foto’s Cyril Klopper
4x4-roete
4x4-roete

Ons moet uit die staanspoor sê die Doodsakkerroete in Angola is ’n gevaarlike bestemming. Selfs ervare avonturiers soos Johan Badenhorst se Voetspore-span het hulle rieme hier styfgeloop toe hoogwater hulle oorval het.

Ons raai jou dus ten sterkste af om die Doodsakker op jou eie aan te durf, maar moedig jou wel aan om eendag saam met vriende op te ruk na Angola en hierdie bul by die horings te pak.

Hier volg ons ondervinding met die Doodsakker.

“Doodsakker” is die militêre term vir ’n hinderlaag waarin ’n vyand toegelaat word om tot teenaan verskuilde troepe te vorder voordat daar van alle kante af op hulle losgebrand word – in Engels staan dit bekend as ’n kill zone.

Die eerste ding wat jy jou moet afvra, is of jy werklik dié hinderlaag vrywillig wil binnegaan, en dan of jy hom van onder na bo of andersom wil aandurf. As jy na ’n padkaart kyk, lyk die antwoord voor die handliggend: By die Ruacana-grenspos in die noorde van Namibië swenk jy bloot links in die rigting van Angola se kus, ry ’n paar draaie tot by die Kuneneriviermonding, en van daar af skiet jy op na die Doodsakker.

Dis egter aansienlik makliker gesê as gedaan, want dié roete behels dat jy eers 420 km van die slegste klipperige paaie denkbaar moet ry – en daar is geen vulstasies en werkswinkels langs die pad nie.

Boonop moet jy op talle plekke riviere oorsteek – iets wat gevaarlik kan wees in die seldsame geval dat dit wel reën. Boonop is Angola die land ter wêreld wat die ergste met landmyne besaai is – meer as ’n halfmiljoen landmyne in 1 200 mynvelde oor ’n gebied van 100 miljoen vierkante meter moet nog ondersoek word – en heelparty van daardie landmyne lê iewers langs die pad tussen Ruacana en Foz du Conene en wag op iemand wat hulle voertuig verlaat om ’n draaitjie te loop.

In ’n opname in 2014 is bevind nagenoeg 88 000 Angolese burgers is deur landmyne vermink. Dit is dus geen grap nie.

’n Veiliger manier om by die Doodsakker uit te kom is om met ’n breë teerpad van die Oshikango-Santa Clara-grenspos af tot by die stad Lubango te ry. Lubango se sakekern is ’n miernes wat jy eerder wil vermy, tensy jy die Monumento ao Cristo Rei-Christusbeeld op ’n heuwel bo die stad wil besoek of verby die moderne lughawe wil ry waar ’n Kubaanse Mig 21-vegvliegtuig op ’n paal ten toon gestel word.

Ekonomies lyk dit egter of dinge goed gaan hier. In strate wat herinner aan Hilbrow ná ’n Oujaarsaand sien jy ’n Porsche Cayenne hier en ’n Range Rover daar. Iemand maak dus geld, en te oordeel na die nuwe geboue en winkels wat plek-plek opskiet, syfer die geld weldra deur na die gewone man op straat.

Die pad tussen Lubango en Namibe is goed geteer met slegs enkele vlak slaggate wat deurentyd met grond gevul word – deur vroue en kinders.

Sowat 30 km buite Lubango daal jy teen die Serra da Leba-pas met sy dramatiese rotsformasies en ’n reeks haarnaalddraaie af na die kusplato.

Namibe is ná dekades van onrus besig om sy voete te vind. Deesdae is hier groot inkopiesentrums met winkels soos Shoprite, Debonairs en Hungry Lion, en die Welwitschia Mirabilis-lughawe ’n ent buite die dorp is blinknuut en op ’n internasionale peil.

Dit blyk dat Oorlog se getroue agterryers – Pestilensie, Hongersnood en Dood – deesdae besig is om uit te sak en plek maak vir blinker Angolese vosperde.

Van Namibe af ry jy 47 km suid met ’n uitstekende streekpad wat onlangs deur ’n Chinese maatskappy geteer is. Draai af by ’n padpredikant wat jou na die Flamingo-lodge beduie.

Ry nou 25 km in die droë loop van die Rio dos Flamingo (die Flaminkrivier) tot by die lodge. In die rivierloop sal jy honderde welwitschias sien. Dié plant word gewoonlik met Namibië vereenselwig, maar hier in die suide van Angola groei hy om elke hoek en draai soos onkruid.

