Foto's Dolf Els

Die mis is dik en met elke golf stamp die see wit skuimsproei oor die rubberboot se boeg. Ver voor, in die wasigheid, neem ’n geel kerktoring vorm aan, en nog geboue raak duideliker namate ons nader kom, hul pastelkleure, eers dof, dan al helderder. Dit lyk of die hele spookdorp op die see dryf. 

Wanneer die boot in die vlak water op die strand uitskuur, wil jy steeds jou oë te knip, net om seker te maak. Die verlate dorp met sy imposante kerk en huise uit ’n vergange koloniale era onder Portugese bewind, uitgestrek op die geel woestynsand van die lang eiland, is amper te onwerklik om waar te wees.

’n Oomblik lank is almal stil, en jy hoor net die see se geruis. Stilte is al waarmee die leë dorpie met die naam São Martinho dos Tigres die handvol besoekers verwelkom wat dit tot hier waag. Sy eens bedrywige vissersgemeenskap het een Oktober, meer as 40 jaar gelede, padgegee en nooit weer teruggekom nie.

Min mense kan die eiland besoek omdat dit moeilik is om hier te kom. Oorland moet jy strandlangs tot halfpad in die Doodsakker ry, ’n verraderlike dun kusstrook aan die onherbergsame Namibwoestyn wat net met laagwater begaanbaar is. Jy sal ook ’n boot moet saamsleep.

Rico Sakko wat die Flamingo Lodge net suid van Namibe besit, was al ’n paar keer op die eiland. Nou het hy dié plek met sy betowerende verlatenheid vir ons kom wys.

Ver van alles

Die naaste dorp is Tombua in Angola se Namibe-provinsie, sowat 100 km noord. Die 37 km lange eiland strek soos ’n dik vinger noord al langs die kus. Tot sowat 56 jaar gelede was dit nog met ’n dun sandstrook aan die land vas.

Hiervandaan strek die woestyn 90 km verder suid tot by die Foz do Cunene, waar die Kunenerivier in die see loop en die grens met Namibië vorm.

Aan die landkant van die sandstrook lê Baía dos Tigres, “Baai van die Tiere” en só genoem oor die swart strepe teen die hoë geel sandduine. Dit is juis die warmer water in die baai wat die rykdom aan seelewe hier tot gevolg het en die eerste vissers in die 1860’s gelok het.

Water was ’n groot probleem en is per skip en op die gevaarlike roete kuslangs aangery. Die dorpie het in die laat 1950’s begin gedy nadat ’n pompstasie by Foz do Cunene aan die Kunenerivier gebou is en ’n pypleiding water verskaf het.

Teen 1960 was daar meer as 1 500 mense, waaronder sowat 300 Portugese.

Maar in 1962 het ’n hewige storm die inwoners van die land afgesny en die pypleiding vernietig. São Martinho dos Tigres het feitlik oornag ’n eiland-dorp geword.

Aan die suidelike punt sien jy eerste die Rooms-Katolieke kerk raak, eens in helder songeel getooi met ’n groot purperrooi sementkruis voor. Onder is ’n wit boog oor die ingang. “HIC – DOMUS – DEI” (die Huis van God) staan in blokletters daarop.

Die pragtige Rooms-Katolieke Kerk.


Die songeel het heelwat verdof en op menige plek afgeskilfer. Oral om die wit omraamde boogvensters skyn die pleister soos ’n ou vaalbruin vel deur. Die purper kruis is nou ’n donker stuk sement. Net onder aan sy voet skyn die dieprooi nog deur.

Maar dit doen geen afbreuk aan die waardigheid waarmee Hic Domus Dei steeds oor die leë dorp waak nie.

Die letsels van vandale

Die kerk het erg onder vandale deurgeloop.


Binne het vandale hul merk gelaat. Rico vertel dat die kerk nog sy glansende donker houtbanke gehad het toe hy meer as vyftien jaar gelede die eerste keer hier was. En as jy die klok bo in die toring gelui het, het die klank spookagtig in die mis oor die dorp weergalm.

Iemand het ’n tou aan die klok gebind, dit met sy vistreiler uit die toring geruk en as skrootmetaal verkoop. Die kerkbanke is ook weggery en verkwansel. Die weerhaan bo-op die spits, in die vorm van ’n Portugese seilskippie, het darem behoue gebly.

Selfs die kerkklok is uitgeruk en as skroot verkoop.


Die dorp se besonder breë hoofstraat is opvallend. Dis eintlik ’n aanloopbaan van sementblokke wat in 1957 gebou is sodat ligte vliegtuie hier kon land en opstyg.

Dit deel die dorp in twee. Aan die een kant is die kerk, die bioskoop, ’n gebou met visolietenks en ’n watertoring. Aan die ander kant staan die skool, hospitaal, poskantoor, bakkery en administrasiegeboue in ’n ry.

Uit die aanloopbaan loop ’n straat met ’n kronkeldraai verby die begraafplaas met sy kapelletjie tot by die fabrieke op die verste punt van die eiland.

Die hoofstraat is ook die dorp se aanloopbaan.

