Op 26 April 2018 het die Cloetes Pretoria verlaat op (toe) ’n jaar lange toer deur Suid-Afrika. Nou, twee jaar later, toer die gesin steeds in hulle staatmaker Mitsubishi Pajero Sport.

Vertel ons van die Cloetes?

Rut: Ons dogter, Charma, is agt jaar oud. Sy is mal daaroor om in die see te swem en soek gereeld na verrassings in die padkosmandjie! Haar broer, Declan (12), is die gesin se grapjas. Declan knoop geselsies met vreemdelinge aan en ons is bykans al die vriendskappe wat tot dusver langs die pad gevorm het, aan hom te danke!

Ek en Pieter deel die taak om ’n mate van struktuur aan ons vrye leefstyl te gee. Ek hou daarvan om dinge te organiseer en alles op ’n lysie af te merk, en hy spoor ons aan om spontaan te wees en nuwe dinge te probeer.

Wat is die dryfveer agter julle uitgebreide landsreis?

Pieter: Drie jaar gelede het ’n buurman in Pretoria ons vertel dat een van sy kliënte wat aftree, van plan is om die hele Suid-Afrika met sy bakkie en woonwa plat te toer. Die man se plan het by ons bly spook – ek kon nie help om jaloers te voel op sy groot avontuur nie. In daardie stadium het óns toekoms na ’n eentonige roetine en eindelose skoolverpligtinge gelyk.

Rut: Ek en Pieter het ’n onderneming wat loonstaat-prosesse bestuur. Ons het vroeër jare ’n kantoor in Braamfontein gehad, maar werk al sedert 2010 van die huis af.

Ons het besef dat dit vir ons maklik sou wees om op enige plek te werk. Al wat ons aan Pretoria gebind het, was die feit dat die kinders moet skoolgaan.

Pieter: Ons het dit bespreek en besluit ons kan die kinders tuis onderrig. En toe is die vraag skielik: Nou hoekom nié?

Rut: Ek spot Pieter gereeld en sê die toer was ’n reaksie op sy middeljarekrisis! Maar eintlik is ons albei van nature avontuurlustig en het besluit: Dit is een van daardie geleenthede in ’n mens se lewe waarvoor jy doodgewoon moet “ja” sê – nie ten spyte van die vrese nie, maar juis as gevolg daarvan.

Hoe beplan ’n mens só iets?

Rut: Ons het aanvanklik baie navorsing gedoen oor mense wat soortgelyke reise aangepak het. Boeke wat van groot nut was, was Op pad in Suid-Afrika: Verken Suid-Afrika Streek vir Streek deur B.P.J. Erasmus; Reader’s Digest: Illustrated Guide to Southern Africa deur T.V. Bulpin; en MapStudio se Padlangs Suid-Afrika: Suid-Afrika se Agterpaadjies.

Die internet het wel stories opgelewer oor mense wat al hulle aardse besittings verkoop en die wye wêreld ingevaar het net om drie maande later platsak terug te keer. Ons was vasberade om nie dié paadjie te loop nie.

Ons moes seker maak ons inkomste droog nooit op nie, en daarom moet kliënte ons te alle tye kan bereik. Die werk self is nie die uitdaging nie, wel internetverbinding op afgeleë plekke.

Daarom het ons met ’n werknemer in Johannesburg ooreengekom om in te staan vir die tye wanneer ons in gebiede met swak sein sou wees, of die hele dag op die pad sou deurbring. Met dié reëling het ons gemeen ons besigheid sal soos gewoon kan aangaan.

Pieter: Ons het ook vooraf ons rieme dunner begin sny. Geld moes gespaar word – veral vir opknappingswerk aan ons huis se kombuis en badkamers voordat ons dit kon verhuur.

Die uitsig oor die stadskom vanaf Leeukop, Kaapstad.

Hoe het julle op die roete besluit?

Rut: Ons het ’n landkaart oopgevou en 12 groot sirkels daarop getrek – ’n gebied vir elke maand van die jaar. Daarna het ons gekyk na die beste tyd om ’n spesifieke streek te besoek en ons roete daarvolgens uitgelê. Byvoorbeeld: Vanaf Mei tot Julie is dit nie só bedompig in KwaZulu-Natal nie, en in September wou ons in Namakwaland wees vir die blomme. Ons het met die Airbnb-webwerf ’n blyplek in die middel van elkeen van die sirkels gesoek – dit sou die basis wees waarvandaan ons elke gebied kon verken.

