Jy sien hulle gereeld – swerms duiwe wat sierlik deur die lug sirkel. Dis nie gewone tortelduiwe wat net rondtjopper nie. Nee, dis topfikse vlugduiwe, marathonatlete en ’n sport waarvan weinig weet. En tog bekoor dit van die beroemdstes onder ons.


WOORDE SOPHIA VAN TAAK FOTO’S SAM REINDERS


Hierdie artikel is benoem vir 'n ATKV-Mediaveertjie in die "Beste sportartikel"-kategorie.


Wat het koningin Elizabeth, Elvis, Mike Tyson, Noag en Bles Bridges gemeen? Elkeen het al ’n duif se stertvere gestryk en hom dan laat los met die hoop dat hy weer sal terugkom. Want dis wat ’n vlugduif doen – hy sal altyd weer terugvlieg huis toe. 

Nugter weet hoe hulle dit regkry. Party beweer dit het iets met die aarde se magneetvelde uit te waai, ander glo’n duif hoor bitterlae klankfrekwensies wat van die landskap af terugbons. Maar niemand kan regtig sê hoe daardie korreltjie grysstof oor honderde kilometers ver koers hou nie. 

Vir ’n buitestaander lyk die vlieg van duiwe dalk na ’n stokperdjie vir ou ooms. Maar gaan sit ’n bietjie langs ’n vlieghok en hou dop hoe ’n duif in die lug speel voordat hy aftuimel en breëbors kom pronk ná ’n paar uur op die vlerk. Dis ’n heel ander wêreld hierdie, met ’n klankbaan van diep gekoer en die snoesige reuk van mielies en donsvere.

Bennie Wiggins is op sy gelukkigste in die vlieghok.


’n Boeiende ‘oumansport’


Dis ’n stil Saterdagmiddag in Oktober en in Bennie Wiggins se agterplaas in Wellington kan jy die opwinding aanvoel. Hy en ’n duiwevriend, Herman Cronjé, sit rusteloos en wag dat die duiwe moet inkom. 

Die Limietberg brand en die twee mans se oë fynkam die asvaal lug. Bennie weet waar sy vlieërs gewoonlik deur die berg kom. Maar al die rook in die lug kan sake moeilik maak. 

Hy vlieg al duiwe vandat hy sy verstand het, sê Bennie. “Dis waarmee ons seuns ons besig gehou het: Jy’t tol en albaster gespeel en jy’t diere gehad – konyne en malmokkies, kapokkies, Leghorns… Op 14 het ek ook begin duiwe vlie’. 

“Daardie jare kon jy nog jou duiwe per mandjie op die trein iewers heen stuur, met ’n briefie vir die stasiemeester om hulle op ’n sekere tyd los te laat. Jou adres was op die mandjie en vir ’n sikspens is dit dan weer spoorlangs aan jou terugbesorg.”

Bennie lyk bekommerd en kyk kort-kort om – dalk het hulle saam met ’n klompie Skeireiland-duiwe verder suid verbygevlieg en kom nou van Durbanville se kant af in. “Vandag is ook kwaai warm vir die duiwe,” prewel hy. 

Herman se duiwe vlieg nie vandag nie. Hy sit en geselsies maak oor daardie één jaarlikse wedvlug waar groot geld en prestige op die spel is: die Suid-Afrikaanse Miljoendollar-wedvlug. Dié internasionale kompetisie is al in sy 20ste jaar en duiweboere wêreldwyd skryf in met die hoop om ’n deel van die miljoen los te slaan.

Herman het al in die verlede deelgeneem, maar as ’n reël het amateurduiweboere nie veel erg aan die kompetisie nie – hulle koop wel soms ná die tyd van die kampioenduiwe (wat pryse van derduisende rande stuk haal) op ’n veiling. 

 “Die Million Dollar-duiwe word as kuikens van regoor die wêreld Suid-Afrika toe gestuur en die hele spul word dan saam grootgemaak. Selfde kos, selfde oefening, als. En ons praat hier van twee-, drieduisend duiwe, hoor.”

Dié wêreldbekende wedvlug se vlieghok was vroeër jare by Sun City, deesdae is dit by Sandton en op die groot dag word die duiwe buite Douglas in die Noord-Kaap losgelaat vir die terugvlug van 521 km. 

