
Gerda Engelbrecht het in Léon weggetrek (330 km vanaf Santiago), maar ons plaas net die laaste 115 km wat Weg se stapgroep in April gaan aflê. Ons het nog plek! As jy lus kry, kom saam!
Afstand: 25,5 km
Hoogte geklim: 157 vloere
Tree afgelê: 39 190
Nadat ek die vorige Maandag in Léon, Spanje, weggespring het op my Camino de Santiago, het ek reeds meer as 200 km te voet afgelê om tot by Sarria te kom, die dorp waar die meeste pelgrims wegspring wat net die laaste 100 km vir hul Compstela (sertifikaat van voltooiing) wil stap. Op die mooi dorp Astorga het ek die nuus gekry dat my ma tuis ernstig siek in die waakeenheid is, en het ek in ’n rustelose nag amper besluit om terug te vlieg huis toe. Maar deur die genade het sy begin herstel en het ek en my dokter-suster besluit dis beter as ek aanhou stap.
My ma se eerste woorde deur die newels van haar siekte was: “Jy beter hierdie ding klaarmaak. ’n Engelbrecht begin nie ’n ding wat hy nie kan klaarmaak nie. En ek wil die foto’s sien.”
Ná Astorga het ek die hoogste punt op die Camino de Santiago, die Cruz de Ferro, bereik, waar ek ’n 89-jarige pelrgim ontmoet het wat elke jaar dié seksie, die moeilikste op die Camino, stoksielalleen aanpak. Nou is ek in Sarria, ’n groterige studentedorp.
‘I’m walking on sunshine’
Ek word die Woensdagoggend wakker danksy ’n whatsapp-boodskap van die huis af. Dis my boers se kinders wat vir my ’n “mash-up” sing van The Proclaimers se “I’ll walk 500 miles…” en “I’m walking on sunshine”. My hart voel lig.
Ek is stiptelik om 07:00 in die restaurant van my hotel, die Mar de Plata, waar ek reeds vyf of ses tafels vol kraakvars pelgrims aantref – silwerskoon klere en skoene, splinternuwe rugsakke en stapstokke. Dis almal mense wat vanoggend hul Camino begin. In Brierley se gidsboek word pelgrims wat ’n langer afstand gestap het, gemaan teen ’n “gevoel van meerderwaardigheid” teenoor die nuwe pelgrims wat net die laaste 100 km stap.
In hierdie stadium waggel ek egter soos ’n eend wat in ’n duwweltjie getrap het en lyk ek soos iemand wat onder ’n doringbos uitgesleep is. Ek het lánkal opgegee op my stowwerige skoene en gekreukelde klere, en nadat ek ’n paar keer my vervies het vir ’n stink pelgrim langs my, het ek begin vermoed dis ék wat so ruik. Meerderwaardig voel ek beslis nie.
Gister het ek by die apteek met gebaretaal iets soos Deep-heat in die hande probeer kry, maar die apteker het my ’n buis Ibuprofen-room in die hand gestop. ’n Pynstiller in salfvorm! Dis ’n wénner! Die room word ook nou byderhand gehou op die heupband van my rugsak.
Geluide uit die begraafplaas
Ek moet in die donker ’n ekstra kilometer stap om weer by die Camino aan te sluit, maar die geel pyle maak dit maklik. Selfs in die Middeleeue het Sarria al sewe pelgrimsherberge gehad en was dit ’n belangrike oornagdorp op die Camino. Deesdae het dit sowat 14 000 inwoners. Die roete neem jou deur die ou stad, verby verskeie katedrale en muurskilderings. Ek loop by ’n stuk of tien herberge in een straat verby en in almal brand daar lig.
Deur die vensters kan jy sien hoe die pelgrims om die ontbyttafel sit, die rugsakke in kleurvolle rye langs die muur staangemaak. Die strate ruik na roosterbrood en sterk koffie. Daar is selfs ’n pelgrimswinkel wat al oopgemaak het – ’n seldsaamheid in ’n land waar niks voor 10:00 roer nie. Ek is opgewonde oor die dag. Die pad neem jou by ’n klein hoogte uit sodat jy ’n mooi uitsig oor die stad het (kyk uit vir die ou klipkruis), maar nou lê Sarria nog onder sy wolkkombers.
Dis nog mistig en ek kry ’n koue rilling toe ek op die soom van die stad verby ’n ommuurde begraafplaas moet stap. Dis doodstil, behalwe vir ’n spookagtige skuurgeluid aan die ander kant van die begraafplaasmuur. Ek het te veel TV gekyk, dink ek. Eers toe ek die kopliggies van twee ander pelgrims sien, skep ek genoeg moed om deur ’n traliehek te loer … daar is ’n paar rondloperhonde wat in die begraafplaas snuffel. Vir wat? Béne?!?
Maar dan stap jy oor die pragtige Ponte Aspera (wat “rowwe brug” beteken) en begin die roete deur woude kronkel.
’n Cougar in crocs
Die stroom nuwe pelgrims op die pad bring ’n nuwe energie. Hordes en hordes sluit uit verskillende rigtings by die geelpylroete aan – ek verkyk my aan al die nuwighede. Agter die een sak swaai luiperdvel-Crocs! In ’n stadium sien ek twee Oosterlinge, vermoedelik ’n pa en ’n tienerdogter. Die dogter lyk nukkerig en loop reeds effens mank.
Die pa wys sy moet op ’n muur gaan sit, maar al wat ek uit die gesprek kan verstaan is die woorde “petroleum jelly”. Ek is dankbaar om te sê die pynstiller-in-’n-buis maak ’n hengse verskil.