En ons het natuurlik Weg se artikels en gidsboeke ingespan om seker te maak ons mis niks van die hoogtepunte in elke streek nie!

En die kinders?

Pieter: Hulle was van meet af aan opgewonde en het betrokke geraak by die beplanning en reëlings. Deesdae vind húlle vir ons blyplekke op Airbnb!

En toe breek die groot dag aan...

Pieter: Op 26 April 2018 was ons Mitsubishi Pajero Sport gelaai en skielik het die werklikheid my getref.

Ek het vir ’n oomblik gewonder of ons nie dalk onverantwoordelik is nie, maar die ander drie se opgewondenheid het my oortuig ons doen die regte ding.

Ons eerste bestemming was my pa se plaas naby Newcastle in KwaZulu-Natal. Dit was ’n makliker oorgang as om sommer dadelik die vreemde in te vaar.

En ná die tydjie op die plaas?

Rut: Ons het ’n huis in Amanzimtoti (naby Durban) gehuur en dinge van daar af maand na maand gevat. ’n Bietjie beplanning het gehelp: Ons het byvoorbeeld reeds teen Junie verlede jaar vir die volgende blommeseisoen verblyf in Springbok bespreek.

Ons het egter gou besef dat ons nie die hele land in ’n jaar te sien sou kry nie; veral omdat ons nie die hele tyd vakansie hou nie. In die week moet die kinders skoolwerk doen en ek en Pieter werk. Ons kon slegs oor naweke plekke verken. ’

n Maand was ook nie lank genoeg om ’n streek ordentlik te beleef nie. Op die ou einde het ons drie maande in KZN gebly, en moes toe voet in die hoek sit om betyds vir die blomme in Springbok te wees.

Toe ons in die Wes-Kaap aankom, het ons sommer sewe maande gebly – dit het al ons deeglike beplanning deurmekaargekrap!

Ons huurders in Pretoria wou hulle kontrak verleng en dit was ’n goeie verskoning om ons nomadiese bestaan voort te sit.

Het die tuisonderrig gewerk?

Rut: Dit was ’n groot aanpassing! Ons het by Impaq (impaq.co.za) aangesluit. Jy ontvang handboeke, ’n fasiliteerdergids, take en eksamens. Dis ’n vaste struktuur, wat die kinders sou help om weer eendag maklik by ’n gewone skool in te pas.

Ons sou aanvanklik slegs ’n jaar lank reis en dan weer terugkeer na Pretoria. Maar die tuisonderrig is soveel pret, ons het sommer daarmee aangehou! Die kinders het verbasend gou by die nuwe ritme aangepas (lang skooldae is nie noodwendig nodig nie), en hulle speel en studeer nou ewe hard.

Charma: Ek geniet dit. My huiswerk is baie gouer klaar as op ’n gewone skooldag, en dan kan ek die hele middag lank speel. Ek en Declan het in ons vrye tyd begin video’s maak van ons avonture – gaan loer gerus! (Sien die skakel hieronder.)

Declan: Dit is nie áltyd lekker nie. Wanneer ek agter is met my skoolwerk, moet ek Saterdae en soms selfs Sondae werk om weer op datum te kom.

Is daar enige uitdagings?

Pieter: Om goeie internetontvangs in die Noord-Kaap te kry! Ná ’n rits probleme met ons diensverskaffer het ons geskuif na MTN en gevind dis regtig everywhere you go en dek bykans 90% van die land.

Rut: Teen die einde van ons eerste jaar op die pad (2018), het ek en Pieter ’n paar probleme met ons onderneming ervaar. Dit was stresvol om te werk én die kinders te onderrig en ek het begin dink ons sou moes terugkeer na Pretoria. Maar ons het deurgedruk.

’n Kuier in die prentjiemooi Bo-Kaap

Wat is die hoogtepunte?

Pieter: Branderplanklesse in Muizenberg saam met die hele gesin! Ons het nooit kon droom dat ons só iets saam sou aanpak nie en nou is ons almal versot daarop! Ons beplan deesdae ons roete rondom goeie surf-plekke en die kinders raak al hoe meer gekonfyt.