Bly ’n aand of twee by die Flamingo-lodge en vra die bestuurder uit oor doendinge naby die lodge. Die oord se eienaar, Rico Sakko, is ’n legende in die omgewing, maar jy sal hom deesdae iewers langs Angola se 1 600 km lange kuslyn raakloop eerder as by die lodge self. Rico sê sy dae van gasheer speel is verby en hy wil terugkeer na die rede waarom hy in die eerste plek in 1990 Angola toe gekom het: om vis te vang.

Hier kan jy die jongste inligting oor die Doodsakker kry óf jou gasheer by die lodge betaal om jou deur die Doodsakker te lei as jy katvoet is om dit sonder ’n toergroep te pak. Die tarief vir hierdie diens hang af van verskeie faktore.

Hoe laat moet jy die Doodsakker aandurf? Die kort antwoord is met laagwater. Die maan draai klokslag om die aarde en sterrekundiges weet genoeg van sy wentelbaan sodat jy die getye jare vooruit haarfyn kan bespied.

Daar is heelwat webwerwe wat jy kan raadpleeg om jou besoek aan die Doodsakker te beplan. Gaan na  tideforecast.com of  tides4fishing.com en druk ’n week of maand lange getykaart by die huis op papier uit om saam te neem.

Die heel veiligste is om jou besoek aan die Doodsakker te beplan rondom springgetylaagwater, wanneer die see op sy verste van die Doodsakker se duine af terugtrek.

Die roete begin op die dorp Tombwa, 46 km suid van die Flamingo-lodge se padpredikant. Maak vol by die Girassol-vulstasie vóór jy die dorp binnery en maak seker jy dra genoeg brandstof sodat jy minstens 250 km ver kan ry met viertrek, laestrek en ewenaarslotte permanent ingehaak.

Verlaag ook jou banddruk hier vir uiterste sandrytoestande.

Die afdraai na die Doodsakker is nie duidelik gemerk nie, maar dis ’n paar meter ná die vulstasie en voor die dorp se begraafplaas by S15.79831 E11.87806.

Ry agterom die begraafplaas, verby ’n windverwaaide vullisstortingsterrein, en volg ’n sanderige tweespoorpad vir 14 km suidwaarts tot by die Parque do Iona National (die Iona- nasionale park) se hoofhek.

Amptenare hier skryf jou voertuig se registrasienommer neer en tel hoeveel insittendes in elke voertuig is. Jy kry dan ’n toegangspermit en betaal ’n heffing van ongeveer R40 per voertuig (in kwanza, die plaaslike geldeenheid). Die heffing kan egter erg wissel, en tensy jy Angolees-Portugees magtig is, gaan jy nie weet waarvoor jy betaal nie – dra maar ’n beursie vol kwanzas, net ingeval.

Van die hoofhek af kan jy met ’n tweespoorpad 8 km suidweswaarts see toe mik tot by die wrak van die Vanessa Seafood, wat op sy nooiensvaart hier gestrand het, en dan volg jy die kus verder suid.

Ons stel egter voor jy draai dadelik by die hek suid en ry oor ’n uitgestrekte pan. Links en regs van die tweespoorpad op pad na die strand is groot voëlkolonies waar derduisende duikers op hulle neste broei.

Moenie in die versoeking kom om die swerms swart voëls met jou trokkie op te jaag nie, want dit gee slinkse meeue die kans om op die onbewaakte neste toe te sak en die duikers se eiers op te vreet.

Die sandduine lê laag langs die strand en jy is redelik na aan Tombwa. Dit is nou ’n puik geleentheid om te toets hoe jou trokkie op die strand se los sand presteer. As jy sukkel, moet jy jou bande se lugdruk nóg verder verlaag.

Leer watter rat die beste werk vir hierdie soort sand en ry ’n ent tot jy vertroue het dat jy die Doodsakker sal kan baasraak. Jou konvooi gaan ongeveer 40 km strandlangs ry tot julle die ware Jakob tref.

Teen dié tyd moet almal in jou groep hulle ry goed ken, want die kill zone begin hier, my mater!

Die Doodsakker begin in erns wanneer die duine langs die see té hoog raak om teen hulle uit te ry en die strand slegs ’n paar meter breed is.

Daar is geen bordjie met ’n skedel en gekruiste bene en ’n streng waarskuwing nie; dis eerder ’n geleidelike bewuswording dat daar nie meer omdraaiplek is nie.

Jou bostrokkie wil-wil vasval, die see spoel dikwels onderdeur jou wiele, en hoewel die Doodsakker slegs 60 km lank is, voel jy instinktief julle moet opskud om hier deur te kom.