Herman onthou die aanskoulikheid van die miljoendollarvlug se mandjieaand: “Jong, dis te wonderlik! Hulle ry ’n grote lorrie by Sun City se Super Bowl in en binne ’n ommesientjie laai hulle al daardie mandjies vol duiwe op hom. En die ménse wat jy daar sien… kyk! ’n Stuk of 33 lande se vlae hang so uit die dak. Daar’s Duitsers, Belge, Chinese… Tot sjeiks wat daar rondstap.”

 “Hier swaai ene!” onderbreek Bennie hom en spring op. “Hier’s ’n duif! Hier’s ’n duif!” Asof uit die niet stryk ’n duif voor die hok neer en stap doodluiters by die hok se luik in en oor die sensor. Bennie draf nader om sy nommer en inkomtyd op die klok te lees. “Three-one-five-seven… twaalf, ag-en-twintig, drie-en-veertig.”

Die “wiek-wiek-wiek” van vlerke kondig nog ’n landing aan en duif nommer twee koes by die hok in. “Three-one-four-seven… twaalf, twee-en-dertig, viertien.”

Bennie gryp sy selfoon en vir die volgende paar uur is daar g’n einde aan oproepe en boodskappe nie – daar heers ’n goeie gees onder die duiweboere, en elke keer as een ’n duif klok, moet hy eers so ’n bietjie by die ander brag

Party boere gebruik nog 'n ou handklok


Maar hoe werk die besigheid en wat beteken al daai syfertjies? Dit lyk nie asof Bennie my hoor nie – ’n derde duif het opgedaag, maar bly sit op die dak. “Kom nou! Kom af daar!” smeek Bennie vir Saggeus, en eindelik wip hy af en trippel hok toe. Verligting. Met sy eerste paar duiwe veilig tuis, kan Bennie nou ontspan. Hy verduidelik: 

’n Duif dra om elke pootjie ’n ring – op die een staan sy naam (“soos Three-one-five-seven”) en die ander is die seisoenring. Dié se nommer word aan die begin van die vliegseisoen op jou vliegklub se rekenaarstelsel gestoor. Wanneer jou duif van ’n wedvlug af tuiskom en oor die vlieghok se elektroniese sensor stap, registreer jou klok sy seisoenring se aankoms en tyd; dit werk nes die rekenaars wat ’n marathonatleet se wedlooptyd “lees” wanneer hy, met ’n elektroniese skyfie in sy tekkieveter vasgeknoop, oor die eindstreep tree.

’n Vliegseisoen strek van Junie tot middel Oktober. Elke Donderdagaand bring die klublede hulle duiwe na die klubhuis toe waar die duiwe se seisoenringe ingeskandeer word vir die komende Saterdag se wedvlug. Daarna word die duiwe saam gemandjie, reg om na die loslatingspunt toe te vertrek.

Die klubs is saamgegroepeer in federasies wat weer om die beurt unies vorm, wat dan weer deel is van ’n groter streek. Bennie behoort tot die Wellington-posduifklub, wat onder die Boland-duiweunie val en hulle deel die Wes-Kaapstreek se duiwetrok met ’n paar ander unies. Die trok begin doer in die skiereiland mandjies oplaai, dan kom hy deur Wynberg en die noordelike voorstede en laai nog op by Parow, Bellville-stasie, Brackenfell… en so net voor middernag trek hy by die Paarl in vir die Boland se mandjies. Teen hierdie tyd is al die mandjies geseël sodat niemand met die duiwe kan lol nie. 

En dan is dit langpad ry – Beaufort-Wes, Leeu-Gamka, Hanover of Kimberley toe. Elke streek het sy eie loslatingspunte regoor die platteland. Vroeg op die Saterdagoggend word die mandjies se seëls gebreek en op die wegspringtyd gelyk oopgemaak. En dan, terwyl ander ouens Curriebekerrugby kyk, sit die duiweboere die lug en hulle horlosies en dophou… So gaan dit elke naweek tydens die vliegseisoen. 

Maar selfs al klok jy eerste ’n duif, het jy nie noodwendig die wedvlug gewen nie. Die GPS-koördinate van elke duif se vlieghok bepaal sy afstand van die loslatingspunt af. En op die ou einde wen die duif met die vinnigste vliegspoed tussen die twee punte. En wie se duif dít is, vind ’n mens eers uit wanneer almal op ’n Saterdagaand “uitlui”: jy gaan koppel jou vlieghok se klok aan die klub se stelsel, die data word aflaai en dan met die ander klubs en unies s’n vergelyk. 