Loop jy in die dorpie rond, is dit gou duidelik waar die meer gegoede maatskappybase gebly het – groot geel en pienk woonhuise met stoepe en die oorblyfsels van bome en struike. Die vissers en hulle gesinne het in die agterste straat in ’n lang ry bottergeel huisies gebly.

Soos eenderste boksies staan hulle daar op hul grysblou pilare, elkeen met ’n steil trap wat na die voordeur lei.

Eenkant is ’n lae, pienk gebou met ’n ry deure – waarskynlik een van die kwartiere waar die gewone werkers se kamers was.

Agter het die base gewoon....voor die klase.


Die polisiekantoor is straataf, maar die klein tronkie met sy twee selle is as’t ware in die kerk se skadu gebou. Hier, enkele meters weg, moes die klok se oorverdowende gelui die gevangenes gereeld aan hul sondes herinner het.

Die vervalle skoonheid van die eiland met sy eiesoortige geboue raak jou aan die hart. In ’n vergange era was die dorp warm spatsels helder pienk, geel, blou en groen op die woestynsand. Waar kleurryke deure en vensterrame was, sit nou donker gate, leë oogkaste in die afgeskilferde mure.

Orals sien jy hoe die inwoners probeer het om plante aan die groei te kry ondanks die erge watertekort. Op een plek staan tientalle droë, vaal boompies heuphoogte, netjies in rye geplant – ’n vrugteboord!


Voor huise en aan die strate is die verdroogde oorblyfsels van sierstruike en hier en daar stoot ’n paar groot bome hul droë, vaalgrys takke bo die huise uit – ’n huldeblyk aan die eilandbewoners se deursettingsvermoë om hulle só lank aan die groei te kon hou.

Die seun wat hier gewoon het

Mens wonder hoe dit moes wees om op so ’n afgeleë, barre sandeiland te woon. Op die internet spoor ek Carlos Relva op wat tot 12-jarige ouderdom saam sy ouers hier gebly het. Hy en sy familie woon vandag in Sine, aan die kus van Portugal, sowat 130 km suid van Lissabon.

Hy vertel per e-pos dat die eiland ’n paradys was waar hy die beste jare van sy jeug deurgebring het. Dit was ’n sorgelose lewe waarin hy en sy ouers, broer en suster elke Sondag die mis in die groot, geel kerk bygewoon het.

Smiddae het hy en sy vriende krappe op die strand gevang, met sy Rhodesiese rifrughond, Sultan, gespeel en in die bome geklouter. Hulle het gereeld in die bioskoop gaan fliek.

Sy pa, Antonio Simao Lopes, nou 73 jaar oud, was die skipper op die vistreiler Star Dalva. Hulle het hulle vangste gelewer aan die drie fabrieke op die eiland, twee wat vismeel vervaardig en een wat seekat ingemaak het. Tonne vis is ook hier gedroog.

Die enkele strate op die dorp is met ’n mengsel van visolie en sand gemaak, vertel Carlos. Hy onthou daar was net vier ouerige Land Rovers op die eiland, wat aan die vismaatskappye behoort het.

Groot opwinding het een keer per week geheers as die vliegtuig met pos en voorraad van Moçâmedes (vandag Namibe) af langs die kerk ingeswiep het en naby die skoolgebou tot stilstand gekom het. Volgens Carlos is ’n ernstige ongeluk een Sondag net-net vermy. 

“Die vlieënier was besig om met ’n passasier te gesels toe hy inkom om te land en het vergeet dat die wiele nog nie laat sak is nie. Gelukkig het die mense op die grond dit gesien en vir hom beduie en geskreeu. Enkele meters bo die grond het hy besef wat aangaan en die vliegtuig weer die lug ingestuur. Hy het darem kort daarna veilig geland.”

Een van die belangrike goed wat die vliegtuig weekliks gebring het, was vars vleis. “Anders het ons etes maar gewoonlik uit vis en seekos bestaan,” sê Carlos. Daar was darem ’n winkeltjie waar hulle koeldrank, versnaperings en vrugte kon koop, asook ’n bakkery.

Die eiland het net ’n laerskool gehad en in 1973 moes Carlos verder in Moçâmedes, sowat 230 km hiervandaan, skoolgaan. Hy onthou dat die skool ’n dammetjie in die voortuin gehad het waar ’n groot rob hom eenkeer lank kom tuismaak het.

Met ons besoek was die dammetjie nog hier. Ek het in die een groot klaskamer gestaan en wonder hoeveel kinders hier eksamen geskryf het. Hier het Carlos ook gesit en kyk hoe sy juffrou op die einste swartbord skryf. Met sy eerste besoek het van die kinders se skoolboeke nog rondgelê, vertel Rico.

Skuins oorkant die kerk is die hospitaal met sy pienk mure, lang stoep en kenmerkende rooi kruis onder die gewel.

Die hospitaal.


Die dokter het een keer per week in die vliegtuig gekom, maar daar was darem ’n permanente verpleër by die hospitaal, toevallig ’n baie goeie vriend van Carlos se pa. As daar meer ernstige gevalle was, het die dokter hulle saamgeneem Moçâmedes toe.