Die beste raad is dat jy sowat ’n uur vóór absolute laagwater by die ingang van die Doodsakker (min of meer by S16.28427 E11.81087) moet wees en dit teen ’n kalm spoed – net vinnig genoeg dat jy nie vasval nie – aandurf.

Jou trokkie se linkerwiele, aan die droë duine se kant, voel of hulle heeltyd wil vasval terwyl die regterkantste wiele op die stywe nat sand die meeste vastrap geniet.

Die stuurwiel word dus die heeltyd na die sagte droërige sand toe getrek terwyl jy eintlik op die ferm nat sand wil ry. Maar as jy té na aan die see ry, gaan jy onmiddellik weet as ’n brander jou tref – die water pluk aan jou trokkie se wiele en dis duidelik dat die see jou wil insluk.

Ja, selfs teen laagwater gaan jy plek-plek deur die sout seewater moet ry – dis onvermydelik.

Dit is ’n fyn balans tussen vasval en wegspoel, en die voorste ou in jou konvooi moet voel-voel deurry om uit te vind waar die beste vastrapplek is. Die res van die konvooi moet dan in sy spoor volg.

Een feit staan soos ’n paal bo water: Moenie onnodig stilhou nie, want jy kom dalk nie weer los nie.

Dis moeilik om te glo, maar onder hierdie strand lê ’n rotsbodem, en as die see die vorige nag onstuimig was, sal massiewe klippe onverwags jou pad versper en dan moet jy óm hulle ry, deur die see. Dis by dié klippe waar mense hulle voertuie in die verlede aan die see afgestaan het, en waar iemand in die toekoms óók sy voertuig gaan verloor.

Rico Sakko, eienaar van die Flamingo-lodge, vertel dat die branders net drie keer aan jou bakkie hoef te raak: Met die eerste klots val jy vas, met die tweede golf spat daar water teenaan jou voorruit en jy wéét jy’s in die moeilikheid, en die derde brander vat jou see toe...

Daar is stories van mense wat nie eens tyd gehad het om hulle beursies en paspoorte te gryp voordat hulle voertuig meegesleur is nie. Daarom is dit van die allergrootste belang om eers met die mense by die Flamingo-lodge te praat en uit te vind of die rotsbodem oopgespoel is vóór jy die Doodsakker pak.

Halfpad deur die Doodsakker, 33 km en sowat ’n uur nadat jy hom binnegery het, raak die strand breed en jy kan veilig aftrek.

Die keuse lê nou vir jou voor of jy wil aanstoot om die Doodsakker in een sitting klaar te maak en of jy jou voertuig hier wil los waar dit veilig is en die doendinge halfpad deur die Doodsakker wil ervaar.

Indien jy wil aanstryk, lê daar nog 27 km van dieselfde uitdagende sand voor voordat die woestyn oopmaak en jy nie meer teenaan die see hoef te ry nie.

Jy’s nog nie uit die moeilikheid nie, want die sand is steeds los, maar as jy dit tot hier gemaak het, is die stryd méér as halfpad gewonne. Nou kan jy verder suid mik na Foz do Cunene (55 km hiervandaan) waar polisiebeamptes jou papierwerk nagaan wat jy vanoggend by die Iona- nasionale park se hoofhek ontvang het.

Hierna kan jy deur die binneland terug noordwaarts reis na Namibe óf ooswaarts mik tot by die Ruacana-grenspos met die slegte pad waarteen ons jou vroeër gewaarsku het.

Óf jy kan maak soos ons: Klim op ’n skuit en vaar 12 km óór die horison tot by Ilha dos Tigres (Tiereiland).

Ons het met die Flamingo-lodge se rubberboot gevaar, maar jy kan uiteraard jou eie opblaasboot bring. ’n Elekriese motor van 20 Pk. met die ekstra battery van jou dubbelbatterystelsel behoort die 12 km plat see binne ’n halfuur baas te raak.

Raadpleeg eers die weerburo om seker te maak ’n storm is nie hierheen op pad nie. Op Ilha dos Tigres is die Portugese spookdorp São Martinho dos Tigres, wat in 1975 met die onafhanklikheidswording van Angola ontruim is.

Hier is g’n mens meer nie, maar die ou Portugese geboue is pragtig fotogenies en beslis ’n besoek werd.

Ná jou besoek aan die eiland kan jy saam met die inkomende gety terugvaar na die Doodsakker. Jy gaan nie meer verder kuslangs kan ry nie en dis tyd om jou tent op te slaan in ’n kampplek (S16.57494 E11.82197) wat die Flamingo-lodge op ’n beskutte pan tussen die duine uitgelê het.