Elke Donderdagaand bring die klublede hulle duiwe na die klubhuis toe waar die duiwe se seisoenringe ingeskandeer word vir die komende Saterdag se wedvlug.


Bennie dink seker ek vind dit vervelig, want hy voeg met ’n laggie by: “Dis maar ’n oumansport, jong! Maar dis ’n móói sport.

“Die anderdag bel ’n man in ’n rolstoel my, hy wil nou begin duiwe vlieg. Toe laat weet ek die ouens hier’s ’n man wat kuikens nodig het. En in ’n kwessie van drie maande het ek vir hom oor die 30 kuikens bymekaargekry – verniet! En ek’t gesê ek soek nie gemors nie, ek soek julle béstes.”

Dit smaak my dís hoe dit buite die Miljoendollar-kringe werk: vir die amateur-duiweboere gaan dit nie oor geld en weddenskappe nie. En hulle is nie suinig met sy kuikens óf kennis nie.

“Ek het al baie duiwe gekoop en dan wérk hulle nie. Die beste duiwe wat ek in my hok het, is duiwe wat ek verniet gekry het. Soos Tien-ses-nul-agt, my Springfontein-hen. Ek het R1000 vir dié duif se pa betaal, maar die ma het ek by ’n vriend geleen. 

“Ek onthou nog, die weer was slég daai dag, bewólk! Hulle het by Springfontein in die Vrystaat weggespring – dis 736 km van my hok af. Dit het nog boonop gerëen in die berge en kwart voor sewe daai aand – dit was al donker gewees – toe’s dit net so ‘sjieeeuw’, toe’s sy in die vlie’hok en ek klok haar. Op die ou einde was sy die enigste duif in die héle Wes-Kaap wat dié aand nog huis toe gekom het!” vertel Bennie blinkoog. 

“Vanjaar met Springfontein wou ek haar weer stuur, maar toe’t sy nou ’n mannetjie en wil lê.”

Dit raak weer stil om die vlieghok. ’n Blou plastiekgieter, ’n reënmeter en ’n ou netbalring teen die huis se buitemuur wag geduldig saam op die volgende duif. “Ek sal maar weer ’n spanpraatjie moet hou,” mor Bennie. “Oubaas het dan so baie moeite met julle gedoen!” 

En hy hét. Vlugduiwe word daagliks uitgelaat om hulle eie rigting in te slaan en daar’s ook weeklikse oefenvlugte van nabygeleë dorpe of bergpasse af. Hulle dieet word haarfyn gemonitor – net die beste mielies, ertjies, sonneblom- en lynsaad. Om van die medikasie nie te praat nie: ’n Duif raak maklik olik en moet ingeënt word teen Newcastle-siekte, die paramyxo-virus, pokke en wat nog. En hulle kry vitamien- en mineraalaanvullings. 

Tog is daar steeds dinge buite jou beheer – soms vlieg hulle heelpad teen sterk kopwinde in, af en toe tref een ’n telefoondraad of raak slaags met ’n valk en kom weke later sonder sy stertvere by die huis aan. 

Vandag is dit egter hierdie hitte, sê Bennie. “Die manne in die Karoo vertel my hulle sien partydae hoe ’n dors duif afduik in ’n plaasdam in. Dan dryf hy met sy vlerke oopgesprei om eers af te koel. En net so uit die water uit styg hy weer op! Dit sal wraggies mooi wees om te sien...”

So maak ons agterplaaspraatjies terwyl die een Wiggins-duif na die ander huis toe kom. Die volgende dag laat Bennie my weet: Three-one-five-seven was toe die wedvlug se vinnigste Wellington-duif! 

Wie’t gesê die Curriebeker is die enigste opwinding op ’n Saterdag?


Aangebore of aangeleer?