Slim plan teen die sand

Soos al die ander geboue, is die hospitaal ook op grysblou pilare gebou wat talle boë vorm.

By Kolmanskop in Namibië het die Duitsers op die grond gebou en het hulle ’n voortdurende stryd gehad om te keer dat die sand die huise verswelg. Hier het die Portugese al die geboue sowat 2 m bo die grond op pilare gebou sodat die sand onderdeur kon waai.

Die natuur het mettertyd die huise teruggeneem.


Later is die ruimte onder die ry huisies waar Carlos-hulle gebly het, ook toegebou om nog vertrekke te maak. “As die wind die slag erg gewaai het, het die sandwalle teen die huise dit van voor soos ’n gesig met ’n dubbele ken laat lyk,” vertel hy.

Aan die noordekant van die eiland steek die fabrieke se skoorstene lang, dun vingers in die lug. Dis waar die tonne vismeel vervaardig is wat na lande soos Japan uitgevoer is. Die geboue met klein kamertjies daar naby was waarskynlik die fabriekswerkers se tuiste.

Dis die verste punt van die eiland, ook die breedste deel – amper 11 km. Vroeër jare was die Ponta da Marca-vuurtoring hier, maar dit is later afgebreek. Aan die smaller, suidelike deel is groot strandmere met onder meer groot swerms flaminke, pelikane en duikers.

Carlos vertel dat die groot skepe wat die vismeel kom haal het, nie by die eiland kon vasmeer nie omdat daar nie ’n hawe was nie. Die swaar sakke met vismeel is met die hand op vissersbote gelaai en na die skepe geneem waar dit met hyskrane gelaai is.

Hy het dikwels saamgery as sy pa-hulle vismeel met die Star Dalva gaan aflaai het.

In die laat jare vyftig en die vroeë sestigs het tot 25 skepe per jaar Baía dos Tigres aangedoen om die amper 9 000 ton vismeel wat geproduseer is, vir uitvoer in te skeep.

Die visolie is hier in tenks aangehou en verskeep.



Die moeder van alle storms

Hierdie onherbergsame kuslyn noord van die Namibiese Skedelkus, bekend vir sy onstuimige Maart-weer, laat hom nie so maklik tem nie.

Mens kan jou indink hoe vreesbevange die inwoners was toe die woeste storm, aangedryf deur ’n sterk noordwestewind, die seekant van die landengte op 14 Maart 1962 getref het met 10 m hoë golwe. Hulle het magteloos in hul huise geskuil en party het selfs verwag dat die tierende see die hele sandbank gaan verswelg.

Die storm het die waterpypleiding stukkend geslaan op die dun deel waar die sandbank aan die land vas was. Feitlik oornag het die see daar deurgebreek en die lang vinger heeltemal van die vasteland afgesny. Vandag is hierdie gaping al ’n tamaaie 10 km en dit groei jaarliks.

Vir die reeds afgesonderde vissersgemeenskap was dit ’n ramp. Nie net was hulle nou nóg meer afgesonder nie, maar belangriker nog, weer sonder vars drinkwater. Al oplossing was om water van die pompstasie af aan te ry en dit dan met trekskuite na die eiland te neem waar dit in groot tenks geberg is.

Dit het die lewe op die eiland nóg moeiliker gemaak. São Martinho dos Tigres se einde het skielik gekom. In 1974, toe die burgeroorlog uitbars nadat Portugal hom feitlik oornag aan sy voormalige kolonie onttrek het, was daar onder die paar honderd mense op die eiland 50 Portugese van Olhão in die Algarve-streek, onthou Carlos.

Saam met duisende ander Portugese in Angola het die gemeenskap daardie Oktober haastig opgepak en met dit wat hulle kon saamneem Portugal toe gevlug. Hy moes selfs vir Sultan agterlaat, vertel Carlos.

Ook by die pompstasie aan die Kunene het die Portugese gevlug en alles daar het ook tot stilstand gekom.

Die spookdorp.



Lugkastele op die eiland

Die Angolese regering het al verskeie kere planne aangekondig om die eiland te ontwikkel.

In 2002 wou hulle ’n groot tronk daar bou. Rico vertel dat een van die twee helikopters waarin ’n afvaardiging na die eiland gebring is daar in die see gestort het. Die minister van binnelandse sake en die adjunkminister en die direkteur van korrektiewe dienste is in die ongeluk dood.

Daarna, in 2009, het die regering planne aangekondig om ’n groot vissershawe, ’n lughawe en ’n ontsoutingsaanleg daar te bou, asook ’n aanleg vir die opwekking van windkrag, maar niks het nog daarvan gekom nie.

Daar was ook meer verregaande voorstelle. Sowat ’n dekade gelede het die goewerneur van die Namibe-provinsie gesê dié afgeleë gebied “kan maklik in ’n soort Angolese Las Vegas of ’n luukse oordkompleks verander word”.

Hopelik gebeur dit nooit nie. Want as jy verby die vervalle verlatenheid kyk, sien jy steeds die prag van São Martinho dos Tigres en voel jy dit moet so bly – ’n monument vir die deursettingsvermoë van sy eertydse inwoners.

  • Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry#64 (September 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.