Die Oranjerivier is ’n lewensaar wat deur die dor hart van die land kronkel. Dié water is ’n bron van lewe en genade vir diegene wat aan die oewer ’n bestaan maak.

Oor meer as 2 200 km van die oorsprong in Lesotho se Malutiberg, waar dit nog die Senqu heet, tot waar dit tussen Alexanderbaai en Oranjemund in die Atlantiese Oseaan uitmond, bied die rivier ook ontvlugting.

Van my beste gesinsvakansies was roei-uitstappies op die Oranjerivier. Maar dit was altyd op die deel van die rivier wat die grens tussen Suid-Afrika en Namibië vorm; tussen Onseepkans en Pella, Vioolsdrif en Aussenkehr...

Met die lente van 2020 wat bot en die dae wat langer en warmer word, hoor ons weer die roep van die rivier. Dié keer na ’n ánder deel van die Oranje – die stuk in die middel van die land, naby die Vanderkloofdam. 

Ja, ek het ook nie geweet ’n mens kan daar roei nie. 

Rivierkoors

Dis vroegmiddag toe ons die Vanderkloofdam die eerste keer sien. O vrek, dit beteken net een ding: Ek het verdwaal.

My éintlike bestemming is Stoney Rapids Lodge sowat 3 km stroomáf van die damwal. Dis waar jy Adventure Kayaking se mense ontmoet.

My vrou, Ronel, sug en my 25-jarige dogter, Rebecca, rol haar oë wanneer ek verklaar “maar dit gee ons kans om die dorpie te verken”. 

’n Mens vermors mos nie ’n verdwaal nie. Dié dam is indrukwekkend. Dis die naasgrootste dam in die land en die damwal is op 108 m die hoogste in die land.

Die dorpie Vanderkloof lyk ook fraai. Dis waar Deon Meyer se boek Koors afspeel.

Ná ’n swaai deur die dorpie draai ons af by die groot bord wat ek misgekyk het. By die lodge staan ’n atletiese man, sy vel bruingebrand en die grys hare aan die kant van sy kop kort geskeer.

Hy pak doelgerig groot, waterdigte plastiekvate en koelbokse van ’n treiler af en dra dit na die grasperk langs die swembad.

Dis Gavin Myburgh, die eienaar en hoofgids van Adventure Kayaking. Fier en regop stap hy na my om te groet. “Welkom. Pak af. Pak uit. Maak julle gerus tuis,” sê Gavin.

Agter die rietdakgebou en ’n lapa staan ’n laning groot pekanneutbome waarin  vinke kwetter. Agter die bome lê die rivier blink.

Ons glimlag vir mekaar. Rivierkoors is aansteeklik.

DAG 1

Hoop altyd vir die beste

Die bussie laai ons sowat 4 km stroomop van Hopetown af. Teen dié tyd voel dit asof ons en die ander roeiers reeds ou vriende is.

Ons het gisteraand saamgekuier en Gavin het verduidelik hoe die volgende paar dae gaan werk, én hoe om  ’n opblaasmatras in ’n  piepklein reghoek te vou.

Gavin se vrou, Lorna, sorg saam met nog ’n gids, Steve Moseley, vir die maaltye.

Ons is gretig om in die water te kom. Vinnig-vinnig pak ons die sleepwa af en dra die tweemanrubberbote, beter bekend as crocs, tot by die water.

Gavin het die pak van ’n croc tot ’n fyn kuns vervolmaak – elke stukkie toerusting het sy plek en alles word met stelle rekke van verskillende kleure en lengtes vasgemaak. 

Hoe gaan ek dít môre self gedoen kry, wonder ek. Ronel maak haar voor in die rubberboot tuis.

Ek plop agter in, en stoot die bootjie met die spaan van die oewer af weg. Ons is op die water!

Dis soos fietsry. Teen dié tyd weet ons hierdie soort roei-uitstappies is nie ’n resies nie. Jy dryf meer as wat jy roei. Ons dobber verby die buitewyke van Hopetown, die dorp verbloem deur landerye, en wilger- en bloekombome.

Binne minute spoel die saligheid van die rivier oor jou. ’n Gekwetter tussen die riete op ’n  eilandjie aan my regterkant trek my aandag. ’n Bontvisvanger hang stil in die lug en fokus stip op die water. Ons mik onderdeur die N12 se brug. 

Die gedreun van swaar vragmotors word geleidelik vervang deur die swjoep-swjoep van roeispane. Sowat ’n uur later maak die rivier ’n S-draai na regs en staan ’n stokou staalbrug waar die oewers nouer loop. Dis die Ou Wabrug, ’n nasionale monument wat in 1871 gebou is.