Rut: Ons het mekaar leer ken op maniere wat ons nooit andersins sou nie. Ek voel trots as ek dink aan hoe ons kinders ontwikkel het. Die dinge wat ons die afgelope twee jaar saam beleef het – veral die branderplankryery en rotsklim in plekke soos die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KZN het Declan en Charma gedwing om vrese te oorkom – en dís ’n waardevolle lewensles.

Hoe het die land julle verras?

Rut: Daar’s so baie plekke waarvan ons nooit tevore geweet het nie: Riemvasmaak, De Vlugt, Steinkopf, Op-die-Berg, Leydsdorp... daar’s soveel interessante klein plekkies op die landkaart.

Ons verlede boei my – dis ’n samevloeiing van soveel uiteenlopende mense en kulture. Op skool het die geskiedenishandboek net die een weergawe van die verhaal vertel, maar daar is baie meer. Ons kinders kon nou die slagvelde by Bloedrivier en Rorke’s Drift naby Dundee met hulle eie oë sien, hulle het stories gehoor van die “Geheime San” wat met koning Sjaka se heerskappy vir hulle veiligheid saam met ander stamme gewoon het.

Suid-Afrika vra om verken te word.

Wat is julle gunstelingbestemmings?

Pieter: Die Weskus het ’n besonderse atmosfeer. Die see se kleur, die wit strande, die heuwels, die plantegroei... Paternoster vergestalt die Weskus.

Rut: Elke plekkie het sy bekoring, maar McDougallsbaai in die Noord-Kaap het my verras. Die skoon strande, gawe mense en lekker ver ente wat ’n mens kan stap het gemaak dat ons ’n rukkie langer vertoef.

Declan: Ek en my suster was baie bly om vir die grendeltyd op Jeffreysbaai te kon bly waar ons die hele tyd kon branderplankry.

Charma: In Muizenberg het Pa vir Declan ’n branderplank gekoop. In Jeffreys het hy vir ons elkeen ’n branderplank aangeskaf – selfs vir my ma (haar plank is baie lank!).

Rut gee ’n volstruis kos op die Highgate Ostrich Farm op Oudtshoorn

Rut, wanneer het jy met jou webjoernaal begin?

Ek het die kinders tot einde laasjaar byna gedwing om elke dag se ervaring in ’n joernaal neer te pen. Toe besef ek ek geniet dit ook!

My dagboekinskrywings het mettertyd begin insluip by ons WhatsApp-verslaggie wat op ’n Sondagaand aan vriende en familie gestuur is, en kort daarna het ek aanlyn begin blog.

Sal julle hierdie lewenswyse vir ander Suid-Afrikaners aanbeveel?

Rut: Beslis! Indien jy jou werk met jou kan saamneem, hoekom nie? As jy in jou sitkamer in Johannesburg kan werk, dan kan jy dit netsowel ook in ’n kampterrein doen waar die see slegs ’n klipgooi ver is.

Pieter: Dit verg selfdissipline en val dalk nie in almal se kraal nie, maar ons geniet dit. Ons is bevoorreg om vir onsself te kan werk, maar hierdie reis is hoegenaamd nie ’n vakansie nie en ons moet by ’n begroting hou.

Ek en Rut kry elkeen ’n maandelikse salaris. As die geld teen die derde week van ’n maand op is, dan kan ons eenvoudig niks lekkers in die vierde week doen nie, en dis dit!

Mis ’n mens die geriewe van ’n huis?

Pieter: Ons sal seker op ’n dag weer ons eie plek wil hê. Maar wanneer daardie dag aanbreek, sal ons waarskynlik in Vishoek, Kaapstad, huis soek.

Wat is volgende?

Declan: Soveel as moontlik golwe vir ons branderplanke!

Pieter: Vir eers vat ons dinge rustig in die Oos-Kaap en bly so na aan die kus as moontlik. Ons wil graag ons onderneming uitbrei en wie weet – dalk maak die kinders nog hulle skooljare só op die pad klaar. Pretoria voel al hoe meer soos ’n ander leeftyd.

