeelte van die plaas Klipkop aangeskaf en vir haarself ’n hout-en-ysterwoonhuis gebou het. Sy’t die pot aan die kook gehou deur vir reisigers wat per ossewa of te perd op pad binneland toe was etes en losies aan te bied.

Dié oorspronklike gebou se fondasie is onder die huidige kroeg se houtdek te sien. Die woonhuis is egter in 1936 platgeslaan en die Crossways Hotel opgerig.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit ’n gewilde aftrekplek vir soldate. Dit verwissel ’n paar keer hande tot 1990 en die gebou is onder meer ’n gesinshuis, ’n losieshuis met permanente inwoners en (weer) ’n hotel en kroeg.

Deesdae besit ’n groep vennote die plek. ’n Hele paar van hulle is old boys van die nabygeleë Hilton College- private seunskool.

“Crossways is ’n gesinsvriendelike kroeg en restaurant, en lê die mense van Hilton na aan die hart,” vertel Chantelle Gilbert, ’n aandeelhouer en die kroegbestuurder. “Die gebou het soveel geskiedenis, soveel stories en oor die jare heen het ’n gemeenskap rondom dit gevorm. Ons is trots daarop om steeds die oorspronklik logo (’n man op ’n koets) te gebruik.”

Dis inderdaad ’n plek met gevestigde gebruike. Die Hilton Harriers-drafklub se befaamde Jog and Grog-wedloop het byna 50 jaar gelede sy oorsprong hier gehad: Deelnemers voltooi ’n 20 km-sirkelroete, waarna die tweede deel van die geleentheid – ’n ernstige bierdrinkery – by die kroeg plaasvind.

Ek het op Hilton grootgeword en Crossways is deel van my opvoeding. Dit was ons gesin se hamburgerplek, waar my pa op my 18de verjaardag my eerste (wettige!) bier gekoop het, waar ons huisvriende vir aandete sou ontmoet en ’n mens maar telkens op ’n Vrydagaand beland het.

Langsaan is ’n restaurant waar ’n mens sonder die lawaai van die kroeggangers vir ete kan aansit. Die pizzas is fantasties – bestel gerus die Bellisimo (R110) met Deense fetakaas, spek en avokado, of my pa se gunsteling, die soutige Siciliana (R110), met olywe, kappertjiesaad en ansjovis. Die gewone kroegdisse is ook smullekker, en die hoenderschnitzel (R96) bly my gunsteling.

Langs die biertuin agter die restaurant is ’n speelkamer waar personeel jou kleingoed met flieks, legkaarte en inkleurboeke besig hou.

Vir my is Crossways soos die TV-program Cheers die plek where everybody knows your name; vir nuwelinge in Hilton sal dit sommer gou ’n tweede tuiste word.

Waar?

Op die kruising van Old Howickweg (R301) en Dennis Shepstone-rylaan (Dis waar die kroeg sy naam kry.)

Kontak

033 343 3267; crosswayspub.co.za