Steve trek sy croc langs ons in. Hy vertel dat ’n kontingent Britse troepe by die nabygeleë tolhuis op die westelike oewer gekamp het tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog. Daar was dae lank gerugte van ’n groot Boere-kommando wat van die ooste op pad was na Hopetown.

Toe die Britte ’n groot stofwolk in die verte gewaar, het hulle summier die brug met dinamiet opgeblaas. Sowat ’n uur later het ’n veewagter met ’n groot trop beeste sy verskyning gemaak.

Van die Boeremag was daar g’n teken nie. Die brug is herbou, maar die verwronge en swartgebrande staalstukke lê steeds in die vlak water en op die oewer.

Nie lank hierna nie beleef Rebecca en haar roeimaat, Peter Domschke, ’n vuurdoop van hulle eie. Gavin roei telkens vooruit en beduie met sy spaan in die lug watter rigting sy volgelinge moet inslaan – maar tot dusver was daar nog net klein stroomversnellings en poer-poer   golfies. 

Nou lê ’n stroomversnelling genaamd Try Me voor ons. In die middel van die water steek ’n rots uitdagend uit... Gavin roei linksom, maar beduie met sy spaan vir die res om regs te hou.

Peter besluit dis beter om vir Gavin linksom te volg. Rebecca kies koers regsom en die croc kies die middeweg en omhels die rots.

Albei word uit die boot gewip. Buiten gekrenkte ego’s is daar geen beserings nie. Hulle dryf tot in ’n baaitjie en doen ’n skadeberaming.

Die boot het nie omgeslaan nie. Alles is steeds styf vas. Een van Rebecca se plakkies is wel onderweg na Alexanderbaai.

Ná die opwinding eet ons middagete onder koeltebome: toebroodjies, vrugte en sap. Daarna dryf ons nog ’n uur of wat stroomaf tot by ons oornagplek – ’n verhewe, plat strand onder ’n koppie.

Almal skrop ’n gemaklike plekkie oop om tent op te slaan. Ons bad in die rivier en smul aan Lorna se hoendergereg en slaai.

Later deel ons stories terwyl die goue uur uitdoof en die Melkweg een, dan vyf, vyftig en vyf miljoen sterre op ’n slag sy verskyning maak. 

DAG 2  

Verby die hel se poorte

Die plesier om wakker te word met die gekwetter van voëls pleks van binnebrandenjins en toeters moet nie onderskat word nie.

Gavin het reeds die gasstofie en -ketel hard aan die fluit vir koffiewater. Gavin roei al 30 jaar lank en het selfs ’n paar medaljes op sy kaggel. Hy is in sy element in die veld.

Hy vertel van die wonderlike tye wat hy al op die rivier gehad het. Baie daarvan roeiwedrenne, maar meermale het hy op sy eie of met Lorna of ’n vriend of twee dae lank rivieraf ontsnap.

Hy werk die helfte van die jaar op oliebore in die Persiese Golf, ander halfjaar bly hy en Lorna op Vanderkloof waar hy sy dae op die dam of op die rivier deurbring.

“Vandag gaan lékker wees,” sê hy. “Opwindend met lekker stroomversnellings!” Rebecca het by ons aangesluit. Sy is stil en haar oë groot. 

Skaars ’n halfuur nadat ons begin roei het, lei Gavin ons na die oorkantste oewer waar ons die bote voor ’n knoets rotse vasmaak. Ons stap ’n entjie op die oewer om ’n stroomversnelling met die naam Hubbly Bubbly van nader te beskou.

Die gidse gaan beurte maak om die bote met een van ons wat voor sit, deur Hubbly te stuur. Rebecca is voor in die koor. Sy jil van plesier terwyl die branders oor haar spat en Wesley Slabbert, ook ’n gids, verwoed agter roei om die boot se neus reguit te hou.

Ronel skiet deur saam met Gavin, en ek en Steve maak dit ook ongedeerd deur. Almal is veilig, maar ’n kilometer later trek Gavin weer oor – dié keer na die regterkantste oewer.

Voor ons lê die berugte Hell’s Gate. Dis nie ’n stroomversnelling nie, dis ’n malende waterval besaai met rotse!

Selfs die mees ervare roeiers waag dit nie sommer hierdeur nie. Die ses mans dra die swaargelaaide crocs een vir een óm die dreunende gevaarte en plaas hulle 150 m verder weer versigtig by ’n  inhammetjie in die water.