Buiten die vlieghok waarin sy vlugduiwe woon, het elke duiweboer ook ’n teelhok. Dis hier waar jou beste vlieërs kom “aftree” en hulle goeie gene aan ’n volgende geslag oordra. Bloedlyne speel beslis ’n rol: Die Janssen-duiwe uit België word internasionaal gereken en in Suid-Afrika is die nageslag van die 12 duiwe wat die Belg Frans Putterie in 1932 ingevoer het, baie gesog. Daar’s ook die Koopmans, die Oswalds, die Gaby Vandenabeele-duiwe…

Boeke is al geskryf oor ’n teorie wat sê jy kan sekere kenmerke deur ’n vergrootglas in die duif se oog bespeur. En in Europa maak baie duiweboere staat op die wewenaarstelsel – hulle vlieg slegs met kokke, die hennetjies lê net eiers. En jy kan al aan eier se vorm sien wat dit gaan wees: ’n gepunte eier is ’n kok en ’n ronder eier is ’n hen. 

Soveel duiwe, soveel dinge, reken Juan Ehlers van Durbanville se Distrik-posduifklub. Selfs al was sy oupa Jan ’n oog-man, skud Juan kop oor dié storie. “Niemand het ooit in Bruce Fordyce se oog gekyk nie, of hoe!”

Juan is die jongste van drie generasies wat sedert 1983 saam vlieg en hy beklee gereeld topposisies in die Wes-Kaap. Sy duiwe is sy erns. Soveel so dat hy die huis langs syne gekoop het sodat hy ’n hengse duiwehotel in die agterplaas kon bou. “Dís nou my man cave,” spog hy. Binne is alles beduif – van sy hemp tot die koffiebekers. Hy glo sy konstante prestasie is te danke aan goeie duiwe (“’n Mens moet jou duiwe se bou vóél. Hanteer die duif met jou eie hande en kýk – maak die vlerkspan ordentlik toe, het hy ’n sterk, stywe rug, is die keel mooi oop, hoe is die duif se balans?”) en toewyding (“Hierdie is nie ’n speletjie nie – ek staan elke oggend vyfuur op om te kom ligte aansit, hokke skoonmaak, water intap…”). 

Jy kom gou agter g’n moeite was nog ooit vir ’n duiweboer te veel nie. Vra maar vir Bles Bridges se weduwee, Leonie. Selfs met ’n bedrywige sangloopbaan het hy sy duiwe nooit afgeskeep nie. 

“In ons jong dae het Bles nie ’n motor gehad nie en het die duiwemandjie agterop sy motorfiets vasgemaak om hulle uit te neem vir oefenvlugte. Sodra daai duiwe losgelaat is, het hy dan soos die duiwel huis toe gejaag om hulle in te wag!

“Sy duiwe was ook sy kinders,” vertel Leonie. “As hy by die hok instap, het hulle op sy kop kom sit. En wanneer die duiwe uitkom om te bad sou hy by hulle op die gras gaan lê – dan het hulle so op sy bene in die son aan die slaap geraak. 

“Ek het eendag, toe ons nog net uitgegaan het, die fout gemaak om grappenderwys vir hom te vra: ‘Bokkie, wat sal jy sê as ek vir jou vra om tussen my en die duiwe te kies?’ Sy antwoord: ‘Ek sal jou mis, my meisie...’”


Maar hoe lyk ’n loslating?


Die tuiskoms is maar net een deel van die verhaal. Hoe lyk dit wanneer die duiwe losgelaat word? En hoekom is “mandjie” in duiwekringe ’n werkwoord? Om uit te vind ry ek en Sam Reinders, die fotograaf, saam op die Wes-Kaapse duiwetrok.

Dit sous in Parow. Buite die Noorweg-duiweunie se saal lê die waterplasse geel in die gloed van die straatligte. Nóg ’n duiweboer draf sjiep-sjiep-sjiep voordeur toe, die mandjie in sy arms beskermend teen sy bors vasgedruk. 

Binne-in die saal sit ouens met stofjasse aan om bokkietafels en vroetel met papiere en ringetjies. Teen die mure hou duimspykers lyste wedvluguitslae teen aansteekborde vas. Swart-wit foto’s gedenk dekades se duiflegendes langs kiekies van hulle beste vlieërs – mense soos “The Great Sebastiaan Klue,” algehele wenner in ’84. 

Hier heers ’n rumoerige joligheid. Oral op die bruin linoleum staan duiwemandjies gestapel. Die elektroniese klokke piep wanneer elke duif ingeskandeer word en dan – byna soos ’n offerande – in twee bakhande aangegee word tot waar iemand hom in ’n klubmandjie neersit. So dís dan wat dit beteken om gemandjie te word. 