Ry ’n draai deur die duine, maar pasop, want sommige van hulle is tot 200 m hoog!

Of haal jou visstok uit en hengel tot laatnag in die nabygeleë Fred-se-baai.

Die volgende oggend – ’n uur vóór laagwater – moet julle terugkeer na Tombwa en by die hek rapporteer dat julle die Doodsakker oorleef het, óf julle kan suid mik na Foz do Cunene.

Indien hierdie artikel dit maklik laat klink, moenie dit glo nie! Jy moet dapper wees om hierdie roete aan te pak, jy moet ’n ervare bestuurder wees en dit verg hoërgraadlogistieke beplanning.

As nie een van dié eienskappe op jou van toepassing is nie, moet jy, soos ons, eerder op ’n gids staatmaak om jou deur die Doodsakker te kry. Hoe ook al, dit gaan ’n onvergeetlike ervaring wees! 

’n Pas der passe

Die Serra da Leba-pas is in die vroeë jare sewentig voltooi en na die pas se ingenieur, Mária Alice Leba, genoem. Sy is egter vóór die voltooiing daarvan oorlede.

Die boonste deel het 7 haarnaalddraaie en hy’s bekend vir sy vlak hellings – om te keer dat vragmotors beheer verloor en oor die afgrond stort.

GPS: S15.07185 E13.23612

Die rooi stad

As jy van Shambasana af deur die binneland oor Espenheira tot op Foz do Cunene ry, sal jy verby die sogenaamde Rooi Stad langs die Rio Carvalhoa (die Carvalhoarivier) reis.

Dis ’n indrukwekkende kloof met sandsteenkranse vol ysteroksied wat bo jou uittroon en jou nietig laat voel.

GPS: S15.74164 E12.13613

’n Kubaanse basis

Kol. Jan Breytenbach van die Suid-Afrikaanse weermag in die ou bedeling is dalk die hoenders in dat hy hierdie ondergrondse Kubaanse basis gemis het toe hy en sy Bravo-groep in die laat jare sewentig op Swapo jag gemaak het.

Daar is talle ammunisieopslagplekke in Angola, maar hierdie een is veilig verklaar.

GPS: S15.61692 E12.18077

Die canyon

Hierdie ravyn lê sowat 5 km oos van die Flamingo-lodge. Hoewel dit herinner aan Petra in Jordanië en ander antieke stede in ’n skeurvallei, is die canyon (hy’t nie ’n naam nie) in geografiese terme bloedjonk.

Die sand is kraakvars en die bakkranse is deur wind uitgekerf eerder as water.

GPS: S15.58130 E12.05441

Só het ons gereis

Toyota Suid-Afrika het sewe Land Cruisers by die Flamingo-lodge laat aflewer. Die voertuie het uit Gauteng gekom, deur die Oshikango-grenspos in Namibië tot by Lubango in Angola, en is van daar af tot op Namibe geneem.

Daarna is hulle al die pad terug Gauteng toe, ’n reis van sowat 5 000 km.

Agt joernaliste, onder wie Cyril, is per vliegtuig van Suid-Afrika af oor Namibië tot in Angola geneem. Toyota Suid-Afrika het vir die vlugte en verblyf betaal.

Die doel van die reis was om die nuwe Toyota Land Cruiser 79 Namib bekend te stel, hoewel Cyril die Doodsakker met ’n Cruiser 200 gery het.

Cyril het wel Ilha dos Tigres met ’n Cruiser 79 Namib verken – die eerste voertuig op die eiland in 45 jaar. Die voertuig is per vlot na die Doodsakker teruggeneem. Die vlot is met ’n rubberboot land toe gesleep en het halfpad deur die vaart uitmekaar begin val én die tou het gebreek, maar dis ’n storie vir ’n ander dag...

Hulle het dieselfde nag om 22:00, terwyl dit laagwater was, met die Doodsakker teruggery.

Teen dagbreek is ontdek die skiereiland waarop hulle dorp gestaan het, het in ’n eiland verander.

Op die pan naby die park se hoofhek het ’n swerm duikers soos kamikaze-vegters op die voertuie se hoofligte afgevlieg en die voorste Cruiser se voorruit, snorkel en sierrooster het dit lelik ontgeld.

Cyril beweer sedertdien om ná ’n harde dag agter die stuur teen middernag ’n bier te knak by jou eindbestemming is die lekkerste ding op aarde. Ons glo hom.