Die kinders by Spatklip by Hondeklipbaai.
IN’ T KORT

Waar bly julle meestal? ’n Mens kry afslag as jy met Airbnb ’n selfsorghuis vir langer as 28 nagte aaneenlopend bespreek. Hier en daar het ons mense ontmoet wat hulle vakansiehuise vir ons teen billike tariewe beskikbaar gestel het.

Wat is ’n voorvereiste van ’n tydelike woonplek? Goeie internet. Suid-Afrikaners is... Vriendelik en opreg! Ons het langs die pad baie vriende gemaak.

Veiligheid? Ons het nooit onveilig gevoel in die plekke waar ons gebly het nie.

Karprobleme? Nie ’n enkele voorval nie! Slegs twee pap bande – op St. Lucia en die Sederberg.

Hoe ver het julle al gery? Altesame 55 000 km

Hoeveel keer het julle geskuif? Ons het tot dusver in 57 verskillende huise gewoon! Declan en Charma se video’s is op die gesin se YouTube-kanaal te sien onder die naam “Rut Cloete”.

Lees Rut se webjoernaal by rutcloete.blogspot.com en volg die Cloetes op Instagram by @dieroetevandiecloetes.

Avonture langs die pad

  • ’n Nag op die Oranjerivier
  • Om te rotsklim by Monteseel naby Ulundi, Truitjieskraal in die Sederberg en Paarlrots in die Boland
  • Valskermspring by Mosselbaai
  • ’n Slanghanteringskursus in Durban
  • Sandplankry in die Witsand-natuurreservaat in die Kalahari
  • ’n Branderplankkursus by Surf Emporium in Muizenberg
  • Stap in Bainskloof
  • ’n Nag bo-op Tafelberg
  • Fietsry deur die woude by Mtunzini
  • Geskiedkundige staproetes in Barberton, Piketberg en Stellenbosch
  • ’n Tweedagtoer op die Rooi Bus deur Kaapstad
  • Branderplankry by: Kingsburgh, Umzumbe en Hibberdene in KwaZulu-Natal; Muizenberg, Blouberg en Plet in die Wes-Kaap; Jeffreysbaai, Port Alfred, Port Elizabeth, Koffiebaai and Mdumbi in die Oos-Kaap
  • Om ’n stampkarwedren in Port Elizabeth by te woon
  • Staproetes deur die Knysnawoud met sy groot ou geelhoutbome
  • Park runs in Amanzimtoti, Uvongo, Springbok, Stellenbosch, Hermanus, die Paarl en Houtbaai
  • ’n Selfrytoer van die Anglo-Zoeloe-slagvelde tussen Newcastle en Durban

Die SA van gister

Langs die pad het die Cloetes heelwat museums besoek. ’n Paar hoogtepunte was: die Bloedriviermuseum (Ncome), die Voortrekker- en Ou Tronkmuseum (Pietermaritzburg), die Bartolomeu Dias-museum (Mosselbaai), die Groot-Constantia-herehuis (Kaapstad), Langenhovenhuis (Oudtshoorn), die Hugenotemuseum (Franschhoek), die Outeniqua-vervoermuseum (George), die SA Vlootmuseum (Simonstad), die Swellendamse Drostdy, die uMgungundlovu-museumsentrum (Ulundi), die Sendingmuseum (King William’s Town), Leipoldt se Graf (Clanwilliam), die Walvismuseum (Hermanus) en die dorpsmuseums op Barberton en Port Nolloth.

Oos, wes, lys die bes!

Dis ’n ietwat onbegonne taak om ál die plekke te lys waar die Cloetes sedert 2018 aangedoen het. Hier’s egter ’n lys van al die plekke wat hulle vir ’n kort rukkie “huis” genoem het:

Sederberg
Sederberg
Springbok
Springbok
Richtersveld
Richtersveld
Uitkykpunt naby die Drie Rondawels
Uitkykpunt naby die Drie Rondawels
Plettenbergbaai
Plettenbergbaai
Modjadji
Modjadji
McDougallsbaai
McDougallsbaai
Mandela Capture Site
Mandela Capture Site
Lambertsbaai
Lambertsbaai
Knysnawoud
Knysnawoud
Jeffreysbaai
Jeffreysbaai
God’s Window
God’s Window
Tafelberg
Tafelberg
Augrabies- nasionale park
Augrabies- nasionale park