Ek loer in ’n mandjie en wakker ogies loer terug, die duiwe se borsvere skitter pers en groen soos perlemoen. ’n Paar kokke pik na mekaar, ander skrop ’n lêplekkie in die strooilaag oop. 

Toe ’n groot Volvo-vragmotor genaamd Boertjie mooi op skedule langs die saal indreun, is alles kant en klaar. Die bestuurder, Tiaan Horn, en die duifbegeleier, oom Flip Laubscher, klim uit om hand te gee – die klubmandjies word nou soos laaie aan weerskante van die sleepwa ingeskuif, rond en bont tussen dié wat Boertjie reeds vroeër die aand elders opgelaai het.  

Daar’s ’n dringendheid aan die gewerskaf, tog word alles sekuur gedoen en ’n paar keer nagegaan. Dis pikdonkernag. Vliegtuie skuur laag verby na Kaapstad Internasionaal. My maag gee ’n draai – die hele gedoente is so spannend, dit voel skoon of ons vannag iets gaan smokkel! 


CAUTION: PIGEONS IN TRANSIT


Boertjie se hoofligte boor gate deur die stortreën. Hier hoog uit die kajuit lyk die N1 skoon anders, smaller. Maar heng, ek’t nooit geweet ’n trok ry só stadig nie! Deur die Hugenote-tonnel en selfs tot by Worcester was dit nog ’n snaaksigheid, maar waar ons nou skuins voor twee Touwsrivier verbysteek, kan ek my oë nie meer oophou nie. 

Tiaan grinnik vir dié amateur. Hy vervoer eintlik vrugte en ry gereeld vragte druiwe Namibië toe, maar in die vliegseisoen haak hy en Boertjie vlugduiwe.   

Ek en Sam en oom Flip maak beurte om saam met Tiaan voor te ry. Net voordat ek wegdommel, slak ons van die snelweg af na ’n plek waar ek al male sonder tal verbygery het, maar nooit gedink het ek ooit sal indraai nie: Lategan’s Truck Inn in die buitewyke van Laingsburg. Boertjie trek tussen twee ander trokke in. 

Ek plof uit en hink met stram bene oor die vlakte. Ons rus nou hier tot dit lig raak – dan aanstoot tot op Drie Susters vir nog ’n nag se oorstaan. En môreoggend voor sonop ry ons die laaste entjie tot by die loslatingspunt buite Victoria-Wes.


Dié tyd van ’n Saterdagoggend is ons vier en die duiwe sweerlik die enigste wakker siele op Victoria-Wes. Die luggie byt, maar in die gang binne-in die sleepwa vou die duiwe se hitte uit die mandjies weerskante om jou. Die stuk of sesduisend duiwe koer vrolik.

Oom Flip is al vir die laaste ses jaar begeleier op die Wes-Kaapse duiwetrok. Sy bewegings is noukeurig, elke mandjie se flap word nóg ’n keer bekyk. Ons het nie al die pad gekom om nou te staan en droogmaak nie en wanneer hy netnou die hefboom trek, moet hulle almal tegelyk oopval. 

Daar word streng volgens die reëls gewag totdat die temperatuur eers ’n bietjie styg en die son oor die oosterkim loer voordat die groot oomblik aanbreek. Hóé groot kon ek my egter nie voorstel nie…

Toe daai flappe oopslaan, laat spat de laaste duif met alles in hom. Stof, strooi en vere waai in my gesig vas. Die geluid van twaalfduisend vlerke klink soos ’n haelstorm op ’n sinkdak en die gesig…! Dit slaan jou dronk – meteens is die hemel deurtrek met flikkerende grys en wit wieke. Jou oë weet wragtig nie waar om te vat of te los nie! Dit swiep en duik en maal en beur boontoe, bóóntoe! 

Dan word dit skielik ’n wolk, ’n enkele organisme wat rek en krimp en soos een man ruk daai gevleuelde weermag op – reguit Kaap toe. As jy weer kyk, is hulle weg. Encore! Encore!

Wil jy ’n duiweboer word? Besoek die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduiforganisasie se webtuiste by sanpo.co.za vir jou naaste klub se besonderhede.