Die dood van São Martinho

Gedurende die nag van 14 Maart 1962 het ’n kragtige storm aan die kus van Portugees-Angola losgebars. Die inwoners van die dorp São Martinho dos Tigres kon veilig in hulle huise skuil, maar teen dagbreek is ontdek die skiereiland waarop hulle dorp gestaan het, het in ’n eiland verander.

Die smal landbrug wat die dorp met die vasteland verbind, was weggespoel... en in die plek daarvan het 12 km oopsee gelê.

Al drie visfabrieke op Baia dos Tigres (Tierbaai) – nou onverwags herdoop tot Ilha dos Tigres (Tiereiland) – se varswatertoevoer uit die Kunenerivier is deur die storm vernietig.

Die visfabrieke was die enigste bestaansrede vir São Martinho dos Tigres, en die Portugese regering het dadelik die saak probeer beredder omdat die uitvoer van vismeel en geblikte seekos ’n lonende inkomste uit die kolonie gegenereer het.

Die pypleiding kon egter nie herstel word nie en baggerbote moes 13 jaar lank onverpoos tussen Foz do Cunene se pompstasie en Ilha dos Tigres vaar met tenks vol kosbare vars water.

Die wins uit geblikte vis het duidelik die koste van diesel oortref. Dit was ’n ongerieflike oplossing, maar die koersvaste burgers van São Martinho het nietemin volhard.

Toe, vyf jaar later, tref nóg ’n ramp die eilandbewoners: Die Suid-Angolese lugdiens het 1-2 weeklikse vlugte uit Moçâmedes (vandag Namibe) na Ilha dos Tigres bedryf. Kapt. Carlos Teixeira het op die oggend van 17 Junie 1967 in digte mis uit Moçâmedes na São Martinho vertrek. Aan boord van die 6 sitplek-Beechcraft Bonanza was dr. José Marques, wat die hospitaal op die eiland bestuur het, en vier skoolkinders: Carla Martins (14), Conceição de Carvalho (12), Laurinda Nascimento (14) en Tereza Margarido (16).

Die vlug moes net ’n uur duur en dit was ’n roete wat Teixeira al honderde kere afgelê het, maar teen die middag was daar steeds geen teken van die vliegtuig nie.

Vissersbote het vergeefs op en af teen die Zona de Riscos (of Risikosone, die Doodsakker se oorspronklike – minder dramatiese – naam) gevaar in die hoop dat kapt. Teixeira dalk ’n noodlanding op die strand gemaak het.

Geen teken is egter gevind van die Bonanza nie, maar een vaartuig het laatmiddag gerapporteer dat sy bemanning iets in die duine sien blink het.

Tereza Margarido se pa, Hilario, ’n enkelouer, was teen dié tyd al rasend van bekommernis en het vroeg die volgende oggend die 12 km met ’n vissersboot na die Doodsakker oorgesteek op soek na sy enigste kind. Hilario is vergesel deur agt Angolese vissermanne wat hulle ontferm het oor sy geestestoestand.

Ná 36 uur in die woestyn se vuurwarm duine, met bebloede voete en sonder water, het ’n lugmagvliegtuig die mans gewaar en ’n brief laat val waarin opdrag gegee is dat hulle moet terugkeer na die Doodsakker waar ’n konvooi reddingsvoertuie uit Porto Alexandre (nou Tombwa) hulle sou oplaai – die Bonanza se wrak is gevind...

Hiraldo is oorval deur verdriet en was só uitgeput dat hy nie terug strand toe kon loop nie. Hy is wel later gered deur joernaliste in ’n Jeep wat vir die nuusblad Notícia Luanda oor die tragedie gerapporteer het.

Die uitgebrande wrak van die Bonanza het op die lysy van ’n 120 m hoë duin gelê. Niemand het die ongeluk oorleef nie. Die voorval het São Martinho se mense só diep geraak dat hulle skaars ag geslaan het op die politieke onstuimigheid wat op dieselfde tyd in Portugal én Angola aan die broei was.

Die dorp het stadigaan begin leegloop, en in Oktober 1975, enkele weke voor die onafhanklikheidswording van Angola, is die handdoek uiteindelik ingegooi.

Die inwoners van Ilha dos Tigres het saam met derduisende Portugese vlugtelinge – die sogenaamde retornados – teruggekeer na hulle land van herkoms om van burgeroorloë in die voormalige kolonies te ontsnap, selfs al het ’n klomp van hulle nog nooit ’n voet in Europa gesit nie.