Enkele minute later roei ons amptelik die 30 km lange Thunder Alley binne. Hier maak die Karoolandskap plek vir donker basaltkranse en -rotse aan alkant. Dis asof jy deur ’n swart marmerkatedraal dryf. Almal en alles is tjoepstil. 

Die stilte word verbreek deur ’n onaardse ge-‘sjreee’! ’n Nonnetjieuil skiet skielik op uit ’n  rotsskeur en kies koers die blou lug in.

Is dit dalk ’n waarskuwing vir iets? Dit voel skoon onheilspellend...Die drywende meditasiesessie word onderbreek toe Nannie de Villiers, Steve se roeimaat, langs ’n krans intrek en opgewonde vir Rebecca wink.

Haar plakkie het op die een of ander manier ongedeerd deur die poorte van die hel gekom!

Die laaste groot stroomversnelling van die dag is Sarel Sidewinder, maar teen dié tyd is ons min gepla. As ’n plakkie die hel kan oorleef... Ons seil deur soos gesoute roeiers.

Gavin lei ons na ’n baaitjie. Ons trek die crocs uit die water en klouter die basaltrotse uit sodat ons bo-op ’n plato kamp kan opslaan.

Die blikkies Windhoek-tapbier is nog koud en Lorna se lasagna is uit die boonste rakke. Later in my tentwonder ek hoeveel ’n huisie op Vanderkloof kos.

DAG 3

Die roep van visarende

Vanoggend is niemand haastig om aan die gang te kom nie. Ons het vroeg opgestaan nog voordat die son kop uitsteek om vir oulaas met ’n koppie koffie die stilte te geniet.

Dis een van die min kere wat ek ’n visarand sien voordat ek hom hoor.

Hy sweef laag oor die water, swenk na links bo-oor ons en gaan sit in ’n boom skaars 100 m verder. Ons sit vir ’n minuut of wat en kyk na mekaar voordat hy weer uit die boom wip en stroomop vlieg.

Waarskynlik laat vir ’n ontbytafspraak met ’n geelvis.

Vandag is ’n rustige roei na ons uitklimpunt sowat 20 km stroomaf. Dis net voor Douglas waar die Vaalrivier ’n entjie verder kom bladskud met die Oranje.

Die rivier maak ná Thunder Alley wyd oop voor jou met wildplase weerskante waar jy elke nou en dan ’n koedoe teen ’n rantjie sien uithardloop.

Dis asof die visarend sy maats gaan roep het. Hierdie keer hoor jy hulle kenmerkende ‘kieou-kou-kou’ voordat jy hulle sien.

In ’n stadium draai ses bo ons, en maak beurte om voor ons laag oor die water te duik. Ronel probeer haar bes om die aksie op haar selfoon vas te vang.

Die kamera met die lang lens is op Gavin se boot in ’n droësak toegewikkel en vasgegespe.

“Geniet dit net,” sê ek. Sy bêre die selfoon in ’n waterdigte sakkie, en leun terug in die boot om die arende se laaste geskenk aan ons dop te hou... hier in die middel van nêrens waar ’n  rivier jou voed.

WEET VOOR JY WAAI

Wanneer kan ek roei? Danksy hidro-elektriese kragopwekking by die Vanderkloofdam word water elke dag in dié deel van die rivier vrygelaat wat beteken die rivier vloei altyd goed.

Dit raak warm in die somermaande (tussen September en Maart) en die winters, veral die aande, kan koud raak.

Adventure Kayaking bied deurlopend toere, van een tot vier dae lank. Ook op Vanderkloofdam. Doen navraag oor datums. 

Wat pak ek in? Peusel- en drinkgoed (onthou, geen glas word op die rivier toegelaat nie). Ou tekkies of waterskoene. ’n Ligte reënbaadjie, swembroek, kamera, verkyker, kopflits, handdoek, sonroom, sonhoed en donkerbril.

Die son is giftig, dra dus lang moue en ’n ligte, lang roeibroek. Gemaklike klere en skoene wat jy saans kan dra. Slaapsakke in die winter (in die somer is dit nie nodig nie).

Adventure Kayaking verskaf die res.

Koste R4 500 p.p. vir 4 dae (kinders jonger as 12 kry 20% afslag). Dit sluit in gidse, tente, opblaas-matrasse, droësakke, alle etes en vervoer na die begin- en eindpunt. 

KONTAK 082 454 0112; adventurekayaking.co.za