book-icon Uitgawe Augustus 2020
Deel

Die kat van Blommeland

akkreditasie
Van volgende maand af kan ons hopelik blomme kyk in die Namakwa- nasionale park. Verken dié gewilde park met die Rooikat-4x4-ekoroete.
Foto's Cyril Klopper
Ry & Sleep Augustus 2020,
Roete

Die Rooikat-roete lei jou deur amper die hele Namakwaland tussen die Richtersveld en Weskus. Hy wys jou die kusstrook, die kusvlakte, die berge en klowe... en natuurlik die blommeprag. Reisigers trek gewoonlik weg by die park se hoofkantoor in die Skilpad-blommereservaat, maar ons stel voor jy ry hom andersom. As jy by die Groenriviermondhek begin, is jou eindbestemming – en hoogtepunt – die blomme by Skilpad.

In die Oktober 2019-uitgawe het ons berig oor die deel tussen die Groenriviermonding en Hondeklipbaai, die eerste been van die Rooikat-roete. Die roete soos ons hom hier verduidelik, begin egter by die park se middelste hek (S30.35306 E17.42623) naby die dorp Hondeklipbaai.

Vir die eerste 10 km moet jy maar op ’n stokkie byt, want die tweespoorpad is erg sinkplaat gery. Ná die uitmergelende eerste 10 km verlaat jy die duine met hulle droë fynbos tot waar die grond harder raak met minder sinkplaat. Gemsbokke is volop in dié deel van die park en jy sal ongetwyfeld ’n paar troppe teëkom. Wees ook op die uitkyk vir die streek se unieke riethuiskwarts wat soos spierwit opale in die rooi sand skitter.

Steek die Swartlintjiesrivier by ’n ou begraafplaas oor en ry tussen die geboue van ’n ou plaasopstal deur tot jy by ’n servituutpad (die P2952) uitkom. Verskeie kleiner paadjies sluit by die servituut aan en jy sien elke nou en dan ’n roeteaanwyser – dit het ’n afbeelding van ’n rooikat daarop – wat jou herinner jy’s darem nog op die regte pad.

GEDENK AAN MY. Jy behoort nie te verdwaal as jy die roeteaanwysers volg nie. Die blomme is meer natuurlik in die Swartlintjiesrivier se boloop as by die amper oordadige blommeprag by Skilpad.

Volg die Swartlintjies vir ongeveer 2 km tot die servituutpad noord swenk en die Wildeperdehoek se Brakrivier volg tot by die Wildeperdehoekpas. 

Dié 5 km lange pas is meer as 120 jaar gelede gebou en het ’n helling van 1:20. Dit lyk besonder steil as jy hom van onder af bekyk, maar selfs ’n Fiat Uno sal hom kan baasraak. Bo-op die pas kan jy links uitdraai op die Buffelsrivier-4x4-roete, maar stryk aan met die Messelpad. Soek die Rooikat-roeteaanwyser op die berg (S29.93854 E17.63459) wat jou na regs stuur. Die tweespoorpaadjie loop vir die volgende 25 km op en af oor die rug van die Kamiesberg.

Die pad is nie uitermate taai nie, maar daar is gronderosie, wat ’n veldvoertuig onontbeerlik maak. Hou viertrek ingehaak terwyl jy bergaf daal na die Swartlintjiesrivier se boloop – ’n wye, sanderige kloof.

Besoek die Kookfontein-warmwaterbron langs die rivier, ’n fontein met louwarm water waar jy dikwels wild aantref (S30.07061 E17.64576).

Sowat 5 km nadat jy die Swartlintjies gegroet het, klim die pad weer met die Soebatsfonteinpas teen die Kamiesberg uit. Die Kamiesberg word soms die Dak van die Namakwaland genoem en hier gaan jy al hoe meer blomme langs die pad gewaar. Neem baie foto’s, want die Rooikat-roete kry min verkeer en die kans is goed dat jy die veld vir jouself gaan hê.

Vier uur (en 110 km) nadat jy vanoggend deur die park se middelste hek is, kom jy by die Skilpad-blommereservaat aan. Wees geduldig met die honderde toeriste wat hulle motors sommer iewers in die middel van die pad parkeer. Jy gaan ook bly wees oor die foto’s wat jy vroeër geneem het, want hier by Skilpad is dit haas onmoontlik om die blommeprag te kiek sonder om ook ’n toeris in die agtergrond af te neem.

Wat jy moet weet

Maksimum aantal voertuie? Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Ja, en laai een af op Sanparke se webblad.

Sal my voertuig krap? Onwaarskynlik.

Moet ek ’n kompressor neem? Nee.

Kan ek halfpad braai? Nee.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Ja, maar nie oral nie.

Beste tyd om te gaan? Augustus en September.

Kan ek my gesin saamneem? Ja.

Net vir die dag of vir die naweek? Sit ’n paar dae opsy vir die park.

Hoe lank neem dit? 4 uur vir hierdie been; 6 uur vir die hele roete.

Is daar ablusiegeriewe? By die Groenriviermond- en Skilpad-kantoor.

Brandstof? Daar is vulstasies op Garies, Kamieskroon en Springbok. Petrol en diesel is ook beskikbaar op Koingnaas naby Hondeklipbaai.

Prys: ’n Bewaringstarief van R46 p.p. (gratis met ’n Wild Card).

Kontak: 027 672 1948 (parkkantoor); elanza.vanlente@sanparks.org;  sanparks.org

GPS: S30.82871 E17.57634 (Groenrivierhek), S30.35306 E17.42623 (middelste hek) en S30.16614 E17.79779 (Skilpad)


Hierdie artikel is oorspronklik in Augustus 2020 in Weg Ry & Sleep gepubliseer.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook