Die Van Reenenpas was eens ’n roete waarmee boere met hulle vee in die winter van die Vrystaatse hoëveld na die groener weiveld van KwaZulu-Natal getrek het. Later jare het Frans van Reenen, wat aan die voet van die pas geboer het, op dieselfde roete met ossewaens gery om voorraad na die goudmyne op die Hoëveld te vervoer.
In 1891 is dié ossewaspore deur treinspore vervang. Die dorpie Van Reenen, genoem na Frans, is toe gebore, en in 1892 die hotel. ’n Halfeeu later – in 1948 – is die hotel tot die Green Lantern herdoop. Dis na aanleiding van ’n groen lig wat in die mis geskyn en aan reisigers gewys het hulle het dit tot bo gemaak; en dat hulle ’n drankie in die hotel moes kom drink.
Deesdae is die pad geteer en deel van die N3-hoofweg. Die pad skuur rakelings verby die dorpies Van Reenen en Swinburne. Maar net omdat die pad verby hou, beteken nie jy moet nie. Trek gerus af en laat dié pas en sy mense die pas aangee vir die res van jou vakansie.