Die dag word ’n viering van die lewe, met groepe singende, jillende pelgrims. Die een pelgrim gaan tot in Santiago probeer rol in sy hamsterwiel.
Die stroom nuwe pelgrims beteken egter ook dat die tafels by die restaurante propvol is en dat jy in ’n ry moet wag by die toilet. Maar niemand kla of baklei nie. Dis ’n feestelike optog. Ek geniet dit!
Die verpleegsters en die vuurloper
Die roete loop oor verskeie vrugteplase en baie van die pelgrims help hulleself aan die appels wat bloedrooi langs die pad hang. Dit pla my. As daar 250 000 pelgrims per jaar oor die arme boer se plaas stap, gaan hy nie ’n oes oorhê as elkeen homself aan ’n appel help nie. Ek wroeg nog so oor die gesteelde appels toe een kaplaks omtrent ’n meter voor my voete val. Ek belówe! Ek dink daardie een het die Camino spesiaal vir my gepluk.
Oor middagete sien ek ’n paar stappers wat ek al vantevore raakgeloop het: Cath en Patty is verpleegsters uit Amerika wat mekaar op die Camino leer ken het. Ek het hulle die vorige dag aangetref waar hulle uit volle bors “The hills are alive” gesing het langs ’n trop beeste met klokke om die nek. By hulle sit Meg, ’n vrou wat ek op O’Cebreiro ontmoet het wat ’n vuurloper-instrukteur is. (Sy leer dus mense om oor warm kole te stap!)
“Help jou werk jou op die Camino?” het ek haar gevra. Ek meen, as jy oor kóle kan loop, is ’n paar berge op die Camino tog seker niks?
Sy het gelag. “Om op kole te loop is nie ’n ‘mind over matter’-ding nie. As jy vir jou lyf sê dat trauma op pad is, berei die lyf homself daarvoor voor. Ons kursus gaan daaroor dat ons mense met inligting bemagtig.” Dit maak op ’n manier vir my sin. Maar al gee jy vir my hoeveel inligting, sien ek steeds nie vir die kole kans nie. Ek weet kole is warm. En selfs op die Camino het ek gevind dat die teenoorgestelde strategie beter werk: As ek die gidsboekie wegpak en my oë van die horlosie afhaal, voel die pad korter.
Cath, Patty en Meg sit nou elkeen met ’n omelet by ’n straatkafee. Hulle het opgegee op my naam en wuif my nader met ’n hartlike: “Helloooo, South Africa!” Ek sit ’n rukkie en gesels.
Dis my gunsteling-Caminodag tot dusver. Elke keer as jou tong begin hang, kom daar weer ’n sanggroep by jou verby.
By Mercadoiro, ’n nedersetting met ’n amptelike bevolking van een (!), koop ek weer water en die winkeleienaar wys na die armbandjie met die ridderkruis wat ek in Léon gekoop het. Die gespe is besig om los te skeur, beduie hy. Hy neem geduldig my hand, haal die armbandjie af, en bring ’n tang van agter die toonbank te voorskyn om dit reg te maak.
Die pelgrims agter my staan geduldig en wag om te betaal terwyl die man eers die armbandjie regmaak. Hy waai met sy hand as ek hom daarvoor wil betaal. Dít is die gees van die Camino, dink ek. En iets wat ek hoop om met my saam te vat. As jy hier iemand kán help, doen jy dit. Sonder om iets terug te verwag.
Driekaaspasta en muskietbyte
Die laaste kilometers voor Portomarin neem jou verby Vilachá en oor ’n indrukwekkende brug oor die Mino-rivier. Die reuse brug staan nou soos ’n monster oor ’n yl stroompie gehurk. Ek het vooraf gelees dat hierdie deel van Spanje ook deur ’n knellende droogte getref word, maar as Kapenaar wat onlangs droogte leer ken het, gryp dit jou aan die hart om die wêreld so droog te sien.
Ek het ’n lekker kamer in die Hotel Poussade de Portomarin. Ek het aanvanklik gedink die hotel is aan die kant van die dorp en sommer daar geëet, maar ek kon myself skop toe ek die volgende dag sien hoe naby ek aan die dorpsplein was. Ek kon lekker op die dorpsplein my skoene uitgeskop het. Die hotel het drie verdiepings en ’n heerlike dek waar mense laatmiddag sit en drankies drink.
Die hotel se restaurant bly oop tot 16:00 vir middagete, en ek stort vinnig. Ek het vanoggend laas geëet en sal nie tot 20:00 kan wag vir aandete nie. In plaas van die driegang-pelgrimspyskaart bestel ek pasta met ’n driekaassous, en daarna het ek ’n paar uur om my klere uit te spoel en te rus.
Ek kuier vroegaand saam met ander pelgrims op die dek tot byna sononder (die son sak steeds na 21:00 in die aand!) en lees nog ’n rukkie boek in my kamer voor ek gaan slaap. Dis warm in die kamer en daar is ’n lastige muskiet wat my uit die slaap zoem. Ek sweer ’n Spaanse muskiet byt seerder as ’n Kaapse een.
Gerda Engelbrecht het in September 2017 die Franse roete vanaf Léon gestap danksy borgskappe van caminoways.com, Cape Union Mart, Rehidrat en Jeep. Jy kan die blogs oor die vorige dae vanaf Léon hier onder lees. Weg neem in April ’n groep van 16 stappers op hierdie roete.
Stuur e-pos na weg@flightsite.co.za as jy wil saamstap. Dit kos sowat R29 000 per persoon wat deel. Die groep se verblyf oorsee word ook deur caminoways.com gereël en sal met Gerda se toer ooreenstem.